Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ware skoonheid sal jy eers kan raaksien wanneer dit reeds in jou hart is...
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (15)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Teddy vertel
Die wind het ons asems gedurigdeur in yskoeke op ons baarde verander. Die rigtinglesings by ons stilhouplekke was ’n bitter koue werk. ’n Mens moes jou vingers ontbloot om die teodolietskroefies te draai, en in die ysige wind het ’n mens se vingerpunte gou bevrore geraak. Toe Kersaand aanbreek, het ons ’n dagskof van meer as 16 myl agter die rug gehad. Ons ligging was nou breedtegraad 85° 35' S., lengtegraad 1590 8' O. Hier het ek die kompasafwyking vasgestel — 179° 35' O. Ons was dus tussen die magnetiese en die geografiese pole.
Na die einde van die dagskof, wanneer ’n mens afgekoel en lewenskrag verloor het, het die temperatuur wat tot 10° benede zero gedaal het die waarnemings onaangenaam gemaak.
Op Kersdag het ons ons twee klein groen tentjies op die plato van Koning Eduard Vll-land opgeslaan. Die tente was die enigste voorwerpe wat die groot, wit eentonige verlatenheid wat van die Beardmore-gletser na die Suidpool strek, onderbreek het. Uit die suide het ’n ligte windjie gewaai en klein sneeudwarrels, so fyn soos stof, het af en toe om die tente en langs die kante van die sleelopers gewals en dan amper soos rook na die noorde weggeskarrel. Binne die tent het ons agt slapers swaar asemgehaal en pas na 4 vm het die slapers onrustig begin word en dikwels het een van ons wakker geword, op sy horlosie gekyk en weer ingedut. Presies om 5 vm. het ons leier "Evans” geroep waarop albei die Evanse geantwoord het: " Reg, Meneer.”
Almal was oombliklik aan die werkskaf. Ons het uit ons slaapsakke geskarrel en slegs die kok het in elke tent agtergebly. Die ander het die aluminiumkokers in die
grootste haas met die korrellige sneeu wat hier hard en deur die wind geswiep gelê het, gevul. Nadat die kokers gevul en na binne aangegee is, het ons ons sokkies, finnesko’s en beenwindsels van die wasgoeddrade wat ons tussen die ski’s wat regop in die sneeu vasgesteek is om te verhoed dat hulle gedurende die nag toesneeu, gehaal. Die onvermoeibare Bowers het sy termometer in die skaduwee geswaai totdat dit nie laer wou lees nie. Toe het hy na die wolke gekyk, een of twee aantekeninge in sy weerkundige logboek gemaak en daarna op sy bytende vingerpunte geblaas, die windrigting vasgestel en na ons tent gehardloop. Binne in die tent het almal hul slaapsakke opgerol en vasgebind en hulle in sitbanke verander. Die primusstoof het met ’n eienaardige lae brulgeluid gebrand en die kenmerkende reuk van paraffien het die tent deurtrek. Teen die tyd dat ons ander skoeisel aangetrek het, het die geurige reuk van die pemmikan aangekondig dat die ontbyt gereed was. Dieselfde haas kon tydens die ontbyt opgemerk word.
’n Baie kort rooktydjie is toegestaan en toe het kaptein Scott die teken vir die opbreek van die kamp gegee. Alles is by die klein ronde tentopening uitgedra. Daarna is albei tente neergehaal en in ’n kits is alles op die twee 12 vt.-slee gepak. Elke span het probeer om die eerste klaar te wees, en binne ’n ongelooflike kort tyd het albei spanne suidwaarts vertrek. Ons het in pas geloop en na die uiterlike geoordeel, sou ’n mens gesê het dat ons almal in uitstekende gesondheid verkeer. Maar ’n noukeurige waarnemer, iemand wat opgelei is om oor die gesondheid te waak, sou miskien iets verkeerds waargeneem het.
Ten spyte van die Kersgees en die Kerswense wat hulle mekaar aanvanklik toegewens het, het die twee spanne weldra hul veerkragtige stap verloor en die slee stadiger aangesleep. Byna treurig het ons voor ons uitgestaar.
Ja, alhoewel geeneen van ons dit sou erken het nie was die spanning besig om hom te laat voel. Ek en Lashly het reeds ’n slee met verskillende gewigte — maar meesal was dit ’n slee met ’n vrag — oor ’n afstand van 600 myl voortgesleep, en ons almal het hierdie afstand afgestap.
Gedurende die voormiddag het ons iets voor ons gesien wat soos die getystroom oor ’n rotslys gelyk het. Dit was ’n ander ysval wat van oos na wes gestrek het. En ons moes daaroor. Ons kon nie verder uitwyk nie, want sedert Atkinson se geselskap omgedraai het, was ons by tye reeds meer as vyf punte van koers af. Helaas, die rollers van die slee sou aan verdere slytasie onderwerp word, en dit sou meer werk vir die agt van ons beteken; ons, wat so gretig was om in ons onderneming te slaag. Weldra was ons dan ook in die midde daarvan. Eers gly een van ons en val hy hard neer. Dan gly ’n slee oor die hang van ’n groot ysgolf. Die man wat dit probeer terughou het, word genadeloos omgesmyt en die boeg van die slee bots teen die hakskeen van die agterste man in die span wat voor trek. Dit gebeur met ’n gestamp wat "pyn” beteken. Maar die slagoffer maak geen geluid nie. Op die angstige, vraende blik van sy maats reageer hy net met ’n glimlag.
Gedurende die laaste helfte van die Kersvoormiddag het iets gebeur. Lashly — dit was sy 44ste verjaardag — het die geleentheid gevier deur in ’n ysskeur wat 8 voet wyd was, te val.
Ons slee het die gaping net mooi oorbrug. Aan albei kante het min oorgesteek. Die arme Lashly het daar onder gehang en, met sy tuig voluit gestrek, om en om getol. Onder hom was ’n afgrond van 80 voet. Omdat hy reg onder die slee was, was dit moeilik om hom op te hys. Deur van ’n bergklimmerstou gebruik te maak, het ons hom op die oppervlakte gekry. Lashly het niks van die val oorgekom nie en een van my geselskap het hom ’n "gelukkige Kersfees” en "veelsgeluk met jou verjaardag en nog baie van dieselfde!” toegewens toe hy weer veilig was. Lashly se antwoord kan nie in druk verskyn nie.
Pas hierna het ons die ysval oorgesteek en het ons vir die middagete stilgehou. Volgens die aneroïed het ons meer as 250 voet gestyg. Dit was snaaks om te vind dat die barometer ’n kwikhoogte van 21 instede van 30 duim getoon het.
Dit was ’n aangename verandering, die etensuurtjie. Die primusstofie het lustig gedreun, die manne het hul pype aangesteek en oor Kersfees gesels. Hoe trots moes Scott tog nie op hierdie gawe, opgeruimde kêrels gewees het nie. Geen melding is van die ongerief van die voormiddagskof gemaak nie. Almal was opgeruimd en het mekaar die beste toegewens. Ook het ons aan ons mense tuis gedink en Wilson het hulle in ’n gewyde lied, wat hy geneurie het, aan die sorg van die Allerhoogste opgedra. Na ’n kommetjie warm tee en twee beskuite word die kamp weer opgebreek en weldra sukkel ons maar weer voort. Ons is die ysskeure en -valle nou oor en dit gaan beter. Met slegs die wit, harde gesigseinder voor ons, raak ons gedagtes aan die dwaal. Ons dink aan ons vaderland, aan oulike klein huisies met netjiese tuintjies, aan vure wat gesellig in die vuurherd gloei, aan skoon, sneeuwit tafeldoeke en opgevryfde silwer, en dan aan die glimlaggende gesigte van hulle vir wie ons nou ons spore verdien. Sal ons volgende Kersfees by hulle wees? Ja, ons moet.
Maar, behalwe vir Lashly en Crean, is daardie dagdroom nooit bewaarheid nie, want, helaas, diegene wat na daardie Kersfees uitgesien het, het hul tuistes nooit weer gesien nie, en die ander een wat behoue daaruit gekom het, het nie net sy vyf maats aan die dood afgegee nie, maar ook sy vrou.
Die twee spanne het tot na 8 nm. aangesukkel en toe het Scott uiteindelik die teken gegee dat ons maar kon kamp opslaan. Hoe moeg was ons tog nie. Ons was amper kwaad van moegheid. Maar skaars is die tente opgeslaan, of ons oë het alweer opgeruimd uit ons vuil, bebaarde gesigte gekyk. Weereens het die koker begin sing en daardie nag het ons 'n behoorlike maaltyd genuttig. Dit het bestaan uit pemmikan met stukkies ponievleis daarin, ’n sjokolade-beskuit, "ragout”-rosyne, karamels, gemmer, kakao, botter, en ’n dubbele beskuitrantsoen. Hoe het ons Bowers tog nie dopgehou onderwyl hy besig was om daardie besonder dik pemmikan gaar te maak nie? Het hy nie dalk te veel peper ingegooi nie? Sê nou hy gooi dit om? Hoeveel stukkies ponievleis sal elkeen kry? Maar die versigtige klein Bowers het die bredie nie laat brand en dit ook nie laat omval nie. Dit het ons stoutste verwagtings oortref. Niemand kon lekkerder en meer geëet het nie. Ná die ete het ons so ongemaklik gevoel dat ons na asem gesnak het.
Ons het so lekker oor die mense tuis gesels en ook het ons ons planne vir die volgende Kersfees bespreek. Nadat ons in ons slaapsakke gaan lê het, het ons heeltemal warm gevoel. Dit was aan die volle maaltyd wat ons so bitter nodig gehad het, te danke. Nadat die ander in my tent aan die slaap was, het klein Birdie Bowers my ’n goeie nag toegewens en toe gesê: "Teddy, as alles volgende Kersfees goed gaan, moet ons al die arm kinders wat ons in die hande kan kry, bymekaar bring en hulle allerhande lekker goed gee om te eet, né?” Destyds kon ons daar nog nie van droom dat vyf uit die agt van ons binnekort doodgevries op die Groot Ysbank sou lê nie, en dat hulle hul lewens sou verloor het as gevolg van ’n reeks verpletterende nederlae wat deur die Natuur toegedien is, die Natuur wat uitsluitlik vir die welslae of mislukking van diegene wat na die hartjie van die bevrore vasteland waag, verantwoordelik is.
Ons was nou 8000 voet bo die Ysbank. Die temperatuur was —8° met ’n fris suidewind, maar daardie nag het ons nie omgegee hoe hard die wind waai en of dit nou Kersfees of Pase was nie. Ons het sewentien myl afgelê en dit het gelyk asof ons onderneming met welslae bekroon sou word.
Die volgende dag was ons om sesuur op en het ons ’n goeie 15 myl na die suide afgele, sonder dat ons deur ysskeure of drukkingsribbels vertraag is. Die reis oor die plato het voortgegaan sonder verdere voorvalle, behalwe dat my span op 28 Desember baie gesukkel het om by dié van Scott te bly.
Die oppervlakte was baie sag en alhoewel ons ons boklere uitgetrek het, het ons geweldig gesweet. Later die oggend het ek en Scott van plekke verwissel. Ek het gevind dat sy slee eenvoudig voortgegly het, terwyl hy nie dieselfde van myne kon sê nie. Die verskil was opmerklik. Na die middagete het ons met sleë omgeruil en toe het ons Scott se span gemaklik agtergelaat. Ons het op die vasgestelde tyd stilgehou en na die aandete het kaptein Scott in ons tent gekom en ons gesê dat ons ons slee se ewewig versteur het deur die goed verkeerd vas te maak, of deur verkeerd te laai. Ek meen dat hy reg was, want ’n paar dae tevore het Oates se slaapsak afgeval omdat hy die goed te los vasgemaak het. Ons wou nie hê dat dit weer moes gebeur nie en toe het ons heel moontlik ons slee skeefgetrek deur te hard aan die toue te trek.
Op die 29ste het ons weer baie hard getrek. Ons was meer as 9000 voet hoog, baie amper op die „kruin van die kruin”. My dagboek vir 30 en 31 Desember lui soos volg:
My dagboek vir 30 en 31 Desember lui soos volg:
"Saterdag, 30 Desember.
Vertrek om 8 vm. ’n Uitputtende dag met die trekkery gehad. Ons het onafhanklik van die ander sleë gewerk en om 1 nm. vir ete gekampeer toe ons omtrent ’n halfmyl agter hulle was. Toe weer vertrek en tot 7.15 nm. getrek, toe ons kaptein Scott se kamp bereik het. Hy het toe al ’n driekwartier gelede stilgehou. Die oppervlakte was verskriklik en hulle het swaar getrek. Ons afstand vir vandag was 12 myl. Na die welkome bredie het ons almal gaan slaap. Ons was selfs te moeg om ons dagboeke op datum te bring.
Terwyl ons ons kakao gedrink het, het Bill binnegekom en ’n bietjie gesels.
Ons is nou omtrent 9200 voet bokant die Ysbank. Die temperatuur daal nou tot omtrent —15°. Posisie 86° 49' 9" S., 162° 50' O.”
31 Desember.
"Op om 5.45vm en nadat ons met kaptein Scott gesels het en die welkome pemmikan, tee en beskuit genuttig het, het die manne van ons tent ons ski’s, bergklimmerstou en skiskoene afgelaai en so ’n aansienlike gewig uitgespaar. Toe het ons ’n paar minute voor kaptein Scott weggetrek. Sy span het nooit naby ons gekom nie en het inderdaad agter geraak. Ons het omtrent 5½ uur aanmekaar gereis en swaar getrek, maar nie swaar genoeg om ons uit te put nie. Nadat ons 8 myl 116 jrts, statutêr afgelê het, het ons om 1.30 nm. stilgehou. Na die middagete het ons ’n opslagplek aangelê en twee weke se eenhede in die sneeubaken wat ons gebou en met ’n swart vlag aangedui het, gebêre. Die seeliede (Evans en Crean) het die agtermiddag gewy aan die ombou van die 12 voet- slee tot 10 voet-slee. Hiervoor is die reserwelopers gebruik. Ons ander het in kaptein Scott se tent bymekaargekom. Evans het die tent vandag van ’n voering voorsien wat dit heerlik warm maak. Terwyl die deure oop was en die son ingeskyn het, het ons in die tente peuselwerkies gesit en doen. Ek het die rigtings vasgestel en hierdie dagboek, wat ’n paar dae agter was, op datum gebring. Temperatuur —10°.
Ons het nou Shackleton se posisie vir 31 Desember verbygesteek en dit lyk sowaar asof kaptein Scott die Pool gaan bereik. Posisie 86° 55' 47" S., 1750 40' O.
Om 7 nm. het kaptein Scott vir almal tee gemaak.
Om 8 nm. was die eerste slee voltooi en toe het die manne dadelik met die tweede begin. Dit was teen middernag voltooi en, nadat ons die begin van die nuwe jaar belewe het, het ons almal ’n heerlike pemmikan-bredie geniet en toe gaan slaap.”
Op Nuwejaarsdag was ons op breedtegraad 87° 7' S. Hoogte 9300 bo die Ysbank — ’n suidewind met temperatuur 140 benede zero.
Op 2 Januarie het ek gevind dat die afwyking presies 180° was. ’n Bruin roofmeeu het uit die suide verskyn en gedurende die namiddag om die slee gedraai. Toe het hy een- of tweemaal op die sneeu gaan sit en ons het probeer om hom te vang.
Het 15 myl met gemak afgelê, maar ons het nou maar 130 lb. per persoon getrek.
Op 3 Januarie het Scott my tent binnegekom voordat ons met die dagskof begin het. Hy het my meegedeel dat hy sy eie span na die Pool gaan neem. Hy het my ook gevra om Bowers uit my span vir hom te gee, mits ek kans sien om die terugreis van 750 myl met een man te min af te lê. Ek het natuurlik toegestem om dit te doen, en gevolglik het klein Bowers ons verlaat om by die Poolgeselskap aan te sluit. Kaptein Scott het my gesê dat hy meen dat ek die enigste persoon is wat in staat sal wees om die hulpgeselskap sonder die hulp van ’n sleemeter terug te loods. Ek was vir hom jammer omdat hy hierdie nuus aan ons moes oorbring, maar ek het dit verwag. Ek en Lashly het immers geweet dat ons, nadat ons ’n slee van Kaap Evans af getrek het, nie kon verwag dat ons in die Poolgeselskap sou ingesluit word nie.
Ons kon nie almal na die Pool gaan nie. Daar was nie genoeg kos nie. Dit was dus ’n teleurstelling, maar dit was nie ondraaglik nie. Dit sou vir ons ’n vreeslike slag gewees het as ons wis dat Amundsen se spore byna in sig was en dat al ons getrek en geswoeg tevergeefs was.
Op 4 Januarie het ons vier dae se voedsel vir drie manne geneem en die res van ons vrag aan Scott oorhandig.
Toe het ons drie, Lashly, Crean en ek, suidwaarts saam met die Poolgeselskap tot by breedtegraad 87° 34' S. gereis en, toe ons merk dat hulle vinnig en gemaklik reis, het ons stilgehou, mekaar gegroet en, omdat ons tot dusver geen teken van die suksesvolle Noor bemerk het nie, het ons gehoop dat ons vlag die eerste sou wees wat oor die Suidpool sou waai. Toe die suidelike geselskap vertrek het, het ons hulle luid toegejuig en toe het ons ons slee omgedraai en die terugreis van tussen 750 en 800 statutere myl begin. Ons het dikwels omgekyk, totdat ons uiteindelik vir Scott en sy vier maats vir die laaste maal gesien het — ’n klein kolletjie op die gesigseinder. En weinig wis ons dat ons die laastes sou wees wat hulle lewendig sou sien, dat ons toejuiging op daardie onherbergsame en verlate platorand die laaste huldeblyk sou wees waarvan hulle ooit sou weet.
Daardie dag het die opgewondenheid hoog geloop, want dit was duidelik dat met vyf gesonde manne — en dit terwyl die Pool op ’n afstand van 146 geografiese myl van hulle was — hulle hulle doel binne 10 of 11 dae sou kon bereik, mits dit goed gaan.
Oates se laaste vrolike opmerking was: "Ek is bevrees, Teddy, dat die terugreis nie te gemaklik sal wees nie, maar as jy die Ysbank bereik, sal ou Christopher daar op jou wag, gereed om opgeëet te word.”
Vervolg: Die Terugreis van die Laaste Hulpgeselskap...