Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons gedagtes nie met een of ander sinvolle taak gevul is nie, laat dit ruimte vir die duiwel. En hy kom nooit alleen nie. Hy bring altyd ‘n klomp bose gedagtes en verleidings saam.
ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 23
Toe daar swaar tye aanbreek
Die groot depressie van 1930-1932
Die Statuut van Westminster het in 1931 ‘n nuwe tydvak in Suid-Afrika se konstitusionele geskiedenis inge-lui. Suid-Afrika was egter saam met die wêreld op daardie tydstip in die knelgreep van ‘n buitengewoon hewige depressie vasgevang. Dit het sy kop teen die einde van 1929 uitgesteek. Onder andere het die prys van wol baie skerp gedaal. Dieselfde het met mielies gebeur. Die aantal werkloses het van 4 123 in 1929 tot 30 613 in1933 aangegroei en die aantal bankrotskappe het onrusbarend gestyg. Gedurende die jare 1930-1932 was daar op elke gebied van die ekonomiese lewe ‘n diep insinking. Daarby is die land in 1932-1933 deur ‘n droogte geteister, wat in langdurigheid en hewigheid een van die ergstes was wat die land in die twintigste eeu beleef het. Die sorgwekkende ekonomiese toestand het die regering se onverdeelde aandag gevra.
Die goudstandaard
Brittanje het op 20 September 1931 van die goud-standaard afgestap, om die land deur die depressie te loods. Suid-Afrika het besluit om nie sy voorbeeld te volg nie, maar om die goudstandaard te handhaaf. Daar was mense wat getwyfel het of Suid-Afrika die goud-standaard kon handhaaf. Hulle het groot bedrae geld die land uitgestuur met die gedagte om veel meer terug te kry indien Suid-Afrika die goudstandaard verlaat en die wisselkoers verander.
Dit het die ekonomiese toestand van die land verder versleg. Die regering moes iets doen om dit teen te gaan, want daardeur het die Hertzog-regering baie steun verloor. Die opposisie – en ook die myne - het enorme druk op die regering uitgeoefen om die goudstandaard te laat vaar, maar die regering het gemeen dat dit nie in die land se belang sou wees om dit te doen nie. Teen die einde van 1932 was daar reeds £17½ miljoen die land uitgestuur. Hertzog se volgelinge het gemurmureer . Sy bewind, met sy skrale meerderheid, was duidelik aan die wankel, met ‘n moontlike mosie van wantroue in die eersvolgende parlementsitting wat net om die draai was. Die regering het toe iets ingrypends gedoen en die goudstandaard verlaat. Die goudprys het begin styg, goudaandele het geklim en geld het uit die buiteland na Suid-Afrika terug-gestroom.
Koalisie en samesmelting
Gedurende hierdie swaar tyd waarin die land verkeer het, het die idee van ‘n koalisieregering ontstaan, wat dan die aangewese ding sou wees om die land deur die depres-sie te help. Ook Smuts het hierdie gedagte oorgeneem. Toe die parlement vir die 1933-sessie byeenkom, het hy in die Volksraad opgestaan en voorgestel dat die regering bedank sodat ‘n koalisieregering gevorm kon word. Hert-zog het hom daarteen uitgespreek, maar tog besluit om met Smuts te onderhandel. Havenga en Piro het hom gesteun, maar dr DF Malan het hom sterk daarteen uitgespreek. Hy het gesë koalisie sal die Nasionale Party se beginsels verwater. Hertzog het gesê hy wil onder-handel omdat die volk samewerking verlang, omdat die land se ekonomiese toestand dit vereis en omdat die Nasionale Party by ‘n volgende verkiesing ‘n nederlaag op die lyf sou loop.
Na onderhandeling is die koalisie op 29 Maart 1933 gesluit. Hertzog, met Smuts as sy adjunk, het sy kabinet saamgestel uit 6 NP-lede en 6 SAP-lede. Dr DF Malan, leier van die Nasionale Party in Kaapland, is deur Hertzog uit sy nuwe kabinet uitgelaat. Kort daarna het die twee groot partye oorweldigend sterk uit die algemene ver-kiesing van 17 Mei 1933 getree en saam 136 verteen-woordigers uit ‘n totaal van 150 in die Volksraad gehad.
Kort na die verkiesing het stemme opgegaan dat die twee koalisie-partye moet verenig of saamsmelt in een party. In Smuts se party wou kolonel Charles Stallard nie saamsmelt nie. Hy het weggebreek van die Suid-Afri-kaanse Party en die Dominiumparty gestig. In die Nasionale Party was die skeuring veel groter. Dr Malan, wat reeds teen die koalisie beswaar gemaak het, het ernstig teen die idee van samesmelting geprotesteer. Hy het daarin die samevoeging van twee onversoenbare ideo-logieë, nasionalisme en imperialisme, gesien. Hertzog en sy volgelinge het gemeen dat die tyd ryp was vir samewerking met die Engelssprekende Suid-Afrikaners, terwyl Malan en sy volgelinge verklaar het dat die stryd teen Engelse oorheersing nog nie verby was nie. Hulle wou voortskry na ‘n onafhanklike republiek. Die irrite-rende imperiale simbole, soos die Britse vlag, die Britse volkslied, die koning se kop op Suid-Afrikaanse munte, waarteen hulle daagliks moet vaskyk, het hulle met verbittering aan die verlede herinner. Die Engels-sprekendes in Suid-Afrika was nog geen Suid-Afrikaners nie, maar Engelse wat Engeland bo Suid-Afrika gestel het.
Gedurende die eerste helfte van 1934 is herhaaldelik probeer om ‘n ooreenkoms tussen Hertzog en Malan te bereik. Hulle kon nie daarin slaag nie. Op 25 Julie 1934 het die kongres van die Kaaplandse Nasionale Party op Somerset-Wes met’n meerderheid van 164 stemme teen 18 teen samesmelting en ten gunste van die voortbestaan van die Nasionale Party besluit. Hulle is daarna die “Gesuiwerde Nasionale Party” genoem, of die “Gesuiwer-des.”
Op 5 Desember 1934 het die samesmelting in Bloem-fontein plaasgevind, toe die “Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party” of “Verenigde Party” tot stand gekom het. Toe die parlementsitting in 1935 begin, het Malan se “Gesuiwerdes,” 19 lede in getal, hulle plekke as die amp-telike opposisie ingeneem.
Wetgewing oor die Swartes
In 1936 het die “Smelterregering” wetgewing aanvaar waarvolgens die 11 000 Bantoes wat stemreg in die Kaap gehad het, hul stemreg behou, maar op ‘n aparte kieserslys geplaas word. Die wet het verder aan die stemgeregtigde Swartes in Kaapland die reg verleen om drie verteenwoordigers (Blankes) vir die Volksraad en twee verteenwoordigers (Blankes) vir die Kaapse Provin-siale Raad te kies. By dieselfde geleentheid is ook die Naturelletrust en –Grond Wetsontwerp goedgekeur. Dit het die Swartes se grondgebied aansienlik uitgebrei. Af-gesien van die 10,4 miljoen morg wat hulle in 1913 gekry het, is daar nou ‘n verdere 7,2 miljoen morg aan hulle toegeken. Dit sou die staat tussen 10 en 15 miljoen pond kos en die aankoop van die oopgestelde gebied sou oor verskeie jare geskied.
Die groei van Afrikanernasionalisme
Na die breuk in die Nasionale Party in 1933, was generaal Hertzog nie meer die onbetwisbare leier van die Afrikanerdom nie. Dr Malan het in toenemende mate die mondstuk van die Afrikaner se ambisies geword. Die republikeinse ideaal is nou sterk beklemtoon en Afri-kanernasionalisme is sterk aangewakker deur die Voortrekker-eeufeesvieringe van 1938.
Generaal Hertzog het na die Balfour-verklaring van 1926 die standpunt ingeneem dat Suid-Afrika in alle opsigte soewerein onafhanklik is en dat dit nie nodig is om langer na ‘n republiek te streef nie. Dit sou Afrikaans- en Engelssprekendes onnodig teen mekaar in die harnas jaag. Dit sou Suid-Afrika ekonomies benadeel as die bande met die Britse ryk verbreek word. Daarom het die republikeinse ideaal geen aanmoediging ontvang so lank as wat Hertzog aan die roer van die Nasionale Party was nie.
Dit het verander toe Malan en sy Gesuiwerdes van Hertzog weggebreek het. Die Nasionale Party het in 1936 in beginsel onderneem om die republikeinse ideaal te beskerm en hom te beywer om ‘n republiek in Suid-Afrika tot stand te bring.
Afrikanernasionalisme het na die breuk tussen Hert-zog en Malan saamgespan met politieke, kulturele en ekonomiese organisasies om die Afrikaners se belange te bevorder. Die Gesuiwerde Nasionale Party se same-werking met die geheime Afrikaner-Broederbond het heelwat kritiek uitgelok. Hertzog het gesê die Broeder-bond is niks anders as die Gesuiwerde Nasionale Party nie. Hy het gesê die Engelssprekende “Afrikaners” in Suid-Afrika is ook geregtig op ‘n plekkie in die Afri-kaanse son. Malan het sy lidmaatskap van die Broeder-bond met trots erken. In sy oë was Hertzog iemand wat die pad van die Afrikanerdom byster geraak het.
Teen die Jode
Die Gesuiwerde Nasionale Party het in hierdie tydperk ‘n afkeurende houding teenoor die Jode ingeneem. Dr Malan en sy volgelinge het by die regering aangedring op ‘n wet wat die binnekoms van ‘n groot aantal Jode uit Nazi-Duitsland sou belet. Die regering het toe die Wet op Vreemdelinge (1937) aangeneem, wat gediskrimineer het teen alle persone wat nie Britse onderdane was nie. Gevolglik kon Jode uit Engeland maar nog steeds die land binnekom.
Die Voortrekker-eeufees van 1938
Die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 het ‘n merkwaardige oplewing in Afrikanernasionalisme be-werkstellig. Die hoeksteenlegging van die monument op 16 Desember 1938 is voorafgegaan deur ‘n ossewatrek vanaf Kaapstad na Pretoria. Voortrekkerklere is gedra, mans het baarde gekweek, in die skadu van die waens is volksliedere gesing en emosionele tonele het afgespeel. Die Voortrekkers se heroïese stryd teen Britse imperia-lisme en swart barbarisme is weer in herinnering geroep.
Aftakeling van die Verenigde Party
Gedurende die ses jaar wat Hertzog as leier van die Verenigde Party aan bewind was (1934-39), het hy ‘n voortdurende stryd op twee fronte gevoer. Hy was in ‘n hewige stryd gewikkel met die Afrikanernasionalisme van Malan se Gesuiwerde Nasionale Party. Dit was ‘n bitter stryd tussen persone wat vroeër in een party saamgewerk het. Maar hy was ook in ‘n stryd gewikkel met die imperialiste in sy eie party. Enige toegewing van Hertzog aan die Afrikanernasionalisme, het ‘n dreigende geram-mel ontlok van die kant van Smuts en die Engels-sprekende imperialiste in die Verenigde Party.
Die Volkslied
Die Kwessie van ‘n volkslied het die gemoedere in die Verenigde Party herhaaldelik laat opvlam. Die Afrikaners wou graag Die Stem van Suid-Afrika as volkslied hê. Toe Hertzog dit met die opening van die parlement in 1938 saam met God save the King laat speel, was kolonel Stallard en al die Engelssprekendes erg ontstel. Hertzog het daarop verklaar dat Suid-Afrika voortaan twee volksliedere sou hê. Die Engelse was tevrede, maar die Gesuiwerdes het hierdie kompromis afgekeur.
Die Gesuiwerdes maak vordering.
Die ses jaar wat die Verenigde Party aan bewind was, was ook moeilike jare vir Malan se Gesuiwerde Nasionale Party. Om die Afrikanervolk te oortuig dat Hertzog die nasionale saak in die steek gelaat het, was nie maklik nie. Maar Malan het tog ‘n mate van sukses behaal soos wat die uitslag van die verkiesing van Mei 1938 aandui: Verenigde Party 111 (voorheen 117), Nasionale Party 27 (voorheen 20), Dominium-party 8 (voorheen 5). Die Nasionale Party se steun was egter veel groter as sy 27 setels. Hy het 247 000 stemme gekry teenoor die 448 000 van die Verenigde Party.
Einde van die Hertzog-Smuts bondgenootskap
Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog op 3 Sep-tember 1939 het die finale breuk tussen Smuts en Hertzog voltrek. Hertzog wou neutraal bly in hierdie oorlog tussen Europese moondhede, maar Smuts het beweer dat dit in Suid-Afrika se belang was om aan die kant van Brittanje tot die oorlog toe te tree. Van die kabinet het vyf vir Hertzog gesteun en ses vir Smuts. Die Volksraad sou moes beslis. Die parlement was in sitting. Die kabinet se meningsverskil is op 4 September aan die Volksraad voorgelê. Hertzog se standpunt is gesteun deur ‘n gedeelte van sy eie volgelinge en al Malan se aan-hangers, terwyl Smuts die ondersteuning geniet het van al sy eie volgelinge, plus die Dominiumparty, die Arbeiders, die Naturelleverteenwoordigers en ook ‘n aantal van Hertzog se aanhangers. Die uitslag van die stemming was: Smuts 80, Hertzog 67. Die Verenigde Party het in twee geskeur. Hertzog het die goewerneur-generaal ver-soek om die Volksraad te ontbind en ‘n verkiesing uit te skryf. Sy versoek is geweier en hy het as eerste minister bedank. Die goewerneur-generaal, sir Patrick Duncan, het Smuts gevra om ‘n kabinet saam te stel. Smuts het dit gedoen en Hertzog as eerste minister opgevolg.