Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe kom Jesus aarde toe? As ‘n Regter; Openbaring is duidelik hieroor. Met sy eerste koms het Jesus as ‘n nederige dienskneg gekom. Met sy tweede kom Hy as Regter en dit gaan vreeslik wees: “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het....” (Openb.20:11).
ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 5
Die uitbreiding na die binneland
Die ontevredenheid teen WA van der Stel se wan-bestuur het die twee bevolkingsgroepe nader aan mekaar gebring. Die Hugenote en die Hollandse koloniste het in die stryd teen die Goewerneur skouer aan skouer gestaan om sy korrupsie en tirannie te beveg. Van die 63 burgers wat die klagskrif onderteken het, was 31 Franse. Die geveg teen Van der Stel het hulle geleer om saam te staan.
Die veeboerdery
In 1706 was die meeste van die koloniste nog land-bouers, wat hulle bestaan uit die grond van die Kaapse wêreld moes maak. Hulle het te veel geproduseer en die Kaapse mark oorlaai. Die buiteland wou nie hulle produkte koop nie. Daarom het baie landbouers hulle saaiboerdery laat staan en veeboere geword. Die regering aan die Kaap het aan almal wat oor die grens wou beweeg, weilisensies uitgereik. Die jongmanne was gretig om dit te doen, want hulle kon alleen deur veeboerdery aan die lewe bly. Die seun van die landbouer het dan met sy klein klompie vee en sy weilisensie binne in sy Bybel in die wakis, oor die grense van die Kolonie na die dieper binneland getrek om vir hom ‘n selfstandige bestaan te gaan uitwerk. By die veeposte is eers net skaapwag-tershutte gebou, maar later het dit in voltyds bewoonde veeplase verander . Hulle het vir hulle vroue in die Kaap gaan haal en permanente woonhuise gebou. Al wat hulle moes betaal, was ‘n jaarlikse huur van 24 riksdaalders.
Elke veeboer het probeer om so ver as moontlik anderkant sy buurman te gaan woon, omdat die weiveld daar nog ongeskonde was. Hulle wou nie mekaar se skoorsteenrook sien nie.
Die geleidelike uitbreiding het voortgegaan totdat hulle voor natuurlike hindernisse te staan gekom het. Noordwaarts langs die weskus op, is die wêreld droog en sanderig. Die water is daar brak en skaars. Ooswaarts met die kusstrook langs, is hulle deur die digte Knysnabosse gestuit. Hulle moes naderhand maar deur die berge breek om uit te brei.
Botsing met die Boesmans
In noordelike rigting het hulle uitbreiding teen die weerstand van die Boesmans gebots. Hierdie klein, ligvoetige mensies het nie gesaai of geplant of enige vee aangehou nie. Hulle het van veldkos en wildsvleis gelewe. Hulle het met pyl en boog gejag en die diere met gifpyle doodgeskiet. In droogtetye wanneer veldkossies maar skaars was, moes hulle die mae maar inbind, want dan was die wild ook skaarser as gewoonlik. Hulle was geswore vyande van die Hottentotte. Wanneer daar nie wild was om te jag nie, het hulle op die Hottentotte se vee jaggemaak.
Die weivelde van die boere se vee, was die beste jagvelde van de Boesmans. Daarom het hulle probeer om die blanke indringers te verdryf. Daar het onsinnige wreedhede plaasgevind. Die Boesmans het gereeld die skaap- en beeswagters in die veld bygekom en wreedaardig vermoor. Dan het hulle nie die veetrop vir voedsel weggevoer nie, maar die diere doodgeskiet of hulle hakskeensenings afgesny en hulle verder vermink en daar laat lê.
Dit het die lewens en besittings van die Vryburgers baie onveilig gemaak, veral in die Nuweveld en die Sneeuberge. Daar was ernstige roofaanvalle in 1715, 1731, 1738 en 1754. Daar is bereken dat in die twee jaar van 1786 tot 1788 daar 107 veewagters vermoor en 99 perde, 6 299 beeste en 17 970 stuks kleinvee geroof of gedood is. Die boere het elke Boesman wat hulle onder skoot kon kry, doodgeskiet. In 1717 het hulle met ‘n kommando teen hulle opgetrek in ‘n poging om hulle heeltemal te verdelg, maar die Boesmanplaag het hulle nog tot aan die einde van die eeu bly teister.
Swellendam en Graaff-Reinet
Ten spyte van hierdie en ander hindernisse op die pad van die veeboere, het die uitbreiding maar steeds voortgegaan. In 1743 het hulle ‘n kerk gestig in die Land van Waveren, op die plek waar vandag die dorp Tulbagh is. In 1745 het hulle ‘n kerk in die Swartland gestig. In 1743 het daar ‘n drosdy by Kliprivier tot stand gekom. In 1748 het dit die naam Swellendam gekry.
Die grootskaalse trekboerbeweging het na 1750 voort-geduur. Verskeie boere het die droë Karooveld oorge-steek en hulle teen die hange van die Bokkeveld- en die Roggeveldberge gevestig. Teen 1760 was hulle alreeds aan die Sneeuberge en teen 1768 het hulle die Kamdeboo (Graaff-Reinet) binnegetrek. In 1750 was hulle al waar Calvinië vandag is.
Met die ooswaartse trek is plase aangelê teen die Lange- en Swartberge. In 1765 het die voorposte al aan die Gamtoosrivier gelê en is plase steeds verder ooswaarts uitgegee.
Goewerneur Van Plettenberg het in 1779 ‘n reis na die binneland onderneem. Hy het met die veeboere gesels en na hulle klagtes geluister. Hulle wou ‘n drosdy en ‘n kerk gehad het. Die Here 17 het dit ses jaar later eers aan hulle toegestaan toe die dorp Graaff-Reinet gestig is. In 1786 is Herman Otto Woeke as die eerste landdros van Graaff-Reinet aangestel.
Die Kôsas
Die ooswaartse uitbreiding van die Kolonie het in 1780 tot ‘n einde gekom toe die voorste boere by die Visrivier die eerste keer teen die swart Negroïede ras, die Bantoes, se Kôsa-stam te staan gekom het. Hulle het verhinder dat die boere nog verder ooswaarts kon versprei. Goewerneur Van Plettenberg het tydens sy reis na die binneland die Visrivier as grens tussen Wit en Swart vasgestel. Die boere kon net tot in die Suurveld, aan die westekant van die rivier, plase kry en die Kôsas het belowe om nie oor die Visrivier te kom nie.
In 1780 is die oostelike grens van die Kolonie dan vasgestel as die Visrivier en in die noordweste as die Buffelsrivier. Na die ooste het die veeboere toe al reeds ongeveer 800 kilometer van die Kaap af gewoon en 500 kilometer na die noordweste. Die Kolonie het aan die einde van die 18e eeu reeds uit vier distrikte bestaan. Dit is die Kaap, Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet.