Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy in 'n donker vertrek sit gee jy tog nie die duisternis van die nag die skuld nie. Nee, jy sorg dat daar 'n lamp is. Steek 'n lamp op oral in jou lewe waar dit donker is.
ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 17
Die Vrystaat word beroof
Na die erkenning van die Vrystaat se onaf-hanklikheid in 1854 deur Groot-Brittanje, het sir George Clerk die teuels van die bewind oorhandig aan Josias Hoffman en ‘n komitee van ses lede. Die bevolking van sowat 15 000 Blankes het ‘n gevestigde bestaan gevoer. In die oostelike dele was die Basoeto-grens nie skerp afgebaken nie. Daar is heelwat koring verbou en origens was veeboerdery die inwoners se vernaamste bedryf. Die suide van die land, met sy beduidende Engelse element, het nader aan die Kaapkolonie gestaan, terwyl in die noorde die ou Winburgse tradisie van republikeinse onaf-hanklikheid lewendig was.
Die eerste taak wat op Hoffman en sy komitee se skouers gerus het was om deur die burgers vir die nuwe staat ‘n volksraad te laat kies. Daarna het die volksraad die opstel van ‘n grondwet suksesvol afgehandel en vir Josias Philip Hoffman as hulle eerste president gekies. Hoffman het met sy filantropiese neigings sterk na die pype van die Engelse element gedans. Die volksraad het hom ten spyte daarvan as president gekies weens sy besonder vriendskaplike betrekkinge met die Basoeto-opperhoof. Hulle het gehoop dat hy met ‘n versoenende houding met Mosjes, die gevaar van roof- en plundertogte op die staat kon afweer.
Hoffman en Mosjes
Hoffman was op ‘n tydstip vantevore transportryer in Natal, die Vrystaat en Basoetoland en hy het vir Mosjes goed geken en het selfs vir hom in die berge ‘n paleis gebou, waaroor Mosjes so bly was dat hy vir Hoffman ‘n pragtige plaas aan die Caledon gegee het en vir hom ook ‘n huis op die berg laat oprig het, waarin hy kon tuisgaan wanneer hy die Basoeto-koning in sy vesting, Thaba Bosigo, besoek.
Mosjes was baie in sy skik toe sy vriend president van die Boere word. Hoffman het hom in Augustus 1854 in Thaba Bosigo besoek en is met vreugdeskote verwelkom. Toe Hoffman na beraadslagings weer wou ry, kom sê ‘n boodskapper dat Mosjes asseblief ‘n geskenk van buskruit vra, want hy het daardie môre al sy kruit met die verwelkomingseremonie weggeskiet. Hoffman het toe-gestem en Mosjes het later ‘n vaatjie kruit in Bloem-fontein laat haal. Toe die volksraad hiervan verneem, was daar groot ontevredenheid en dit het tot Hoffman se bedanking in Februarie 1855 gelei.
Daarna het die volksraad vir Johannes Nicolaas Boshof in 1855 tot president gekies. Gedurende die vier jaar wat hy bevoorreg was om die jong republiek te lei, het hy die Vrystaat se staatsdiens en landsadministrasie op ‘n baie gesonde grondslag geplaas en broodnodige wetge-wing laat aanneem, sodat die klein Republiek toe alreeds op pad was om ‘n modelstaat te word, want die bekwame Boshof het reeds oor ondervinding van hierdie aange-leenthede beskik as vroeëre lid van die Wetgewende Raad van Natal.
Boshof se stryd teen die Basoeto’s
Op die Republiek se oosgrens het die Basoeto’s ‘n dreigende houding ingeneem. Hulle het die Blankes met 12 teen een in getalle oortref. Hulle het oor vuurwapens beskik en was besonder mobiel, omdat almal berede was. Hulle het met begerige oë na die vrugbare grond tussen die Caledon- en die Grootrivier gestaar en deur geleide-like insypeling dele daarvan beset. Diefstal van beeste en perde het voortgegaan en selfs is plase in Harrismith, Winburg en Smithfield in besit geneem.
Boshof het ‘n kommando op die grens saamgetrek en skadevergoeding van Mosjes geëis. Hy het nie reageer nie en die Vrystaat het op 19 Maart 1858 die Basoeto’s die oorlog aangesê. Hulle is by Vegkop en Korannaberg verslaan en die kommando’s het gaan kamp opslaan voor die gedugte bergvesting, Thaba Bosigo. Hier het hulle die skrikwekkende tyding ontvang dat Basoeto-afdelings besig was om agter hul rug die land te plunder en te verwoes. Die kommando’s is haastiglik teruggeroep om huis en haard te gaan beskerm.
Moeilike tye
Te midde van al die probleme het daar op die Republiek se wesgrens in Mei 1858 nog meer ellende kop uitgesteek. Die Koranna-kapteins, Skeel Koos en Goliat Ysterbek en die Batlapin-hoofde, Gasebone en Motlha-bane, het begin roof en moor en op Boeregesinne in die Wes-Vrystaat toegeslaan. Mans en weerlose vroue en kinders is wreed vermoor en duisende van hulle skape en beeste weggevoer. ‘n Gesamentlike Vrystaats-Trans-vaalse kommando het die rowers op hulle plek gesit en die verskrikkers eens en vir altyd uit hulle skanse by die Vaalrivier verdryf.
Intussen het president Boshof ‘n beroep gedoen op die Kaapse goewerneur, sir George Grey, om as bemiddelaar op te tree tussen die Vrystaat en die Basoeto’s. Op 29 September 1858 is die Traktaat van Aliwal-Noord uitein-delik gesluit, waardeur die Warden-grenslyn in die noorde en die ooste bevestig is. Die Basoeto’s het in die suide ‘n groot gebied tussen die Caledon en die Oranje bygekry, waardeur die Vrystaat ongeveer 30 plase verloor het. Gedurende hierdie tyd het daar nog ander ongunstige toestande in die Vrystaat geheers. ‘n Swaar droogte het die land geteister en geld was baie skaars.
MW Pretorius bemoei hom met die Vrystaat
Te midde van al hierdie probleme het president MW Pretorius van Transvaal kort-kort in die Vrystaat se sake ingemeng met die eis dat die twee Republieke moes verenig. Aanvanklik was die Vrystaat gewillig daartoe, want die verenigde republiek sou beter in staat wees om veral die Basoeto-probleem die hoof te bied. Goewerneur George Grey het egter daarna gestreef om die Vrystaat in ‘n federasie met die Kaapkolonie te betrek. Hy het verklaar dat vereniging van die twee Republieke as ‘n inbreuk op die bepalings van die twee Konvensies beskou sou word. Vrees vir Britse inmenging het die Vrystaat laat afsien van die verenigingsplan van die Republieke.
Maar toe Boshof in 1859 as president van die Vrystaat bedank, laat Pretorius hom die volgende jaar die presi-dentskap van die Vrystaat welgeval. Die Transvalers was nie daarmee gediend dat hy president van albei Repu-blieke sou wees nie, uit vrees dat die Sandrivierse Konvensie daardeur geskaad kon word. Hulle het hom gedwing om te bedank as president van Transvaal. Gedurende die drie jaar wat hy president van die Vrystaat was (1860-1863), kon hy ook nie sy volle aandag aan die Vrystaatse belange bestee nie, want aanhoudende moeilik-hede in Transvaal het hom gedwing om lang tye uit die Vrystaat weg te wees en daarom het hy in 1863 sy bedanking as president van die Vrystaat ingedien. Drie jaar daarna is hy ‘n tweede keer as president van Transvaal (die Zuid-Afrikaansche Republiek) gekies.
President Brand en die Basoeto-probleem
In 1864 was die parlementslid vir Clanwilliam in die Kaap, advokaat Jan Hendrik Brand, ‘n man met ‘n doktorsgraad in die regte. Hy het vir Pretorius opgevolg as president van die Vrystaat en hierdie verhewe amp met groot onderskeiding beklee tot met sy dood in 1888. Een van president Brand se grootste take was om met die onoorwonne geslepe Mosjes af te reken. Die Basoeto’s se stelery moes stopgesit word. Hulle het al omtrent 30 kilometer rond en bont aan dieVrystaatse kant van die grenslyn gewoon wat deur majoor Warden in 1849 vasgestel is. Hulle het dan nou kwansuis nie meer geweet waar die lyn geloop het nie.
Brand het aan Mosjes laat weet dat sy onderdane die Vrystaatse gebied moes verlaat. Hy antwoord toe dat hulle die Kaapse goewerneur moes vra om weer Warden se grenslyn te kom aanwys. Mosjes het beplan om dan aanspraak te maak op die grond waar sy onderdane toe al jarelank oortree, hutte gebou en saailande aangelê het.
Goewerneur Wodehouse het in 1864 die betwiste grenslyn besoek en uitspraak ten gunste van die Vrystaat gegee en weer die ou lyn van 1849 geproklameer, wat beteken het dat die Basoeto’s toe‘n gebied wat 60 plase van 3 000 morg elk beslaan het, moes prysgee. Dit was vir Mosjes en sy volk ‘n bitter pil om te sluk en toe Brand hulle aansê om hierdie gronde te ontruim, het hulle dit verontagsaam. Mosjes het glo ‘n groot volksvergadering laat hou, waar sy indoenas hom tot oorlog teen die Vrystaat wou aanvuur, maar die geslepe Mosjes het gesê dit sou lyk asof hulle die Goewerneur se beslissing in twyfel trek en daarom moet ‘n ander oplossing gevind word.
Hierdie oplossing het bestaan uit diefstal op groot skaal. Die Basoeto’s het só astrant geword dat hulle van die boere op die plase selfs gearresteer en aangehou het. Brand het weer aan Mosjes geskryf en gesê dat hulle hom die les gaan leer hoe om verdrae te respekteer.
Die Basoeto’s was ‘n gedugte vyand om aan te pak. Hulle het met vuurwapens geveg en het selfs drie inge-voerde kanonne gehad en self buskruit vervaardig. Hulle het in hul byna onneembare bergvestings verskans gelê. Daar was duisende beeste op die berg en hul koring is in spelonke weggebêre, sodat daar genoeg voedsel was om ‘n beleg suksesvol te trotseer.
Brand het aan die spits van ‘n kommando teen hulle uitgetrek en spoedig al wat ‘n Basoeto was wat voor hulle uitgevlug het, in die beskutting van Thaba Bosigo ingedryf en hulle klaargemaak om die plek te beleër. ‘n Storm-aanval het misluk weens die ondeurdringbaarheid van die vesting Die dapper Louw Wepener, wat ‘n deel van die aanval geloods het, het teen die hoogtes van Donkerberg gesneuwel.
Die kommando het die beleg opgegee en op sy terug-tog ‘n Basoeto-mag onder aanvoering van een van Mosjes se seuns op die vlug gedryf. Mosjes het skielik naar-stiglik na vrede verlang. Dit was egter net om tyd te wen en kans te kry om die graansorghum wat in hierdie tyd ryp was, te gaan afoes en wegbêre, voordat hy weer met sy streke sou begin.
Brand het hom egter gedwing om ‘n groot stuk van Basoetoland aan die Vrystaat af te staan, wat noordwes van die Caledonrivier lê en wat vandag nog “die ver-owerde gebied” genoem word.
Toe Mosjes klaar sy oes laat insamel het, het al sy kruiperige onderdanigheid skielik verdwyn en is die Vrystaat opnuut weer blootgestel aan ‘n vlaag diefstalle en moorde oor die grenslyn. Brand het besluit om hom nou vir altyd die les van sy lewe te leer en het met ‘n sterk kommando na Basoetoland opgeruk.
Mosjes het goed geweet dat die Boere vasberade was om hom hierdie keer uit sy nes te gaan uithaal. Hy het weke vantevore reeds ‘n dringende oproep om hulp aan die Kaapse goewerneur gerig. Hy het letterlik moord en brand geskree: “Brand wil my vermoor! O, kom help ons tog en red ons tuine en ons lewens! Môre sal dit te laat wees. Dis nie ons skuld dat daar oorlog uitgebreek het nie. Die President het my ingehardloop. Hy het ‘n stuk van my mantel afgeskeur. Nou wil hy hê ek moet die ongedierte wat daarop is, in toom hou. Ek stuur saam met die boodskapper ook ‘n jakkalskaros vir koningin Victoria. Sê vir haar ek is die karos en die ongedierte is my volk. Sê sy moet haar vlerke oopmaak sodat ek en my volk daaronder kan inkruip. Ek beskou my reeds as haar kind.” Met die stuk van sy mantel wat dan sou afgeskeur is, het hy die stuk grond bedoel wat hy aan die Vrystaat moes afgee.
Basoetoland geannekseer
Wodehouse het op Mosjes se noodkrete gereageer deur eiemagtig daartoe oor te gaan om Basoetoland te annekseer as Britse kroonkolonie, nadat hy vooraf die ammunisievoorraad na die Vrystaat stopgesit het, in stryd met die bepalings van die Konvensies. Brand was genoodsaak om toe te stem in ‘n vergelyk, toe die Vrystaatse wapens op die punt was om te seëvier. Die tweede Verdrag van Aliwal-Noord is in 1869 gesluit, waarvolgens die Vrystaat toegelaat is om ‘n aansienlike stuk grond wes van die Caledon te behou, sowel as ‘n strook tussen die Caledon- en Oranjerivier. Maar die groot res van Basoetoland was vir die Vrystaat vir altyd verlore, alhoewel die Basoeto-probleem daarmee in ‘n groot mate opgelos is, veral na die dood van Mosjes op Thaba Bosigo kort daarna.
Ontdekking van diamante
Intussen het daar egter in 1867 nog ‘n probleem van groot omvang vir die Vrystaat aangebreek toe daar in die westelike deel van die Republiek diamante ontdek is.
‘n Sekere Van Niekerk, wat by ene Jacobs gaan kuier het op sy plaas langs die Oranjerivier in die omgewing van Hopetown, het gesien dat een van die klippies waarmee die kinders gespeel het, nie ‘n gewone een was nie. Dit was toe ‘n diamant. Later het Van Niekerk by ‘n toordokter nog ‘n groot diamant van 83 karaat vir beeste geruil. Dit is “Die Ster van Suid-Afrika.”
Dit het geblyk dat die gebied tussen die Vaal- en die Hartsrivier, wat Transvaalse grond was, ryk was aan spoeldiamante. Maar die rykste vondste is in die weste van die Oranje-Vrystaat ontdek, naby die samevloeiing van die Oranje- en die Vaalrivier.
Toe dit rugbaar word, het die fortuinsoekers soos aasvoëls uit alle oorde daarheen geswerm. Die Trans-vaalse regering het reëlings getref om wet en orde op die delwerye wat ontstaan het te handhaaf en president Brand het dit in die Vrystaatse gebied ook gedoen.
Die aanspraakmakers
Kort voor lank was daar ‘n hele swetterjoel aanspraak-makers op besitreg van die ryk diamantgronde. Afgesien van die twee Republieke, wie se grond dit onteenseglik was volgens die bepalings van die twee Konvensies waarvolgens Brittanje hul onafhanklikheid erken het, was daar veral ook Griekwa-groepe, onder aanvoering van Andries Waterboer, Niklaas Waterboer, Adam Kok en Kerneels Kok. Die meerderheid van hul onderdane het glad nie meer in die Vrystaat gewoon nie, maar vér wes daarvandaan by Griekwastad en omgewing. Ene David Arnot, ‘n Colesbergse prokureur, het met duistere bymo-tiewe al die Transvaalse en Vrystaatse diamantgronde vir sy kliënt, Niklaas Waterboer opgeëis en in die beroeringe wat ontstaan het, het die Kaapse goewerneur, Barkly, besluit om namens Engeland in te gryp.
Hy het beswaar gemaak dat die Republieke beheer uitoefen oor hulle regmatige eiendom en daar wet en orde handhaaf. President Brand het spesiaal Kaap toe gegaan om met hom die saak te bespreek, maar hy het geweier om hom te woord te staan.
Intussen het president MW Pretorius in goedertrou toegestem dat Transvaal se aanspraak op die diamantvelde in sy eie gebied aan die beslissing van ‘n arbitrasiehof onderwerp sou word. Dit het in 1871 in Bloemhof gebeur, waar goewerneur Keate van Natal uitspraak gegee het in die guns van Waterboer. Daar is gesê dat president Pretorius Transvaal se saak by hierdie geleentheid baie onbeholpe voorgedra het en daarom dit verloor het, alhoewel dit vooraf feitlik seker was wat die beslissing van die hof sou wees.
Daarna wou Barly hê dat president Brand die Vrystaat se eise ook aan die beslissing van ‘n arbitrasiehof moes onderwerp. Hy wou nie daarvan hoor nie. Hy wou van die gebied oos van die Oranje- en die Vaalrivier se same-vloeiing nie eers praat nie, maar hy was gewillig om die Vrystaat se regte oor die Campbellgronde, wat wes daarvan gelê het deur ‘n onpartydige arbitrasie te laat beslis. Hy het die koning van Holland of die president van die VSA of die keiser van Duitsland as arbiters voor-gestel. Dit het Barkly botweg geweier om te aanvaar.
President Brand het die Vrystaatse burgermag, wat die gesag op die delwerye moes handhaaf, versterk, maar toe stuur Barkly ook ‘n sterk troepemag na Hopetown. Die toestand het toe baie plofbaar geword.
Die Vrystaat word van sy regmatige eiendom beroof
Intussen het Barkly uit Engeland toestemming gekry om die diamantvelde te annekseer, wat hy toe gedoen het ten spyte van die teenkanting van die Kaapse parlement. Dit het ook hewige protes van die Vrystaatse volksraad uitgelok. Die burgers wou na die wapens gryp. Die Engelse regering het besef dat die Vrystaat nie so maklik die onreg wat hom aangedoen word, sou sluk nie en het toegestem dat daar in 1876 ‘n hof ingestel word wat alles weer moes ondersoek en wat toe Waterboer se aanspraak op die betwiste gebied as heeltemal vals verklaar het.
Met hierdie gegewens is president Brand na Engeland om weer die Vrystaat se regte op die diamantvelde te gaan opeis. Maar lord Carnarvon het aan hom gesê dat dit noodsaaklik was dat die sterkste moondheid in Suid-Afrika in besit van die diamantvelde moes wees! Hier-mee en met ‘n sommetjie van £90 000 as vergoeding vir die onreg wat hom aangedoen word, moes die Vrystaat maar tevrede wees . Die ryk diamantgebied wat die Britse ryk van hom geroof het, is later as Griekwaland-Wes by die Kaapkolonie ingelyf.
Gedurende die laaste jare van Brand as president van die Vrystaat, het hy die jong Republiek se staatkundige grondslae op ‘n gesonde voet geplaas. Die staat se geld-sake, die onderwys en die regspleging is opgeknap. Hy het ‘n hooggeregshof gestig en advokaat FW Reitz tot hoofregter benoem en twee ander regters om hom by te staan. Hy het ook die onderwys op ‘n gesonde grondslag gestel, deur onder andere vir dr Brebner as Superintendent van Onderwys aan te stel. Hy het die Vrystaat in ‘n modelstaat ontwikkel . Hy staan tereg bekend as die “Vader des Volks” van die Vrystaat. Na sy dood in 1888 het FW Reitz hom as vyfde president van die Vrystaat opgevolg.