Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen mens kom weens sy goedheid in die hemel nie, slegs deur die bekering. Dis al hoe jou naam in die boek van die lewe geskryf kan staan; geen ander manier nie. Daarom is die oordeel van die teksvers hard en duidelik: “En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp”. Wees wys en bekeer jou terwyl jy een baie belangrike ding aan jou kant het – tyd!
DRIE EEUE VAN ONREG: Hoofstuk 3
Ons voorgeskiedenis
Nadat die mensdom van die hele Europa uiteindelik uit sy middeleeuse slaap wakker geword het en die groot herlewing van die Renaissance momentum gekry het in ‘n poging om weer die vervloë Romeinse en Griekse beskawings te laat herleef, het daar ‘n verfrissende tydperk van ontwikkeling en vooruitgang plaasgevind op wetenskaplike, kulturele en godsdienstige gebied. Nuwe uitvindings en ontdekkings het die Europese nasies in staat gestel om die onbekende Ooste oor land te bereik en met Sjina en Indië veral in speserye handel te dryf. Venisië het hierin die voortou geneem. Die Florentynse handelaars het die speserye van die Arabiere bekom, wat dit in die Ooste gaan haal het. Die Portugese het dit met hulle skepe by Konstantinopel en Alexandrië gaan haal en na Lissabon vervoer, waar dit deur die ander nasies, veral die Engelse en die Hollanders, weer gekoop en oor die res van Noord-Europa versprei is.
Die speseryhandel het floreer, ten spyte van die feit dat dit peperduur was. Te veel belanghebbers, wat almal daaruit wou geldmaak, het die pryse die hoogte laat inskiet. Die roete oor land deur Klein-Asië na Indië, was gevaarlik weens aanvalle deur struikrowers en die vyandigheid van die Mohammedane teenoor hulle tradisionele vyand, die Christene.
Hierdie landroete was baie lank en dit het baie tyd geneem om die gesogte Oosterse handelsware te bekom. Die Turke het Konstantinopel in 1453 ingeneem en later het Alexandrië ook in hulle hande geval. Daarna was die pad na die Ooste vir Europese handeldryf feitlik gesluit.
Prins Hendrik die Seevaarder
Vir Portugal, die ou klein landjie op die Iberiese skiereiland, was dit van lewensbelang om die winsgewende handel in speserye voort te sit en uit te brei. Daarom is ernstig gedink aan die moontlikheid om Indië en die spesery-eilande met ‘n seeroete te bereik, indien ‘n seeweg om die suide van Afrika gevind kon word. Die Portugese prins, Hendrik die Seevaarder, het ‘n groot aandeel gehad in die latere sukses wat die Portugese uiteindelik hiermee behaal het. Hy was ‘n vooruitstrewende en vêrsiende leier. Alhoewel hy tot sy dood in 1460 nooit persoonlik aan enige ontdekkingsreis deelgeneem het nie, het hy veel gedoen om die Portugese belangstelling en strewe te bevorder.
Portugese skepe het al verder suidwaarts langs die weskus van Afrika die onbekende oopgebreek. Hulle het in 1419 tot by Madeira gevorder en dit ingeneem. ‘n Paar jaar later neem hulle die Asore in besit en in 1434 vaar hulle om Kaap Bojader. Twaalf jaar later kom hulle tot by die mond van die Senegal.
Tot hiertoe was daar aan die kuslyn net Saharasand, maar toe kom hulle by ‘n pragtige groen streek en noem dit Cabo Verde. In 1471 het hulle die ewenaar oorgesteek en in 1484 het Diego Cam die mond van die Kongo bereik. Toe hulle by die Slawekus en Nigermond verby is, het hulle vasgestel dat die kus weer suidwaart loop.
Daarna het die Portugese probeer om Guinee as handelsentrum in te rig, want daar kon peper gekweek word. Maar hierdie poging het misluk en daarna is ‘n ernstige poging aangewend om verder suid om Afrika die seeweg na Indië te probeer vind.
Bartholomeus Diaz
Die seevaarders het nie in die noordelike halfrond probleme met koersbepaling ondervind nie. Hulle het deur middel van die poolster vasgestel op watter breedtegraad hulle hul bevind het, maar in die suidelike halfrond het die ster ontbreek. Die stand van die suiderkruis was aan hulle nog onbekend. ‘n Neurenbergse kosmograaf, Martin Behaim, het egter aan die einde van die vyftiende eeu ‘n instrument, die astrolabium, uitgevind waarmee met behulp van die hoogtehoek van die middagson, die breedtegraad waar hulle hul bevind het, bepaal kon word.
Toe koning Johan II van Portugal dus in 1487 aan die jong edelman, Bartholomeus Diaz, wat die opsigter van die koninklike Guinee-pakhuise in Lissabon was, opdrag gee om ‘n ekspedisie te organiseer met die uitsluitlike doel om ‘n poging aan te wend om om die suidpunt van Afrika te vaar en die seeweg na Indië te ontdek, het Diaz sy taak met selfvertroue aangepak. Hy het met twee klein vaartuigies van 50 ton elk en ‘n voorradeskip in Augustus 1487 die mond van die Taagrivier verlaat op sy geskiedkundige tog na die suide.
Diaz het dig by die kus gehou en so ver as wat hy gegaan het aan die kape en baaie, name gegee. Toe hulle uiteindelik by Angra Pequena (Luderitzbucht) kom, het hy daar ‘n klipkruis geplant. Op 26 Desember het sy skepe by die huidige Elizabethbaai verbygevaar. Teen die tyd dat hulle die breedte van St. Helenabaai bereik het, was die land nie meer in sig nie. ‘n Storm het die skepe blykbaar te ver suid gedryf. Toe die storm na ‘n paar dae bedaar, het hulle die land weer gesoek deur ooswaarts te vaar, maar dit het misluk, want hulle was reeds al suid van die suidpunt van Afrika. Hulle het dit besef en toe in ‘n noordelike rigting begin vaar en by land uitgekom, wat na alle waarskynlikheid die huidige Visbaai was.
Hier het die eerste Blankes in die geskiedenis op Suid-Afrikaanse bodem getrap. Omdat hier geen vars water was om in te neem nie, het hulle verder gevaar tot by die waterryke Mosselbaai. ‘n Aantal matrose het hier aan wal gegaan. ‘n Klompie Hottentotte wat daar rondgedwaal het, het hulle gesien en die bosse ingevlug, maar ‘n rukkie later het hulle teruggekeer toe die Portugese besig was om water in te neem en hulle met klippe begin bestook. In die skermutseling wat gevolg het, is ‘n Hottentot doodgeskiet. Dit was die eerste bloed wat gevloei het in die stryd tussen wit en swart in Suid-Afrika.
Diaz-hulle het die tog voortgesit tot by Algoabaai. Hier het die matrose by hom aangedring om om te draai en na die vaderland terug te keer, want hulle was moeg geveg teen die see en die storms en die gevreesde skeurbuiksiekte, wat onder hulle geledere gemaai het en veroorsaak word deur die gebrek aan vars voedsel op die skepe. Na onderhandeling het Diaz hulle oorreed om nog drie dae lank verder ooswaarts te vaar. Hulle het die “Infante”-rivier bereik. Waarskynlik was dit die Keiskama. Hier het Diaz baie teen sy sin maar omgedraai en die lang seepad terug huis toe aangepak.
Hy het besef dat hy die groot Afrika-versperring op die seeweg na die Ooste baasgeraak het en dat hy reeds al ver om die suidpunt van die groot kontinent gevorder het, want die kuslyn het nou in ‘n noord-oostelike rigting gestrek, terwyl hulle in ‘n warm seestroom gevaar het. Hy het geweet dat hy die seeweg na Indië ontdek het.
Op sy terugreis het Diaz in April 1488 ‘n kaap ontdek wat hy Cabo Tormentoso (Stormkaap) genoem het, maar later verdoop het tot Cabo de Boa Esperanca, Kaap van Goeie Hoop, want sy ontdekkings het goeie hoop vir die seeweg na Indië gebring.
Nadat hulle ook op die lang terugreis groot ontberings gely en baie gevare trotseer het, waarin die voorradeskip nie die tog oorleef het nie, het Diaz met sy twee skepe na afwesigheid van ‘n jaar en ‘n half in Desember 1488 weer in sy vaderland teruggekeer. Portugal se droom kon nou verwesenlik word, want die suidpunt van Afrika is ontdek en die seeverkeer tussen die Weste en die Ooste kon nou ‘n werklikheid word, maar daar het byna tien jaar verloop voordat daar weer aandag aan hierdie groot onderneming bestee is.
Vasco da Gama
Intussen het Christoforus Columbus in 1493 op ‘n weswaartse oseaanvaart vanaf Spanje wat hom geborg het, Amerika ontdek. Hy het vas geglo dat hy al om die ronde aarde geseil het en by Indië uitgekom het. Dit was vir die Portugese ‘n ernstige aansporing om Bartholomeus Diaz se ontdekkings op te volg en langs die seeweg om die suidpunt van Afrika met die Ooste handel te dryf.
Die man wat koning Manuel I in 1497 met ‘n vloot van 4 skepe en ‘n bemanning van 170 uitgestuur het om Diaz se werk te gaan voltooi, was die 38-jarige Vasco da Gama (1460-1524), ‘n vrygesel en seun van ‘n magistraat. Hy was van ‘n ander stoffasie as die sagmoedige Diaz. Hy het nie veel seevaartkennis gehad nie en moes maar op sy loodse staatmaak, maar hy was streng, ferm, onbuigbaar en opvlieënd van aard en sou nie maklik voor ‘n vyand swig of die aftog blaas nie. Hy het voor Manuel ‘n eed afgelê “om uit te gaan om die oseane en lande van Indië en die Ooste te ontdek.”
Sy vloot het op 8 Julie 1497 vertrek. Een van die matrose, Petro de Alanquer, was Diaz se loods op sy ontdekkingsreis. Diaz se broer Diego Diaz, het die tog meegemaak as Da Gama se sekretaris. Bartholomeus Diaz self, het ook ‘n entjie met hulle saamgegaan om Da Gama “op die regte koers te bring.” Waarom hy met sy kennis en ervaring nie die tog enduit meegemaak het nie, is ‘n onbeantwoorde vraag.
Nadat hulle die Kanariese en Kaap Verdiese Eilande verby is, het hulle eers suidoos gevaar, maar daarna het hulle die kuslyn verlaat en in ‘n suidwestelike rigting die eentonigheid van die Atlantiese Oseaan 96 dae lank verduur. Hulle wou die storms en seestrome vermy wat Diaz naby die land moes trotseer. Op 4 November het daar weer land sigbaar geword.
‘n Paar dae later vaar hulle St. Helenabaai binne en vertoef daar ‘n week om die skepe se seile te herstel en brandhout en water in te neem. Dáár het ‘n botsing plaasgevind met ‘n klompie strandloper-Hottentotte, waartydens Da Gama self en ‘n paar van sy manskappe gewond is.
Die vloot het op 22 November om die Kaap van Goeie Hoop gevaar en drie dae later in Sao Bras (Mosselbaai) aangekom. Daar het hulle die voorradeskip opgebreek en sy lading op die ander skepe gelaai. Hulle het hier ook strandloper-Hottentotte raakgeloop en ‘n bietjie ruilhandel aangegaan en ‘n bees of meer bekom vir snuisterye soos krale en koperdraad.
Toe die Portugese begin om water vir die skepe in te neem, het die Swartes skielik vyandig geword. Hulle beskou die water as hulle eiendom wat nie van die land af weggedra mag word nie! Toe Da Gama op die eiland in die baai ‘n kruis inplant, het die Hottentotte begin om dit te verniel, maar ‘n paar skote wat op hulle gelos is, het hulle die land laat invlug.
Die skepe het hul vaart voortgesit en aangesukkel in die storms en teen die warm Agulhasstroom, maar op 25 Desember het hulle behoue aangekom by ‘n pragtige, bosryke kus, waarskynlik dié van Pondoland. Da Gama het dit Terra de Natal genoem, ter herinnering aan Kersdag. Hulle is verder langs die kus op en kom op 11 Januarie 1498 by die mond van ‘n riviertjie wat hulle Rio do Cobre (Koperrivier) genoem het, want die Swartes wat
hulle hier aangetref het, was nie Hottentotte nie maar Bantoes, wat allerhande koper-voorwerpe by hulle gehad het.
Op 25 Februarie 1498 het Da Gama by Kilimane aangekom en persoonlik kennis gemaak met hulle tradisionele godsdiens- en handelsvyand, die Mohammedane. Hulle was ‘n gemengde ras van Bantoes, Arabiere en Perse, wat vanaf Mosambiek met die Ooste handelgedryf het.
Da Gama het 32 dae by Kilimane vertoef om sy gehawende skepe weer op te knap. Die inwoners was aanvanklik vriendelik, maar toe hulle later besef dat die Portugese as handelsmededingers gekom het, was hulle oral waar Da Gama gekom het, vyandiggesind. Portugal het later daarin geslaag om die handelstryd in die Indiese Oseaan teen die Arabiere te wen.
Da Gama het Mombasa besoek en by Malindi aangedoen, waar hy gelukkig die diens van ‘n inheemse stuurman verkry het, wat hom oor die Adriatiese See na Kalikoet vergesel het. Hy het met die Hindoevors van Kalikoet ‘n handelsverdrag gesluit en in Augustus 1498 die terugreis aanvaar en in September 1499 weer in die vaderland aangekom, na afwesigheid van twee jaar, met net twee van die vier skepe en net een derde van die bemanning, wat nie hul lewens weens skeurbuik en ander oorsake verloor het nie.
Stigting van die Portugese koloniale ryk
Da Gama is met groot eerbetoon weer in sy vaderland terug ontvang. Hy is tot edelman en admiraal verhef en in 1503 is die hele Portugese vloot aan sy sorg toevertrou. Deur sy werk en dié van manne soos Petro Cabral, Francisco d’ Albuquerque (spreek uit: De Alboekerk) en Francisco d’ Almeida, het die Portugese nie net die Arabiere se mag in die Ooste gebreek nie, maar vir hulle self ‘n uitgebreide koloniale ryk in die Indiese Oseaan, langs die Ooskus van Afrika en in Indië opgebou. In hierdie gebiede het die kruis uiteindelik oor die halwe maan geseëvier.
Die Portugese besettings het egter nooit verder as die kuslyn gestrek nie. Toe hulle agterkom dat hulle nie winsgewend met die Swartes kon handeldryf nie, het hulle hul links laat lê en hulle op hul Oosterse handel toegespits. Buitendien was elke kontak wat hulle met die Swartes gemaak het, onaangenaam. Francisco d’ Almeida, die eerste onderkoning van Indië, het in die Tafelbaaise strand saam met 50 matrose ‘n roemlose dood gesterf in ‘n geveg met misrabele barbaarse Hottentotte. Dit het die Portugese afgeskrik. Die Kaap was vir hulle net ‘n lastige hindernis, wat die seeverkeer na Indië baie verleng en gevaarlik gemaak het. Daarom het hulle hierdie suidpunt van Afrika, met sy gevaarlike storms en seestrome en gebrek aan natuurlike hawens liewer vermy en hulle vars vleis, groente en vrugte by Mosambiek en St. Helenabaai ingeneem.
Die opkoms van Nederland
Die Portugese het byna ‘n eeu lank die wêreldhandel beheer. Speserye en ander handelsware wat in die Ooste bekom is, is vanaf Lissabon oor Noord- en Suid-Europa versprei. Ander nasies, hoofsaaklik die Nederlanders, het dit gretig daar kom koop en dit winsgewend aan die Westerse wêreld voorsien. Die Nederlande is geografies baie gunstig geleë langs die besige seeroete tussen Noord- en Suid-Europa. Die bevaarbare waterweë van die groot riviere, die Ryn, Meuse en Scheldt, het die handelsmoontlikhede met die res van Europa bevorder.
Die Nederlandse handel het vroeg in die 16e eeu begin bloei, ten spyte van die feit dat hulle vanaf 1568 ‘n dralende oorlog wat 80 jaar geduur het, teen Spanje moes veg. Hierdie lang stryd tussen Rooms-Katolieke Spanje en die Protestantse Nederlanders het ontwikkel in ‘n nasionale oorlog, waarin die vasberade Hollandse Geuse nie tou opgegooi het voordat hulle hul vryheid in 1648 met die Vrede van Munster ontvang het nie. Die sewe noordelike provinsies, Holland, Zeeland, Utrecht, Friesland, Groningen, Overysel en Gelderland, het tydens die langdurige oorlog alreeds in 1579 die Unie van Utrecht gesluit en daarmee die Republiek van die Nederlande in die lewe geroep. Suid-Nederland het België geword en Amsterdam het belangriker as Antwerpen en Brugge geword en ontwikkel in ‘n reusagtige handelsentrum.
Die Nederlandse handel het bly ontwikkel en begin om te floreer ten spyte van hul langdurige stryd teen Spanje. Van hul skepe het naderhand selfs handelsware wat die vyand nodig gehad het, aan hulle gaan verkoop! Die Hollandse ondernemingsgees en handelsvernuf het geen perke geken nie. Hulle het elke moontlike geleentheid gebruik en suksesvol ontwikkel. So het daar ‘n florerende visnywerheid ontstaan. Die Hollandse riviere en kuste is vol van allerhande eetbare vis. Die Nederlandse haringhandel het geweldig uitgebrei. Die sout vir hierdie nywerheid het hulle in Frankryk en Spanje gaan haal.
Sedert die middeleeue was die Nederlandse tekstielnywerheid al in Europa bekend weens die hoë gehalte van hul laken- en linnewewery. Na die Spaanse verowering van die Suid-Nederlande, het die laken- en linnewewers hulle in Leiden en Haarlem gevestig. Daarna het laken en linne van die allerbeste en fynste soorte, kosbare artikels vir die binnelandse en buitelandse handel geword.
Die Nederlanders was van oudsher reeds selfversorgend aan lewensmiddele soos graan, groente, slagvee, kaas en botter. Hulle het hul veral met erns toegespits op suiwelproduksie, en roem oor die hele Europa ingeoes vir die lekker smaak van hul kaas en botter wat uitgevoer is
.
Die Hollanders, wat maar in ‘n ou klein landjie gewoon het, het na mate hul boerdery, landbou en veeteelt toegeneem het, behoefte aan meer grond gehad. Hulle het groot moeite gedoen om land in te dyk en droog te lê. Die oppervlakte van Noord-Holland en Zeeland is byna onherkenbaar verander en die plattelandse bevolking het aansienlik toegeneem.
Die opbloei en sukses van die Nederlandse handel is grootliks bevorder deur die verligte en verstandige handelsbeleid waarmee hulle dit bedryf het. Die handelaars is nie gekniehalter deur diskriminerende tolle en belastings nie. Selfs vreemdelinge is toegelaat om onbelemmerd in Nederlandse hawens en stede handel te dryf. Die Stategeneraal en die Provinsiale State het hulle geensins met die handel ingelaat nie, sodat gesonde ondernemingsgees nie gekortwiek is nie.
Die Nederlanders het by uitstek Europa se vragvaarders geword. Hulle skepe het nie net die Oosterse produkte wat deur die Portugese tot by Lissabon gebring is, deur Europa versprei nie, maar was nodig om eie produkte uit te voer en die nodige grondstowwe vir hul nywerhede te gaan haal. Daarvoor was baie skepe nodig. Die ondernemende Hollanders het self hulle skepe gebou. Hulle het die nodige timmerhout in Noorweë gaan haal, by die Zaanrivier houtsaagmeulens opgerig en hul skeepsbouery daar ingerig. Teen 1640 het die Hollandse skeepswerwe nie minder nie as 2 000 skepe per jaar gebou. Hulle het ook nie soos die Engelse en Franse net een tipe skip gebou nie. Hulle het een vir militêre doeleindes ontwerp en ‘n vragskip vir handeldryf gebou.
Die gevoel van samehorigheid wat gedurende die Tagtigjarige Oorlog tussen die Hollanders gegroei het, is deur hul handelsukses bevorder. Dit het ontwikkel in ‘n gesonde patriotisme, ‘n vaderlandsliefde wat geseëvier het met die Vrede van Munster in 1648, toe die Republiek van die Nederlande deur vriend en vyand erken is.
Die Hollanders het onverskrokkenheid, deursettingsvermoë en ondernemingsgees van die hoogste gehalte aan die dag gelê. Portugal het agter geraak. Sy verouderde skepe en korrupte administrasie het daartoe bygedra. Spanje het net oë gehad vir Suid-Amerika. Duitsland was na die Dertigjarige Oorlog van 1618-1648 totaal versnipper. Frankryk was verswak deur al sy godsdiensoorloë, maar Engeland het ‘n bloeityd belewe onder regering van koningin Elizabeth I. Hulle handel en seevaart het sterk toegeneem. Die Engelse het dan ook later die Hollanders se gedugte mededingers geword.
Toe dit vir die Hollanders gevaarlik word om die vyandige Spaanse en Portugese hawens binne te vaar, het hulle ander weivelde gaan soek. Dit was nie lank nie of hulle skepe vaar deur die Middellandse See na Italië en tot by Konstantinopel en ander Turkse hawens. Hulle gaan haal sout by die Kaap Verdiese Eilande en vaar tot by Guinee aan die Goudkus en tot by die Ivoorkus. Hulle het selfs ‘n poging aangewend om die Ooste oor Noord-Europa te bereik en daarin geslaag om die handel met Noord-Rusland van die Engelse af te neem. Hulle vaar selfs na die Portugese kolonie, Brasilië, ten einde die gesogte brasiel-hout te bekom.
Stormkaap word halfwegstasie
Aan die einde van die 16e eeu was die Hollanders nie meer tevrede om bloot vragvaarders vir die Portugese te wees nie. Hulle het besluit om self die rykdomme in Oos-Indië te gaan haal. Hulle het ‘n maatskappy gestig en op 2 April 1595 het hulle vanaf Teksel met die vier skepe, die Hollandia, die Mauritius, die Amsterdammer en die Duifken in den naeme des Heeren, onder leiding van Jan Huyghen van Linschoten en Cornelis de Houtman, om die Kaap gevaar tot by Madagaskar. Hier het hulle twee weke lank vertoef om die gehawende skepe weer seevaardig te kry en die bemanning wat nog geleef het, geleentheid te gee om van die skeurbuik-siekte te herstel. Hulle het op 23 Julie 1596 by Bantam, op Java aangekom en keer weer op 15 Augustus 1597 te Teksel terug, nadat hulle byna 2½ jaar weg was.
Dit was ‘n rampspoedige reis. Ongeveer 150 man het gedurende die reis aan skeurbuik omgekom. Die 100 man wat oorgebly het, was te min en te swak om die vier skepe weer tuis te besorg. Daarom het hulle die Amsterdammer, wat een van hul beste skepe was maar tydens die reis onklaar geraak het en nie meer seevaardig was nie, aan die brand gesteek om te verhoed dat hy in Portugese hande val.
Hierdie eerste tog van die Hollanders was nie juis ‘n handelsukses nie, maar hulle het nou gesien dat hulle in staat was om self na die Ooste te vaar en was vasbeslote om met beter voorbereiding, meer oorleg en meer ervaring, ‘n winsgewende handel met die verre Ooste op te bou. Hulle het dadelik nog drie maatskappye in Amsterdam gestig, in Rotterdam twee, in Seeland twee en in Delft een. Die handel het begin om te floreer.
In 1598 het daar 28 groot skepe vir drie van hierdie maatskappye na Indië gevaar, maar die winste het intussen onrusbarend begin daal, omdat die verskillende maatskappye genadeloos met mekaar begin wedywer het. Dit het die winste soveel laat daal dat van die kleiner maatskappye bankrot gespeel het en die groot Hollandse en Seeuse maatskappye feitlik voortdurend in ‘n handeloorlog teen mekaar verkeer het. Die belowende Hollandse handel met die Ooste het gevaar geloop om ‘n ernstige knou te kry, maar vêrsiende en invloedryke manne soos Oldenbarnevelt en Prins Maurits het met die Stategeneraal se hulp daarin geslaag om die maatskappye te verenig in één sentrale liggaam, die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie.
Hierdie HOIK is bestuur deur 17 direkteure, wat die hoogste mag besit het en die monopolie ontvang het van die algehele handel met die Ooste vanaf Kaap die Goeie Hoop, in die Indiese Oseaan, tot selfs oor die groot Stille Oseaan, tot by die Straat van Magellaan. Hulle skepe het die speseryeilande Ambon en Banda en die Molukke besoek en die Portugese daar verdryf. Hulle het ‘n sentrale bestuur in Oos-Indië in die lewe geroep en die Engelse in 1609 uit Djakarta op die eiland Java verjaag en hulle hoofkwartier, Batavia, daar gebou.
Die behoefte aan ‘n verversingspos
Die Kompanjie het van die begin af op hulle reise om die Kaap na Indië ‘n groot behoefte ervaar aan ‘n geskikte verversingspos, waar die skepe vars water en voedsel kon inneem want die gevreesde skeurbuik-siekte het op die lang reise onder die matrose gemaai. Op die heenreis na Indië het die skepe dikwels aan die Kaap water ingeneem en op die terugvaart weer by St. Helena aangegaan.
Om vars vleis in die hande te kry, het hulle ‘n aantal skape op die eiland aangehou. Wanneer die skepe dan daar aandoen, het die matrose van die skape gevang en geslag. Die skape het mettertyd van die alleenbly op die eiland taamlik wild geword. Daar is toe van honde gebruik gemaak om hulle te vang, maar toe gebeur dit dat van die honde op die eiland agtergebly het en ook wild geword het en die skape opgevreet het. Buitendien het Engelse skepe ook begin om die eiland te besoek en die vrugte en alles wat eetbaar was te stroop. So het St. Helena as verversingspos misluk.
Maar toe strand daar op 25 Maart 1647 ‘n retoerskip, de Nieuwe Haerlem, in Tafelbaai. Die bemanning en die grootste deel van die vrag is gered. Veertig man is deur die retoervloot van Hollebrant de Jongh na Holland geneem. Daar het 60 agtergebly om die voorraad te versorg. Onderwyl hulle gewag het om ook huistoe geneem te word, het hulle in die Tafelvallei ‘n fortjie gebou, met die naam Zandenburgh.
Die skipbreukelinge het bykans ‘n jaar in Tafelbaai gewag op die aankoms van ‘n retoerskip vanaf Batavia, wat hulle weer na Holland geneem het. Twee van hulle, Leendert Janszen en Matthys Proot, het ‘n verslag van hulle verblyf aan die Kaap opgestel en dit voor die Here XVII gelê. Hierin het hulle die stigting van ‘n verversingspos of halfwegstasie in Tafelbaai bepleit. Alhoewel hulle dit baie sterk aanbeveel het en die H O I K dit in beginsel goedgekeur het, het hulle eers vier jaar later sover gekom om vir Jan van Riebeeck Kaap toe te stuur met die opdrag om hier te lande ‘n verversingspos te kom oprig, waar verbyvarende skepe van vars water en voedsel voorsien kon word.