Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesaja kla dat Juda slegter as diere is: “’n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes.1:3,4). Wat ‘n ongelooflike verval! Soos ons volk vandag?
DIE REBELLIE VAN 1914 (4)
Lees reeks by Die Rebellie van 1914
'n Kort reeks van ses aflewerings oor 'n volk in opstand, 'n verhaal oor verraad en van heldedade tydens die rebellie van 1914. Ons helde, De la Rey, De Wet, Maritz, Kemp, Beyers en Jopie Fourie, staan hier in skerpe kontras met verlooptes soos Smuts, Botha en diesulkes sonder vaderlandsliefde.
GENERAAL JAN KEMP - DIE STRYDER IN DIE WOESTYN
deur Mike du Toit
JAN CHRISTOFFEL GREYLING KEMP is in Oos-Transvaal op 10 Junie 1872 gebore. Hy het sy skoolopleiding in Pretoria ontvang en daarna het hy op Krugersdorp in die kantoor van die mynkommissaris gewerk, waar hy ook af en toe as kommissaris waargeneem het. Tydens die Jameson-inval het hy op die voorgrond getree en word hy luitenant van die Krugersdorpse Vrywilligers Korps. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek, het hy as gewone burger saam met die Krugersdorpkommando na Noord-Natal gegaan waar hy aan verskillende belangrike veldslae soos Spioenkop deelgeneem het. Hy is kort daarna tot assistent-veldkornet bevorder en vroeg in 1900 tot kommandant.
In Februarie 1901 word hy as veggeneraal aangestel. Hy het sy kommando tydens die oorlog in verskeie belangrike gevegte gelei, soos onder andere by Vlakfontein, Moedwil, Driefontein, Ysterspruit, Tweebosch en Roodewal. Kemp was een van dertig afgevaardigdes van Transvaal wat na Vereeniging gereis het om vrede met die vyand te oorweeg. Hy het aan die vredesamespekings deelgeneem maar het voet by stuk gehou dat vrede alleen met behoud van die Republieke se onafhanklikheid kon plaasvind. Hy was een van ses afgevaardigdes wat teen die Vrede van Vereeniging gestem het.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 was Kemp ’n majoor in die Staande Mag en bevelvoerder van die militêre kamp op Potchefstroom. Toe Kemp vir die eerste keer hoor genl. Koos de la Rey beplan om die Vierkleur op 15 Augustus te hys, was hy baie ontsteld. Hy en Manie Maritz het toe reeds twee jaar tevore afgespreek dat as daar oorlog in Europa kom, hulle sou saamwerk om die ou Boererepublieke se onafhanklikheid te herstel. Hy het besef dat De la Rey se planne hulle eie planne in die war sou stuur. Hy het verder besef dat Engeland eers "seer" moes kry tydens die oorlog sodat hulle nie met mag kan terugslaan as daar in opstand gekom word nie. Boonop was daar nog geen werklike planne agtermekaar vir so ’n opstand nie. Op 10 Augustus besoek Kemp vir De la Rey en probeer hom afraai om met sy planne voort te gaan, sonder suskes. Tog word hy teen sy beterwete in tot ’n mate deur De la Rey se geesdrif en sekerheid meegesleur.
Toe De la Rey op 15 September as gevolg van Smuts se verraad teen sy eie volk doodgeskiet word, bereik die nuus Kemp op 16 September om 02:00 die oggend. Later teken hy in sy dagboek aan: "Om twee-uur voormiddag op 16 September was die hele Rebellie op ’n einde." Op 20 September hou die volk ’n roubyeenkoms in Lichtenburg. Verskeie mense spreek die skare toe, waaronder genls. De Wet en Beyers. Tog was dit duidelik dat niemand regtig geweet het wat die optrede vorentoe moes wees nie.
Hierna gebeur dinge baie vinnig. Beyers word al hoe meer op die voorgrond gestoot as die leier van die Rebellie, sonder dat hy werklik wil. Intussen probeer Manie Maritz om Beyers sover te kry om met die Duitsers in kontak te kom, maar Beyers doen dit nie. Genl. Jan Smuts, as lakei van die Britse magte, het intussen besluit om Maritz te probeer uitoorlê en selfs gevange te neem. Maritz besluit toe op 2 Oktober om na Duits Suidwes-Afrika (DSWA )uit te wyk waarop Smuts en sy handlanger, Louis Botha, besluit om krygswet af te kondig en teen die rebelle op te tree. De Wet probeer daarop om na Maritz deur te breek maar word in die proses gevang.
Kemp, wat intussen tot die besef gekom het dat Beyers nie werklik wil optree nie, besluit daarop om self na Maritz deur te breek. Sy krygsraad steun sy besluit.
Net voor hulle vertrek, tree ’n skraal figuur na vore. Dis Siener van Rensburg. "Ek gaan saam," sê hy.
Daarop begin sekerlik een van die mees dramatiese gebeure van die 1914 Rebellie.
Op 2 November vertrek Kemp met 600 man na DSWA. Voor hulle vertrek spreek Kemp sy kommando toe. Hy wys daarop dat water en gras op die roete baie skaars is, dat die natuur teen hulle is en dat die regering hulle bes sal doen om te verhoed dat hulle by Maritz uitkom. Die volgende dag ry hy en sy manne Schweizer-Reneke binne. Hulle kommandeer perde en muile op en maak voedsel bymekaar. Vir alles reik hulle kwitansies uit. Nog 470 man van die dorp besluit om saam met Kemp te trek, onder andere Cornelis van Rooyen wat die Kalahari soos die binnekant van sy hand ken. Op pad sou nog ’n baasverkenner by hulle aansluit, naamlik Henry Williams.
Toe Kemp Kuruman bereik, het hy omtrent 720 man by hom. Hier kry hy teenstand van regeringstroepe wat weier dat hy deur die dorp trek. Hy bluf hulle met ’n boodskap dat as hulle hom nie toelaat om deur die dorp te trek nie, hy sy kanonne op die dorp sal laat lostrek, terwyl hy in werklikheid geen kanonne het nie. Die blufspel werk. Kemp en sy manne kry ’n vrygeleide om deur die dorp te trek. Die Kuruman tuiswag word ontwapen en die wapens vir Kemp se manne gevat. Nou het omtrent ’n derde van Kemp se manne darem wapens.
Op Maandag 9 November trek Kemp verder. Eers wes en toe suid. Die volgende dag kom hulle op Vlermuislaagte aan. Daarna trek hulle weer suid na Dikepping.
Intussen het die regeringsmagte agtergekom waar Kemp hom bevind. Van oraloor stroom regeringsmagte op hom af. In die woestyn weet Kemp nie hoe De Wet en Beyers se protes vorder nie. Hy hoor ook niks van Maritz nie. Boonop het hy nie wapens en perde vir al sy manne nie. Selfs die paar perde wat hulle het, vrek vanweë die geweldige hitte en tekort aan water.
Naby Postmasburg sak regeringsmagte op Kemp toe. Hy swenk weg en steek die Langeberg oor. Al vegtende trek hulle wes. Met groot moeite bereik hulle Witsand. Hier vind ’n hewige skietgeveg plaas. In die nag trek Kemp na Kheis. Die perde word gelei want hulle is te swak om te ry. Wat hy nie weet nie, is dat ’n groot aantal regeringstroepe reg van voor op hom afkom. Toe die verkenners dit uitvind, is Kemp se kommando op ’n kaal duin sonder enige dekking.
Hy wil weer wegswenk, maar toe staan Siener van Rensburg op. "Generaal," sê hy, "dis nie nodig om jou te bekommer nie. Ek het gesien ’n groot trop springbokke trek reg op ons af. Maar dan swaai hulle weg en gaan verby. Bly net hier, ons is heeltemal veilig."
Kemp laat toe sy manne so goed as dit kan posisie inneem, want ontsnapkans is daar in elk geval nie. Die skemer sak toe op die duineveld. In die nagstilte word die gedruis van ’n groot troepemag wat aankom, al hoe duideliker. Die vyand kom reg op die duin afgetrek waar Kemp se manne op die kaalte lê en wag vir die onvermydelike. Toe, aan die voet van die duin, swenk die vyandelike troepe en trek verby, so naby dat die brandwagte die sterlig op hulle knope kan sien blink. Gedurende die nag verdwaal die vyandelike troepe in so ’n mate dat hulle nie weet waar hulle is nie. Kemp se kommando trek daarop Kheis toe. Op hierdie vreeslike skof vrek baie perde van die dors. Toe Kemp Kheis bereik, wag die regeringsmagte hom in. Weer eens volg ’n hewige skietgeveg. Die regeringsmagte besluit om terug te val.
Op 21 November bereik Kemp Swartkop, net om weer in regeringsmagte vas te loop. Hulle steek die vyand verwoed onder die lood, en verdryf hulle in een roekelose stormloop. Dit is egter tydelike verligting, want op Upington wag Louis Botha self en 10,000 vyandige troepe op Kemp.
Daarbenewens lê nog ’n sterk regeringsmag net buite die dorp terwyl ’n groot vyandige troepemag reg agter hulle is. Kemp besluit om skerp noord te swaai. Digte mis trek soos ’n sluier op hom en sy manne toe. So ontsnap hy aan die slagyster wat vir hom gestel is.
By Rooiwal loop Kemp weer in regeringstroepe vas. Die keer is hy heeltemal omsingel. Daar is geen uitkomkans nie. "Gaan haal die profeet," sê hy. Die ou man kom nader. "Toe, Siener, wat sien jy?" Die ou man wil huil. "Niks nie, Generaal." Maar later die aand kom Siener by Kemp aan, en sy oë rol in hulle kaste. "Generaal! Generaal, ek’t gesien die gordyn gaan op ’n skrefie oop, ons glip deur! Net daar, met daardie paadjie!"
Kemp se offisiere wil hulle doodlag. Later die aand, na die bespreking, besef Kemp se offisiere hulle is heeltemal vas totdat een voorstel: "Kom ons probeer Siener se paadjie."
Die nag lei Kemp sy manne soos Siener wys. In die flou maanlig sluip hulle reg op die regeringsmagte se kanonne af, swaai vlak voor hulle weg en trek om die battery.
"Watter mense trek dan nou hier in die nag?" vra ’n wag by die kanonne, reg om ’n waarskuwingskoot af te vuur.
"Moet kommandant Conroy se kordon wees wat aangebring word," sê sy maat. "Hulle kom glo hier iewers ’n oop plekkie afsluit."
So, sonder dat ’n enkele skoot geskiet word, sluip Kemp se manne uit die regeringsmagte se strik. Dwarsdeur die nag trek hulle. Toe die regeringsmagte die volgende oggend agterkom Kemp is weg, is hulle woedend, veral Louis Botha wat intussen persoonlik die bevel kom oorneem het. Hulle jaag dadelik agter Kemp aan, en dit word ’n vegtende resies na Steenkampsput.
Vandaar trek Kemp na Grondneus met Botha op sy hakke, ’n getalle-oorwig van 10 teen een teen Kemp-hulle. Op 26 November kom Kemp op Grondneus aan. Hy vra kommandant Schoeman om sy agterhoede te dek sodat hy en die hoofmag kans kry om vooruit te trek. Weer eens ontkom hulle die vyand en verdwyn in die Langklipberge. Nou trek meeste manne te voet in die hitte, sonder water, want die paar ooblywende perde kan nie meer nie.
Op Warmvlei, net buite Nakob, ontmoet Kemp uiteindelik vir Maritz. So eindig ’n onmenslike en onvergeetlike tog van byna vier weke in die semi-woestyn onder die allermoeilikste omstandighede.
Die feit dat Kemp sy manne in so-iets kon lei en die vyand telkens suksesvol kon ontkom, spreek boekdele vir sy karakter en deursettingsvermoë.
Op 16 Desember lê die burgers onder Kemp en Maritz weer die Bloedriviergelofte af. Hierop verklaar Maritz die Unie van Suid- Afrika vry van Britse gesag en ’n voorlopige regering word aangewys bestaande uit Beyers, De Wet, Kemp, Apie Bezuidenhout en Maritz self.
Op 22 Desember val Kemp en Maritz Nous aan en verower dit. Hulle neem baie wapens en ander goedere buit. Nou eers hoor hulle vir die eerste keer van Beyers se dood, en dat De Wet gevang is. Hulle trek terug DSWA toe en na lang beraadslaging besluit hulle om met die regeringsmagte te begin onderhandel oor vrede. Smuts weier egter om te onderhandel. Ten einde die vyand "te laat luister" val Kemp en Maritz die regeringsmagte op 11 Januarie 1915 by Lutzputs aan. Weer eens word die vyand verslaan en baie goedere gebuit.
Baasverkenner Henry Williams word daarop na Upington gestuur om met die regeringsmagte oor vrede te onderhandel. Smuts beveel egter die regeringsmagte om die rebelle op die slagveld te vernietig en nie met hulle te onderhandel nie. Boonop word Williams gevange geneem om die rebelle aan ’n lyntjie te hou en om hulle uit te lok om aan te val.
Teen Kemp se mening in, is dit dan ook presies wat die meerderheid rebelle-offisiere besluit. Vir oulaas word Siener van Rensburg nader geroep. "Toe, oom Klasie," sê Kemp, "sien jy iets? Sê vir ons!"
"Generaal, ja, ek sien, maar ek weet nie so mooi nie. Ek sien ’n geweldige swart berg reg voor ons in die pad. Ons loop teen die kranse vas, daar is nie ’n paadjie uit nie. Dan sien ek ons in Upington, hulle deel vir ons suiker uit..."
Die volgende dag val die rebelle Upington aan met katastrofiese gevolge. Na ’n hewige geveg besluit die rebelle om die aftog te blaas. Die manne is erg gedemoraliseer en moeg vir oorlog maak. Op aanbeveling van Smuts maak die regeringsmagte asof hulle met die rebelle wil onderhandel maar in werklikheid is hulle besig om hulle te omsingel.
Op 30 Januarie begin daar samesprekings en die volgende dag word ’n vredesooreenkoms geteken. Maritz besluit egter weer eens om na DSWA uit te wyk terwyl Kemp inderdaad op 2 Februarie aan die regeringsmagte oorgee. Hy word tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis en met R2 000 beboet. In November 1916 word hy egter weer vrygelaat. In 1920 word Kemp volksraadslid van Wolmaransstad vir die Nasionale Party, in 1924 Minister van Landbou en in 1935 Minister van Lande. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 verlaat hy saam met genl. Hertzog die kabinet. Met die totstandkoming van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty word hy saam met adv. J. G. Strijdom mede-leier van hierdie Party in die Transvaal.
Kemp het twee boeke met ’n politieke strekking geskryf, Vir vryheid en reg (1941) en Die pad van die veroweraar (1942).
Op 31 Desember 1946 is hy in die distrik Piet Retief oorlede.
Kemp se persoonlike geskiedenis lees soos die verhaal van ons volk se geskiedenis oor ’n baie kritieke tydperk van sy bestaan. Bittereinder tydens die Tweede Vryheidsoorlog, rebel in 1914, Nasionale Party ondersteuner ná 1914 en Herenigde Nasionale Party-ondersteuner na 1940. Ons eer die nagedagtenis van so ’n man!