Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense besit nie regte net omdat hulle mense is nie, maar omdat dit ’n geskenk van God is wat verantwoordelik voor God gebruik moet word. Gelowiges het geen regte van hul eie nie. Hulle behoort immers aan Jesus. “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees…..en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop….” (1 Kor.6:19,20).
DIE LEEU VAN WES-TRANSVAAL (2)
Leopold Scholtz
KRYGSMANNE VAN FAAM
Lees reeks by Krygsmanne van faam
Weliswaar was die uitslag nie ‘n beslissende Britse oorwinning nie maar met sy oormag aan artillerie en infanterie het Methuen daarin geslaag om die Boere uit hul goeie stellings te verdryf. Soos Cronjé later by Paardeberg, het De la Rey hom verkeerdelik laat lei deur die oortuiging dat die Britte by die spoorweg sou wou bly, sodat hy die oostelike flank verste van die spoorlyn afgeskeep het. Dit was juis op hierdie flank dat die Britse infanteriestormloop sukses vir Methuen ingebring het.
Drie dae later raak De la Rey en Methuen weer slaags in die slag van Modderrivier, oftewel Tweerivier (so genoem omdat die Modder- en Rietrivier daar inmekaar vloei.) Uit sy kort ondervinding het De la Rey nou geleer dat heuwels glad nie sulke goeie stellings was as wat altyd gereken is nie. Die goeie uitsig het nie vergoed vir die akkurate kanonvuur wat die burgers op die heuwels moes verduur nie. De la Rey het die Vrystaatse offisiere dus nou oortuig dat die steil walle by die samevloeiing van die Modder- en Rietrivier as stelling moet dien teen Methuen se oprukkende troepemag van 15 000 man.
Treffend verhaal De la Rey se biograaf, Meintjies, sy optrede van dié dag:
“De la Rey rushed along his lines of men like a force none of them had ever seen before, his eyes ablaze, his beard brisling, his whip lashing down on some timid man... Up and down De la Rey flew, impervious to bullets and shrapnel, urging, exhorting, advising and striking, up and down, up and down with an astounding indefatigability. ‘ Come on, my sons!’, he would shout, as if hurling himself on the enemy. ‘Fight!’ This was the first decent chance De la Rey had to prove some of his theories and his ability as a military leader and he was nog going to throw it away.”
Weer eens was die Boeremag egter verplig om terug te val nadat die Vrystaters op die westelike flank onder Prinsloo hul sleutelposisies verlaat en sodoende die ander burgers in gevaar gestel het. Hul verliese was iets meer as 80 man, waarvan ‘n sestiental gesneuwel het.
Vir De la Rey was Modderrivier ‘n persoonlike terugslag. Hyself is deur ‘n bomskerf in sy regterskouer gewond, maar dit was veral die dodelike verwonding van sy oudste seun Adriaan, teen die aand se kant, wat hom diep geruk het. Adriaan het pas twee dae tevore sy negentiende verjaardag gevier, en ofskoon De la Rey hom persoonlik na die hospitaal op Jacobsdal vervoer het, is die seun die oggend van 29 November in sy arms oorlede.
In die afwesigheid van De la Rey het Cronjé met die ander offisiere besluit om verby die Magersfonteinrante noordwaarts terug te val en hulle agter Scholtznek en Spytfontein nader aan Kimberley in te grawe om te voorkom dat die dorp ontset word.
Met sy terugkeer was De la Rey nie hiermee gediend nie. Sy ervarings van Graspan en Modderrivier het hom oortuig dat die rantjies nie die beste verdedigingslinies was nie maar die vlakte voor hulle.Daarom was die vlaktes vóór die Magersfonteinrant die aangewese plek vir die Boeremag om hom in te grawe. As hulle tog sou moes retireer sou hulle dan agter die rantjies van Magersfontein kon stelling inneem. As hulle egter by Scholtznek moes retireer, sou hulle hulle vasloop in die Britse mag in Kimberley. De la Rey het ook ‘n blaadjie uit die Britse militêre handboek geneem. Hy het tot die slotsom gekom dat perderuiters – die Boere se vegsmetode – ondoeltreffend was vir die verdediging van ‘n front. Voetgangers, wat nie vinnig te perd voor die naderende vyandelike infanterie kon padgee nie, behoort soos by die Britte die front te beman. Die perderuiters moes – ook volgens die Britse metode – die flanke beman en ten einde die vyand in die rug aan te val en sodoende sy frontaanvalle te verlam.
De la Rey was as veggeneraal aan genl Cronjé ondergeskik en die enigste wyse waarop hy die krygsraadbesluit kon aantas was om pres MT Steyn, konstitusioneel die hoof van die Vrystaatse magte, dringend te versoek om hom na die wesfront te haas.
Dit was vir De la Rey nie moeilik om Steyn tot sy standpunt oor te haal nie. Met sy takt het Steyn spoeding eensgesindheid onder offisiere gebring en op die krygsraad van 4 Desember 1899 is De la Rey se sienswyse aanvaar. Trouens, selfs Cronjé was al gou oortuig van die waarde van die stellings voor Magersfontein.
Hierdie nuwe stellings het oor ‘n afstand van sowat dertien kilometer weerskante van die spoorlyn gestrek. In die sentrum was Magersfonteinkop ongeveer vier kilometer oos van die spoorlyn en tien kilometer noordoos van Methuen se kamp. Vanaf die Modderrivier was dit ‘n oop vlakte wat uiteindelik opgestoot het in die Magersfonteintjies.
Met die oog daarop dat Methuen hom sou toespits op die verowering van die rantjies, het De la Rey die burgers in ‘n versteekte linie van loopgrawe, tussen 150 en 200 meter voor en parallel aan die rantjies, laat ingrawe. Hy het die loopgrawe so gerangskik dat hulle nie alleen ‘n frontaanval die hoof sou kon bied nie maar mekaar ook in die flanke gedek het. Anders as die bekende breë, vlak loopgrawe van die Britte, was elke loopgraaf sowat een meter diep en een meter breed, met regaf walle. Die Boere kon regop daarin staan en skiet, bo-oor grondwalle wat só met takke en gras bedek is dat die vyand hulle nie sommer sou kon raaksien nie.
Die middag van 10 Desember 1899 het Methuen in alle erns met sy bombardement van die Magersfonteinrantjies begin. Die Boere was egter nie in die rantjies waar die bomme gereën het nie. Vanuit die loopgrawe daarvoor het hulle die geweldige verwoesting agter hulle aanskou. Dit was duidelik dat 'n geveg op hande was, maar dit was ewe duidelik dat De la Rey met die keuse van sy stellings Methuen op die verkeerde voet betrap het.
Ironies genoeg was De la Rey nie met die slag van Magersfontein op die terrein aanwesig nie. Hy het 'n paar dae tevore na die Boerelaer by Riverton, noord van Kimberley, gegaan om van sy skouerwond te herstel. Sy kommando's van Wolmaransstad, Bloemhof en Lichtenburg het egter midde in die stryd gestaan in die loopgrawe waaroor De la Rey met soveel sorg toesig gehou het. Die 8 000 Transvalers en Vrystaters met hul tien kanonne was onder die aanvoering van genl. Cronjé.
Om halfeen die oggend van 11 Desember 1899 het lord Methuen se mag van 15 000 man en 33 kanonne met die Highland Brigade vooraan oor die oop vlakte in beweging gekom. Sy doel was om Magersfonteinkop teen dagbreek te bestorm en te verower. Net toe genl.-maj. Andy Wauchope as aanvoerder van die Highland Brigade om 04h00 uur die bevel gee om te ontplooi en vir 'n geveg gereed te maak, bars die Boere skaars 400 meter daarvandaan los met 'n hewige geweervuur uit die loopgrawe. 'n Babelse verwarring het gevolg.
Hoewel die Black Watch, die voorste bataljon van die Highland Brigade, met doodsveragting teen die koeëls ingestorm het, is hulle sowat 250 meter van die Boerelinie gestuit.
De la Rey het hom gereed gemaak om sy oorwinning op te volg en die spoorlyn by Noupoort en De Aar te gaan beset sodat die toevoer van sowel Clements as Methuen afgesny word. Tot sy teleurstelling het Steyn hom egter gelas om met die grootste gedeelte van sy mag na Modderrivier op te ruk ten einde met die ontset van Cronjé en die verdediging van Bloemfontein te gaan help.
Op Bloemfontein aangekom, verneem De la Rey van Cronjé se oorgawe van 28 Februarie 1900 met 4 000 man te Paardeberg. 'n Wilde vlug ontstaan onder die verskrikte burgers. In 'n hardnekkige geveg teen 'n groot oormag probeer De la Rey tevergeefs op 10 Maart by Abrahams-kraal die opmars van lord Roberts na Bloemfontein stuit.
Ná die val van Bloemfontein op 13 Maart trek De la Rey sy kommando's op Brandfort saam. Die regering van die ZAR versoek hom nou ook om die vreemdelingekorpse te organiseer en hy plaas sy broer Adriaan de la Rey as veggeneraal oor hulle.
Op 26 Maart 1900 stel genl. Joubert vir Koos de la Rey en Louis Botha as assistent-kommandant-generaal vir onderskeidelik Wes- en Oos-Transvaal aan. Die volgende dag sterf Joubert, en Louis Botha word as waarnemende kommandant-generaal aangestel.
Die algemene terugval van die Boeremagte op alle fronte verhoed dat De la Rey onmiddellik na die Wes-Transvaal kan vertrek. Wanneer Roberts in Mei sy opmars met 38 000 troepe na die Transvaal opneem en sy linkerflank Wes-Transvaal by Veertienstrome binneval, word De la Rey verplig om hom daarheen te begewe. Tevergeefs probeer hy kol. B. T. Mahon se groot mag van Vryburg stuit en moet hy magteloos toesien hoe die Britse offisier Mafeking op 17 Mei 1900 ontset.
Pres. Kruger gelas nou vir De la Rey om na Johannesburg te kom ten einde die Boeremagte se terugtog voor Roberts se opmars te dek. Ten spyte van sy hewige teenstand by Doornkop wes van Johannesburg en ook gevegte wes van Pretoria, kon De la Rey, soos ook die ander Boereaanvoerders, nie verhoed dat Roberts die goudstad op 31 Mei 1900 en Pretoria op 5 Junie verower nie. Oral het die yl Mauservuur uit 'n paar duisend gewere padgegee voor die grofgeskut van die omvleuelende, voortrollende oormag.
Eers die aand teen skemer het daar stilte gedaal oor die slagveld. Aan Boerekant was die ongevalle 255 man — 87 gesneuwel en 168 gewond. Die Britse ongevalle is onseker, maar daar word aanvaar dat dit aansienlik hoër is as die 971 man (23 offisiere en 182 manskappe dood en 45 offisiere en 645 manskappe gewond) wat die Times History aangee.
Toe hy van die slag hoor, het De la Rey nog dieselfde middag teruggekeer. Hy was ongelukkig oor Cronjé se besluit om nie die verslane vyand onmiddellik te agtervolg en die hele leër te vernietig nie.
'n Paar dae later het die Vrystater, Christiaan de Wet, as veggeneraal aan die wesfront sy verskyning gemaak. Onmiddellik het 'n hartlike vriendskap tussen hom en De la Rey ontstaan. Met Cronjé kon hulle nie oor die weg kom nie, daar hulle dit nie met die ou generaal eens was om maar stil te lê en Methuen toe te laatom homself te versterk nie. Hulle wou onmiddellik voorttrek na die Oranjerivier om Methuen se verbindingslyn af te sny. Uiteindelik gelas Cronjé hulle op 3 Januarie 1900 om met 300 man die spoorlyn tussen Heuningneskloof en Modderrivier te gaan opbreek. Hy beveel hulle egter om die werk in een nag af te handel, waardeur gevolglik nie veel sukses behaal is nie.
Intussen was genl.-maj . John French besig om 'n groot troepemag voor Colesberg op die suidelike front van die Boere te versamel. Pres. Steyn, wat 'n bekwame offisier op die toneel wou hê, het De la Rey daarheen gestuur om genl. H. J. Schoeman as bevelvoerder te vervang. Op 6 Januarie 1900 vertrek De la Rey na Colesberg, maar nie voordat by Cronjé gewaarsku het dat sy laer aan die Modderrivier gevaar staan om omsingel te word nie.
Vervolg...