Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
" '...maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien... maar ek en my huis, ons sal die HERE dien...' Daarop sê Josua aan die volk: 'Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself die HERE gekies het om Hom te dien.' En hulle sê:' Ons is getuies.' 'Verwyder dan nou die vreemde gode wat onder julle is, en neig julle hart tot die HERE, die God van Israel.' " Josua 24.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (3)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die lede is nou in drie geselskappe ingedeel en is die bevel van die skip aan Pennell oorhandig. Hy sou in bevel bly totdat die skip die volgende jaar van Nieu-Seeland terugkeer. Campbell is in bevel van die vervoer oor die anderhalfmyl see-ys tussen die skip en die kus gestel en adm. Evans die bevel oor die basis, die oprig van die hutte, en dies meer, aanvaar. Kaptein Scott het toesig gehou, dinge beplan en verbeter.
Tot laat die nag is nog goed op die ys oorgebring en teen etenstyd, om 7 nm, is twee motorsleë, al die honde en ponies, asook die meeste van die gewone sleë en die tente aan wal gebring.
Die volgende dag is almal om 4.30 wakker gemaak. Om 5 vm. is ontbyt bedien en om sesuur begin werk. Al die petrol, die paraffien en die timmerhout vir die hutte aan wal gebring. Die meeste van die karweiwerk is deur die motorslee en die manne gedoen, maar ’n paar trekke is met die ponies vervoer. Op die strand by Kaap Evans het hulle ’n groot tent opgeslaan en hier het die hutbouers en die manne wat die voorrade geberg en die slee op die strand afgelaai het, geëet en geslaap.
Tot 10 nm. is gewerk en slegs baie haastig tussenin geëet. Toe het die lede, moeg maar hoogs in hulle skik, in hulle slaapsakke, hangmatte of op slaapbanke uitgestrek.
Die volgende dag is dieselfde roetine gevolg en is byna al die koskiste aan wal gebring. Onder aanvoering van Bower is hulle in netjiese hope opgestapel. Hierdie onvermoeide werkertjie het nou al sy aandag aan die voorrade van die geselskap wat na die weste sou reis, gewy. Hy het elke kis met alles wat daarin was, geken. Elke kis het omtrent 60 lb geweeg. Toe die voorrade in Londen gekoop is, is sake opsetlik so gereël. Dit sou gewig en ruimte bespaar. Die ponies het nie voor die middag van die 6de begin werk nie, en toe is alleenlik die bestes voor ligte vragte gespan.
Davis, die timmerman, het die seeliede Forde, Keohane en Abbot tot sy beskikking gehad. Hulle roetine het ietwat van die ander s’n verskil: hulle het gewoonlik van 7 vm. tot middernag aan die hutte gebou en hul resultate was eenvoudig wonderbaarlik. Persone wat die tyd daarvoor gehad het, het hulle gehelp waar hulle kon en van hierdie persone was Ponting besonder vaardig as timmerman. Ek het nog nooit iemand teëgekom wat planke met messing- en groefverbindings so vinnig kon oprig nie.
Day, Nelson en Lashly het met die motorsleë gewerk. Die nuutste motor het dikwels vragte van 2500 lb. oor die ys teen ’n snelheid van ses myl per uur gesleep. Die oudste het ’n ton gesleep en ses ritte heen en weer per dag gedoen. Day, die motor-ingenieur, was al tevore hier. Sowel hy as Priestley was lede van Shackleton se ekspedisie. Eersgenoemde was beslis humoristies aangelê en dit het hom orals gewild gemaak. Day het deurentyd ’n onblusbare sportmangees aan die dag gelê en dit was nie sy skuld dat die motorsleë teen die einde so swak gevaar het nie.
Adam Evans se dagboek lees soos volg:
Saterdag, 7 Januarie 1911.
Almal besig om voorrade aan wal te bring. Meares en Dimitri ry heen en weer met die hondespanne om die ligte toerusting aan te bring.
Kaptein Scott, dr. Wilson, Griffith Taylor, Debenham, Cherry-Garrard en Browning lei die ponies. Campbell, Levick en Priestley trek sleë met geweldige vragte en lê daarby ’n geweldige energie aan die dag. Die grootste deel van die skip se bemanning is besig om voorrade af te laai. Bowers, twee seeliede en Atkinson laai sleë aan die kus af en dra hul vragte na hul aangewese plekke. Simpson en Wright lê die fondamente van ’n magnetiese hut, en dies meer. Almal is gelukkig en ywerig en werk aanhoudend soos miere. Adm Evans het die werk van ys-inspekteur op hom geneem en gaan die ys drie- of viermaal per dag ondersoek. Hy bou dan sneeubrûe oor die krake en die dun plekke. Behalwe die skots waaraan die skip vas is, is die ys etlike voet dik. Die skots by die Terra Nova is baie dun en nie te betroubaar nie. Lede op die strand het die aandete om 10 nm. genuttig en om 11nm. gaan slaap.”
Sondag, 8 Januarie.
Vanoggend het ons groot skade gehad. Die derde en nuutste motorslee is uitgelig en toe dit op die vaste ys neergelaat is, het dit deur die ys gebreek en in die diep water weggesink. Campbell en Day het dit kom aanmeld en kaptein Scott het dit besonder goed opgeneem.
Dit was niemand se skuld nie, aangesien sowel Simpson as Campbell die skots eers getoets het en gevind het dat dit heeltemal dik en skynbaar sterk was. Hoe dit ook al sy, daar lê die slee toe in 100 vadem water.
Die sleevervoer is vir die dag gestaak en diegene aan boord het die skip verskuiwe maar kon hom nie in ’n bevredigende posisie kry nie, en gevolglik is stoom gemaak.
Die volgende dag het diegene wat aanboord was die skip na ’n nuwe posisie langs die vaste ys, ’n rapsie minder as ’n myl van ons basis, verskuiwe. Die vervoer van die voorrade het voortgegaan en ’n groot aantal bale voer is aan wal gebring.
Binne ’n week het is al die voorrade en toerusting aan wal gehad en uit die staanspoor het baie lede het hulle verblyf op Kaap Evans ingerig. Verskeie tentjies is op die strand opgeslaan en dit was ’n aangename afwisseling om weer in ’n pelssak in te kruip, veral na die klam, koue slaapplekke op die skip. Kaptein Scott het alleen ’n tent bewoon. Dit is sy heiligdom genoem en uit die afgesonderdheid van hierdie woonplekkie het Scott sy opdragte uitgereik, toesig gehou, planne beraam en waar moontlik dinge probeer verbeter. Hy was ’n baie vernuftige man en het altyd geweet hoe om sy ondergeskiktes aan te spoor om die allerbeste te lewer, en tog het hy sy lyf nooit weggesteek nie. ’n Mens het met besonder min slaap klaargekom en gedurende die sonnige dae is die tentdeure wyd oopgelaat, want anders het die heg-geweefde, winddigte tentstof al die vars lug buite gehou en dan het ’n mens met ’n geweldige hoofpyn wakker geword.
Die gedeelte bokant en agter Kaap Evans is Die Hang genoem en vandaar kon ’n mens eenvoudig van die rotsblokke en klippe afstap op die gladde blou yshang wat byna onafgebroke tot aan die kruin van Berg Erebus gestrek het. Van Die Hang af kon ’n mens vol bewondering kyk na die grootse vulkaan, die Wit Vrou van Antartika, groots in haar glinsterende kleed van glansende kristal, met ’n mantel van mistige rook om haar wonderlike skouers gehul. Ons kon ons verkyk aan die gedurigwisselende rook of stoom wat die Wit Vrou te alle tye uitasem en wat al duisende jare aanhou.
Dit was gelukkige dae, daardie eerste somer aan Kaap Evans. Die weer was meesal warm en ons kon in die poele wat deur die gesmelte sneeu gevorm is, was en selfs ons drinkwater van die watervalle kry wat oor die songebakte rotse gestort het, amper soos die watervalle in die somer in Noorweë.
'n Week na aankoms aan die Kaap is ’n grot uit die ysplato begin kap om ’n bergplek vir die vars skaapvleis te maak. Op die ou einde is elke dag honderd gelling ys uit hierdie grot na die skip geneem. Dit kon vir drinkwater gebruik word en het gehelp om kole uit te spaar. Niemand het, indien dit moontlik was, die reis van en na die skip met leë hande afgelê nie.
Die buitekant van die hut is op 12 Januarie voltooi en aan die noordekant is mooi stalle gebou. Toe dit voltooi was, is ’n bygebou aan die suidekant opgerig. Hier sou die rantsoen en die kosvoorrade uitgereik word. Toe al die voorrade van die skip afgelaai is, was die vaartuig baie ligter en is toe begin om ballas in te laai. Hoewel die hardste liggaamlike arbeid verrig moes word, is’n tydlank in weelde gelewe. Middernag, net voor slapenstyd is heerlike kakao geniet. Slegs eenmaal in die week is gewas en eerlank was lede swart van die son en die vuil, maar uitmuntend gebrei. Gedurende die eerste drie weke is honderde kiste gedra, daagliks myle gestap, ys gegrawe, gepik en gekap, met die ponies gewerk, gekook en gedans.
As die son laag in die suide hang en alles stil was, het ons soms lugkastele gebou en met mekaar oor ons vaderland gesels, oor die somers in Engeland.
’n Dag of twee voordat die groot sleereis vir die maak van opslagplekke sou begin, het die lede intrek in die aangewese hoekies met hulle persoonlike besittings en professionele uitrusting. ’n Donkerkamertjie van 8 vt. by 6 vt. is ingerig vir die ontwikkel van films, vir die berg van fotografiese apparaat en rolprentkamera en vir alles in verband daarmee.
Aastronomiese waarnemings is gedoen, om die ligging van die waarnemingspos op die kus van Kaap Evans vas te stel. Die voorlopige ligging was vasgestel breedtegraad 770 38'23" S. lengtegraad 1660 33'24" O.
Voordat vooribereidings vir die groot reis om opslagplekke aan te lê, begin is, is ’n opname van die vars vleis in die grot gemaak. Die lys van bevrore vleis wat aan die kok oorhandig is, het weelderig genoeg gelyk, want dit het uit nie minder as 700 lb. beesvleis, 100 skaapkarkasse, 2 fisante, 3 ossterte en 3 tonge, 10 lb. soetvleis, 1 kis niertjies, 10 lb. niervet, 82 pikkewyne en 11 bruin roofmeeue bestaan nie. Die kok se hoek in die hut was baie ruim en die stoof soortgelyk aan dié wat aan die koninklike seiljag, die Alexandra, verskaf is.
Op 19 Januarie is ’n sneeupad oor die ysgordel aan die suidekant van Kaap Evans aangelê. Dit is gedoen om die ponies se pote en hoewe te beskerm. Die Siberiese ponies was nie beslaan nie en hierdie ruwe, vulkaniese rots sou hulle swaar laat kry het.
’n Groot deel van die ys in die baai het opgebreek en uit die see-engte gedrywe, met die gevolg dat die skip op die 20e slegs ’n paar honderd tree van Hoerastrand was. Op daardie dag het Rennick, met ’n glimlag wat van oor tot oor gestrek het, oor die ys gekom met die pianola wat uitmekaar gehaal en op ’n paar sleë gelaai was. Hy het dit aan die een kant van die hut baie oulik inmekaar gesit en toe Home Sweet Home gespeel het. Destyds het alles nog so glad soos seep gegaan en ’n mens kon jou kwalik voorstel dat daar oor drie maande geen son sou wees nie, dat hierdie warm kus met die ys toegekoek sou wees, en dat die koue, donker winter aanbreek.
Vervolg...