Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is gewoonlik só op aardse oorlewing ingestel. Dikwels kwel ons ons soveel dat ons sieleheil skade ly. Ons bou aan aardse skatte en koninkryke waar daar ingebreek en gesteel word. Baie van ons pogings is net 'n gejaag na wind, met geen ewigheidswaarde nie. Maak in hierdie nuwe jaar eerder vir jou hemelse skatte bymekaar; vertrou God en Hy sal vir jou die nodige dinge hier op aarde byvoeg.
EMILY HOBHOUSE... (4)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Skaars het Emily haar voete in Londen gesit of sy is knie-diep in die gistinge en roeringe wat in verband met ’n moontlike oorlog in Suid-Afrika in die Britse hoofstad prut en kook.
Eenkant is daar die oorgrote meerderheid, opgesweep deur invloedryke koerante, wat luidrugtig sa! skree en net wil hê Engeland moet die Boererepublieke annekseer. Daar is baie praatjies oor die regte van die Uitlanders in Transvaal vir wie Brittanje dan in die bresse moet tree, maar dis net ’n ekskuus: die politici aan bewind wil die land met sy goud vir die Empire inpalm - soveel van die wêreld as wat hulle in die hande kan kry, wil hulle konsolideer in die magtige Britse Ryk. En hulle is so oortuig van hul meerderwaardigheid dat hulle hul verbeel die "lesser breeds” van ander lande kan maar te dankbaar wees vir die voorreg om deel van die groot ryk uit te maak.
Maar daar is Engelse wat anders voel. Hulle sê dis skandelik vir ’n magtige ryk om klein landjies se vryheid te wil afvat net om homself ryker te maak. Hulle skaam hulle vir wat die politici aan die doen is en vir die manier waarop hulle Engeland se naam vir geregtigheid en "fair play” deur die modder sleep. Hulle is ’n baie klein minderheid en die hele histeriese woede van die oorlogs- beluste openbare mening is teen hulle. Hulle word uitgekryt vir Pro-Boers. Omdat hulle die Britse Ryk nie tot elke prys uitgebrei wil sien nie, word hulle sarkasties genoem: Little Englanders. Hulle is meestal van die Liberale Party wat in hierdie dae stry vir vryhandel, die regte van kleiner volke, selfregering vir Ierland en kliphard probeer om die Imperialiste uit die kussings te lig.
Onder hulle is vooraanstaande manne, en vroue ook, wat onselfsugtig vir die beginsels van reg staan en wat glo dat jy onreg moet beveg waar hy ook al sy kop uitsteek. Dis die soort mense wat nie net vir die regte van die Boerevolk voel nie, maar ’n hart het ook vir hul eie arm mense en onderdruktes, wat veg vir die regte van die vrou, vir beter maatskaplike toestande, beter opvoedingsgeriewe. Hulle het ’n roepingsbewustheid wat nog die vrug is op die godsdienstige herlewings vroeër in die eeu in Engeland. Emily moet uit haar hele aard en agtergrond by hulle aansluiting vind.
Haar broer Leonard, op die Manchester Guardian, is een van hulle. Die hele Tweede Vryheidsoorlog deur sal sy hoofartikels in daardie Pro-Boer-blad sterk stelling inneem teen die roof-oorlog.
Haar Uncle Arthur Hobhouse en die intelligente, liewe Aunt Mary, voel net so sterk oor die saak. In hul groot sitkamer in Brutonstraat, Londen, spreek verskeie vooraanstaande besoekers uit Suid-Afrika Londense gehore toe en lig hulle in oor die ware toestand van sake in Suid-Afrika.
Nog belangriker is die Courtneys. Toe sy uit Amerika terugkom, kry Emily werk by ’n welsynsliggaam, die Women’s Industrial Council. ’n Leidende aandeel daar neem Kate Courtney, deur wie Emily dan kennis maak ook met haar man Leonard, en die huis in Londen waar sy werklik mens word. Mnr. Leonard Courtney, nou al by die sewentig en feitlik blind, is die voorafgaande twintig jaar al die lid vir Cornwallis in die Britse Laerhuis. Daar is hy die gesaghebbende oor Suid-Afrika-sake. Hulle noem hom al "die Huis se gewete oor Suid-Afrika”. Sy standpunt oor die oorlog sal hom uiteindelik sy setel kos. Niemand veroordeel die Jameson-inval feller as hy nie. "This colossal blunder, this fatal inroad,” noem hy dit in ’n vuurwarm toespraak.
Die Courtneys se groot ou rooibaksteenhuis by Cheyne Walk 15, is ’n bymekaarkomplek van wie ook al vir hierdie soort sake voel, in die politiek belangstel, van lewendige meningswisseling hou. Suid-Afrikaners soos Merriman, Sauer, die Charles Murrays en so meer, word almal daar onthaal, en Leonard Courtney skep die geleentheid vir Liberale Engelse politici soos sir Henry Campbell-Bannerman om persoonlik met hulle kennis te maak en uit hul eie mond te hoor hoe die vurk regtig in Suid-Afrika in die hef steek.
Emily se Chelsea-woonstel is daar naby, net ’n kort entjie se stap, so met die Embankment langs. Dikwels loop sy in by die groot smeedysterhek waardeur ’n mens die fonteintjie kan sien wat altyd so gesellig daar in Kate se blomtuintjie rinkel en speel. Dikwels is sy vir etes aan die lang tafel aan die bopunt waarvan mnr. Courtney sit, ’n bietjie flambojant geklee in sy vaal onderbaadjie en die helderblou baadjie met die bronsknope.
Sy voel daar amper meer tuis as by Uncle Arthur en Aunt Mary-hulle. Gesprekke aan tafel by Uncle Arthur-hulle is altyd op so ’n verhewe peil, so intelligent en besadig dat ’n mens nie sommer iets stuitigs kan sê nie. Maar by die Courtneys is daar geen geduld met enige hoogdrawendheid hoegenaamd nie. Kwinkslae is, tussen die erns deur, aan die orde van die dag. Kate Courtney - ’n suster van die sosialistiese kampvegster Beatrice Webb - gesels lewendig saam. Vir Emily, wat haar hele lewe lank na sulke omgang met geesgenote gehunker het, blom die wêreld oop. Sy begin belangstel in die politiek. Sy gaan luister in die Parlementshuis na toesprake en vir die res van haar lewe kuier sy op haar lekkerste in ’n geselskap van intelligente mans.
(Later jare, toe sy gedurende die Tweede Vryheidsoorlog in Bloemfontein by die Fichardts tuis is, verwonder klein Ella Fichardt haar aan hoe Miss Hobhouse met die mans gesels. Sy beduie selfs opgewonde met haar vurk. "Ma,” vra klein Ella, "hoekom mag Miss Hobhouse met haar vurk beduie en ek nie ?” "My kind,” se mev. Caroline Fichardt, "’n mens moet eers jou maniere leer - dan kan jy hulle begin vergeet! ”
Dis die oortuiging van meneer - later lord - Courtney met sy helder wiskundekop dat Britte en Boere met mekaar in Suid- Afrika sal regkom, as hul verskillende standpunte net eerlik en kalm gestel en wedersyds begryp word. En oorlog of nie oorlog nie, sê hy, onthou : daarna moet Engels- en Hollandssprekendes eendag weer met mekaar in dieselfde land saamwoon. Hy neem dus die voortou met die stigting en word president van die South African Conciliation Committee.
Dis ’n liggaam wat hom beywer vir beter onderlinge begrip tussen Suid-Afrika en Brittanje en wat veral alles in sy vermoë doen om die histeriese imperialistiese pers se verregaande verdraaiings oor Suid-Afrika reg te stel. Onder sy lede is van die bestes uit Engelse intellektuele kringe, met verskeie van die voorste sosiale mense ook.
Die S.A.G.C. gee talle pamflette uit, byvoorbeeld Shall I slay my brother Boer? deur die vurige W. T. Stead, Sir Alfred Milner’s War, Olive Schreiner’s Appeal, The War and its Causes, Summary of Reasons for Farm Burning, Pro-Boers Vindicated deur Edmund Burke. Oor die volgende paar jaar verskyn om en by honderd; sommige hamer ook op die konsentrasiekampe.
Manne soos John Morley, Stead en Courtney steek vuurwarm toesprake af. Op Manchester, ’n maand voor die oorlog uitbreek, spreek mnr. Courtney 7,000 Lancashire-mense toe en praat hy van "the prayer we dare not pray : God defend the right! ” Ook Emily kom op die verhoë. Vier myl van haar tuisdorpie, op Liskeard in mnr. Courtney se kiesafdeling, tree sy op saam met die Lloyd George, voorste Liberale politikus, vir wie ou Tom Barret-hulle so tot in die grond toe verfoei.
Mens het iets nodig waarin jy jou met hart en siel kan werp. Dit was nooit meer waar as in Emily se geval nie, veral na die episode met die kêrel met die snor wat haar so teleurgestel het. Sy wy haar nou geheel en al aan die groot, moeitewerd saak.
Mnr. Courtney ken sy mense: hy vra haar of sy nie ere-sekretaresse wil word van ’n vroue-afdeling van die S.A.C.C. nie. En Emily, wat daardie jaar maar vir die eerste keer met Suid-Afrika se sake te doen gekry het, laat staan alles en spring voltyds aan hierdie werk. Dit kos haar, sal sy later beken, feitlik al die vriende van haar jeugjare.
Sy’s nie die soort sekretaresse wat sommer net notule hou nie. Sy het ondememingsgees, sy het verbeelding, en dit kom by haar op: hoekom kan ons, die vroue van Engeland, nie ’n groot protesvergadering teen hierdie onregverdige oorlog hou nie? Ses weke lank werk sy, self nog feitlik vreemd in Londen, van soggens agtuur tot saans elfuur saam met ’n helpster, Anna Griffin, en te midde van die heersende oorlogshisterie soek hulle vroue wat bereid is om saam met hulle te protesteer.
Hulle sien kans en huur die enorme Queen’s Hall, met sitplek vir duisende. Op 13 Junie 1900, toe die oorlog nege maande aan die gang is, is daardie saal kant en wal vol - nie net met vroue uit Londen nie, maar van oor die hele Engeland. Die kongres van Liberale Vroue was toe net in Londen, en Emily-hulle het hul almal bygekom.
Mev. C. P. Scott, vrou van die redakteur van die Manchester Guardian, is die hoofspreekster. Daar is veel wat die bloed vinniger laat vloei in simpatie met die Boere, sê sy, en voeg by: "If for saying this, we are told we do not love our country, we can bear it bravely being well assured that what is best in our country will always claim kindred with a free people struggling to maintain their liberty! ”
Die vroue keur eenparig die oorlog af - die een effense 'ê' wat daarteen gehoor is, het glo gekom van ’n babetjie in die saal wat begin huil het, sê Emily.
Hoewel sy oorspronklik nie sou praat nie, word sy gevra om die vierde en laaste mosie wat daar aanvaar word, voor te lees. Sy doen dit bewoë:
"That this meeting desires to express its sympathy to the women of the Transvaal and Orange Free State, and begs them to remember that thousands of English Women are filled with profound sorrow at the thought of their sufferings, and with deep regret for the action of their own government.”
Dis een van die merkwaardigste vergaderings wat in lang jare in Londen plaasgevind het, berig die Westminster Gazette, "Maar nou ja... wat bereik dit eintlik ?” vra Emily agterna met ’n gevoel van teleurstelling vir mnr. Courtney.
"My kind,” sê die wyse ou heer, "onthou dit: al is daar nie dadelik ’n praktiese resultaat nie, dis tog altyd goed om gesamentlik en kalm protes aan te teken teen wat verkeerd is.”
Sy hele lewe lank is dit sy taak om die openbare mening te vorm en mense tot beter insigte op te voed.
En dit sou vir Emily tot troos gewees het om te weet dat ’n mev. De Beer twee dae later, op 15 Junie, in Kaapstad voor die Dames Comite voorstel dat ook die vroue van die Kaapkolonie ’n protesvergadering moet hou, soos dié wat nou net in Londen gehou is. Op Graaff-Reinet, die Paarl en Worcester word indrukwekkende protesvergaderings dan ook wel gehou. Graaff-Reinet s’n was ’n week of twee voor die Londense, hulle stuur ’n spesiale afvaardiging onder leiding van prof. De Vos en ds. Moorrees na Londen...
Tot in hierdie stadium, sê Emily, was hulle Pro-Boers eintlik maar die meeste begaan oor Engeland se goeie naam wat deur die optrede van sy staatsmanne beklad word. Maar stadigaan het daar, ondanks sensuur, klein paragrafies in die Engelse pers begin uitslaan, en het terugkerende soldate en besoekers uit die Kolonie van ’n verskriklike ding begin vertel: die Britse leër in Suid-Afrika is besig om plaashuise af te brand en vroue en kinders haweloos veld in te ja - en dit nou in Junie, in die bitterste winterkoue ! Menslike meegevoel kry nou die oorhand oor morele verontwaardiging.
Vir Emily, wat haar lewe lank met haar hart dink, word die gedagte aan hierdie ellendiges ’n nagmerrie wat haar vir g’n oomblik met rus laat nie: dakloos, koud, honger, wanhopig bly hulle voor haar. So diep is haar ontroering dat dit vir haar is of sy helder soos op ’n doek voor haar sien hoe sy tussen hulle beweeg en hulle help.
Daar sal mense wees wat nie aan "visioene” glo nie, sê sy later jare hieroor in ’n brief aan mev. pres. Steyn. Sy weet nie. Sy kan net sê wat met haar gebeur het. Watter uitleg julle ook al daaraan wil gee, dit was ’n gevoel wat in stilte gegroei en ontwikkel het tot ’n onwrikbare sekerheid, sê sy.
Nou, prakties wees: dit sal nie baat om kaalhand te gaan nie. Mense het reeds spontaan vir haar bydraes begin aanstuur. In September 1900 besluit sy om met mening te begin insamel. As prominente lid van die S.A.C.C. kan sy so iets natuurlik nie doen sonder om eers met die president, mnr. Courtney, te praat nie. En om by mnr. Courtney verby te kom - daarvoor sal ’n mens jou storie moet ken. Hy is daarvoor bekend dat hy nie vir onbekookte planne te vind is nie, dat hy die voor- en nadele van enige saak baie, baie versigtig teen mekaar opweeg.
Dit tref so dat Emily in hierdie tyd juis by die Courtneys in Cheyne Walk tuis is: sy het erg verkoue onderlede gehade en Kate Courtney het haar uit haar woonstel kom haal en huistoe gebring om haar ’n bietjie te vertroetel. Om met mnr. Courtney oor die saak te praat, is vir haar ’n berg. Een oggend, as die twee bejaarde vriende van haar laterig aan ontbyttafel kom sit — Emily was al vroegoggend op, besig met briewe skryf, koerante lees, organiseer en doen - gaan sy reg op die man af en stel haar saak.
Mnr. Courtney het eers bedenkings. Die ou heer stap op en neer in die kamer, op en neer. Dan gaan staan hy voor die venster en kyk uit op die fraai tuintjie wat al na herfskleure begin deurslaan. Hy tik, tik, tik, tik teen die ruit soos hy sy vier bedenkings formuleer: Weet ons genoeg van die toestand om sommer halsoorkop in te spring met ’n hulpfonds ? Hoe gaan dit uitgedeel word ? Hoeveel kan ons hoop om in te samel - £10,000? - en wat sal die bietjie help? Belangrikste nog : sal die militêres ooit toestemming gee?
Emily het, so goed as sy kan, ’n antwoord op elk van die punte. Nou ja, toe dan, sê die Courtneys, nog bietjie huiwerig.
Dis vir Emily of daar vlerke aan haar voete is toe sy die kamer uitstap. Die mure van Jerigo val! sing haar hart. So sal sy nog alle ander hindernisse ook te bowe kom, glo sy nou.
Vervolg...