Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde is die sterkste wapen wat God ons in die stryd teen die sonde gegee het. Hoe meer liefde, hoe minder probleme, hoe minder spanning. Moenie jou liefde in 'n weegskaal plaas nie; liefde wat afgemeet word is nie liefde nie maar berekeninge. Laat jou liefde spontaan wees, eg, dan kom daar 'n diep vreugde in jou.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (4)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die 21ste was ’n opwindende dag. Kaptein Scott het berig ontvang dat die skip in moeilikheid verkeer. Die ys waaraan die skip vasgemeer was, het weggebreek en is die vaartuig weer met die ysankers vasgemeer. Om 6.30 het die Terra Nova ’n skeepsvlag aan die grootmas uitgehang. Dit was ’n teken waaroor vooraf ooreengekom is. Almal het dus gegaan om die ysankers te kry. Die skip het van die staaltoue waaraan die ankers vas was, losgeraak en was reeds besig om in die see-engte weg te drywe. Die ys was vinnig besig om op te breek.
Toe is stoom gemaak, en voordat hy in veiligheid was, was die skip maar net ’n halwe kabellengte van Kaap Evans wat regvoor aan die lykant gelê het. Die skip is darem veilig daaruit.
Daarna is’n lekker ontbyt genuttig, want die lede was baie honger na die werk in die vroeë oggendure en van die koue wind. Toe is met die voorbereidings vir die reis om die opslagplekke te lê, voortgegaan en is agt uit die elf slee met die grootste deel van hul toerusting en ’n deel van die voorrade toegerus.
Teen omtrent 3 nm. het die Terra Nova die baai binnegekom en net toe hy draai om langs die vaste ys vas te meer, het hy teen ’n rots wat met slegs twaalf voet water bedek was, geloop. Met die masjiene op volle spoed in die tru gestel, het die bemanning van die een kant na die ander gehardloop, die skip laat slinger, dit het agteruit beweeg en met welslae begin dryf. Die bemanning het met drie hoera’s gejuig.
Nadat die Terra Nova van die rots gehaal is, is dit na ’n veilige plek geneem en die ysankers vasgemaak.
Die volgende dag, wat Sondag was, is geheel en al aan die voorbereiding van lede se persoonlike uitrusting vir die reis gewy.
Die volgende lede is gekies vir die reis om opslagplekke aan te lê. Kaptein Scott, wat as leier sou optree, Wilson, Bowers, Atkinson, Oates, Cherry-Garrard, Gran, Meares, Forde, Crean, Keohane en Evans. Daar is besluit om agt poniesleë en twee hondesleë, asook omtrent ’n ton voer, sleërantsoene, hondebeskuit en paraffien na ’n plek op die Groot Ysbank sover suid soos hul kon kom, voordat die eerste winter begin, te neem. Hiertoe het Scott besluit nadat hy die saak met Oates en ander bespreek het en, soos uit die lys van die wat vir die reis gekies is, sal blyk, is niemand behalwe Wilson vir die wetenskaplike personeel ingesluit nie.
Die ponies wat vir die reis uitgesoek is, was òf die wat in die beste kondisie was, òf die swakstes wat volgens Oates kwalik die strawwe winter sou oorlewe het. Afgesien van die ponies wat vir die reis uitgesoek is, het hulle nog nege oorgehad. Die klein Rus, Anton, en die betroubare Lashly wie se kennis van werktuigkunde en praktiese aanleg nodig was om die basis in te rig, sou vir die diere by die basis sorg.
Op 3 Januarie was nou geen ys meer oor in die baai ten noorde van Kaap Evans nie en die vervoer na die Terra Nova moes noodwendig per boot geskied.
Die vier-en-twintigste Januarie was ’n bedrywige dag. Pas na ontbyt is kaptein Scott van die strand gehaal en om 10 vm. het die skip na Gletsertong vertrek om, as ’t ware, die tou wit Siberiese ponies wat oor die vaste ys in die baai na die suide van Kaap Evans gelei is, te begelei.
Nadat hul by Gletsertong aangekom het, het Pennell ’n natuurlike landingsplek gekies om sy skip langs die land te bring. Dit is wenslik om Gletsertong hier kortliks te beskrywe, want in hierdie verhaal sal nog dikwels na daardie yskaap verwys word.
Gletsertong is sowat ses myl S.S.O. van Kaap Evans geleë en is ’n merkwaardige uitstekende ystong wat, toe die laaste opname gemaak is, vier myl in die McMurdosee-engte ingeskiet het. Peilings het getoon dat dit oor ’n aansienlike afstand drywend is en, soos Scott later vasgestel het, het ’n groot deel daarvan in die herfs of die winter van 1911 losgebreek en is dit deur die winde en die strome van die see-engte na ’n posisie veertig myl W.N.W. van Kaap Evans weggevoer, waar dit, in die vorm van ’n groot ysberg wat twee myl lank was, op die land geloop het.
Die ponies is na die plek waar hulle op tou geslaan is, gebring. Die enigste teëspoed wat hulle getref het, was dat een van hulle deur die ys in die see geval het, maar hy is sonder enige nadelige gevolge gered. Oates het daar baie goed in geslaag om die ponies te beheer. Hy het altyd graag gesê dat ‘n perd en ’n mens na enige plek sal gaan, en ek glo dat as iemand hom sou uitgedaag het om ’n ponie na die kraaines op te hys, hy dit ook sou gedoen het!
Nadat almal aan boord tee gedrink het, is die sleëvragte nagegaan en vasgestel dat niks makeer nie. Toe het die geselskap wat die opslagplekke moet gaan lê met volle vragte vertrek en sewe myl van Gletsertong af is die eerste kamp op die see-ys opgeslaan. By wyse van aanvang het Evans saam met Meares en hondeslee nommer een gegaan. Die honde was so gretig en opgewonde dat hulle teen ’n geweldige snelheid afgesit het. Hoe hulle ook al probeer teëgehou was, het hulle oor die rand van die gletser tot op die see-ys gehardloop. Die slee het omgeslaan en sowel Meares as Evans het ietwat onsag op die ys beland. Die slee is egter gevang en, nadat die honde se aanvanklike energie uitgeput was, was hulle onder beheer. Scott en Wilson het hulle hondeslee beter onder beheer gehad, want Mears het hulle ’n makker span gegee.
Om nege-uur is kamp opgeslaan. Meares, Wilson, Scott en Evas was saam in ’n tent. Oom Bill was die kok en die eerste aandete was heerlik.
Die volgende dag is hul na Gletsertong terug om die voer en die hondebeskuit vir die opslagplekke te gaan haal. Die kos vir die opslagplekke is die aand tevore gebring. Evans is saam met Meares en Nelson na die skip terug. Die middagmaal is aan boord genuttig en toe is afskeidsbriewe geskryf. Daar om die tafel in die offisierskajuit het almal toe gesit, terwyl hulle aan penne of potlode kou. Hulle het probeer om te maak asof hulle nie juis omgee nie, en tog was almal besig om aan hulle dierbares te skrywe. In hulle briewe was ’n onbeskrewe gebed dat hulle eendag weer veilig na hulle sou terugkom, nadat hulle hulle taak volbring het en hulle land gedien het. Gedurende hierdie tyd het Scott, Wilson, Bowers en Nelson nog tyd gehad om aan Evans se vrou te skrywe. Scott se brief toon hoe bedagsaam hy was en lui soos volg.
25 Januarie 1911,
Gletsertong,
McMurdosee-engte.
"Geagte mev. Evans,
Ek was van mening dat u graag ’n briefie sou wou ontvang om u te sê hoe goed u man daar uitsien. Sy vrolike optimisme het my reeds in baie moeilikhede goed te pas gekom. Tans is hy baie geesdriftig oor die 'genot’ van sy eerste sleerit.
"Hy het u seker reeds van al ons wedervaringe sover vertel en u het seker al opgemerk dat hy al die teëslae met ’n glimlag en al die suksesse met ’n vreugderoep begroet het. Vir my 'bly daar gevolglik min oor om te sê, behalwe dat ek daagliks dankbaarder voel dat u hom laat gaan het. Ek voel dat hy ons in alle opsigte baie gaan help en dat dinge baie skeef sal moet loop as ons, met so baie getroue helpers, nie in ons doel sou slaag nie.
"Voordat ek afsluit, wil ek graag die feit beklemtoon dat daar waarlik geen rede is om onrustig te voel nie. Wat betref die vind en die inrigting van ons winterkwartier was ons besonder gelukkig en as ek môre sou moes gaan inkopies doen, sou ek nie weet wat om nog te koop om ons gerief verder te bevorder nie. Ons oes nou ’n ryke beloning vir die maandelange werk in Londen, ’n werk waaraan u man ’n groot aandeel gehad het. Indien u dus, nadat verdere verbindinge afgesny is, aan ons dink, laat u gedagtes dan aangenaam wees. Stel u man voor as die leier onder diegene wat gedurig pret maak en vrolik en tevrede is. Ek voel oortuig dat ons ’n baie gelukkige gesin gaan wees en ons sal bepaald gesond en goed versorg wees.
"Met die allerbeste groete en die vertroue dat u u nie oor u man sal bekommer nie, die uwe,
R. SCOTT.
Nadat hulle vroeër as gewoonlik tee gedrink het, het hulle die kêrels van die Terra Nova asook dié van die oostelike geselskap gegroet. Die luitenante het Evans oor die kant van die skip afgesien en is hy daar weg met ’n groot knop in sy keel. Toe het Evans en Nelson 10 voetsleë wat met 530 lb. voer gelaai was, uitgeneem. Die vrag was nogal swaar, maar alle bietjies sou help en die oppervlakte van die see-ys was nie te sleg nie. Hulles het die kamppeerplek nie voor 10.35 nm. bereik nie. Die goedhartige Meares het uit sy tent gekom en hulle oor die laaste paar myl voortgehelp. Hy het die honde, ná teetyd, met ’n ander vrag uitgebring. Oom Bill het vir hulles ’n heerlike aandete van pemmikan (of biltongkoek) gereed gehad. Die volgende dag moes Evans in die kamp bly om die teodoliete reg te stel, maar die ander lede van die geselskap het die laaste vragte vir die opslagplekke van die Terra Nova gaan haal. Gedurende die volgende paar dae het hulle die voorrade vir die opslagplekke tot naby die rand van die Groot Ysbank gebring. Terwyl hulle hiermee besig was, het die meeste van hulle die geleentheid gehad om Hutpunt te besoek. Terwyl kaptein Scott ’n geskikte plek uitgesoek het om ’n hoeveelheid gebaalde voer te laat, het die ander lede van die geselskap die sneeu uit die hut wat die Discovery in 1904 gelaat het, gegrawe. Die plek het daar baie verlate uitgesien en die verskil tussen die twee winterkwartiere, Hutpunt en Kaap Evans, was opvallend. ’n Mens kan heeltemal begryp dat die eerste ekspedisie Hutpunt vanweë sy natuurlike hawe gekies het, maar as ’n mens gemak en geen onwelkome windvlae wil hê nie, dan moet Kaap Evans die keuse wees. Omdat die plek feitlik deur hoë heuwels omring was, het die son die hut, wat in ’n holte gebou was, maar selde bereik. Die hut is as magnetiese waarnemingspos gebou en het maar swak teen die paleis van 50 vt. by 25 vt. afgesteek. Daar is nie in geslaag om al die sneeu weg te werk nie, alhoewel met so baie gewillige werkers aansienlike vordering gemaak is.
Die plek op die Groot Ysbank is Voerkamp genoem en die algemene mening was dat dit maar gewaag kon word om die voer hier te laat totdat die voorrade vir die opslagplekke suidwaarts geneem is. Al die belangriker voorrade is gevolglik op 29 Januarie na ’n plek twee myl binne die kant van die Ysbank vervoer. Terwyl hulle besig was om hierdie opslagplekke aan te lê, het Evans saam met Meares na Hutpunt gegaan om 250 lb. hondebeskuit te gaan haal. Die honde wat heeltemal uitgerus was, het ’n rob geruik en met die ligte slee afgesit. Hoe Evans en Meares ook al die honde probeer teëhou het, het hulle woes voortgenael en die rob gevang. Op die oomblik toe hulle die rob bereik was Evans en Meares in die middel van ’n klomp happende en knorrende honde, met die arme rob onder hulle aan die spartel. Terwyl hulle besig was om die honde weg te slaan, het die rob vir Meares aan die been gebyt. Hy was baie verbaas en het groot verdraagsaamheid aan die dag gelê deur die rob nie met die met-yster-beklede remstok te klink nie. Mear was baie saggeaard en hy het die honde ook, behalwe wanneer dit uiters noodsaaklik is, nie geslaan nie. Selfs Osman, die wilde, wolfagtige koningshond, het van hom gehou.
Onderwyl hulle besig was om die sleëvoorrade na Veiligheidskamp, soos die opslagplek twee myl ver op die Ysbank genoem was, te neem, het hulle op twee tente wat Shackleton twee of drie jaar tevore daar gelaat het, afgekom. In die tente was ’n klompie voorrade en ’n primus-stofie wat later baie handig te pas gekom het. Op 30 en 31 Januarie het hulle die opslagplek in Veiligheidskamp voltooi en toe het hulle die geselskap gereorganiseer. ’n Baie seer hak het dit vir Atkinson onmoontlik gemaak om hulle te vergesel. Dit het nie veel saak gemaak nie, want hulle het oorgenoeg mense gehad om die opslagplekke aan te lê, maar Atkinson was bitter teleurgesteld. Evans het gevolglik Crean se ponie, Blossom, geneem en Crean het met die sieke na Hutpunt teruggegaan. Scott het Atkinson se ponie geneem en op 2 Februarie het die karavaan in ’n Oos-suidoostelike rigting na ’n plek ongeveer 78° S. 169° O. voortgegaan. Die meeste van die ponies het vragte van 600 lb. op hul slee gehad. Mears se hondespan het ’n vrag van 750 lb. getrek en die van Wilson 600 lb. Die oppervlakte was baie sleg en die ponies het diep in die sneeu weggesink.
Nadat hulle ongeveer vyf myl afgelê het, is daar eers stilgehou om te eet. Oates is in hulle tent ingeroep en hy is geraadpleeg ten einde ’n plan te vind om toestande vir die ponies te verbeter. Hulle het gevolglik besluit om snags te reis en bedags, as die son hoër en die lug warmer is, te rus. Die temperatuur het nogal aansienlik tussen die middag en middernag gedaal en hulle kon gevolglik verwag om beter en harder oppervlaktes te hê as die son laer hang. Die son was natuurlik nog gedurende die volle vier-en-twintig uur bokant die gesigseinder, en dit sou nog drie weke so aanhou. Dit was ’n verstandige besluit en hulle het gevolglik gedurende die middag gaan slaap en tot 10 nm. in ons slaapsakke gebly. Dan het hulle opgestaan en ontbyt gaargemaak.
Die kamp is om middernag opgebreek en die reis hervat. Drie uur lank strompel hulle dan voort. Hulle raak miskien ’n bietjie moeg, want dit is ’n ongewone tyd om te stap en om liggaamlike arbeid te doen. Om 3 vm. word die middagmaal genuttig en dan word die ponies toegelaat om ’n paar uur te rus. Die oppervlakte was nog baie sleg. Die ponies het swaar gevorder en Evans se eie ponie, Blossom, het gely omdat sy hoewe baie klein was. Hy het veel meer dikwels as die ander ponies in die sneeu gesink. Dit was terwille van hom dat slegs nege myl afgelê was. Nadat hulle die aandmaal om 7.30 vm. genuttig het, het Evans opmetings gedoen en toe van 10 vm. tot 7 nm. geslaap. Kaptein Scott het in hulle tent die dienste van kok op hom geneem en die ontbyt voorberei.
Die volgende paar dae het hulle die mars oor die Groot Ysbank voortgesit. Die afstande wat hulle afgelê het, het van Blossom se kondisie en van dié van ’n ander ponie, Bliicher, afgehang. Hierdie diere het hulle uit die staanspoor onrus laat uitstaan en as gevolg van hul swakheid was die afstande wat daagliks afgelê was, kwalik meer as tien myl. Oor die algemeen was die weer nie gunstig nie. Die lug was dikwels betrokke en hulle het ’n onaangename hoeveelheid lae, saamgedryfde sneeu teegekom.
Op 5 en 6 Februarie was daar sneeustorms en kon hulle nie voortbeweeg nie en dit was al amper 11 nm. op die 7de voordat die strawwe wind afgeneem en die sneeu opgehou het om hulle te val. Die sneeustorms was nie erg nie maar was nogtans genoeg om die lewe vir die ponies baie moeilik te maak. Blossom, Bliicher en ’n ander ponie, James Pigg, kon glad nie byhou nie, selfs nadat hulle vragte baie ligter gemaak is. Die matrose, Forde en Keohane, was besonder bedrewe met die ponies maar ten spyte van hul pogings was hul ponies teen 12 Februarie heeltemal gedaan. Dit het ook vir die arme Blossom gegeld. Hulle was so maer en selfs hul oë was dof en leweloos en dit sou gevolglik wreed wees het om met hulle voort te gaan. Scott het gevolglik besluit om vir Forde, Keohane en Evans met die drie ponies, Bliicher, James Pigg en Blossom terug te stuur. Die geselskap is naby die 79e breedtesirkel gereorganiseer en onderwyl die hoofgeselskap suidwaarts voortgegaan het, het Forde, Keohane en Evans hulle swak ponies noordwaarts geneem. Die plan was om hulle tot by Hutpunt te kry voordat die temperatuur daal en die koue vir hulle te straf sou word. Bliicher het sommer uit die staanspoor ingegee en pas nadat die hoofgeselskap hulle verlaat het, het hy in die sneeu gaan lê. Forde het hom opgelig, maar sy bene was slap en hy kon nie op hulle staan nie.
Ons het die arme dier se pote gevrywe en alles wat ons maar kon vir hom gedoen. Die arme Forde was feitlik in trane oor die ponietjie. ’n Mens kan ’n denkbeeld van die arme dier se toestand vorm as jy daaraan dink dat, toe ons uit jammerte besluit het om sy lyding te eindig en Keohane sy keel met ’n matroosmes afgesny het - hy het feitlik niks gebloei nie. Vir aldrie van ons was dit ’n ellendige dag. Omdat die wind baie hard gewaai het, kon ons nie vertrek voordat dit baie laat was nie, en ’n tweede ponie, Blossom, was ook vinnig op pad om dood te gaan. Ons het ’n entjie gevorder. Keohane, James Pigg en Evans het die slee getrek en Forde het Blossom half gedra, hom gedurig opgelig en gestoot. Evans het gevoel hy behoort die dier dood te maak, maar het geweet hoe kwaad en teleurgestel Scott sou wees as hulle hom moes verloor en gevolglik het ons met hom voortgesukkel, alhoewel hy so baie gely het. Die diertjie se moed was verbasend. Indien ons sou begin aanstap, het hy agter ons aangeslinger, en daar teen die wit agtergrond van die sneeu het hy soos ’n skim gelyk. Hulle het telkens besluit om hom maar dood te maak, maar hy het meer as dertig myl ver voortgesukkel voordat hy neergeslaan en in sy spore gesterwe het. Hulle het ’n sneeubaken oor hom opgerig en die voer wat ons nie meer kon gebruik nie bo-op die baken ingeplant.
As hulle nie getrek het nie, het hulle die derde ponie, James Pigg, onder ’n hoë sneeumuur gesond en warm gehou, en hy het Veiligheidskamp bereik sonder dat hy veel las verskaf het. Hy het dikwels afstande afgelê wat aan die manne se eie stapvermoë gelyk was. Nadat hulle Veiligheidskamp bereik het, het die weer weer opgeklaar en James Pigg het net lewendig begin word. Hy het alles wat hy kon, geëet en tot almal se groot vreugde het sy oë weer helder geword en het hy weer begin vetter word.
Vervolg...