Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom is ons bang vir die dood as ons weet dat ons geliefdes op ons wag? Om met hierdie wete te sterf, is in werklikheid ʼn wonderlike avontuur!
EMILY HOBHOUSE... (9)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
" Op plaas na plaas sien Emily mense, amper ’n jaar na die oorlog, nog asof verdwaas in en uit dwaal tussen die swart bouvalle van hul huise, en wonder hoe en wanneer hulle ooit met die heropbou kan begin. By plaas na plaas, dorp na dorp, word sy na verwoeste boorde saamgeneem, en gewys op die stompafgekapte vrugtebome. Net waar jy kyk, lê die wit beendere van karkasse. Dit voel soos Esegiël se vallei van doodsbeendere, dink Emily met ontsetting. Oom Piet Nel, daar by Boshof, vat haar na sy veekrale toe. Die skedels en bene lê daar soos ’n aaklige tapyt drie voet diep oor die wye skaapkraal, en buite op die werf is daar ook hopies-hopies gemaak. Dis vier-, vyf-, sesduisend skape wat hier keelaf gesny, met bajonette doodgesteek is as die kolonne hulle nie vir eie proviand wou saamvoer nie."
Maar April 1903 - hier’s sy weer in Tafelbaai. Die vrede is ’n bietjie minder as ’n jaar oud, en geen krygswet kan haar nou meer uit Suid-Afrika hou nie.
In Kaapstad aangekom, gaan kyk sy en mev. Caroline Murray, wat haar kom afhaal het, of daar vir haar pos is by haar bank. Wat! sê ’n klerk toe hy die naam hoor, moenie vir my se mej. Hobhouse kom weer hiernatoe nie!
"Ek,” sê Emily, "is mej. Hobhouse.”
As hy ’n spook gesien het, kon die mannetjie hom nie valer geskrik het nie. Die twee vriendinne lag sommer hard-op.
Dis duidelik, die hele wêreld weet van haar en hoe sy vir die mense in die konsentrasiekampe geveg het. By die doeane het een beampte botdoodstil gaan staan toe hy haar naam op die lys lees. Waar is mej. Hobhouse? wou hy weet. Daarna haal hy sy pet af en bedien haar blootshoof. "Ek het u boek gelees,” sê hy eerbiedig.
Haar boek, The Brunt of the War and where it fell, het in Desember 1902 verskyn. Dit handel oor die lyding van die vroue en kinders in die oorlog. Wat, het sy al die afgelope maande in Engeland getob, het geword van hulle wat die kampe oorlewe het, van die burgers wat na jare in die veld of krygsgevangenekampe hul smartlik uitgedunde gesinne bymekaar gesoek en teruggekom het na die verwoeste opstalle, die verlate veld van hul verrinneweerde plase? Hoe sal die mense in die sogenaamde New Colonies — want so heet die Republieke nou — van voor af begin en ooit weer die mas opkom? Dit is die dinge waarna sy nou kom kyk het. Daarmee, as dit nodig is, wil sy die keer kom help. Daar is nog geld in die Distress Fund.
Vroeg op ’n fris Junie-oggend trek sy op die eerste skof van haar ondersoek uit Bloemfontein weg op mnr. Enslin se waentjie met vier esels. Mnr. Enslin is ’n Boer wat uit die krygsgevangene- kamp op Ceylon teruggekom het, en sy plaas in puin gevind het. Om op die been te probeer kom, het hy ’n waentjie vol kos gelaai om dit op die platteland te gaan verkoop aan die mense wat, hoor hy, nie rygoed het om mee dorp toe te kom nie. Hy’t met ’n vol wa en ’n nog swaarder hart teruggekom. Die mense buite het letterlik nie kos om te eet nie, maar hulle moet hom so laat verbyry : hulle het ook geen geld om te koop nie. Raadop het hy toe gemeen om maar by Parys groente vir die mark te gaan probeer kweek, maar toe kom mnr. Arthur Fichardt met die plan hy moet met mej. Hobhouse die draai ry wat hy pas self gery het, dat sy kan sien wat die toestande onder die mense is.
Die waentjie het plek vir die kosware wat mej. Hobhouse wil saamneem - dis hoofsaaklik sakke meel en boeliebief en ander blikkieskos en koffie wat mnr. Fichardt vir haar groothandel laat kry - dan, voer vir die esels, want dis droogte en die veld is kaal, en verder mej. Hobhouse se kampbed, slaapsak, bagasie.
Ceylon! Bermuda! St. Helena! Vat! praat mnr. Enslin die geelbekke aan - hulle heet na die verskillende krysgevangenekampe. Jakob, is jy op? skree hy agtertoe vir die Swartetjie wat hulle sal vergesel, en daar gaan hulle, singwiele om die draai. Die Fichardts, waar Emily weer tuis was, wuif tot siens. Emily hou vas, dis die eerste keer dat sy wa ry - liewe aarde, maar dit stamp!
Drie dae later, gedaan geskud en gaar gestamp oor die verwaarloosde paaie, sien sy in die gehawende pastorie op Boshof vir die eerste keer weer ’n spieël. Die keer is dit sy wat terugdeins of dit ’n spook is wat sy voor haar sien. Sy het al gevoel haar gesig is so styf en seer. Nou sien sy wat drie dae van Vrystaatse winterson aan ’n fyn Engelse vel kan doen : "’n Regte Rooinek ! ” roep sy verslae uit. Haar gesig is diepdonkerrooi verbrand - lyk soos springbokbiltong, dink sy! — die velle hang, haar lippe is gebars, en haar hare - haar mooi hare! Uitgedor deur wind en gebak deur die son, rooi van die stof staan hulle penorent en blits soos ’n knetterende braambos as sy hulle kam.
Die volgende ses weke sal sy in haar lewensdag nooit vergeet nie. Daar was, sê sy in latere briewe, nie een enkele gerieflike oomblik op die hele tog nie. Om alles te kroon het sy in die tyd verskriklik erg neuritis en elke stamp en kanteling van die waentjie is louter pyniging.
Dis ’n woesteny waardeur hulle ry. Lord Kitchener se manne het hul werk goed gedoen. Daar is haas geen plaashuis wat nie swartverbrand staan nie, die miedens is brandgesteek, brandgesteek ook die mielies, koring, rog, gars, hawer op solder en in skure, die oeste wat nog op die lande gestaan het, is ook aan die brand gesteek of vertrap, plaasdamme is gebreek, besproeiingspompe verwoes, leivore stukkend geslaan.
Net waar jy kyk, lê die wit beendere van karkasse. Dit voel soos Esegiël se vallei van doodsbeendere, dink Emily met ontsetting. Oom Piet Nel, daar by Boshof, vat haar na sy veekrale toe. Die skedels en bene lê daar soos ’n aaklige tapyt drie voet diep oor die wye skaapkraal, en buite op die werf is daar ook hopies-hopies gemaak. Dis vier-, vyf-, sesduisend skape wat hier keelaf gesny, met bajonette doodgesteek is as die kolonne hulle nie vir eie proviand wou saamvoer nie. Jy sien nie ’n hoender, nie ’n gans op die werf nie. Jy sien nie ’n melkkoei of ’n trekos nie. Op minstens sestien plekke sien Emily mans, vroue en selfs kinders voor die ploeg ingespan of voor ’n waentjie waarmee hulle op die dorp moet gaan koshaal.
Saans by uitspanning sit sy op haar kombersrol en teken by die lig van ’n karlantern besonderhede aan oor wat sy die dag gesien het, sodat niemand haar later kan verwyt dat sy onverantwoordelike stories verkoop nie.
Op hierdie tog waarop sy soveel getuienis sien van uitgedelgde diere, is ’n hele besienswaardigheid: die drie varke wat lord Methuen op Hartebeesfontein in Wes-Transvaal gespaar het. Emily word plegtig geneem om na hulle te gaan kyk. Daar was ’n weduwee wat alles reeds in die oorlog verloor het — buiten drie varkies. Toe kom lord Methuen se kolonne die dorpie binne. Die vrou was amper rasend. Moet sy haar varkies, haar al, ook nou sien doodgesteek word? Sy gaan na die Britse bevelvoerder, sy praat met hom mooi – "talked prettily to him,” sê Emily in ’n brief huis toe - sy vat hom tot by die varkhok en wys hom die varkies. Nou word hulle getoon as getuienis van die dag toe lord Methuen sy hart versag het!
Maar so ’n gesig is die hoë uitsondering. Op plaas na plaas sien Emily mense, amper ’n jaar na die oorlog, nog asof verdwaas in en uit dwaal tussen die swart bouvalle van hul huise, en wonder hoe en wanneer hulle ooit met die heropbou kan begin. By plaas na plaas, dorp na dorp, word sy na verwoeste boorde saamgeneem, en gewys op die stompafgekapte vrugtebome. Net hier en daar het ’n enkele amandel- of perskeboom behoue gebly en steek hul vroeë lentebloeisels af teen die swart van die ruines.
By grafte, by kampkerkhowe word dikwels stilgehou. Op Middelburg staan kyk Emily een aand net as die maan opkom na die ry op ry op ry kindergraffies, meestal met die datum van daardie noodlotige sterfmaand, Julie 1901, op ’n papiertjie in ’n bottel op die hopie grond. Ander plekke staan die klein wit kruisies of dit ’n kruisekwekery is, soos Ramsay MacDonald, die Engelse politikus wat self kom kyk het, dit uitdruk.
Taamlik gou op die tog blyk dit dat mnr. Enslin se eselwaentjie nie end-uit sal hou nie. ’n Ander reëling word gemaak. Nou word Emily van gemeente na gemeente "deurgegee”. Die predikante reël meestal vir haar vervoer, en mense raap en skraap rygoed, trekdiere, tuie van oraloor bymekaar om haar van die een distrik na die ander te neem. Vir wie anders as vir haar sou die haglik- verarmde gesinne dit in die tyd gedoen het? Sy kry ’n oorsig van die toestand in die land soos geen ander nie - maar dis ’n wonderwerk dat sy op hierdie strawwe aflostog hou. Donkeroggend klim sy op ’n kapkar, heeldag, amper sonder afklim, gaan dit oorstamp- paaie deur die dorre droogte-landskap (die land is so drooggebak soos soetkoek, beskryf sy). Donkernag klim sy, sewentig, tagtig myl daarvandaan, styf en stram by ’n volgende plek af. Van Boshof gaan dit deur na Hoopstad, van Lichtenburg reguit deur na Schweizer-Reneke. En sy wat Emily is, moet maar net klim. Dis nou van ’n Boer, sê sy, hy mors nie baie woorde met verduidelikings oor waarnatoe nou of hoe nie, hy vat net die leisels.
Een aand, sononder, is dit duidelik dat die vier moeë muile waarmee sy daardie dag gery het, nie te vertrou is om by Middelburg (Transvaal) met die lendelam ou victoria ’n berg af te kom nie. Die ou rytuig is al klaar met osrieme aanmekaar geprakseer. Of Emily nie asseblief liewer sal afklim nie ? Sy’t nou so ver gekom, dit sal darem jammer wees as Miss Hobhouse nou hierso ’n ongeluk moet loop maak. Sy stap in die skemer agterna terwyl die ou rammelkas so vervaard die pas af gaan, dat die bagasie stuk-stuk waai.
’n Ander keer is dit donkernag as hulle duskant Lindley die diep drif tussen hoe kranse moet deur voordat hulle die dorp inkom. . . . en eindelik sê Emily "we drove into the silent, broken village in the moonlight”. Dis 'n rare mengsel van ruïnes, tente en ’n paar splinternuwe sinkdakke wat dounat in die dowwe maanlig glinster. Hulle moet klop en soek na die Koks wat mej. Hobhouse daar, so goed hulle kan, in hul armoede sal huisves.
Kruis en dwars deur die New Colonies ry Emily om, soos die vorige keer, absoluut eerstehands met haar eie oë te sien en met haar eie ore te luister. Haar Vrystaatse togte voer haar na Bultfontein, Boshof, Brandfort, na Heilbron, Lindley, Reitz en Frankfort; na Kroonstad en Ventersburg; na Jacobsdal, Petrusburg, Koffiefontein, Fauresmith en Philippolis. In Transvaal ry sy na die Noordooste : Middelburg, Belfast, Roos-Senekal, Dullstroom — sy wil na Ermelo en Carolina, maar vervoer kan nie gereël word nie. Sy ry op na Warmbad, Nylstroom, Pietersburg - eers erg, hoor sy daar, is die ellende in die Soutpansberg, maar amper tot haar verligting, kan sy ook daarheen geen vervoer gereël kry nie. Dan vaar sy die verwoeste Wes-Transvaal in : na Klerksdorp en Hartebeesfontein; oor Potchefstroom na Lichtenburg en Biesiesvlei.
Die nood, weet sy nou, is die ergste in die Noorde en Weste van Transvaal, en dan in die Noordoos-Vrystaat: Heilbron, Lindley se wereld.
Dit is naby Lindley dat hulle op ’n oggend ’n meisietjie in ’n blou sisrokkie op ’n brandmaer ou perd teenkom, op pad dorp toe agter haar vader aan, wat vooruit stap om werk te gaan soek. Hulle hou by haar stil om pad te vra, en gesels ’n paar woorde:
"Hoe gaan dit met julle?” "Dit gaan goed, antie.”
"Het julle dan kos?”
"Nee, antie, ons het nie kos nie.”
"Jy bedoel seker : julle het nie vleiskos nie ?”
"Nee, antie, ons het nie vleis nie.”
"Maar darem aartappels of groente?”
"Nee, antie, ons het nie groente nie.”
"Tog darem seker brood?”
"Nee, antie, ons het nie brood nie.”
"Wat! niks brood of meel nie! Wat eet julle dan ?”
"Mielies, antie.”
"Het julle darem genoeg daarvan?”
Die kind se oë word klam. "Dis amper op, antie,” fluister sy. Emily gee haar die halwe broodjie wat sy by haar het. Vir die eerste keer kom so ’n amper-glimlaggie oor die maer gesiggie. "Ma sal baie bly wees,” sê sy, ruk die ou perd se leisels op en ry op ’n haastige skommeldraffie terug huis toe.
Emily leer die blouigheid om die lippe, die oë diep agter in die kasse herken waarmee honger sy stempel op ’n gesig afdruk. Sy hoor dat mense lewe van bokmelk, van wortels wat hulle uitgrawe, van veldbessies, van mierkatte, springhase, voëltjies wat hulle in wippe vang. Sy kom in ’n huis waar twee pampoene absoluut al is wat nog oor is vir ’n gesin van vyf of meer. Sy kom in huise waar een maaltyd opgekookte mielies sonder sout per dag al is wat die mense al maande lank eet. Sy hoor van twee oumense wat, soos sovele, hul laaste nood by die pastorie kom kla het (die stomme predikantsvroue: Hoe moet hulle al die arme, arme mense help !), die mevrou het ’n boud soutvleis, wat sy hulle gee. Die twee oues is so rasend honger dat hulle die helfte daarvan net daar net so rou-rou verorber . . .
As daar met etenstye êrens uitgespan word, is Emily dikwels nie in staat om haar kos te eet in die aangesig van die stil, honger oë nie. Dit val haar op dat niemand ooit ’n kriesel bedel nie. Daar is net daardie oë. Talle kere deel sy die paar toebroodjies wat sy het, met mense wat in geen maande brood gesien het nie. Partykeer sit hul geselskap aan tafel aan by gasvrye mense waar die kos so min is dat ’n maaltyd nie veel meer is as "een lang tafelgebed” nie.
As die posisie sleg is onder die blankes, onder van die troue swartes is dit nog hagliker. Van die ou plaasvolk loop myle der myle terug plaas toe as hulle hoor dat die Ounooi-goed weer daar is. Daar is wel swartes wat gedurende die oorlog in Engelse diens was en goed daaraan toe is. By Pietersburg in Noord-Transvaal, byvoorbeeld, is die kontras opvallend tussen die ryk swartes, enersyds, en die ellende van die blankes. Maar oor die algemeen lê hongersnood ewe swaar op albei. Wanneer Emily op Reitz is, kom ou eerwaarde Tschwangtswe eerbiedig by die agterdeur klop. Hy’t gehoor die Miesies van Engeland is hier om te kom kyk na die murasies en die armoede van die mense ... sal sy tog nie na sy mense ook kom kyk nie? Tot haar gasheer se verbasing, verlaat Emily die geselskap en stap saam met die ou swartman met sy lang bruin jas en sy kierie lokasie toe . . .
Dit is in hierdie tyd dat sir Arthur Lawley, luit.-goewerneur van die Kolonie Transvaal, gerusstellend aan sir Walter Hely- Hutchinson in Kaapstad skryf: "I have at my disposal full and accurate information and I may say at once that undoubtedly a considerable amount of distress exists among the people of the Transvaal and Orange River Colony, though I would deprecate the use of exaggerated language on the subject . . . the Governments have successfully warded off starvation from the people by issue of foodstuffs and have also done their best to put the impoverished and destitute in a position to earn their own living...”
Wel, dis op papier. Maar dit was al...
Vervolg...