Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy naby God en sy oneindige genade leef hoef jy nie iets te sê nie; dit wys op jou gesig.
EMILY HOBHOUSE... (10)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
’n Boervrou se hande staan vir min verkeerd
Dit het Emily al agtergekom!
Sy dink aan die vernuftigheid waarmee hulle vir hulle en hul seunskinders in die oorlogtyd selfs van skaapvel klere gemaak het. Sy dink aan die oulike hoedjies van koringstrooi wat sy al gesien het "so mooi as enige in ’n Londense winkel”, die vernuftige mielieblaarhoede wat sy hulle sien maak het. Die een of ander vorm van handwerk moet sy as tuisnywerheid gevestig kry sodat die vroue en meisies op die afgeleë plase nuttig kan besig wees en hul kop kan optel en voel hulle doen dinge en verdien ook iets om hul land en volk en eie gesin weer op die been te bring. Van so sit en niksdoen vergaan ’n mens se gees.
Wat van kantmaak? wonder Emily - soos die pragtige kant wat van die eenvoudigste ou Vlaamse en Italiaanse vroutjies tradisioneel al eeue lank maak. Sou dit nie ’n pragtige werk vir so ’n stil, sonnige boereplaas wees nie ? Sy dink sy gaan self Venesië toe, Brussel toe, en bestudeer die tegniek van kantmaak haarfyn.
Maar nee, sê haar vriendin mev. J. R. Green vir haar, kant is ’n luukse, wat net die ryk Johannesburgers in Suid-Afrika sal kan bekostig. Hoekom nie liewer die Boeremeisies leer spin en weef nie, dat hulle vir hulself en hul mans en seuns klere kan weef, en gordyne en komberse en matte vir hul leeggeplunderde huise nie? Daarvoor sou hulle buitendien die wol kan gebruik wat op hul eie plase gekweek word: selfonderhoudend kan gesinne so word.
Dit klink vir Emily aanneemlik. Saam met mev. Green gaan sy na Ierland om daar onder die Ierse kleinboere die spin- en weefkuns te bestudeer soos hulle dit in hul eenvoudige huisies bedryf. Sy gaan oor vasteland toe en gaan praat met pres. Steyn wat vir sy gesondheid in die buiteland is en in Cannes oorwinter. Sy skryf aan genl. Smuts. Sy skryf aan mev. Caroline Murray, en vra raad. Sy roep ’n vergadering van die Distress Fund-mense bymekaar. Moet die saak nie in die pers uitlap nie, sê sy, die koerante bederf alles waaraan hulle vat, maar noudat ons haas die Distress Fund moet afsluit, wil julle my nie vir drie jaar borg om tuisnywerhede onder die Boeregesinne te gaan vestig nie?
Een distrik van die verwoeste land, neem Emily haar voor, wil sy, soos die Bybel sê "soos die roos laat bloei”, sodat die voorbeeld van wat daar gedoen word, oor die lengte en breedte van die New Colonies kan inslaan.
Sy verkry die hulp van ’n Wesleyaanse leke-suster, Adeline Derby, wat in ’n Londense agterbuurt welsynswerk onder die arm meisies gedoen en hulle handwerk geleer het. Sy is ’n dogter van dr. Evans Derby, ook ’n bekende Pro-Boer, wat as sekretaris van die Peace Society gedurende die oorlog vir sy gesindheid selfs onder klippe gesteek is.
En op die ingewing van ’n oomblik vra Emily ook vir Margaret Clark om saam te kom Suid-Afrika toe.
Die Clarks van Street in Somersetshire (naby Emily-hulle se familie-landgoed) is Kwakers. Deur haar werk vir die konsentrasiekampe en Boeresaak het Emily verbintenis met hulle. In hierdie tyd is sy ’n keer by hulle aan huis en Margaret help haar ’n bietjie met sekretariele werk en die een en ander. Margaret het pas by Newnham College, Cambridge, afgestudeer. Daar was sy die leidster van die Liberale Party en, soos die ander Pro-Boere, heftig teen die oorlog. Nou, nog steeds ’n vurige idealis, is sy by haar ouerhuis en hou sy haar besig met werk in verband met vrouestemreg en die Liberale Party.
Toe Emily se trein die aand uit Street sou vertrek, sê Margaret by die venster "Nou ja, sê maar as daar enigiets anders is waarmee ek kan help! ”
"Ook in Suid-Afrika?” vra Emily, toe die trein al in beweging kom.
"Ook in Suid-Afrika,” kom Margaret se impulsiewe antwoord van daar ver op die perron na haar toe aan.
Die volgende dag skryf Emily dadelik in alle erns aan haar. So kry sy iemand saam wat nie net ‘n steunpilaar met die praktiese werk en organisasie sal wees nie, maar ’n geesgenoot wat dieselfde dieperliggende ideale vir die plan het as sy self.
Ook Margaret wil daarmee aan die Boere die "ander Engeland” voor oë hou en op hierdie manier vir hulle, ook om hul eie ontwil, help om daardie bitterheid in die hart te oorwin wat ’n mens se gees heeltemal kan vernietig.
Voor in haar dagboek van die jare wat nou volg, staan daar ’n versie van die Engelse digter Rudyard Kipling, in die dialek van die Britse Tommy wat kastig aan die woord is :
"If England was what England seems,
an' not the England of our dreams
but only putty, brass, and paint,
’ow quick we’d drop ’er — but she ain’t! ”
Maar moet nou nie die Boere kom veridealiseer nie, waarsku Emily haar nugter, hulle is ook maar gewone mense, onthou. Nee, Margaret besef dit self, maar sy kom!
So vertrek op 25 Januarie uit Antwerpen op die Krönprinz - van kop tot toon met vlae getooi omdat pres. Steyn na twee en ’n half jaar in Europa ook nou daarin huistoe gaan - Emily, Margaret en suster Adeline, met sewentien enorme kratte spinwiele, weefstoele, tente en ander toerusting wat hulle saamneem.
Emily het op die laaste amper nie gekom nie. In November die vorige jaar het Uncle Arthur, lord Hobhouse, in sy 85ste jaar ernstig siek geword. In Mei nog het sy ’n laaste vakansie op Crowsley Park met die twee ou mense deurgebring en met Uncle Arthur en sy ou blinde hondjie Meg lang wandelinge deur die "bluebell carpeted woods” gemaak. Met die uitgang van die jaar was hy sterwend. Die laaste weke het sy hom opgepas, dag en nag versorg : dit was vir haar of dit weer haar vader was.
Lord en lady Hobhouse, die kinderlose twee ou mense, was meer as ’n halfeeu getroud. Toe haar man sterf, is Aunt Mary, self oor die tagtig, so gebroke dat sy nie na die begrafnis kan gaan nie. Emily kyk na die inmekaar ou figuurtjie: hoe kan sy dit oor die hart kry om haar so in haar nuwe eensaamheid alleen te laat?
Maar lady Farrar, Aunt Mary se skoonsuster, sê ferm: "As long as the old are well cared for, it is the duty of those who are still active and strong to work for the good of society.”
Buitendien, al die reëlings is al getref. Suster Adeline is georganiseer; Margaret se sake is gereël. Ds. M. L. Fick wou gehad het mej. Hobhouse moet haar spin- en weefskool by die weeshuis daar op Wolmaransstad kom begin. Genl. Smuts het ook gereken êrens in die Wes-Transvaal, byvoorbeeld in die Klerksdorpse distrik, sou goed wees. Maar op Philippolis het ou ds. Colin Fraser, mev. pres. Steyn se vader wat sy hele lewe lank daar predikant was, gereël dat hulle op die Vrystaatse dorpie ’n huis plus ’n groot gewese winkel langsaan te huur kry : alles wag nou net. En Emily weet die Distress Fund-mense reken ook op haar.
Sy weet ook Uncle Arthur en Aunt Mary sou die allerlaaste mense gewees het wat in haar pad sou staan as daar iets gedoen kan word om die Boere te help. "Gaan, kind,” se Aunt Mary self swakkies, maar met volle oortuiging.
"Ek gaan begin dit net, en voor die somer is ek weer hier,” belowe Emily haar.
Sy sal haar nie weer sien nie. Dit is die oneindig hartseer prys wat sy die keer betaal omdat sy die Boerevolk kom help het.
Op die Krönprinz laat Emily haar spannetjie nie ledig rondsit nie. Margaret moet vlytig oefen om te spin, en verder word daar, soos altyd wanneer Emily opsee is tussen die Kaap en Engeland, ywerig Hollands geleer. Dié keer is hul leermeester ’n jong teoloog wat net in Utrecht in die filosofie gepromoveer het: dr. D. F. Malan, wat eendag Eerste Minister van Suid-Afrika sou word. Emily-hulle lag ’n bietjie vir hom oor sy skoenveters so vol knope is en hy so afgetrokke kan raak, maar hy’s ’n goeie ou, teken Margaret in haar dagboek aan. Mev. Jacobsz, pres. Kruger se dogter, ook aan boord, help met die lesse in "the Taal”.
Verder lees Emily ure lank vir die bejaarde pres. Steyn uit die Engelse klassieke in die skeepsbiblioteek voor — en bespreek met hom die toekoms van land en volk. Vir mev. Steyn ken sy al uit die dae van Bloemfontein en die konsentrasiekampe. Die Vrystaatse presidentsvrou was toe ’n gevangene in haar eie hoofstad, en oral waar sy geloop het, het sy ’n kakie met ’n geweer agter haar aangehad. Die vernedering was so groot dat sy in die begin net saans in die donker uit haar huis gegaan het.
Wanneer hulle in Suid-Afrika aankom, word die drie Engelse vroue saamgevoer in die bewoë terugverwelkoming van die Vrystaat se geliefde president. Op die kaai is, in Emily se woorde, "the pick of the three Colonies, come to meet Pres. Steyn, and me too, they kindly said.”
Die treinrit na die noorde ná die besige week in Kaapstad is 'n hartverheffende ervaring. Oral by stasietjies en haltetjies is daar groepies Boere wat net die President ’n handdruk wil gee.
Op Springfontein - hoeveel herinneringe gaan hier deur Emily se hart - moet hul geselskap tot hul spyt van die Presidentsgeselskap afdraai. Maar met hartlike uitnodigings aan Emily om te kom kuier op Onze Rust, wat van nou af aan vir haar ’n tuiste word in Suid-Afrika. Op Springfonteinstasie wag vir hulle en die Frasers ’n kapkar, ’n spaider en ook ’n trolliewa waarop die helfte van hul trek gelaai word, ’n Uur of vier, vyf ry hulle deur die wye veld met sy koppies, voor hulle by Philippolis kom.
Die eerste dag is hulle in die pastorie tuis by die liewe, opgeruimde mev. Fraser. "Ek het ’n Skotse vrou nog nooit so goed geklimatiseer gesien, of so min oor Skotland hoor praat nie! ” sê Margaret.
Gou, egter, trek die geselskappie in die huis in die Voorstraat wat mnr. Moritz Liefman, die goeie ou Joodse winkelier wat een van die gemeenskap se groot weldoeners is, vir hulle beskikbaar gestel het. Sy eertydse winkel, vas teenaan die huis, sal hul weef- en werkkamer word.
Ses-uur die volgende oggend kyk Margaret by die venster uit en sien in die vaal oggendlig sestien groot rooi osse stadig die straat af gestap kom- agterna ’n krakende wa, met nog ’n vrag van hul goed. Die opwinding borrel weer in haar hart oor hierdie groot avontuur wat hulle aangedurf het. En die geweldige werk van uitpak begin.
Hulle het ’n weduwee Boshoff om vir hulle huis te hou . . . ’n goeie, maar droefgeestige mens in swart wat haar man in die oorlog en haar ses jongste kinders almal in die verskriklike Bethuliekamp verloor het. Die ontbering van die kamplewe is nog op haar gesig te lees. "Ek sou beter kon gekook het vir Miss Hobhouse, as die Ingelse nie my resepteboek saam met al my ander goed verbrand het nie,” sê sy.
Verdere hulp in die huis is die swart Moses, pas uitgedien aan ’n tronkstraf omdat hy rosyntjies en suiker in sy baas se winkel gesteel het. Hy kry ’n lang wit voorskoot voor en hy moet bedien aan tafel. Jy sien net tande, want hierdie werk by die Engelse missiese geniet Moses baie. Gou het hy en Miss Hobhouse die reëling : as hy iets wil weet, lui hy die klokkie en sy stap kombuis of agterplaas toe.
"Anders trap hy die voorhuis so vuil elkers as hy met sy stofvoete inkom,” verduidelik Emily.
Sommer al die eerste paar dae is dit vir Emily duidelik dat sy met hierdie personeel wat sy het, nie die mas sal opkom nie. Sy waardeer mev. Boshoff, maar dié is te gretig om mej. Hobhouse te plesier, en kom elke keer iets vra, selfs watter eier sy moet kook! Emily skryf dadelik Kaap toe, sy stuur trouens selfs ’n telegram, of mev. Sauer se suster, Con Cloete, nie soos sy aangebied het, sal kom help met die huishou nie.
Daar is ’n ander groot skroef los: dit het al op die skip geblyk die arme suster Adeline is glad nie so ’n danige deskundige oor die spin- en weefkuns as wat Emily om die een of ander rede gedink het nie. Aan die Distress Fund-mense stuur sy ’n dringende brief om ander tegniese hulp te vra.
As Con eers daar is, en later mej. Piccard as deskundige, sal dit klopdisselboom gaan.
Philippolis se mense oorval Emily-hulle met goedheid. Die dag as hulle intrek in hul huis, is daar vrugte en groente uit die pastorietuin vir hulle, mev. Van Heerden, die landdros se vrou, skuins oorkant die straat van hulle af, stuur ’n springbokboud en konfyt; as hulle weer sien, het mev. Bezuidenhout ’n baksel heerlike boerbeskuit laat aflewer, en mnr. Van Schalkwyk anderdag mielies en ’n waatlemoen; iemand stuur ’n kaalvoet-bediendetjie met ’n beker vars melk . . . en van ou mnr. Liefman kom ’n pragtige wit kaktus.
Landdros Van Heerden het van die Vrystaatse regering opdrag gekry om die onderneming op elke moontlike manier aan te help. Hy stuur ’n span bandiete wat die werkkamer uitskrop en met die ronddra van die swaar stukke toerusting kan help. En die meisies wat wil kom leer spin en weef, staan tou. Miss Hobhouse is nog ’n towerwoord in die land en daar is, sê Margaret, geen enkele ding, glo sy, wat hulle nie vir haar sal doen nie.
Op Saterdag 11 Maart word die eerste ses leerlinge ingeskryf, die volgende Maandagoggend, 13 Maart val hulle agtuur ywerig in en begin. In die werkkamer staan sewentien spinwiele en die weefstoele gereed, ook ’n breimasjien of twee.
Hester Strauss ("pronounced Strace,” skryf Margaret in ’n brief huistoe) is hulle knapste leerling - ’n mooi meisie met donker oë, donker hare, en die allergrootste geduld met die moeilikste en wederstrewigste stuk masjinerie, se Margaret. Haar moeder is in die Bethulie-kamp oorlede. Nou het haar vader weer getrou, en die stiefmoeder is self maar nog baie jonk. Hester staan soggens 2.30 op om eers vir haar broertjies en sustertjies te sorg voordat sy om 8-uur soggens by die skool op haar pos is: maar sy’s daar en sy leer! En haar vlytige vingers kry binne ’n dag of wat dinge reg waaraan mej. Hobhouse en mej. Clark weke gesukkel het.
Die boere gee merino-wol, basterskaap-wol en sybokhaar vir die onderneming: genl. Botha stuur ’n baal, Bloemfontein se boerevereniging stuur twee keer ses vagte. Emily doen proefnemings met al die soort wol: die wol, die klimaatsomstandighede, alles is so anders as in Engeland, en geen pasklaar voorskrifte werk hier nie. Die rooi stof! Die klitsgras! Met alles moet rekening gehou word.
Die skool wil so ver as moontlik plaaslike grondstowwe vir hul werk gebruik. Van hul interessantste proefnemings is met natuurlike kleurstowwe uit die veld. Chemiese kleurstof is duur en moet bowendien uiters versigtig gehanteer word.
Nou vra die kinders by die huis uit oor kleurstowwe wat die Boere al trekkertye gebruik het. Elke meisie het haar boekie met kleurmonsters en die naam en beskrywing van die plant waarvan die kleurstof verkry is. Besembos gee ’n pragtige diep rooskleur (op die regte tyd van die jaar, as die sap in die wortels reg is!), okkerneut maak ’n mooi bruin, perskeblare gee ’n lieflike liggeel . . . dan’s daar nuwejaarsbos, kriebos, granaat, elandswortel: as jy nie jou pik in die harde grond breek om laasgenoemde in die hande te kry nie! In gouestroopblikkies word daar kleurstowwe gekook. Anna Muller van Kookfontein is ’n uitblinker met hierdie proewe.
Agter in die winderige agterplaas staan Margaret dae lank stringe wol in kleurstowwe en doop. Party dae is haar hande bloedrooi, ander dae indigoblou.
Op 1 April is die nuwe skool gereed vir besoekers - daar’s so ’n toeloop dat Emily se stem oudergewoonte weer wegslaan. Die eerste Nagmaalnaweek stroom dit eers opgewonde na die skool, en die mense staan verbaas oor wat in die paar weke al gedoen is.
Emily lewe. Die diens wat sy kan lewer, die organisasie wat so mooi op dreef kom, die skeppende plesier om vir die nuwe werk te kan ontwerp - dis vir haar heerlik. Sy maak ’n ontwerp: Geduld en Moed lees die letters daarop. Haar wag-’n-bietjie-bosmotief word ’n instelling in die weefskole se werk. ’n Ander ontwerp het die goeie ou Afrikaanse spreuk: More is Nog ’n Dag. Oral waar sy in die veld kom, teken sy blomme, prakseer sy ontwerpe. Treffend is ook haar maanblommegordyne.
Van die growwe basterskaapwol word gemaak ’n dienlike growwe bruin kombers wat hulle ’n "trek rug” doop, en wat groot aftrek kry - selfs ’n Britse oud-offisier uit die Indiese leer sou vir hom een aanskaf!
Toe Aunt Con eers vir hulle huishou, woon hulle heerlik. Die eerste aand as hulle van hul aandwandelinkie in die koelte van die dag terugkom, vind hulle sy het haar netjies vir die aandete verklee, en van nou af aan doen hulle dit almal alaande.
Elke Saterdagaand, dis vaste instelling, lees Emily vir hulle voor - en meestal is dit gedigte van Browning. Dan, as sy moeg gelees is, word Moses geroep. Hy het weke aangehou hardop "wonder” of die Missies hom dan tog nie ’n kitaar sal bring nie, tot hy sy sin gekry het. Nou bring hy dit met sy bankie na die weefkamer net langsaan die groen sitkamertjie waar die meisies sit. Emily gaan saam met hom soontoe en daar, met kitaarbegeleiding, sing sy ongesiens deur die ander vir hulle "Cockles and mussels, alive, alive o,” "Oh Rosemary,” en al sulke ou liedere uit haar jeug.
Nellie van Heerden, die landdros se tienderjarige dogter, is ook gewoonlik by, en luister met groot oë as Emily lees. By mej. Hobhouse, met daardie eerste uitpak op Philippolis, kry hierdie Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanse vrou wat sal dokter word, John Stuart Mill se The Subjection of Women te lese - ’n boek wat haar hele lewe beïnvloed en haar sterk in haar oortuiging dat ’n meisie vir geen man agteruit hoef te staan nie.
Op Sondag gaan maak die Engelse juffroue soms piekniek. Dikwels gaan sit hulle oor die naweek laatmiddag met tikmasjien en al op die rantjie waarnatoe Philippolis se beroemde Blouvoetpad lei, om daar, terwyl die wind deur die besembosse suis, hul briewe en hul verslae te skrywe. Af en toe gaan hulle saans buite op ’n koppie onder die sterre slaap. Emily vind dit ook goed dat hulle kappies dra - so hoort dit, verbeel sy haar, by ’n Boervrou, hoewel dorpsvroue dit in hierdie tyd kwalik meer dra. Margaret laat vir haar moeder ook ’n kappie maak deur mev. Bezuidenhout („pronounced Bezaydenhoot”), die moeder van nog ’n spogleerling - Sarie, met die mooi houding en maniere.
Met die dorpsmense gaan die Engelse juffroue nie veel om nie; hulle kom net omtrent by die predikant en die landdros aan huis. Miss Hobhouse het, goed soos sy vir die Boere is, tog so effens ’n "drawing room manner,” seker oor sy "gentry” is, merk Margaret op. Buitendien: hulle het werk, en ’n oor-en-weer- gekuiery op die goeie ou dorpsmanier is wel gesellig, maar kan verskriklik ’n mens se tyd mors.
Plase toe ry hulle wel soms uit. Nellie neem hulle miskien, of ou mnr. Fraser, of die vader van een van hul leerlinge. Dan gaan kyk hulle hoe dit vorder met die spinnery tuis op wiele wat van die kinders se vaders of broers vir hulle prakseer as hulle net êrens geskikte hout in die hande kan kry.
As hulle so ’n keer uitkom, na die Gertenbachs se plaas Grootfontein, na die De Villierse op Vleiplaas, na Waterkloof, die soort "voorstadjie” van Philippolis, ’n myl of twee suid van die dorpie self, moet Margaret haar opnuut elke keer oor die landskap verwonder. Hoe anders is dit nie as hul eie groen Engeland nie! ’n Mens dink eers, sê sy, "’Heavens! what a country to fight for! ’ but after you’ve lived in it for a while there is something that gets hold of you and you love the great expanses and the splendid mountain outlines and the wonderful evening colours.”
Meer as ’n halfeeu later sal Margaret (toe mev. Arthur Gillett) daar by haar huis in Street nog byna in vervoering raak as sy die landskap beskryf. Wanneer sy aan die einde van 1905 vir ’n jaar teruggaan Engeland toe, om daar die tuisnywerheidwerk te propageer, inspireer sy haar nugter, praktiese universiteitsmaat, Marion Rowntree uit Yorkshire, om op haar beurt ’n jaar by Emily op Philippolis te kom help. En ’n mens leer so die mens Emily Hobhouse beter ken as uit die openhartige briewe wat die twee so verskillende Engelse meisies in hierdie jare oor haar aan mekaar skrywe.
Die werk kom intussen pragtig op dreef. Die leerlingtal van die skool op Philippolis kan steeds opgestoot word. Die meisies word ook geleer om die sakesy van die ondememing self te behartig en organiseer in ’n Bond, wat boekhou hoeveel elkeen lewer en vir hoeveel dit verkoop word. Wanneer mej. Hobhouse-hulle eendag vertrek, moet hulle heeltemal op eie bene kan staan : dis die ideaal.
Emily besef dis tyd om met die uitbreiding na groter sentra te begin. Philippolis is te afgeleë. Johannesburg toe, besluit sy. In Vrededorp, Burgersdorp, Braamfontein woon daar in ellendige omstandighede talle Afrikanergesinne wat ná die oorlog nie weer op die plase op die been kon kom nie, en hul toevlug geneem het tot die stad. As iemand hulp en opheffing en werkgeleentheid nodig het, is dit die meisies uit hierdie buurte van gehuggies. ’n Halfuur se stap daarvandaan, op Langlaagte, is ds. Abraham Kriel se later so bekende weeshuis. Daar staan ’n ou sinkskuur leeg, en daarheen nooi hy mej. Hobhouse, met die gedagte dat ook die weeshuismeisies dan daar sal kan lesse kry.
Emily-hulle se hart sak in hul skoene as hulle die omgewing sien. Langlaagte is in die tyd ’n buurt vol rooi stof, varkhokke en vlieë. Die sinkdak van hul skuur bak bedags in die son, en snags vorm daar nattigheid aan die binnekant en verrinneweer die fyn masjiene en wiele. Koue dae is die ou plek trekkerig; Emily hou daglank haar pelsjas aan. Met die grondvloer is dit omtrent onmoontlik om die weefwerk sindelik te hou. En tot ’n ergernis wat sy met moeite verbloem, tou die weeshuiskindertjies vroeg en laat agter Emily aan met "Antie Hobhouse, antie Hobhouse! ”
Tog, selfs onder hierdie uitmergelende omstandighede, vorder die werk. Van oral kom nou aanvraag dat spin- en weefskole ook daar begin moet word. Mettertyd ontwikkel die werksverdeling dat Philippolis meisies redelik vinnig oplei om self tuis te gaan spin en weef, terwyl die Johannesburgse skool, wat weldra darem na die skafliker voorstad Bellevue verskuif, hom meer daarop toelê om onderwyseresse op te lei wat op hulle beurt skole in ander distrikte kan gaan begin.
Van groot belang vir die standaard van die werk is die hulp wat Emily nou kry van mev. Goetzsche. Sy’s Sweeds, uit ’n land wat uitmunt in pragtige kunsvlyt, sy’s getroud met ’n Deense argitek, hulle woon in Johannesburg. Mev. Goetzsche is die soort perfeksionis wat ’n nag lank nie slaap as sy aan ’n verkeerde steek in ’n stuk weefwerk dink nie. Ook het nou van Engeland gekom mnr. Milroy, nog ’n deskundige wat kom help.
Spin- en weefskole ontstaan hier, daar, oral. "Plant uit! plant uit! ” is in die dae Emily se leuse, want sy het net diégeborgde jaar om die bedryf stewig in die land gevestig te kry.
As sy net nog ’n skeepsvrag spinwiele gehad het! sug sy op ’n keer in ’n brief. Haar wens word amper letterlik bewaarheid. Die Duitsers stuur spinwiele. Deur haar vriendin madame Di Asignelli van Switserland stuur die Switsers oor die honderd kratte spinwiele vir die Boere — sommige staan selfs van hul pragtigste ou familie-erfstukke af. Maar, ramp op ramp : die wiele is hopeloos verpak. Emily staan ontsteld as hulle feitlik in splinters uit die stukkende kaste getuimel kom. Sy staan met hande in die hare terwyl sewentig van hierdie kaste op die stoep, in die tuin van Langlaagte, opgestapel word, en nog veertig op Philippolis. Na baie soek, kry hulle darem ’n skrynwerker wat, al is hy eintlik meer bedrewe met wawiele, tog sowat 150 bruikbare spinwiele uit die breekspul inmekaarpas.
Oor teleurstellings soos hierdie heen, bloei die tuisnywerheid. Die aanmoediging van buite is hartvertroostend. As Het Volk bymekaarkom, sorg Smuts en Botha dat die afgevaardigdes almal na die werk kom kyk : Emily sal nooit vergeet hoe een ou Boer, wat dit duidelik nie breed het nie, ’n paar klein gebreide babasokkies vir 8d. koop. Hy het nie kinders nie, hy het nie kleinkinders nie, maar hy wil darem iets hê "vir ’n gedagtenis”, sê hy!
Daar word tentoonstelling gehou van die werk. In April 1906 is die werk van die skole op die Randse skou te sien. Die "Stellenbosch College’” verneem of daar nie voortaan vir hulle "sports jerseys” voorsien kan word nie. Voorbeelde van die werk word vertoon op die S. A. Products Exhibition wat eers in Londen, later in Amsterdam, selfs van koninklike kant aandag kry.
Bekende Suid-Afrikaanse politici laat vir hulle pakke klere maak van Emily-hulle se geweefde stowwe. Bietjie krapperig, miskien? "Genade, mev. Poultney, maar ek ly vir my land! ” swets die Johannesburgse prokureur Harry Hofmeyr in syne. Genl. Smuts sê hy voel "soos ’n volstruiswyfie” in syne. Maar selfs die redakteur van die Cape Times in Kaapstad loop trots in ’n pak van tuisgeweef. Die Speaker van die Kaapse Parlement, James Molteno, het ook ’n pak. Pres. Steyn het ’n rol growwe swart wolstof gekoop om vir hom ’n "jas vir die plaas” te laat maak. Vooraanstaande vroue, onder meer lady Hely-Hutchinson in Kaapstad, koop van hul gordynstowwe.
Nog voor die drie jaar om is wat Emily haar komitee gevra het om die werk te borg, gee die Liberale Party wat in 1906 in Engeland aan die bewind gekom het, aan Transvaal en die Vrystaat verteenwoordigende regering. Die regerings neem, soos Emily gehoop het sal gebeur, die tuisnywerhede oor, en sal hulle voortaan finansier.
In haar slotverslag aan haar komitee vertel mej. Hobhouse op watter grondslag sy nou, aan die einde van 1908, die tuisnywerhede wat met hulle hulp gevestig is, aan die landsregerings oorgee. Sowel Transvaal as die Vrystaat het ’n eie Raad (haar ou vriendin mej. Maynie Fleck is sekretaresse van die Vrystaatse Raad), en Emily dien daarin as "adviseur”.
In die Vrystaat oorhandig sy tien sentra : Bloemfontein, Philippolis. Winburg (met drie skole!), Ficksburg, Bethlehem, Smithfield, waar spin en weef geleer word, en Boshof, Brandfort, Heilbron en Bulfontein, waar net spinskole is.
In Transvaal is daar weefskole in Pretoria (Die Bellevue-skool is nou hiernatoe verplaas), op Ermelo, Schweizer-Reneke, Belfast en Lichtenburg, met spinsentrums op Vrededorp, Roseville, Irene, Heidelberg, Roodepoort (Oos-Transvaal), plase rondom Bloemhof, Standerton, Lydenburg, Rustenburg, Heuningneskrans, en dit brei steeds verder uit na afsonderlike plase. Kaapland, Rhodesië en selfs Midde-Afrika het al vertoë gerig dat spin- en weefskole ook by hulle begin moet word.
Terwyl die spin- en weefbedryf so geslaag het, gaan sy nou ’n Afrikaanse meisie saambring Europa toe en laat oplei in die kuns van kantmaak, sê Emily verder - sy het hiervoor in die oog jong Hannah Rood, ’n suster van die knappe Sarah Rood wat sewe maande op Philippolis gehelp het, en later met adv. Fred Niemeyer trou. Hannah Rood (later mev. Stephen Osborne) begin hierdie kantskool, wat deur die land beroemd sou word, ’n jaar of wat later op Koppies.
Die werk wat hulle moontlik gemaak het, sê Emily in daardie verslag aan haar komitee, "has brought interest, education and a certain amount of prosperity into dreary homes and desolate villages . . .
"It has brought courage and resolution and, more than all that, helped to foster that spirit of brotherly kindness between Dutch and English on which the future welfare of South Africa depends.”
As afskeid gee genl. Smuts, as koloniale sekretaris van Transvaal, namens die Transvaalse huisvlytraad aan haar ’n portret geskilder deur die jong Suid-Afrikaanse kunstenaar Hugo Naude, wat sy terloops persoonlik baie gehelp het om bekend te stel en aan te moedig.
Daar is selfs in hierdie stadium mense wat sê hierdie spin- en weefwerk sal floreer, "lank nadat die myne uitgeput is en Johannesburg opgehou het om te bestaan! ”
Emily kan die werk afgee met ’n gevoel van tevredenheid oor wat in die drie kort jare bereik is. Maar haar hart is ongerus oor "haar kind”, want sy besef vandat die geld iewers anders vandaan kom, sal sy nie meer al haar ou seggenskap daaroor kan behou nie. Sy wou dit so graag hou op die grondslag waarop sy dit begin het: dat alles, maar alles, van was, kaart en spin tot die voltooide produk, deur die vroue en meisies self gedoen moet word, dat die bedryf in ware wese ’n tuisnywerheid moet wees. Maar met die oog op omset en afset, is die neiging om werk soos spin, wat meganies gedoen kan word, meganies te laat doen. Emily is diep ongelukkig oor die rigting wat ingeslaan word.
Sy is, sê Margaret, ’n bietjie soos ’n ma wat daniger is met ’n hulpelose baba vir wie sy alles self doen, as met ’n kind wat fluks grootword, op sy eie bene staan en ’n eie rigting inslaan.
En soos baie moeders wie se kinders groot en onafhanklik van hulle word, voel Emily ineens bietjie verlate, hier kort by haar vyftigste jaar. Met Aunt Mary ook dood, is dit of sy eintlik geen anker meer in Engeland het nie. Sy oorweeg dit om hier in Suid-Afrika te bly woon. Sy laat bou selfs - en wel volgens ’n eie, oulike ontwerp - ’n eie huisie in Bellevue, digby waar die skool later kom. Dan twyfel sy weer: moet sy nie maar liewer na Engeland om vir haar oudag nader te wees aan oorblywende familie "op wie ek die reg het om aanspraak te maak” in ’n dag van siekte nie?
Dat haar hart nie gelukkig is nie, merk ’n mens aan die naam wat sy gee aan haar huisie in Beckerstraat, wat pragtig van die hoë rant noord kyk tot by die Magaliesberge. Mara (bitter) heet dit.
’n Grondoorsaak vir haar bedruktheid is miskien dat sy die afgelope drie en ’n half jaar waarin sy met dringende volkome, oorgawe gewerk het om die tuisnywerheidjie binne die voorgeskrewe tyd gevestig te kry, haar gestel heeltemal ooreis het - liggaam en senuwees albei.
Dan ook, sy besef waarskynlik nou dat sy nooit sal trou nie. Daar is van haar vriendinne wat dink dat daar in hierdie jare weer ‘n hartsteleurstelling was en dat ’n verhouding waarvan sy miskien hoë verwagtings gehad het, op niks uitgeloop het.
Verering kry sy nog steeds uit alle oorde; maar waarna sy smag, is die warm, intieme liefde van ’n eie huisgesin.
Daar is iets roerends in die selfbejammering waarmee sy - Marion vertel - ’n katjie optel en teen haar vasdruk en sê: "Dis al in die hele Suid-Afrika wat my net om my eie ontwil lief het.”
Ondanks die sukses van haar onderneming is sy siek en mismoedig as sy aan die einde van 1908 na Engeland teruggaan.
Vervolg...