Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself (Prediker 10:12)." Sien ons nie elke dag in hierdie land hoe waar die Bybel hierin is nie!
ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 26
Ons word heeltemal vry !
Die stryd oor Kleurling-stemreg voortgesit en afgehandel
Die nuwe eerste minister, advokaat JG Strydom, het met sy diensaanvaarding laat blyk dat hy van plan was om die uitgerekte stryd oor die Kleurlinge se stemreg voort te sit. In Mei 1955 het hy met die Wet op die Kworum van die Appélhof die aantal appélregters van 5 tot 11 vermeerder. In Junie is met die Senaatwet die aantal senatore van 48 na 89 vermeerder. Die samestelling van die Senaat is verander, sodat die regering 77 senatore sou hê teenoor die opposisie se 12. Verseker van ‘n tweederde meerderheid het die regering in Februarie 1956 ‘n gesamentlike sitting belê en ‘n wetsontwerp ingedien om die ongeldige Wet op die Afsonderlike Verteen-woordiging van Kiesers geldig te verklaar en die grond-wet so te wysig dat die nie-blankes se stemreg nie langer deur ‘n tweederde meerderheid verskans sou wees nie. Die Wet tot Wysiging van die Suid-Afrika Wet is toe met ‘n duidelike tweederde meerderheid van 173 stemme teen 68 aangeneem. Dis opgevolg met die Wysigingswet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers. Die Kleurlinge is van die kieserslys verwyder en op ‘n afsonderlike kieserslys geplaas. Kaapland is in vier kiesafdelings verdeel en die Kleurlinge kon in elkeen van die vier kiesafdelings een Blanke verteenwoordiger kies. Die grondwet is so gewysig dat die Kleurling-stemreg nie langer verskans was nie. ‘n Wet het ook bepaal dat slegs Blankes voortaan die Kleurlinge in die Kaapse Provinsiale Raad mag verteenwoordig.
Die opposisie het weer sy uiterste bes gedoen om die wetgewing te verongeluk. Albei wette is deur twee Kleur-lingkiesers hof toe geneem. Die Kaapse hooggeregshof het bevind dat albei wette geldig is. Toe is na die Appélhof in Bloemfontein geappelleer. Die regters het met tien teen een beslis dat die wette geldig is. Dit was die einde van die lang, duur en bitter konstitusionele stryd, wat die land baie skade berokken het.
Die Tomlinson-verslag
In 1950 is die Tomlinson-kommissie benoem om ondersoek te doen na die sosio-ekonomiese ontwik-kelingsmoontlikhede van die Bantoe-gebiede. In 1956 is ‘n opsomming van hulle baie lywige verslag openbaar gemaak. Die kommissie het die ontwikkeling van ‘n sewetal Bantoe-tuislande aanbeveel. Die kern daarvan sou die bestaande reservate wees. Vir die ontwikkeling en afronding sou R110 miljoen binne die eerste 10 jaar nodig wees. Sommige van die aanbevelings van die kommissie was té idealisties en onuitvoerbaar. Dr Verwoerd het egter as minister van Bantoe-sake die ontwikkeling van die tuislande as baie belangrik beskou en dit onmiddellik begin versnel. Dit moes gedoen word op die basis van die afsonderlike ontwikkeling van die rasse. Hy het in gedagte gehad dat die Boland van Bantoes gesuiwer moes word, omdat hulle nie daar inheems was nie. Daar moet grensnywerhede naby die reservate gevestig word, wat sou help om die instroming van Bantoes na blanke gebiede te stuit. Die tekort aan Bantoe-personeel om hul eie etniese groepe van diens te wees, sou opgelos word deur die stigting van ‘n aantal universiteitskolleges wat na 1956 plaasgevind het.
Die parlementêre opposisie het teen elke regerings-maatreël luidrugtig geprotesteer. Hulle was erg verdeel in hulle proteste weens die swak leiding van hulle leier, advokaat JGN Strauss, wat weens hulle kritiek toe bedank het en plek gemaak het vir sir De Villiers Graaff as leier.
Die verkiesing van 1958
Die verlaging van die ouderdomsvereiste vir die stemreg na 18 jaar het die kanse van die regering om die verkiesing van April 1958 met ‘n groter meerderheid te wen, baie verbeter. Die jonger geslag was sterk repu-blikeinsgesind sodat daar op hulle geesdriftige steun gereken kon word. Die uitslag van die verkiesing was nooit twyfelagtig nie, hoewel Strydom bly hamer het op die beginsel van “blanke baasskap,” in teenstelling met Verwoerd se positiewer ideaal van rasseskeiding. Die Nasionale Party het die verkiesing gewen met ‘n totaal van 103 setels in die Volksraad teenoor die 53 van die Verenigde Party. Die Arbeiders het geen setel gewen nie. Daar is baie meer stemme op regeringskandidate as op die opposisie s’n uitgebring. Hulle kon nie weer beweer soos by die vorige twee verkiesings van 1948 en 1953, dat die regering ‘n Blanke minderheid verteenwoordig nie.
Strydom se heengaan
Aan die einde van Augustus 1958 is Strydom, wat ‘n geruime tyd siek was, oorlede. ‘n Man van groot beteke-nis het heengegaan. In 1934 was hy die enigste Nasionale parlementslid in Transvaal wat nie “gesmelt” het nie. Hy het die republikeinse ideaal lewendig gehou en daarmee bygedra tot die totstandkoming van die Republiek. Sy rassepolitiek het aan die negatiewe kant gegrens met sy beklemtoning van Blanke baasskap. Sy biograaf het van hom geskryf dat hy altyd vriendelik en tegemoetkomend teenoor sy mense was en dat hy een van die mees toeganklike LV’s was wat ooit op die groen banke van die Volksraad gesit het. “Hierdie karakter het Strydom die mees geliefde eerste minister gemaak wat hierdie amp beklee het. Dit het veroorsaak dat Strydom ‘n besondere plek, nie alleen in die hart van die Waterbergers ingeneem het nie, maar feitlik van alle Transvaalse Nasionaliste. Die Waterbergers was só in vervoering oor hul leier dat hulle sy betiteling van ‘Leeu van die Noorde’ nader aan hul eie omgang met hom betrek het deur na hom te verwys as ‘Die Leeu van Waterberg.’ Sy jaarlikse ver-gaderings en vrye omgang met sy mense het hom geliefd gemaak en hy kon met reg aanspraak maak op die titel, ‘Man van sy volk.’”
Dr Verwoerd
Die nuwe eerste minister het op Stellenbosch ‘n doktorsgraad in Sielkunde behaal. Na verdere studie in Duitsland het hy ‘n professor op Stellenbosch geword. In Januarie 1937 het hy redakteur van Die Transvaler geword. In Mei 1948 is hy as Senator aangestel en in Oktober 1950 word hy minister van Naturellesake.
Dr Verwoerd was die vindingryke argitek wat die apartheidsbeleid in besonderhede uitgespel het en die bekwame administrateur wat die beleid in die praktyk begin toepas het.
Die Transkei
Die regering se Wet op Bantoeowerhede van 1951 het voorsiening gemaak vir ‘n groter mate van selfbestuur in die tuislande. In die
belangrke tuisland, die Transkei, was hulle leier, Kaiser Matanzima, gewillig om Verwoerd se stelsel van Bantoe-owerhede te aanvaar. In Mei 1957 het die Transkei die eerste tuisland geword wat ‘n gebieds-owerheid ontvang het.
Skeuring in die VP
Na afloop van die parlementsitting van 1959 het die liberale elemente in die Verenigde Party weggebreek en die Progressiewe Party gestig. Hulle wou Bantoes en Blankes ekonomies integreer en alle rasse op ‘n gemeenskaplike kieserslys plaas.
Dr Verwoerd en die Republiek
Na die aanvang van die parlementsitting van 1960 het dr Verwoerd aangekondig dat daar ‘n volkstemming of referendum oor die beginsel van ‘n republiek sou plaasvind. Die kiesers sou hulle oor hierdie groot saak uitspreek. ‘n Blote meerderheid, selfs van een stem, sou voldoende wees. Alleen die stem van die Blankes sou in ag geneem word. Die regering sou later afkondig of die Republiek binne of buite die Statebond sou wees.
Dr Verwoerd se aankondiging is soos altyd heftig deur die gesamentlike opposisie bestry. Alle Nasionaliste en baie ander Afrikaners het dit egter geesdriftig verwelkom. Die tyd was ryp, want baie mense het deur die aanhoudende kritiek uit Engeland oor Suid-Afrika se kleurbeleid, alle simpatie met daardie land verloor. Suid-Afrika was reeds grootliks geïsoleer en hoe gouer hy op eie bene kon staan, hoe beter sou dit wees. ‘n Poging van Engeland en die Westerse lande om met ‘n ekonomiese boikot die regering te dwing om van sy beleid af te sien, het die republikeinse gevoel in die land grootliks versterk. ‘n Besoek van Harold Macmillan, die Britse premier, wat met sy “Winds of change”-toespraak in die Unie-parle-ment vir dr Verwoerd wou afskrik, het die Blankes nog meer laat volhard in die tradisionele beleid van rasse-skeiding en die strewe na ‘n republikeinse regerings-vorm, desnoods buite die Statebond.
Drie jaar vantevore het A Barlow, ‘n lid van die Verenigde Party, voorgestel dat die Union Jack as een van die landsvlae moet verdwyn. Die Britse minderheid het dit tot verbasing van almal byna met gelatenheid aanvaar dat hierdie grootste simbool van die konneksie met die Statebond verdwyn het.
Sharpeville
Daar het in Maart 1960 ‘n opsienbare gebeurtenis in die Bantoe-dorp by Vereeniging en Vanderbijlpark plaas-gevind. ‘n Botsing tussen betogers en die polisie het ‘n bloedige nasleep gehad. Reeds in Januarie is ‘n dosyn konstabels gruwelik vermoor in Cato Manor, ‘n nie-blanke woonbuurt van Durban. Die polisie wou ‘n herhaling daarvan voorkom toe 20 000 Bantoe-betogers in Maart 1960 by Sharpeville opdaag en ‘n dreigende houding inneem. Hulle het die skare met vuurwapens uiteen gedryf. Tagtig Bantoes is dood en baie ander is beseer. Dit het wêreldwye protes uitgelok. Ook in Langa, ‘n Bantoe-woonbuurt naby Kaapstad, het duisende Ban-toes teen die dra van bewysboekies geagiteer en in die onluste is verskeie Bantoes gedood. Die regering het ‘n noodtoestand afgekondig en ‘n deel van die weermag gemobiliseer. Gedurende die volgende maande is duisen-de Bantoes aangehou. Die ANC en die Pan African Congress is in die ban gedoen. ‘n Aantal ekstremiste het na die buiteland gevlug.
Aanslag op dr Verwoerd se lewe
Te midde van die algemene beroering het ‘n sekere David Pratt in April 1960 by die Randse Paasskou, ‘n aanslag op die lewe van dr Verwoerd gedoen en hom baie ernstig verwond, deur twee koeëls op kort afstand in sy gesig af te vuur. Dr Verwoerd het merkwaardig gou daarvan herstel. Suid-Afrika het hierdie gemene daad verafsku en sy meegevoel met die Regeringshoof betuig. Die hof het besluit dat die misdadiger nie by sy volle sinne was nie en hom in ‘n gestig geplaas.
Die referendum
Op 5 Oktober 1960 is die referendum gehou waarvan die uitslag bewys het dat die volk van Suid-Afrika ‘n republiek begeer het. Daar was 850 000 stemme ten gunste van ‘n republiek en 775 000 daarteen, hoofsaaklik in Natal en die Engelstalige stede. Die konsepgrondwet is ‘n maand later gepubliseer. Die ou grondwet is in hoofsaak behou. ‘n Staatspresident wat vir sewe jaar deur die Parlement gekies word, sou die plek inneem van die goewerneur-generaal wat die Engelse vors verteenwoor-dig het.
Dr Verwoerd na Londen
Dr Verwoerd was ten gunste van ‘n republiek binne die Statebond. Hy het in Maart 1961 na Londen gegaan om die saak by die byeenkoms van Statebondspremiers voor te lê. Met die wete dat Suid-Afrika die laaste blanke en Westerse bolwerk op die Afrikaanse vasteland was, was dr Verwoerd vasberade om nie die beginsels en ideale van die Westerse leefwyse en die blanke bevolking prys te gee nie. As gevolg van die houding en eise van die nie-blanke lede, wat die meerderheid op die konferensie was,
het dr Verwoerd Suid-Afrika se aansoek om verdere lid-maatskap teruggetrek.
Die Republiek Suid-Afrika !
‘n Maand later is die republikeinse grondwet deur die Parlement goedgekeur. Op 10 Mei is advokaat CR Swart, die goewerneur-generaal, met groot meerderheid van stemme as eerste President van die Republiek Suid-Afrika gekies. Op 31 Mei 1961, presies 51 jaar na die totstand-koming van die Unie, is die Republiek geproklameer. Dit was die einde van ‘n tydperk en die begin van ‘n nuwe.
Ons was weer heeltemal vry !