Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons sê dat ons magteloos is teen die onreg, pyn en kwaad in die wêreld. Gebed is 'n magtige wapen wat God sy kinders gegee het om in so 'n wêreld te oorleef.
ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 4
Die tirannieke en skraapsugtige Goewerneur
In 1699 het Simon van der Stel sy amp neergelê. Hy is deur sy oudste seun, Willem Adriaan van der Stel, opgevolg. Hy het nie soos sy pa, die veeboerdery teen-gewerk nie, maar dit aangemoedig. Hy het nuwe plase aan nuwe immigrante toegeken in die vrugbare vallei tussen die Outenikwa- en die Witsenberge en dit die “Land van Waveren” genoem. Die boere wat hier plase gekry het, het sommer dadelik met veeboerdery begin. Die Goewer-neur het die grootste veeboer van hulle almal geword.
Die amptenare se groot boerderye
Die Kompanjie het in daardie tyd nie meer sy amptenare aan die Kaap toegelaat om te boer nie. Alleen die koloniste moes dit doen. Maar toe kom ‘n kom-missaris van die Kompanjie, Wouter Falkenier, na die Kaap en gee vir Willem Adriaan ‘n stuk grond van 400 morge in Hottentots-Holland. Goewerneur Willem gee toe weer vir Jan Hartog ‘n stuk grond van 117 morge wat aan syne gegrens het. ‘n Bietjie later het hy hierdie grond weer van Hartog teruggekoop. Die Goewerneur besit toe ‘n plaas van 517 morge.
Kommissaris Falkenier het ook aan ander amptenare stukke grond toegeken. Die sekunde, Samuel Elsevier, die fiskaal, Johan Blessius en ds Petrus Kalden, het groot plase gekry, maar die gewone amptenare, soos Starren-burg, De Wet en Ten Damme, het gewone plase van 60 morg ontvang.
Die Kommissaris het geen reg gehad om die plase uit te deel nie. Die Here 17 het nie geweet dat hy dit gedoen het nie. Hierdie amptenare was flukse boere. Hulle het baie graan geproduseer en gesorg dat hulle s’n eerste aan die skepe verkoop word. Hulle het dit ook aan die Kompanjie self verkoop. Die pakhuise was met hulle produkte gevul. Hulle het dit verkoop teen pryse wat hulle self vasgestel het. Gewoonlik het hulle twee maal soveel as die boere vir hulle graan gekry, want die pryse wat die Kompanjie aan die boere betaal het, was baie laag.
Wanneer daar vreemde skepe in die hawe opdaag, moes die boere spesiale verlof van die Goewerneur kry om hul produkte aan hierdie skepe te verkoop. Die verlof is gewoonlik nie toegestaan voordat die amptenare nie al hul produkte aan die skepe verkoop het nie. Hierdie amptenare het gesê hulle is die Kompanjie se egte kinders en die koloniste – die Vryburgerboere – is die onegtes. Daar het groot wrywing tussen die amptenare en die boere ontstaan.
Van der Stel se plaas
Goewerneur Willem Adriaan van der Stel het saam met hierdie amptenare die wantoestande aan die Kaap veroorsaak. Hy het sy groot plaas, wat hy Vergelegen genoem het, bewerk soos wat min boere dit kon doen. Hy het daar ‘n pragtige woonhuis gebou en baie buitegeboue laat oprig en daar met mening geboer. Hy het binne ‘n jaar reeds 61 morg onder wingerd gehad. Dit was meer as ‘n halfmiljoen stokke, ‘n kwart soveel as wat daar in die hele Kolonie was. Daarmee kon hy 600 lêer wyn in ‘n jaar lewer.
Hy het baie arbeiders nodig gehad om die werk op Vergelegen te doen. Hy het 200 slawe besit, maar saam met hulle het hy nog ‘n aantal kompanjieslawe gebruik. Daarby het hy 60 blanke knegte, wat deur die Kompanjie betaal is, op die plaas laat werk. Jan Hartog, die baas-tuinier, moes Vergelegen se tuine uitlê en oor die ander toesig hou. Al die hout, yster en ander boumateriaal wat gebruik is, het uit die Kompanjie se pakhuise gekom. Niemand het geweet of hy daarvoor iets betaal het nie. Om die materiaal na Vergelegen te vervoer, het hy eenvoudig ‘n paar boere gekommandeer, sodat dit hom niks gekos het nie. Sodoende het hy Vergelegen in ‘n modelplaas omskep. Die Here 17 het egter niks van sy bedrywighede, of van dié van die ander amptenare geweet nie.
Die Goewerneur het weke lank op Vergelegen deurgebring en hom hoegenaamd nie bekommer oor wat in die Kaap aangaan nie. Die Vryburgers het gekla dat ds Kalden ook sy werk verwaarloos, want hy het hom baie meer “met sy landerye bemoei as met die preekstoel.” Hy het hom later probeer verontskuldig deur te beweer dat hy sy plaas, Zandvliet, nie net besoek ter wille van sy boerdery nie, maar hy wou dan kwansuis Hottentots geleer het met die oog op sendingwerk!
Veronregting van die Vryburgers
Die Goewerneur en sy amptenare het lustig voortgegaan om met hul korruptiewe bedrywighede hulself te verryk en die Vryburgers gruwelik te veronreg. Die amptenare het op so ‘n groot skaal begin boer, dat hulle die hele mark alleen kon voorsien, sonder die boere. Die sekunde Elsevier het in 1705 vir die Goewerneur gesê dat daar na drie of vier jaar nie meer Vryburgers aan die Kaap nodig sou wees nie, want hulle paar amptenare sou in staat wees om aan die Maatskappy en aan die Kaap alles te voorsien wat nodig was. So min het die welsyn van die Vryburgers getel. Hulle is eenvoudig nie ‘n self-standige bestaan gegun nie. Dit het tot bittere onte-vredenheid gelei.
In 1705 het Van der Stel besluit om die wynpag, die reg om wyn aan die skepe te verkoop, nie meer aan vier persone toe te ken nie, maar net aan een alleen. Toe het hy gesorg dat een van sy gunstelinge dit kry, ene Johannes Phyffer, ‘n bekende skelm wat al vir wangedrag gegesel en vir ses jaar verban was.
Die Vryburgers kom in opstand
Dit het die Vryburgers se beker laat oorloop. Hulle het ‘n klagskrif deurgesmokkel gekry na die Raad van Indië in Batavia. Onderwyl hulle op ‘n antwoord uit die Ooste gewag het, het hulle ‘n tweede klagskrif opgestel wat hulle persoonlik aan die Here 17 in Holland wou besorg. Intussen het ‘n retoervloot uit Indië in 1706 in die Kaap aangekom en ‘n brief gebring waarin die Raad vir Van der Stel versoek om op al die klagtes wat die burgers teen hom het, te antwoord.
Die Goewerneur het vermoed dat hy ook in Holland aangekla gaan word. Hy het onmiddellik vir hom ‘n vleiende getuigskrif opgestel. Daarin stel hy homself voor as ‘n eerbare, deugsame en godsdienstige man, ‘n goeie regeerder wat altyd in belang van die Kolonie optree en die boere help om ‘n afset vir hulle produkte te kry. Toe het hy die Kapenaars, arbeiders, slawe en vissers na die kasteel genooi en hulle daar kwistig onthaal op tabak, wyn en bier en hulle versoek om die stuk te teken. Die meeste het geteken, want hulle het nie mooi begryp waaroor dit gaan nie. Daarna het hy landdros Starrenburg die stuk in die distrik laat rondneem sodat die “buiteliede” dit ook moes teken. Die burgers het feitlik almal geweier, maar uiteindelik het Van der Stel tog 240 handtekeninge gehad. Sommige daarvan was vervals.
Hy het vasgestel dat Adam Tas die opsteller was van die burgers se griewe. Hy het vir Tas onverwags gevange laat neem en beslag gelê op sy skryftafel. Daarin was afskrifte van dele van die klagskrif wat hulle teen hom opgestel het. Hy het nog ‘n paar ander gearresteer. Hy was van plan om vyf van hulle na Holland te stuur, waar hulle aangkla moes word van sedisie en rebellie. Toe stel hy ook nog ‘n kommissie aan uit die amptenare wat deur die koloniste verkla word, onder voorsitterskap van Starrenburg. Die kommissie moes ‘n regbank vorm om die opstandige koloniste te verhoor. Die meeste het geweier om voor hierdie inkwisisiehof te verskyn.
Die toestand het feitlik in ‘n burgeroorlog ontwikkel. Hy het mense voor hierdie hof van hom laat sleep, hulle gevonnis en in die kasteel in die donker gat laat aanhou, of hulle verban. Intussen was die retoervloot op pad na Holland, met Van der Stel se getuigskrif oor homself, maar ook met die vier burgers aan boord, wat hulle klagskrif teen die Goewerneur persoonlik aan die Here 17 gaan voorlê het.
Nadat die Here 17 die klagskrif ontvang en die manne se getuienis aangehoor het, het hulle nie gehuiwer om vir Willem Adriaan van der Stel te ontslaan nie. Saam met die skraapsugtige en tirannieke Goewerneur, is ook sy amptenarekliek, sekunde Samuel Elsevier, ds Kalden en landdros Starrenburg uit hulle ampte ontslaan en na Holland teruggeroep. Die burgers is vrygespreek van die aanklag van sedisie, muitery en rebellie. Die Politieke Raad van die Kaap is beveel om die gevange burgers onmiddellik vry te laat. Die wynpag en die vleispag is weer soos vroeër onder verskillende burgers verdeel. Die Goewerneur se plaas moes in vier dele verdeel en verkoop word.
Die koloniste kon nou ‘n bietjie vryer asemhaal na hulle oorwinning in die stryd teen goewerneur Van der Stel. Die stiefmoederlike behandeling wat hulle van die Kompanjie se amptenare ontvang het, moes hulle egter nog steeds in die 18e eeu verduur, totdat die Kaap in 1795 in die hande van die Engelse beland het.