Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die
onderwysing van jou moeder nie;
want dit is ’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou
hals.
EMILY HOBHOUSE... (6)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Daar is mense wat wil hê Emily moet daarop aandring om al die konsentrasiekampe te besoek. Daar is nou al sprake van ’n stuk of elf. Maar sy glo ’n halwe eier is beter as ’n leë dop. Sy kan later weer praat. Hoofsaak is : sy het Kitchener se verlof om na die oorlogstoneel te kom.
Die volgende dae is sy druk besig. Milner stuur vir Walrond om haar te help. Sy koop met haar £300 12 ton se goed (groothandel): 6 ton kosware, 6 ton klerasie . . . mens is net so in die duister, voor jy self daar was, weet jy nie wat regtig nodig is nie. Die spoorweë — doen Milner ook hier ’n woord ? — stel ’n skameltrok vir haar beskikbaar, so groot dat sy dit tot haar spyt nie eens heeltemal kan volpak nie. Sommer daardie aand sal haar trok vortgaan, sy self die aand daarna. Voor haar vertrek reël mev. Koopmans de Wet nog ’n byeenkoms dat mense haar op die vooraand van haar groot ondememing kan ontmoet, miskien adresse kan gee van mense in Bloemfontein oor wie hulle spesiaal bekommerd is, dat sy kan laat weet hoe dit met hulle gaan.
"En waar sal u in Bloemfontein tuis gaan?” vra Charlie Fichardt - hy’s in Engeland opgelei in die regte, hy was tot kort tevore burgemeester van Bloemfontein, toe kom die oorlog: hy is een van die 1,200 wat by Paardeberg uit genl. Cronjè se beleërde laer uitbreek, maar hy word gevang en is nou op parool in die Kaap. "Gaan bly by my moeder, toe - ek sal haar laat weet,” sê hy vir mej. Hobhouse. "Dis al wat ons nou nog nodig het, dat mej. Hobhouse by ons moet kom tuis gaan,” sug mev. Fichardt, wat al klaar so oorhoops was met die Britse militêre, toe sy Charlie se brief kry.
Emily se Kaapse vriende kom groet haar die aand op die stasie. Dis ’n windstil volmaannag. As die trein stadig uittrek op sy reis na die warm Noorde waar die oorlog woed, kyk sy met ’n hart wat krimp na die groepie ondersteuners wat op die perron agterbly. Hier gebeur nou waarna sy soveel maande al gehunker het. Maar noudat dit so ver gevorder is, noudat sy alleen die gevaarvolle vreemde ingaan, trek haar keel toe. Dit beur haar op as sy, toe hulle op Soutrivierstasie stilhou, in die maanlig ’n trok sien wat sy haar verbeel hare moet wees. Blykbaar word dit daar by haar trein aangehaak, want op De Aar sal sy dit weer sien.
Sy hang by die treinvenstertjie uit. Die pragtige berglandskap van die Hexrivier in die maanlig betower haar. As sy die volgende oggend wakker word, breek die dag net asemrowend oor die Karoo : wat ’n land is dit die!
’n Dag lank, terwyl die trein daardeur voortkruip, verkyk sy haar aan die onbekende landskap, die vreemde plantegroei, die grillige rotsformasie, die koppies sonder boom of skaduwee. Die groot geheimnisvolle stilte van die veld hang oor alles. Die tweede dag is daar verskriklike stofstorms en donderbuie. Die sand kom selfs deur die toe deure en vensters in, in haar ore, in haar oë, in haar hare — soos ’n tafellaken lê dit oor alles in die kompartement.
Soos hulle verder gaan, begin hulle al hoe meer tekens van oorlog teenkom, blyke van die deurtog van ’n groot leër. Dooie diere-karkasse lê oor die veld gestrooi, bo draai groot aasvoëls rond, en ’n verskriklike stank styg op. Die spoor gaan verby ’n paar afgebrande plase, en oral langs die spoor is daar verveelde Tommies op wag wat by haar venster kom inloer en vra of sy tog nie vir hulle iets het om te lees nie.
As De Wet nou maar wou toeslaan, dan was dit tog ’n bietjie afwisseling op die vervelige tog! dink sy.
Die trein hou kort-kort stil. Daar is geen eetwa nie, en die passassiers moet maar kyk wat hulle te ete kan kry by die stasiekafeetjies en primitiewe koffiekamers by die haltes. Emily is die enigste vrou op die hele trein. By stasies aangekom, is daar altyd so 'n gedrang van kakies om die kosplek dat dit vir ’n middeljarige en nie alte deftige vrouepersoon moeilik gaan om haar pad tot voor by ’n toonbank oop te druk. Emily moet meestal maar sien kom klaar met die padkos wat haar vriende vir haar ingesit het.
Afgesien van die vrugte, wat in hierdie hitte nie lank kon hou nie, het sy brood, met ’n blik appelkooskonfyt daarby en botter in ’n blik in ’n klam vadoek, ’n stofie en ’n blik kakao. Dis so warm dat die botter ondanks die nat vadoek smelt en uitloop. Op hierdie reis en die treinreise wat sy in die volgende paar maande moet meemaak, sal sy nog gewoond raak aan appelkooskonfyt en droë brood drie keer op ’n dag. Dit het my deurgesien, vertel sy later, maar baie jare lank kon ek appelkooskonfyt nie in die gesig kyk nie!
Dis vieruur die middag toe sy bakwarm, stowwerig en tam op Bloemfontein se stasie van die trein afklim. Sy ken geen mens hier nie, en dis kakies net waar jy kyk. Daar is ’n kring van kampe reg rondom die stad en ’n mens kan jou nie roer sonder dat jy voorgekeer en jou pas of permit gevra word nie. Emily voel sy kan verstik. Sy kry ’n kamer in ’n hotelletjie wat glo die beste in die dorp is, en haar moed vir haar ondememing sak tot by sy laagste punt.
Die volgende oggend is die rytuig van mev. Caroline Fichardt, Charlie se moeder, voor die deur. Sy sou mej. Hobhouse baie graag wil huisves, sê sy, maar sy het soveel moeilikheid met die militêre, Emily moet tog liewer net eers verlof van hulle kry.
Mev. Fichardt, weduwee van een van Bloemfontein se bekende winkeliers, is van huis uit ’n nooi Beck van Grahamstad, haar moeder was ’n Engelse meisie wat na Suid-Afrika gekom het om te kom onderwys gee. Maar die Fichardts is Afrikaansgesind genoeg. Toe die Kakies kom, skryf die een dogter, Maudie, ’n hartstogtelike pleidooi dat Vrystaters tog nooit moet vergeet hulle is Vrystaters nie. Haar broer Bertie versprei die afgerolde vlugskrifte. Hy sny boonop daardie nag al die Union Jacks wat nuut oor Bloemfontein wapper van hul vlagpale los. Die Britte soek hoog en laag na die astrante oortreders. Mev. Fichardt, doodbenoud dat haar span uitgeken sal word aan die watermerk van die stapels papier wat nog in haar huis lê, gaan steek die pak weg bo onder die dak van die kombuis waar die warmwatertenk sit. Al op die dwarsbalke langs moet sy klouter, en elke keer as sy haar kop teen ’n dakbalk stamp, sug sy: "Oh, why did you have to do it? Oh, why did you have to do it?” Maar regtig kwaad vir hulle is sy tog nie.
Toe Emily met sir Alfred Milner se bekendstellingsbrief by genl. Pretyman, militêre bevelvoerder van die Oranjerivier-Kolonie, aankom en vra of sy by mev. Fichardt mag tuis gaan, val hy amper op sy rug. Maar sy’s dan so giftig teen die Engelse! sê hy. Wel, sê Emily vroom, dalk doen dit haar goed as ek by haar bly.
So kom sy tereg in die enorme ou Victoriaanse dubbelverdieping met sy stoepe en balkonne wat vir haar gedurende haar verblyf in die Vrystaat ’n oase word. Kaya Lami heet dit. In die yslike tuin wat van straat tot straat strek, is ’n somerhuisie wat saans met Chinese papierlantems verlig word; daar’s ’n tennisbaan en, ’n terras laer af, ’n kroukiebaan waar Emily soms ’n rukkie speel; daar’s ook ’n biljartkamer uitgebou in die ruim, boom-omsoomde tuin, met sy heerlike perskes en soet, soet druiwe. Hangmatte hang onder die koeltebome . . .
Daardie eerste oggend in Bloemfontein is haar goed skaars van die hotel oorgebring na die Fichardts se huis, of Emily is af stasie toe om te reël vir die aflaai van haar trok proviand en klerasie. Arthur Fichardt gee vir haar ’n ry leë pakkamers. Die hele stikwarm oggend pak sy uit, pak sy uit.
Ook hier in Bloemfontein is die vroue al voor haar koms druk besig met noodlenigingswerk vir die vroue en kinders in die kamp wat net buite die dorp gevorm word. Aan die huis van pres. Steyn se oudste suster, die groot, hartlike mev. Hannie Blignaut, is so ’n depot waar klere ontvang en vir die kampmense uitgesorteer word. Een van die fluksste helpers hier is die kontante jong Maynie Fleck wat ’n groot rol sou speel in die spin- en weefskole wat Emily ná die oorlog onder die verarmde Boervroue en -meisies sou stig. Sy kom gereeld in die Refugee Camp hier buite, totdat haar permit, soos ook mev. Blignaut s’n, sonder opgaaf van rede ingetrek word. Maar vir eers nog kon sy daar kom. Miss Maynie hou nie haar mond vir Engelsman nie, nie sy nie. Sy’t met broers grootgeword en kan haar vuiste fluks gebruik
- "en dan’s ek nog links ook,” kan sy veelseggend byvoeg. Van hierdie vrouekomitee, waarin ook die merkwaardige mev. dr. Otto Krause dien, sou Emily in die weke wat kom alle moontlike hulp kry. Hulle sal mettertyd die vemaamste uitdeel-werk op hul neem, sodat sy vry kan wees om „die owerheid te ry.”
Vieruur op die hygende Bloemfonteinse somermiddag. kom Emily vir die eerste keer in ’n konsentrasiekamp. Teen ’n lae, vaal, doodgeskroeide koppie ’n myl of twee noordwes van die stad - regs van die Spitzkop-pad - sonder ’n beduidenis van boom of skadu- wee, strek ry op ry op ry van kakietente. Daar is al tweeduisend mense hier, en negehonderd van hulle is kinders.
In die Kaap het Emily kennis gemaak met die juffroue Stegmann, wie se suster, het hulle gehoor, in die Bloemfonteinse kamp is. Om ’n begin te maak, sal sy maar hierdie mev. Philip Botha gaan soek, reken Emily. Tussen die deurmekaar, ongenommerde tente moet sy rondsoek tot sy uiteindelik op mev. Botha se tent afkom. Mev. Botha se man was landdros op Philippolis. Nou is hy by genl. De Wet op kommando.
Hulle was gegoede mense. Nou sit sy hier in ’n kale beltentjie. En as dit buite warm is, binne is die hitte haas nie te beskryf nie. Die son bak genadeloos deur die dun seil. Die vlieë sit swart op alles. Tafel of stoel is daar nie, net ’n negosiekissie wat staan gemaak is en as ’n soort spensie dien. Die vroue sit op die opgerolde kakiekomberse : hier woon mev. Botha en haar vyf kinders, plus ’n Bantoebediendetjie wat sy saamgebring het. Daar is tente waarin selfs nog meer mense saamgehok is.
Die nuus van die vrou wat waarlik heelpad uit Engeland gekom het om self na die kamp te kom kyk, trek soos ’n veldbrand deur die kamp. Al meer van die vroue drom saam in mev. Botha se tent. Hulle staan die deuropening heeltemal toe - Emily voel sy kan flou word van gebrek aan vars lug — en hul kyk met verwonderde oë na die vreemdeling. Dan, soos sy uitvra, begin hulle vertel hoe hulle hier gekom het, wat hulle alles hier in die tentedorp teen die barre kop deurmaak. Dink, dat die Engelse vrou so ver gekom het om met haar eie oë te kom kyk na hul nood!
"Die hele middag,” skryf Emily daardie aand aan Aunt Mary, "het ons saam gesels in ’n mengsel van my gebroke Hollands en hulle dikwels ewe gebroke Engels - saam gehuil en ja, soms ook saam gelag.”
Dit gesels nog so opgewonde saam, toe kom daar ’n slang die tent ingeseil. Pofadder! skree die vroue en gee so vinnig as hulle kan uit die tent uit pad. Nie Emily nie. So ’n gifding kan ’n mens tog nie laat losloop hier waar soveel mense snags op die kale grond moet slaap nie, dink sy verantwoordelik. Sy gryp haar sonsambreeltjie en val die satanskind driftig aan. Sy kap in haar skrik seker meer mis as raak, maar kwes hom darem sodat ’n man, wat die ander vrouens nader geroep het, hom van kant kan kom maak met ’n tenthamer.
Dan kom die vroue weer verleë-laggerig terug, en die gesprekke word hervat. Elkeen van die vroue voel hulle kan ’n boek skrywe oor hul ondervindings tot hiertoe. Hulle vertel hoe die water op reënnagte langs die stomende seile afloop, binne-in die tente, sodat die komberse waaronder hulle op die grond slaap, gou in damme-damme water staan. Hulle vertel van die verskriklike muskietplaag. Hulle vertel wat hulle te ete kry. Vir elkeen, op ’n dag, is daar:
250 g blou, maer vleis (van die hamels het soms minder as 7 kg geweeg, sal dr. Otto Krause na die oorlog vertel).
60 g koffie
375 g growwe meel
60 g suiker
15 g sout
Die kinders kry elkeen nog ’n twaalfde van ’n blikkie kondensmelk per dag, wat met water verdun word sodat hulle dit kan drink.
Dit is al. En Emily sal later agterkom dat wie se mans en vaders nog op kommando is, kry by sommige kampe net half-rantsoene, om die mans op die manier tot oorgawe te oorreed.
Die brandhout is so skaars - die koppies is kaal gesoek na bossies of miskoeke - dat daar nie genoeg is om die brood te bak of die vleis gaar te kry nie. Die vleis word partykeer rou weggegooi, in aaklige stinkende hope lê dit dan die lug en besoedel. Die water van die Modderrivier wemel van die maagkoorskieme. Wasgeriewe is daar kwalik. Die primitiewe latrines, gou morsig, lê buite die kamp. Seep is daar glad nie . . .
Emily se jaar in Minnesota het haar gesout vir strawwe toestande. Haar ondervinding as werkster by die Women’s Industrial Council in Londen kom haar ook goed te staan. Dit het haar die kuns geleer om doelgerig en intelligent uit te vra, om die hooftrekke raak te sien in ’n moeras van besonderhede. Sy stel gou ’n vraelys van tien, twaalf vrae op : naam, plaas en distrik waarvandaan ’n vrou kom? hoeveel kinders? waar is haar man? hoe lank is sy al in die kamp? hoekom is sy hier (vrywillig of nie)? besit sy enigiets? is hul plaas afgebrand? so nie, is hul meubels verwoes ? het sy vriende in die Kaapkolonie of iewers anders na wie toe sy sou kon gaan as dit toegestaan sou word? Dan verneem sy na siekte, watter behoefte aan klerasie ’n gesin het. Sodra sy ’n vrou se verhaal gehoor het, skryf sy dit dadelik neer, sodat daar geen verwarring kan kom nie. So werk sy stelselmatig, geval vir geval.
Haar grootste bate as ondersoeker is haar simpatie en werklike belangstelling, wat die vroue hul harte vir haar laat oopmaak. Baie ander ondersoekers sal nog na hierdie vrouekampe kom. Maar voor die nuuskieriges en die wat uit die hoogte kom kyk hoe dit met die Boer Women gesteld is, praat hulle nie. Nee wat, doen sulke navraers dan verslag, daar is nie juis klagtes in die kampe nie.
Die giftig Engelsgesinde Bloemfontein Post sien selfs kans en skryf ’n sarkastiese stuk: "We must certainly express the earnest hope that Miss Hobhouse will not as part of her mission teach the Refugees at the Refugee Camp, who have so much to be grateful for, to believe that they have grievances, grievances quite unimagined hitherto . . .”
Wel, sê Emily, daar is oë en oë. Sy sal maar vertel wat sy op een dag net in een hoekie van die Bloemfonteinse kamp gesien het, daardie eerste week.
Hier, in een tent, sak suster Kennedy, die enigste verpleegster in die enorme kamp, uitgeput op haar bed neer nadat sy net met die leke-hulp van ’n paar onopgeleide Boeremeisies dertig maagkoorsgevalle versorg het - koskook ingesluit.
Dan word Emily geroep na ’n vrou wie se baba gebore moet word. Gelukkig het sy ’n nagrok in haar bondel en twee klein baba-naghempies waarmee sy die moeder, wat anders totaal niks gehad het nie, tog kan help.
In die volgende tent lê ’n baba van ses maande sterwend op sy moeder se skoot. Die dokter het hom die oggend "poeiers” gegee - hy kom op sy perd verby gery, trek by elke tent die teuels in en roep na binne : "Iemand siek hier?” - maar van toe af het die outjie niks oor sy lippe gehad nie. Twee, drie ander kinders lê pap en siek in dieselfde tent.
In die volgende tent lê ’n kind wat net uit die hospitaal terug is nadat sy vir masels behandel is, die kwaai swartmasels wat in hierdie oorlogsjaar die land teister. Maer en bleek lê sy daar, en drie, vier siek kinders lê saam met haar in die tent.
Stap nog een tent verder, en hier lê ’n jongmeisie van een-en- twintig sterwend op ’n kampbedjie. Die vader, ’n groot, saggeaarde Boer, kniel langs haar. In die tent net langsaan waak sy vrou by ’n outjie van ses wat ook sterwend is. Van hierdie twee mense het reeds drie kinders in die hospitaal gesterf. Hierdie twee wil hulle nie ook hospitaal toe laat gaan nie, hoe Emily ook al daarvoor pleit.
Dan kom ’n man haar roep. "Suster” - hulle noem haar Suster, of die Meisie van Engeland – "Suster, kom kyk tog my kind, hy’s al drie maande siek! ” Dis ’n liewe outjie van vier, maar al wat nog van hom oor is, is sy groot bruin oë en die wit tandjies waarvan die tandvleis eintlik teruggekrimp is, so maer is hy. Hy’t so gehuil oor ’n bietjie melk. Die vyftig brandmaer melkkoeie vir die kamp gee saam maar vier emmer melk op ’n dag, maar Emily laat tog ’n bekertjie hiervan vir hom haal. Sy laat die vader hom op ’n kussing buitekant sit, sodat die sononderwindjie koel oor sy natgeswete koppie kan speel. . .
O, skryf sy huis toe, ek kan nie vir julle beskryf wat dit is om hierdie kinders so in ’n toestand van ineenstorting te sien lê nie. Dis nes verlepte blomme wat weggegooi is. En ’n mens moet bystaan, en sulke dinge aanskou, en daar is amper niks wat jy kan doen nie. Om hierdie kampe aan die gang te hou, is moord op die kinders!
Van dood en sterfgevalle is al die gesprekke wat jy aanhoor: wie gister dood is, wie vandag op sterwe lê, en wie more seker nie die son sal sien opkom nie . . .
Sulke dae kom Emily saans uitgeput en terneergedruk by Kaya Lami aan. Mev. Fichardt stuur haar gewoonlik soggens met die rytuig kamp toe, maar sy kom meestal te voet en op haar eie tyd smiddags terug. Sy kom lê op die rusbank, maak haar oë toe en "Speel vir my,” sê sy met ’n flou stem vir Maudie Fichardt voor die klavier, "speel vir my ... moenie ophou nie .. .”
Ewe ondraaglik as die ellende wat sy in die kamp moet aansien, is vir haar die oorlogsatmosfeer van die stad self: om te sien hoe bars en baserig jou eie landgenote hulle gedra en hierdie aaklige dinge toelaat, en jou soos ’n misdadiger laat dophou as jy daarvan verdink word dat jy ’n ander standpunt het as hulle! Want nog vir Emily die allermoeilikste om te sluk, is die houding wat mindere militêre mannetjies teenoor haar aanslaan. Sy is van St. Ive se dae gewoond: as Miss Hobhouse praat, word daar gespring. Hierdie soldate bekyk haar van kop tot tone, asof sy "’n gek, idioot en verraaier” in dieselfde asem is. Daar’s ’n kapt. A. Hume wat aangesê is om haar te volg oral waar sy in die kamp gaan en, het genl. Pretyman glo opdrag gegee, te help kry wat sy verlang. Hoe jeuk haar hande nie baie dae om hom ’n oorveeg te gee vir sy neerhalende houding nie. Daar is dan ook ’n keer ’n uitval as sy haar opruk en met blitsende blou oë sê sy sal dit nie duld dat daar so met haar gepraat word nie en sy neem net bevele van lord Kitchener of van die Hoë Kommissaris self, en as hy nie in sy spoor trap nie, verkla sy hom by sir Alfred Milner . . .
Met die heel hoogste offisiere - eers genl. Pretyman en toe sy opvolger kol. Hamilton Goold-Adams byvoorbeeld — kom sy beter reg. Hulle herken in haar iemand van hul eie stand. En hulle beken teenoor haar dat hulle met hul hande wanhopig in hul hare sit met hierdie sogenaamde Refugee Camps. Refugee! asof die vroue vrywillig hierheen gevlug het. In die heel begin van die oorlog was daar wel van die Loyal Dutch wat by die Engelse gaan toevlug soek het. Maar verreweg die meeste mense is na die kampe aangekeer sedert dit openlik Britse militêre beleid geword het om die land absoluut uit te brand sodat die kommando’s en later guerilla-troepe geen hulp of kos van die plase kan kry nie. Vroue en kinders word - dikwels in oop steenkooltrokke - aangery na kampe waar daar so te sê geen voorsorg vir hul instroming getref is nie.
"Crass male ignorance, stupidity, helplessness and muddling,” is Emily se kort en kragtige diagnose : onbeholpe manswerk, dis wat dit is!
Wat kan ons doen? vra genl. Pretyman in Emily se eerste week in Bloemfontein raadop aan haar.
Emily, die kampkommandant en die kampdokter sit hul koppe bymekaar en koukus. As die organisasie net doeltreffender is, kan toestande hier al klaar baie verbeter word. Onder haar leiding beveel hulle onder meer aan :
’n Hollandssprekende matrone in die kamp wat as tussenganger kan dien tussen die owerhede en die kampmense — die hoekoms en waaroms van die reëls aan hulle kan verduidelik en hulle behoeftes en besware op hulle beurt aan die owerhede kan uiteensit. (Voorlopig reël Emily dat mev. Philip Botha vyf uur per dag van tent tot tent rondgaan, kyk waar daar siekte of nood of moeilikheid is, en help waar sy kan.)
Dan is daar nodig ’n trein-watertenk om die Modderrivier se dodelike maagkoors-water in te kook - dit sal goedkoper wees om dit grootskaals te doen en minder brandhout vat as wanneer die vroue almal self hul drinkwater moet kook.
Nog ’n doodstent: daar is reeds een, maar die dooies word nie vinnig genoeg weggeneem uit die snikwarm tente waar agt tot tien lewendes ook nog dikwels sit nie.
Voorsiening moet gemaak word vir meer water. Vir sewe, agt mense is twee emmer water vir drink, was en kook nie genoeg nie, nie in hierdie stof en hitte nie.
Daar moet seep uitgereik word: hoe kan daar van hierdie vroue verwag word om hulle hier op die stowwerige veld sindelik te hou, as daar geen seep of wasgeriewe beskikbaar is nie ?
Verpleegsters en mediese voorrade moet dringend uit die Kaap verkry word.
Daar moet ’n skool kom vir die kinders . . .
En klere! klere! Tweeduisend mense : wat ’n gesin om aan te trek! skryf sy aan Aunt Mary. Sê tog mev. Herbert Chitty en Dorothy Bradby-hulle van die Distress Fund moet stuur, stuur . . . de laaste ding is welkom, tot die borstrokke en die kruisbande vir seuntjies wat laas ingesluit was!
En dit, besef Emily, is maar een kamp. Sy hoor nou daar is al reeds nog veertig ander. Aanstaande week moet sy die kamp by Norvalspont en die ander in daardie rigting uit gaan besoek.
Verskriklik sien sy daarteen op. Ek is ’n regte lafaard daaroor, sê sy vir Aunt Mary. Maar moenie oor my bekommerd wees nie, troos sy, na liggaam is ek heeltemal gesond, dis net my gemoed wat siek en wanhopig voel.
„Nou verstaan ek hoe verstandig dit in die Bybelse dae was om mense twee-twee uit te stuur wanneer daar iets moeiliks was wat gedoen moes word! ”
Vervolg...