Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al is ons hulpeloos, arm en ellendig, help God ons. Dis mos die hart van die Evangelie – in Jesus Christus buig God tot ons neer wanneer Hy self die kuil van vernietiging op Golgotha betree. As ek dus deur donker dieptes gaan, is Jesus my beste Metgesel.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (17)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Terugreis (vervolg)
Lashly het styf vasgehou en op die een of ander manier het ek en Crean van die brug afgekruip. Ons het ons ysspore vas in die ys gedruk en na die plek waar Lashly was, opgekruip. Ons het aldrie aan die bergklimmerstou vasgehou en op die een of ander buitengewone manier het ons die bopunt van die lys bereik. Hier het ons ons vasgeanker en reggemaak om die slee boontoe te hys. Soos ek reeds gesê het, het die slee 400 lb. geweeg en omdat ons aldrie heeltemal uitgeput was, het die spanning van die gewig van die slee ons krag tot die uiterste getoets. Die ellendige ding het eenkanttoe gegly en op die helling omgeslaan. Byna het die slee ons in daardie ysige afgrond afgeruk, maar ons gesamentlike pogings het ons gered en weereens het ons die gevaar van die oomblik vergeet. Ons het ons aangetuig en besluit om die opslagplek na die beste van ons vermoë te bereik.
Ons was nou uitgeput. Ons het ook reeds heelwat kneuse verduur en ons oë het gebrand van die glinsterende weerkaatsing van die sonstrale op daardie aaklige doolhof van ysvalle. Ek het gevoel my borskas gaan uitmekaar bars van die aanhoudende inspanning waarmee ons die slee, wat nou gevoel het asof dit ’n ton weeg, aangesleep het. Dit het gelyk asof daar geen uitweg uit hierdie deurmekaar menigte drukkingsribbels was nie. Ons was gedaan, en kom wat wil, ek het nou gevoel ons moet ons taktiek verander. Ek het dus beveel dat ons moes halt maak. Daar was geen plek om die tent op te slaan nie en ek kon geen plek bedink om my geselskap te red nie. Ons kon nie verder met die vreeslike swaar slee aansukkel nie. Die vooruitsigte was hopeloos en ons kos was byna gedaan. Ons moes ’n bietjie rus om ons kragte vir hierdie stryd om lewe en dood te herwin. Die groot inspanning het ons heeltemal uitgeput en dit het my laat dink aan die laaste dag van die sneeustorm in Desember wat die uiteindelike dood van die Poolgeselskap en die verydeling van Scott se sorgvuldig voorbereide planne tot gevolg sou hê. Ek het gedink aan die arme ponies, na die skof van veertien uur, hoe hulle sye op en af gegaan het, aan hulle dowwe oë wat opgedroog en verwese daar uitgesien het. Daar het die arme diere daardie dag gestaan, met hulle pote in vreemde houdings uitgestrek. Hulle was blote wrakke, glad nie meer die mooi diertjies waarmee ons uit Nieu-Seeland vertrek het nie. Ek kon eenvoudig nie anders as om ons eie toestand met dié van hulle op daardie pynlike dag te vergelyk nie. Ons drie het daar op die slee gesit. Ons oë was weggesink en ons het daar maer en verwese uitgesien. Ons was gedaan. Ons kele was droog en ons kon kwalik praat. Daar was geen wind nie. Die lug was heeltemal stil en die son het stadig die middaghemel genader, duidelik in die staalblou lug uitgeêts. Die son was vir ons goed. Hy het sy warm strale oor ons uitgegiet terwyl hy in stilte sy weg gegaan het, amper soos ’n groot oog, daarbo in die hemel, ’n oog wat afkyk, en tog nie kon help nie. Nog ’n dag soos hierdie sou ons kranksinnig gemaak het, en daar was tye toe ons so byna-byna van ons sinne berowe is. lets moes gedoen word. Ek het van die slee opgestaan, my tuig afgehaal en gesê: "Ek gaan ’n uitweg soek; so kan ons nie aangaan nie.” My maats het my eers probeer omhaal om nie te gaan nie, maar ek het hulle daarop gewys dat ons te uitgeput is om voort te gaan. Indien ons maar net ’n plek kon kry waar ons kon kampeer, sodat ons kon uitrus, sal ons dalk ’n laaste poging kan aanwend om hier uit te kom.
Ek het oor ’n reeks ysbrûe beweeg en die opwinding het my weer krag gegee. Ek was verbaas omdat ek nie meer duiselig gevoel het toe ek oor die smal ysrûe geloop het nie, maar die ysspore wat aan my finnesko’s vas was, was soos katkloue en sonder die gewig van die slee was dit asof ek die vasberadenheid van ’n jagluiperd ontwikkel het, want ek het die gevaarlikste dele met die grootste gemak oorgesteek. Nadat ek sowat twintig minute rondgesoek het, het ek ’n groot holte in die ys bereik.
Ek het in die holte afgedaal en aan die anderkant uit geklim. Toe ek die bopunt van die oorkantse ysheuwel bereik, sien ek nog ’n holte. Ek draai om en kyk terug na die plek waar ek die slee gelaat het. Twee klein, verlate figuurtjies het teen die sonlig gesilhoeëtteer gestaan — my twee maats op ons groot terugreis. Die een het gesit en die ander gestaan. Hulle het heel moontlik uitgekyk om te sien wanneer ek weer sou verskyn as ek telkens in ’n holte verdwyn en dan weer opduik. Daardie dag het ek ’n baie groot liefde vir die twee manne gevoel. Hulle het my so blindelings vertrou en geglo dat ek hulle sou terugbring. Ek het weer noordwaarts gedraai, die volgende holte binnegegaan en gaan staan. Ek was in ’n enorme laagte, maar nêrens was ’n teken van ’n ysskeur nie. Die kante van die laagte het heg bymekaargekom op die bodem van gladde, blou soliede ys.
In ’n oogwenk val dit my by hoe die ysval van die gletser af op ons heenreis saam met kaptein Scott daar uitgesien het. Ek het onthou van die groot bevrore golwe en gehoop dat dit tog die einde van die groot versteuring sou wees. Ek het stilgestaan en die wonderlike ysvallei beskou en toe het ek op my knieë neergesak en God gebid om my ’n uitweg te wys.
Daarna het ek opgespring en moedig aangedruk. Toe ek teen die oorkantse yshang uitklim, sien ek ’n gladde, ronde rand, en daar oorkant was nog ’n vallei soos die voriges. Hier het die een bevrore golf, en die een holte op die ander gevolg. Elk was kleiner as die vorige.
Skielik sien ek die gladde, blink gletserbedding voor my, en daar, in die noordweste, was die eienaardige rooierige rots waaronder ons die opslagplek in die middel van die gletser aangelê het. My gevoel kan kwalik op skrif gestel word. My gevoel het my oorweldig, maar my gebed is verhoor en ons is gered.
Dit was vir my baie moeilik om deur die doolhof van ysbrûe weer my pad na my maats terug te vind, maar gelukkig het ek ’n kol harde sneeu gevind waarop my ysspore ’n afdruk gelaat het. Hiervandaan kon ek my spore maklik terug volg en weldra was ek weer by my maats. My horlosie het aangedui dat ek ’n uur weg was. Dit het ons egter driemaal so lank geneem om ons slee weer op die gladde ys van die gletser te kry, maar nadat ons dit eenmaal bereik het, het ons gekampeer en eers tee gemaak voordat ons na die opslagplek vertrek het wat maar ’n paar myl van ons af was.
By hierdie kamp het ons van ons laaste beskuite geëet en alles behalwe die tee en die suiker opgebruik. Ons het toe weer perdfris gevoel. Ons het die kamp opgebreek en oor die gladde ys voortgesnel. Dit het nou feitlik geen inspanning vereis om die slee te sleep nie. Toe ons die opslagplek bereik het ons weereens geëet en toe dwarsdeur die nag en ’n groot gedeelte van die volgende dag geslaap.
As ek my ou Suidpool-dagboek raadpleeg, vind ek dat die laaste sin wat ek op 17 Januarie geskrywe het, was: "omdat dit by ons ’n saak van lewe en dood was, moes ek heeldag sonder my skermbril klaarkom, en die gevaar van sneeublindheid bestaan dus na. . . . ” (hier volg dan ’n gaping tot 29 Januarie). Die volgende dag het ek ’n vreeslike aanval van sneeublindheid gehad, maar die pad teen die gletser af was so maklik dat dit nie saak gemaak het nie. Ek het nou vergeet of Lashly of Crean gelei het, maar ek het langs hulle gestap en met die string in aanraking gebly deur die skouerriem van my sonnewyser daaraan vas te maak en dit in my hand te hou. Ek het die sonnewyser gewoonlik oor my nek gehang gedra, sodat ek dit maklik kon optel en raadpleeg. Daardie dag moes ek ’n aaklige pyn verduur, en alhoewel ons medisyne gehad het wat ons aan ons aangetasde oë kon sit, het ek gevind dat ek die grootste verligting gekry het deur ’n pap wat van getrekte teeblare gemaak is, oor my oë te bind. Dit is ’n raat wat toekomstige ontdekkingsreisigers en bergklimmers miskien in gedagte kan hou.
Ons terugreis het dag na dag sonder baie opwindende gebeurtenisse voortgegaan. Ons het nie meer ysskeure wat wyer as ’n voet of wat was, teëgekom nie en ons het met betreklik maklike skofte na die Groot Ysbank afgereis. Nogtans het die afstande wat ons afgelê het, ons almal verbaas, want ons het gemiddeld sewentien myl per dag afgelê.
Op 30 Januarie was dit reeds dertien weke dat ek en Lashly die hoofkwartier verlaat het. Ons was feitlik oor alles reeds uitgepraat, behalwe oor kos, die afstande afgelê, die temperature en die weer. Soos reeds vermeld, het Crean met die suidelike geselskap vertrek. Dit was ’n week nadat ek en Lashly as baanbrekers met daardie ellendige misoeste, die motorslee, vertrek het. Ek het toe al tot die onaangename ontnugtering gekom dat ek aan skeurbuik ly. Dit het met ’n verstywing van die kniegewrigte begin. Daarna kon ek my bene nie reguit maak nie en uiteindelik was my bene so aaklig dat ’n mens nie na hulle kon kyk nie. Hulle was opgeswel, gekneus en groen. Namate die een dag op die ander gevolg het, het my toestand erger geword. My tandvleis was vol swere en my tande was los. En uiteindelik het die bloeding begin. Crean en Lashly was vreeslik bekommerd oor my en ek kan geen beskrywing gee van die mooi manier waarop hulle my aangehelp het nie. Hulle was goeie manne. Dit was aaklig, daardie dae. Honderde myle ver het ek saam met hulle aangestap, terwyl elke tree my seerder gemaak het as die vorige. Op die heenreis het ek my te veel vermoei. Ek het al die bakens vir die opslagplekke gebou, en hiervoor moes ek altyd voor die ponies bly. En dan was daar nog die nagevolge van die sleereis gedurende die lente. Ek was ooreis. Sedert die dag toe ek Hutpunt verlaat het, was ek nog nooit uit die tuig nie, want ons moes selfs die motorsleë feitlik aansleep. Crean het dit makliker getref, want hy het ’n ponie tot aan die voet van die Beardmore-gletser gelei, en Lashly het nie veel sleewerk gedurende die lente gedoen nie. Met die temperature wat tot 73° benede nul gedaal het, het daardie lentereise my opgedreun.
Die teleurstelling dat ek nie lid van die Poolgeselskap sou wees nie, het my nie goed te staan gekom nie, en ek moet toegee dat my vooruitsigte om die hoofkwartier te bereik, by die dag slegter geword het. Dit was vir my ’n ware marteling om myself voort te dwing en uiteindelik kon ek my slegs met behulp van ’n ski-stok aanstoot, want ek kon nie meer 'n behoorlike tree gee nie. So het ek op die ski’s voortgestrompel totdat ek eendag, toe ek probeer het om ’n reisskof aan die gang te kry, flou neergeval het. Crean en Lashly het my opgetel en Crean het gedink dat ek dood was. Sy warm trane het op my gesig geval en toe ek bykom, het ek floutjies gelag.
Hulle het weereens kamp opgeslaan en my in my slaapsak gesit, en toe het daardie twee kranige kêrels ’n kajuitraad gehou. Toe hulle met hul planne inkom, het ek probeer om hulle te oorreed om my daar te laat, maar dit was nodeloos om met hulle te redeneer en ek het nou gevoel dat ek uitgepraat is. Tevergeefs het ek hulle probeer oorhaal om my met die kos wat hulle kon afstaan in my slaapsak te laat. Met sak en al het hulle my op die slee gelaai. Hulle het hul eie slaapsakke onder my oopgesprei, sodat ek gemakliker kon lê, en toe het hulle my so gemaklik moontlik vasgegêspe.
Hoe moeisaam moes hulle reisskofte nie gewees het nie — tien myl elke dag moes hulle te voet aansukkel. Deur my kop te lig, kon ek hulle van die slee af sien. Dit het gelyk asof hulle bene uiters stadig beweeg. Moeisaam en dapper het hulle aangesukkel, totdat ’n sneeustorm eendag oor ons uitgesak het en die oppervlakte heeltemal bederf het. Die twee manne het reeds byna 1500 myl te voet afgelê. Hulle was gedaan en ten spyte van hul moed, moes hulle nou ingee. Tevergeefs het hulle probeer om die slee, met my uitgeteerde liggaam daarop, te trek. Dit was hopeloos.
Baie ernstig en treurig het hulle ons tent opgeslaan en my weereens binnegebring. Ek het gedink dat ek in my graf geplaas word. Ek het hulle buite hoor praat, saggies en treurig hoor praat, en tog kon ek die vasberadenheid in hulle woorde aanvoel. Hulle het beraadslaag oor wie sou gaan en wie sou bly. Soos ek reeds verduidelik het, het Crean eintlik die ligste deel van die werk gedoen, en hy het dus vertrek om die vyf-en-dertig myl, sonder kos, behalwe ’n paar beskuite en ’n klein stafie sjokolade, af te lê. Hy het gehoop dat hy by Hutpunt hulp sou aantref. Indien daar niemand sou wees nie, sou hy, indien moontlik, na Kaap Evans deurdruk.
Crean het binnegekom om van my afskeid te neem. Op ’n swak, gebroke manier het ek horn bedank vir wat hy gaan doen en Lashly het die klein, ronde tentopening oopgehou, sodat ek hom tot die laaste kon sien. Hy het dapper voortgestap. Ek het gewonder of ek hom ooit weer sou sien. Toe het Lashly binnegekom, die tentopening toegemaak, en vir my ’n bietjie pap gemaak van die hawermout wat ons by die laaste opslagplek waar ons verbygegaan het, gekry het.
Nadat ek geëet het, het hy my gemaklik versorg deur my op Crean se slaapsak te laat lê. Dit het my eie sak baie sagter laat voel, want nadat ek ’n honderd myl ver op ’n stampende, skuddende slee getrek is, was my liggaam baie, baie seer. Toe het ek aan die slaap geraak en toe ek wakker word, sien ek die vriendelike gesig van Lashly wat op my neerkyk. Gedurende die Wêreldoorlog het min gewonde manne dieselfde goeie verpleging gehad as wat ek destyds geniet het.
So het ’n paar dae verbygegaan en elke nou en dan het Lashly die tentdeur oopgemaak, na buite gegaan en die gesigseinder dopgehou om te sien of hulp nog nie opdaag nie. Die einde was naby, en ek het ook nie meer omgegee nie. Behalwe ’n paar paraffien-deurweekte beskuite het ons geen kos gehad nie, en in sy verswakte toestand sou Lashly daar nooit in geslaag het om die hoofkwartier te bereik nie. Hy was baie kalm, ’n edele, opregte man. Maar teen die einde van die dag, toe ons dit nie meer verwag het nie, het hulp tog opgedaag.
Eers eenmaal, en toe weer, het ons die geblaf van honde gehoor. Lashly, wat saggies langs my gelê en gesels het, het opgespring, uitgekyk, en toe sien hy hulle!
Hulle het tot teen die tentopening aangedraf. Dit het gelyk asof die leier, Kristrawitsa, ’n mooi grys hond, die toestand begryp het, want hy het tot binne in die tente gekom en my hande en gesig gelek. Ek het my swak hande gelig en sy harige ore vasgegryp. Miskien wou ek my ware gevoel verberg, want ek het sy ou harige Siberiese gesig gesoen met die soen wat vir Lashly bedoel was. Ons redding het ons albei geweldig aangetas.
Atkinson en die Russiese hondejonge, Dimitri, het in alleryl gekom om ons te red en van al die manne wat aan die ekspedisie deelgeneem het, was "klein Aitch”, ons slim skeepsdokter, sekerlik die geskikste vir hierdie doel. Nadat die honde uitgerus het, en nadat ek op sorgvuldig voorbereide kos gevoer is, het hy my op die een slee gelaai en Lashly op die ander. Die honde is vrye teuels gegee en die vyf-en-dertig myl na Hutpunt het ons binne drie uur afgele. Tot my vreugde het ek Crean daar weer gesien en kon hy my self van sy reis vertel. Hy moes agtien uur lank deur die aaklige sneeu voortswoeg voordat hy Hutpunt bereik het. Daar het hy gelukkig vir dr. Atkinson en Dimitri aangetref en hulle van my toestand vertel.
Nadat die ekspedisie verby was, het die koning aan Lashly en Crean die Albert-medalje toegeken as huldeblyk vir hul dapperheid om my deur te help.
As geringe blyk van erkentelikheid het ek hierdie boek aan daardie twee dappere manne opgedra.
Vervolg: Die Pool word bereik — Scott se laaste Reisskofte...