Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toets jy nog telkens jou eie lewe aan elkeen van die Tien Gebooie van God? God het ons uitverkies om sy kinders te wees en Hy vra dat ons Hom met ontsag en eerbied dien. Dit sluit in dat jy in woord en daad jouself aan sy wil onderwerp in gehoorsaam en getrouheid aan al tien die gebooie – nie net sommige van hulle nie.
PETRUS: Hoofstuk 6
Teleurstelling en selfverwyt
Toe ek en Johannes ure later op die Vrydagmôre weer by Kajafas se paleis aankom, was alles daar verlate, maar voor die stadhouer se vesting het ‘n tierende menigte rondgemaal. Een van die soldate van die garnisoen wat probeer om hulle in toom te hou, het gesê hulle het Jesus hier na Pilatus gebring, maar hy het Hom na Herodus gestuur en toe het Herodus Hom weer teruggestuur en nou staan die spul en skree dat Pilatus Hom moet laat kruisig.
‘n Rukkie later het ons gesien hoe hulle Jesus wegneem, onderwyl ‘n swetterjoel haatlike spotters om Hom te kere gaan, op pad na Golgota.
Wat het ek gedoen ?
Johannes het gesê ons moet nader gaan, maar ek het nie kans gesien nie. Ek het onder ‘n boom op ‘n klip gaan sit onderwyl hy verder gestap het. Ek wou nie sien hoe hulle die Here kruisig nie. Die weemoed en jammer in sy oë, toe die haan vannag gekraai het en Hy omdraai en ‘n oomblik na my kyk, brand my met ‘n gewetenspyn wat ek amper nie kan verduur nie.
Waar was al my selfversekerdheid en moed toe dit verlede nag so nodig was? Die een oomblik verseker ek die Here dat ek hom nooit in die steek sal laat nie en ‘n paar uur daarna skrik ek my morsdood toe ‘n ou diensmeisietjie sê ek is ook een van Jesus se dissipels. Ag, die swaarste van alles is om te erken dat ek ‘n ou groot lafaard is. Ek is altyd voor op die wa en vol bravade en wil dinge sommer holderstebolder aanpak en doen, en dan sê ek in my impulsiwiteit ook nog dinge wat kon gebly het.
Wat dink Hy van my ?
Ek weet Jesus het van al hierdie swakhede in my geweet. Waarom het Hy so’n man soos ek as een van sy dissipels aangestel? Daardie dag toe ek Hom die eerste keer gesien het met die groot visvangs langs die Galilese See, het ek vir Hom gesê Hy moet my uitlos, want ek is ‘n sondige man. Maar toe het Hy vir my gesê ek gaan nog mense vang. Wat het nou daarvan geword? Daar is hulle nou besig om Hom te kruisig. Hy het gesê dit gaan gebeur. Waarom moet dit gebeur?
Ek verag myself
Ek glo nog dat Hy die Messias is, die heilige Seun van God. Maar wat hulle nou daar met Hom doen, kan die almagtige Vader tog nie toelaat nie! Waarvoor moet Hy sterf? Kan God dan sterf? Maar Hy het vir ons gesê Hy gaan na drie dae weer opstaan. Nie een van ons dissipels glo dit nie. Tot op daardie oomblik wat Judas Hom met ‘n soen verraai het en hulle Hom gevange geneem het, het ons ook nie geglo dat hulle Hom om die lewe gaan bring nie. En nou gebeur dit.
Hoe verag ek nie myself nie! Ek het ‘n aandeel aan sy dood. Waarom het ek verlede nag na Hom geluister en nie verder geveg nie? Die ander dissipels het ook almal soos ‘n klomp lafaards weggehardloop en my in die steek gelaat. Maar toe ek ou Malgus bykom, toe keer Jesus my. Waarom het Hy nie toe sy Vader gebid om engele te stuur om Hom en vir ons te kom beskerm nie?
My hoop vlam weer op
Hoe lank ek daar op die klip in my ontredderde toestand gesit het, weet ek nie. Toe ek uiteindelik my betraande oë opslaan en in die rigting van die kopbeenkoppie kyk, sien ek teen die laatmiddaglig drie kruise op die horison, maar ek het weer my kop laat sak, want ek wou nie die beeld van daardie middelste kruis in my geheue ingrif en altyd saam met my dra om my te herinner aan my lae verloëningsdaad toe Hy my nodig gehad het nie. Maar tog het daar in my gefolterde gemoed die vae wete in my bewussyn begin groei dat daardie kruis op die heuwel nie die finale gordyn gaan laat sak op al die gebeurtenisse wat ons alreeds saam met Jesus beleef het nie. Wat gaan gebeur as Hy werklik opstaan? Dan kan Hy mos weer die koninkryk in Israel oprig!
Aan die kruis
‘n Rukkie later het Johannes weer by my aangekom waar ek soveel ure lank onder die boom gesit het. Hy het my vertel dat Jesus ‘n rukkie vantevore gesterf het. Onderwyl ons albei se trane vrylik vloei, het ek van hom te wete gekom wat daar alles by die kruis gebeur het. Hy sê toe hy daar aankom vanmôre, het Jesus hom raakgesien en hom na die kruis geroep en hom gevra om voortaan sy moeder Maria in sy huis te neem en haar as sy eie moeder te versorg. Moeder Maria het nie ver van die kruis af gestaan nie. Maria Magdalena en die ander vroue het haar ondersteun, onderwyl sy moes toekyk hoe haar heilige, onskuldige Seun besig was om aan ‘n Romeinse vloekhout te sterf.
Johannes sê toe hulle vanmôre vir Jesus aan die kruis gespyker het, het Hy gebid dat sy Vader hulle dit moet vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Later in die dag het Hy uitgeroep dat Hy dors is en nadat die donker wat toegesak het, weer opgeklaar het, het Hy gevra waarom sy Vader Hom verlaat het.
“Petrus, dis hartverskeurend om daar naby die kruis te staan en te sien hoe Hy ly. Maar ek kon nie weggaan nie. Jy weet hoe lief ek Hom het. Ek staan daar en besef deur my trane heen dat al ons ideale besig is om saam met Hom te sterf. Maar toe die donker so om ons toesak, het ek weer gedink dit is miskien die teken dat Jesus van die kruis gaan afkom, maar ag, toe dit lig word, het Hy nog daar gehang. Ek het Hom gehoor prewel: “Dit is volbring.” Nie lank daarna nie het Hy uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Toe het Hy gesterf.
In sy dood was Hy by ‘n ryke
Ek en Johannes het mekaar aangekyk. In albei se gemoed het die onuitgesproke vraag geleef: Wat staan ons nou te doen?
Ek gewaar ‘n man wat oor die rantjie na ons twee aangestap kom. Johannes het hom ook gesien en fluister vir my: “Dis Josef wat in die dorpie Arimatea bly. Hulle sê hy is skatryk, maar hy is ‘n baie goeie man.”
Toe hy by ons kom, stel hy homself voor en sê: “Ek weet dat julle twee van Jesus se dissipels is. Ek kom nou net van die kruis af, waar ek vir Maria Magdalena en die ander vroue gekry het. Hulle het vir my beduie waar ek julle twee sal kry. Al die ander dissipels het gevlug en is nêrens te sien nie.
“Ek dink nie julle sal baie daarvan hou dat julle goeie Meester se liggaam soos dié van die misdadigers vir die aasvoëls gegooi gaan word nie; ek ook nie. Ek het vanmiddag na Pilatus gegaan en vir hom Jesus se liggaam gevra. Ek het ‘n mooi stukkie grond hier langs die Olyfberg, waar ek ‘n tuin aangelê het. Aan die kant van die sandsteenrantjie het ek vir my ‘n ruim graf laat uitkap. Ek wil hê ons moet Jesus se liggaam in hierdie graf gaan neerlê.
“Maar ek wil julle eers nog dít vertel: Toe ek vanmiddag by die Goewerneur was, toe bars daar ‘n paar priesterhoofde en Fariseërs onaangemeld en ongevraagd by hom in en sê vir hom daardie kennisgewing wat hy bokant Jesus se kruis in drie tale laat aanbring het, is verkeerd. Hy moenie geskryf het Jesus, die koning van die Jode nie, maar Hy het gesê hy is die koning van die Jode. Pilatus het hom vir hulle vererg en gesê: ‘Kyk hier, wat ek geskryf het is finaal en klaar. Ek is nou moeg vir julle klomp Jode se gesanik. As julle maar ‘n koning gehad het soos daardie Man, maar julle is dit nie werd nie!’”
“Dankie oom Josef, dat jy dit vir ons vertel. Maar waarom het hy toegelaat dat Jesus gekruisig word, as hy dan so baie van Hom gedink het?”
“Ja, hulle sê hy was onder groot druk. Sy vrou het ‘n briefie na hom gestuur en hom gewaarsku om tog niks met die regverdige Man te doen te hê nie; sy het die vorige nag in ‘n droom oor Hom swaar gely. Maar toe gaan staan hy mos voor die ginnegapende menigte en al die haatspuende spul valse vromes en sogenaamde geleerdes sy hande in ‘n skotteltjie water en was en sê hy is onskuldig aan die bloed van Jesus, en tog laat hy Hom kruisig!
“Maar hy het my vriendelik behandel toe ek Jesus se liggaam vir hom vra om te gaan begrawe, want ek wil nie hê dat Hy môre tydens die fees nog aan die kruis moet bly hang nie. Sal julle my help?”
“Natuurlik, oom Josef!”
Ons is saam met hom na die kruis. Die vroue het intussen die nodige doeke en speserye gaan kry en ons gehelp om Jesus se liggaam af te haal en na Josef se nuwe graf te neem.
‘n Paar van die skynheilige Fariseërs wat hulle so verlekker het om Jesus aan die kruis te sien hang, het nog daar rondgedwaal en ons op ‘n afstand gevolg. Nadat die vroue sy liggaam met teerheid versorg het, het ons Hom in die graf gelê. Die swaar sluitsteen het ons drie manne byna baasgeraak, maar ons het daarin geslaag om dit voor die deur van die graf te rol om sodoende die ingang te verseël.
Toe ons omdraai, sien ons ‘n paar van die Fariseërs wat ons gevolg het, tussen die bome verdwyn, in die rigting van die stad. Josef van Arimatea het hulle gestaan en agternakyk. Toe sê hy:
“Jesus het hulle skynheilig en oneerlik en agterbaks genoem, maar ek sê hulle is van die duiwel besete, vanaf die Hoëpriester tot by elke sogenaamde skrifgeleerde en Fariseër van die Sanhedrin. Daar is net één man onder hulle wat eerlik en opreg is en die wet ken en weet hoe om dit in jou eie lewe reg toe te pas. Dit is Gamaliël. Hy is ‘n getroue vriend van my, by wie ek al baie geleer het.”
Josef het nie verniet die groepie Fariseërs wat daar by Jesus se graf op ons kom spioeneer het, van nog meer onheilige dinge verdink nie. Ons het later gehoor dat hulle sommer weer pylreguit na Pilatus toe is en ewe vroom vir hom gaan sê het:
“Geagte Goewerneur, ons herinner ons dat toe daardie bedrieër nog geleef het, het hy meer as eenmaal vertel dat as hy doodgemaak word, hy na drie dae weer lewendig sal opstaan. Sy dissipels weet goed dat hy so gesê het en ons is seker hulle gaan probeer om sy liggaam te steel, om dan rond te vertel dat hy opgestaan het. Dink net daaraan watter groot bedrog dit dan nie sal wees nie. Ons vra asseblief dat u die graf moet laat verseël en dit drie dae lank deur wagte moet laat bewaak.”
Pilatus het sowaar aan hulle versoek voldoen. Die graf is verseël en word toe deur ‘n paar soldate bewaak.
Dis bloedgeld !
Voordat ek en Johannes daardie droewige Vrydag van oom Simon afskeid geneem het en hy weer na Arimatea vertrek het, het hy ons nog ‘n ding vertel wat my baie geskok het. Hy sê hy het voordat hy na die Goewerneur toe gegaan het, eers by die vergadersaal van die Sanhedrin aangedoen.. Hy wou graag met professor Gamaliël gesels oor die vreeslike dinge wat besig was om plaas te vind. Maar hy was nie daar nie – net ‘n aantal skrifgeleerdes en ‘n paar Fariseërs.
Toe storm Judas Iskariot die vertrek binne en roep snikkend uit: “Ek het ‘n onskuldige Man verraai! Laat Hom los, asseblief, laat Hom los! Hier is julle geld terug!”
Maar hulle het hom toegesnou: “Ag siestog! Hoor net hier! Die verraaier het spyt gekry. Maak dat jy wegkom onder ons oë uit!”
Judas het die geld net daar neergesmyt en homself in die veld gaan ophang. Toe ek dit hoor, het my hart weer in my gekrimp. Is ek beter as Judas? Sê nou Jesus staan werklik weer op, sal Hy dan ooit my lae verloëningsdaad vergewe?
Toe ek en Johannes weer by die huis van Maria, Markus se moeder, aankom, kry ons darem vir Jakobus en Andreas daar. Waar die ander dissipels was, kon hulle ons nie sê nie. Die volgende dag het Filippus en Natanael daar aangekom en voor donker daardie aand het Tomas, Matteus, Jakobus Alfeus, Judas Taddeus en Simon Kananites ook opgedaaag, sodat ons elf darem weer bymekaar was.
Ons kon mekaar van skaamte nie in die oë kyk nie. Ons het mos almal, asof uit één mond vir Jesus verseker dat ons Hom nooit sal verloën of verraai nie, en kyk wat het ons gedoen; toe Hy ons die nodigste gehad het, het ons Hom almal in die steek gelaat en soos ‘n klomp lafaards weggevlug vir die klompie tempelwagte wat Jesus kom arresteer het.
Jesus is dood, en wat gaan nou verder van ons word?