Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het ons vry kom maak van alle onnodige aardse voorskrifte en rituele. Leef dan soos 'n bevryde mens in sy liefde en beskerming met dankbaarheid en gehoorsaamheid aan sy Gebooie.
PAUL KRUGER (4)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Kruger, die Politikus
Paul Kruger het wel in sy lewensbeskouing die teenoorgestelde rigting verteenwoordig, maar trou aan die grondwet het hy die nuwe president as wettige staatshoof aanvaar. Hy was ook eerlik genoeg om aan Burgers, by die geleentheid van sy inswering, te sê dat hy hom geopponeer het weens sy godsdienstige opvattinge, maar dat hy hom as ’n goeie republikein aan die keuse van die volk onderwerp. Burgers het dan ook hierdie openhartigheid op prys gestel. Maar Kruger se hart was nie in die saak nie. Hy was as kommandant-generaal nog ’n lid van die regering, maar hy het hom meer en meer aan sy boerdery gewy. In Maart 1873 is hy op eie versoek eervol as kommandant-generaal ontslaan en spoedig daarna het Burgers die Volksraad oorreed om in vredestyd die betrekking op te hef. Vir die eerste keer in dertig jaar het Kruger geen amptelike betrekking beklee nie.
Burgers, ’n opgevoede en vooruitstrewende man, het hoë ideale gekoester. Hy wou die staatsfinansies opknap, die onderwys hervorm en ’n spoorwegverbinding tussen Pretoria en Delagoabaai tot stand bring. Maar het hy egter nie rekening gehou met die ekonomiese agterstand van die Republiek asook met die konserwatisme van die groot meerderheid van die volk nie. Hulle sou nie maklik oorreed kon word om sy liberale onderwysbeleid, wat selfs godsdiensonderwys tydens skoolure verbied het, te aanvaar nie. Nog minder het hy besef dat die Republiek nie in staat was om ’n spoorwegverbinding te bekostig nie. Kruger het namens die mense van sy eie kerk gepraat en ook namens baie ander, toe hy die vrees geuiter het dat die nuwe onderwyswet die kinders van die kerk sou vervreem.
Nog voor die formele bekendmaking van die President se hervorming het daar in die winter van 1873 ’n beweging in die westelike distrikte ontstaan om liewer die Republiek te verlaat en ’n ander heenkome iewers anderkant die Dorsland van die Kalahari te soek. Hulle het Paul Kruger genader om soos ’n Moses van ouds die nuwe Trek te lei. In Maart 1874 het hy in ’n gepubliseerde brief verklaar dat hy horn nie met die trekbeweging kon vereenselwig nie. Dit sou sy kerk en die onlangs-gestigte Teologiese Skool benadeel. Die eerste trek het in Mei 1875 sonder hom begin en in party opsigte rampspoedig verloop. Van sy familie was daarby betrokke en ook sy bejaarde stiefmoeder van wie hy ’n hoë dunk gehad het. Saam met ander het hulle ’n vergete graf iewers in Ovamboland gevind.
Paul Kruger se amptelike werkloosheid het tot ’n einde gekom. In November 1874 het hy opnuut lid van die regering geword toe daar ’n tydelike kentering teen Burgers se politiek ingetree het. Die President se mondstuk De Volkstem, wat in 1873 as koerant gestig is, het sy teleurstelling met Kruger se benoeming nie verberg nie. Volgens die blad was hy nie verlig genoeg nie, maar Kruger het Burgers trou gesteun, al het hy van hom verskil. Nadere kennismaking met die goeie elemente in die President se beleid het hom tot ander insigte gebring. Hy was steeds bereid om te leer.
Van Februarie 1875 tot 1876 was Burgers met verlof in Europa om hom daar te beywer vir die belange van die Republiek en veral vir die verwesenliking van sy geliefkoosde ideaal, die spoorweg en Delagoabaai. Tydens sy afwesigheid was daar tekens dat sy gewildheid aan die afneem was en die Volksraad het heelwat van sy werk ongedaan gemaak. Dit het veral sy onderwyswet gegeld. Maar ook teen sy spoorwegplanne het daar ’n gemor ontstaan. Paul Kruger het wel ten dele met die kritiek saamgestem, maar die spoorwegplan het hy verdedig. Hy het ’n eie, onafhanklike spoorverbinding met die Portugese kus as lewensbelangrik beskou en dit as sodanig op openbare vergaderings verduidelik.
Die spoorwegplan sou tien jaar later ’n belangrike deel van sy eie program as President uitmaak. Die ontevredenheid het intussen nie verminder nie. Toe Burgers terugkeer, is hy onmiddellik gekonfronteer met ’n emstige binnelandse krisis, die oorlog met die Bapedi onder Sekoekoeni.
Sekoekoeni se stam het sedert die koms van die Blankes in die Transvaal die bergagtige toeganklike gebiede in Oos-Transvaal naby Leydenburg bewoon. Die opperhoof het in naam die oppergesag van die blanke owerheid erken, maar was nooit van plan om hom in die praktyk daaraan te onderwerp nie. Met die ontwikkeling van die diamantvelde by Kimberley het baie van sy mense daar gaan werk. Daar het hulle daarin geslaag om vuurwapens in die hande te kry en dit het hulle by hulle terugkeer saamgebring. Bewus van sy krag het Sekoekoeni eindelik besluit dat die tyd aangebreek het om die blanke gesag af te werp. Dit het die vorm aangeneem van weiering om opgaaf te betaal en om op blanke plase in die nabyheid te oortree. Die owerheid se beroep op hom om ’n end te maak aan die toestand, het hy verontagsaam en in Mei 1876, kort na die terugkeer van Burgers uit Europa, het die regering besluit om hom met geweld tot sy plig te bring. Vir hierdie besluit was Kruger as lid van die Uitvoerende Raad mede-verantwoordelik, maar toe die President hom vra om die bevel van die kommando op hom te neem, het hy geweier. In later jare het hy hierdie houding verduidelik deur te verklaar dat hy beswaar gehad het teen die President se voorneme om die kommando persoonlik te vergesel. Hy sou reguit aan Burgers gesê het dat God se seën nie op die onderneming sou rus as die President saans allerlei vermaaklikhede en op Sondae "danspartye” toelaat nie. Die burgers sou hulle nie steur aan ’n verbod indien die President self ’n slegte voorbeeld stel nie. Miskien het Kruger se argumente eintlik daarop neergekom dat die teenwoordigheid van die President die gesag van die kommandant-generaal sou ondermyn. Andersins skyn dit asof Kruger in elk geval na ’n uitweg gesoek het om ’n noue samewerking met ’n man van wie hy innerlik heeltemal vervreem was, te vermy.
Die veldtog teen Sekoekoeni is van stapel gestuur onder die nominale opperbevel van die President, bygestaan deur die onervare M. W. Pretorius, met Niklaas Smit, later bekend as die held van Majuba, tweede in bevel. Die mislukking van die ondememing is die President ten laste gelê, maar dit ly weinig twyfel dat die burgers teen hierdie tyd polities so gedemoraliseer was dat daar weinig sin in was om die owerheid te gehoorsaam. Die kommando het nieteenstaande ’n dringende beroep van die President ontbind en laat spaander. Die regering was verplig om vrywilligers te huur. Die vrywilligers het permanent in die nabyheid van Sekoekoeni se vesting aangebly, en het deur onverwagte strooptogte op sy vee en gesaaides hom so geteister dat die opperhoof aan die einde van 1876 verplig was om vrede te vra. Maar intussen was daar vir die blanke gesag ’n groot verlies van prestige en Burgers moes ’n storm van kritiek verduur. Omdat hy die kommando vergesel het, is hy verantwoordelik gehou vir die terugslag.
’n Nuwe presidentsverkiesing moes kragtens die Grondwet in 1877 plaasvind en Kruger is gevra om hom verkiesbaar te stel. Sy eie mening was dat met die oog op die algemene toestand dit beter sou wees as geen verkiesing plaasvind nie, maar dat dit tot later uitgestel word. Sy ondersteuners wou nie daarvan hoor nie, want hulle was vasberade om ’n tweede ampstermyn van Burgers te verhinder. Ook die naam van regter F. W. Reitz van die Vrystaat is as ’n moontlike kandidaat deur sommige genoem.
In November 1876 het Kruger sy mening oor die hele aangeleentheid van die verkiesing uitgespreek in ’n brief aan Piet Joubert, ’n lid van die Volksraad en ’n man met groot invloed in die oostelike distrikte. Hy het erken dat Burgers ongewild en vrysinnig was, maar sou hom as voorwagter van die onafhanklikheid van die Republiek eerder steun as Reitz van wie hy nie seker was nie. Daarby het hy geglo dat Burgers deur al die teenstand en teenslae ’n les geleer en afgesien het van sy oordrewe skemas vir die vooruitgang van die land. Hy was van oordeel, ten onregte soos later geblyk het, dat Reitz as gebore Kapenaar hoewel daarna Vrystater, lou gestaan het teenoor die Transvaalse onafhanklikheidstrewe. Sy ouers, so het hy voortgegaan, het alles opgeoffer vir die verkryging van vryheid. Tans wou die Britse regering hulle daardie vryheid ontneem en hy sou eerder vir Burgers stem as vir iemand van buite die grense wat tot die verlies van die onafhanklikheid kon lei. Hy het Joubert gevra om alles te doen om die kiesers te oorreed om nie ’n buitelandse kandidaat te kies nie.
Hierdie merkwaardige brief, vol kenmerkende beeldspraak, was ’n tipiese produk van die wordende staatsman vir wie dit bo alles op die behoud van die swaar verdiende onafhanklikheid van die Transvaal neergekom het. Hoewel hy Burgers bo die onbekende Reitz die voorkeur gegee het, was sy eie kandidatuur nie uitgesluit nie. In Desember 1876 het hy verskeie rekwisisies ontvang om hom verkiesbaar te stel op grond van sy eie ervaring, sy invloed onder die nie-blankes, sy vaderlandsliefde, en sy kennis van die probleme waarmee die Republiek moet worstel. Bo alles is dit van hom verwag om die land in staat te stel om te herstel van die skok van die Sekoekoeni-oorlog. In sy antwoord het Kruger hom bewus van sy tekortkominge verklaar, maar die kiesers meegedeel dat hy hom met God's hulp vir die vryheid sou beywer. Vir hom, het hy voortgegaan, was die stem van die volk die stem van die koning. Die president moes die volk in gewigtige sake raadpleeg, teregwys, verenig en na sy stem luister. Eendrag maak mag en waar liefde woon, gebied die Here die seen. Geregtigheid verhoog ’n volk en om dit na te streef, moes hulle hul tot God wend.
President Burgers se mondstuk De Volkstem was nie juis ingenome met Kruger se kandidatuur nie, en het kleinerende kommentaar daaroor gelewer. Dit sou ’n ewigdurende skande wees as Kruger voor Burgers verkies word. Burgers se aanhangers het geweet dat Kruger op daardie tydstip ’n aansienlike aanhang gehad het, maar baie het die spot met hom gedryf vanweë sy konserwatisme en gebrek aan geleerdheid.
Daarteenoor was dit egter ook seker dat ’n groep kiesers wat glad nie geesgenote van Paul Kruger was nie, hom met die verkiesing gesteun het bloot om van Burgers ontslae te raak. Dit was veral diegene wat nog steeds ’n wrok gekoester het vanweë Burgers se rol tydens die Kaapse kerkstryd van die vorige dekade. Uit die verre Kaapland het Die Patriot, die mondstuk van die Eerste Taalbeweging, Kruger se kandidatuur bepleit en sy invloed gebruik om Burgers tot ’n val te bring. Kruger se kanse het goed gelyk en sy ondersteuners het gemeen dat twee derdes van die kiesers vir hom sou stem.
Maar die verkiesing sou nooit plaasvind nie, want te midde van die verkiesingstryd was sir Theophilus Shepstone, ’n senior amptenaar van die Britse kolonie Natal, vergesel van verskeie adviseurs en ’n eskort van Natalse polisie, in aantog na Pretoria wat hy op 22 Januarie 1877 binnegery het. Shepstone het ’n geheime opdrag van die Britse regering gehad, in Oktober 1876 uitgereik deur die minister van kolonies, lord Carnarvon, om na ’n ondersoek na die mening van die bevolking, die Republiek as Britse gebied te annekseer.
Oënskynlik, egter, het sy besoek plaasgevind om sake van gemeenskaplike belang te bespreek. Dit was reeds geruime tyd die beleid van die Britse regering om die state en kolonies van Suid-Afrika in ’n federale eenheid saam te bring en vir daardie doel is selfs kort tevore ‘n nuwe goewerneur, sir Bartle Frere, vir die Kaapkolonie benoem. Hy sou, indien federasie onder die Britse vlag slaag, die eerste goewerneur-generaal daarvan word. Die Britse regering het besef dat die Transvaal net so min soos die Vrystaat ten gunste van die beweging was, en dat selfs die Kaapse regering hom nie vanuit Londen sou laat dwing nie. As gevolg van die swak geldelike posisie van die Transvaal, die toenemende ongewildheid van president Burgers, en die skynbare militêre magteloosheid van die Republiek om hom teen die swart stamme te verdedig, kon die Republiek dalk deur Shepstone gedwing word om die Britse gesag te aanvaar. Dit sou die verdere uitvoering van die federasiebeleid vergemaklik. Shepstone het veral die steeds dreigend-wordende Zoeloedruk langs die suidoostelike grens van die Republiek as hefboom gebruik.
Onbewus van sy geheime opdrag het Kruger die sending van Shepstone van die staanspoor af gewantrou, maar Burgers het die gevaartekens nie raakgesien nie, die vreemde besoekers gasvry onthaal en wekelange samesprekings met hulle gevoer. Gedurende sy oponthoud in Pretoria is Shepstone deur die aansienlike Britse uitlander-element onder die delwers en handelaars asook enkele anti-Burgers mense onder die indruk gebring dat die Republiek nie bestand was teen sy vyande nie, dat dit op die rand van bankrotskap gestaan het en in ieder geval tot ondergang gedoem was. Daardeur, so het Shepstone geglo, sou ’n toestand geskep word wat vir die res van Suid-Afrika gevaarlik kon wees. Ook met die oog op die toenemende gevaar van die kant van die swartes was dit noodsaaklik dat politieke eenheid tussen die blanke state onder die Britse vlag geskep word. Dit sou dus eintlik voordelig vir die Transvaal wees om by die geheel ingelyf te word.
Met daardie doel voor oë het Shepstone hom in die interne sake van die Republiek ingemeng en met verbasing moes Kruger as lid van die regering aanhoor dat die Republiek nie in staat was om Britse onderdane binne sy gebied te beskerm nie en dat die oorwinnaars van Bloedrivier nie by magte was om Ketswayo se impies af te weer nie. In opdrag van die regering het Paul Kruger en die staatsprokureur, dr. E. J. P. Jorissen, drie dae lank geluister na die Britse griewe en toe die besprekings sumier beëindig.
Van die sosiale verrigtings gedurende die volgende weke het Kruger hom afsydig gehou, maar hoe seker hy ook al was van Shepstone se werklike doelstellings was hy magteloos om die uitvoering daarvan te belet, want agter Shepstone het hy die ontsaglike mag van Brittanje gewaar. Maar selfs hy het in daardie stadium werklik geglo dat die Britse regering nie met kwade bedoelings besiel was nie. President Burgers het intussen ’n uiters swak standpunt ingeneem en stilswyend die Britse reg om in te meng, erken. Die regering het die Volksraad tot ’n spesiale sitting op 13 Februarie opgeroep en die presidentsverkiesing uitgestel. Dit is later deur die Volksraad bekragtig. Shepstone het hierdie besluit verwelkom, want hy het geglo dat Kruger, die enigste volksleier wat sy planne kon deursien, die verkiesing sou wen.
Paul Kruger, verseker van die steun van sy onmiddellike omgewing in Rustenburg, het hom in die Volksraad sterk teen die federasieplan uitgespreek en verklaar dat die groot saak oor die behoud van die onafhanklikheid gaan. Federasie beteken die prysgee daarvan. Die Volksraad het op sy advies die federasie-voorstel verwerp en nou het Shepstone vir die eerste keer sy voorneme om die Republiek as Britse gebied te annekseer, te kenne gegee. In die Uitvoerende Raad het Kruger dieselfde sterk standpunt ingeneem.
Intussen het Burgers, onder druk van Shepstone, en voor die verdaging van die Volksraad op 8 Maart, sekere interne hervormingsplanne aan die Volksraad voorgelê. Dit is goedgekeur, terwyl daar gehoop is dat dit Shepstone van sy voorneme sou laat afsien. Terselfdertyd is ’n nuwe amp van vise-president in die lewe geroep en Kruger is daarvoor benoem met die mag om die Volksraad, wanneer nodig, byeen te roep. Dit was duidelik dat Burgers se rol uitgespeel was, dat die volksverteenwoordigers hul hoop op Paul Kruger gevestig het.
Kruger se beroep op Shepstone om die Republiek kans te gee en van sy planne met betrekking tot anneksasie af te sien, was vrugteloos. Hy het nou besef dat anneksasie nie afgeweer kon word nie. Die land was verdeel, die President in die uur van krisis ’n gebroke riet, en die weerbare burgery nie geesdriftig om sy bewind in stand te hou nie. Op 10 Maart het hy die regering per brief gevra om onmiddellik die toedrag van sake aan die Vrystaatse regering bekend te maak en om ’n beroep te doen op die regerings van Duitsland en Rusland om te help. Hy het selfs aan die hand gedoen dat onderhandel moet word met die regering van die Verenigde State van Amerika om ’n soort protektoraat oor die Transvaal te aanvaar ten einde die Boere van die Britse juk te verlos.
Van hierdie voorstelle het niks gekom nie en op 11 April 1877 het Shepstone aangekondig dat hy die Transvaal gaan annekseer. Burgers het plegtig geprotesteer en die regering het hom daarmee verenig. Daar is ook besluit om Kruger en Jorissen dadelik as ’n kommissie na Europa af te vaardig om die werklike toedrag van sake onder die aandag van die Britse Regering te bring, naamlik dat die Republiek teen die wil van die volk geannekseer is. Verder, indien dit geen gevolg sou hê nie, moet die kommissie hom tot ander moondhede wend om tussenbeide te tree. In hierdie laaste amptelike daad van die regering was dit volkome duidelik dat Kruger die leierskap van Burgers oorgeneem het. Een dag later is die Vierkleur neergehaal en die Britse vlag gehys. ’n Britse besettingsmag vanuit Natal het kort daama sy verskyning gemaak. Die Transvalers het nukkerig berus in ’n toestand wat die meeste van hulle as onvermydelik beskou het. Burgers het die land verlaat en dit was die einde van die duur gekogte vryheid van die Voortrekkers.
Maar Paul Kruger, 52 jaar oud, ’n politieke realis en versiende staatsman, was geensins van plan om in die toestand te berus nie. Binne ’n maand na die anneksasie was hy, vergesel van Jorissen, op pad na Londen. Sy uur het aangebreek.