Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hier is iets wat al ons volksgenote behoort te bemeester: "Die HERE my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat" – Jes 50:4.
PAUL KRUGER (6)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Die Vryheidsoorlog
Terwyl die Britse garnisoene te Potchefstroom, Pretoria en enkele dorpe beleër en buite aksie gestel is, het ’n gesamentlike kommando onder aanvoering van veggeneraal Frans Joubert op 20 Desember 1880 ’n Britse kolonne, gelei deur kol. Anstruther, wat in aantog van Lydenburg na Pretoria was, by Bronkhorstspruit in die pan gehak en tot oorgawe gedwing. Inmiddels het die hoofmag van die Boere stelling ingeneem by Laingsnek op die grens tussen Natal om die Transvaal ten einde te verhoed dat Britse versterkings onder genl. sir George Colley die Republiek vanuit Natal binne ruk.
Terselfdertyd het vise-president Paul Kruger sy administratiewe setel op Heidelberg ingerig. Prakties het hy as streekshoof opgetree, want die driemanskap het slegs in naam bestaan. Vanuit Heidelberg het Kruger voortdurend en onvermoeid gepoog om langs diplomatieke weg ’n einde aan die bloedvergieting te maak met behoud van die onafhanklikheid van die Transvaal. Hy was deeglik bewus van die mag van Brittanje waarteen die Boere op die duur nie bestand sou wees nie. Terselfdertyd het hy egter ook geweet dat daar in die res van Suid-Afrika, in die Vrystaat en in Kaapland en selfs in Natal, groot meegevoel met die Transvalers in hulle vryheidstrewe was.
’n Nog belangriker omstandigheid was dat selfs die vyand nie veel geesdrif vir die stryd aan die dag gelê het nie. Die Liberale Party het as parlementêre opposisie in Engeland nooit sy teensin in die anneksasiebeleid verberg nie, en sedert die stembusoorwinning van 1880 was die nuwe Liberale koloniale minister, lord Kimberley, met die volle stem van Gladstone, die Eerste Minister, begerig om die Transvaalse geskil langs vreedsame weg te besleg en aan die Boere ’n groot mate van plaaslike selfregering toe te sê.
Vir die Britse regering was dit ’n belangrike oorweging om ‘n skikking te bereik en selfs groot toegewings te maak sodat Engeland met eer uit die stryd kon tree. Dit was van hierdie moontlikheid wat Kruger vanaf die eerste dag gebruik gemaak het, en sy diplomatieke vemuf het deur sy hele loopbaan nooit ’n hoër peil bereik nie. Dit was ’n saak van lewe en dood, want hy het besef dat die vryheidsoorlog nie op die slaggeld gewen kon word nie, maar langs die konferensie-tafel. Selfs die Boere-oorwinnings teenoor die magte van Colley by Laingsnek, 28 Januarie, Skuimshoogte (Ingogo), 8 Februarie, en Majuba, 27 Februarie 1881, kon die Boere in hierdie verband meer kwaad as goed doen deurdat dit onvermydelik moes lei tot ’n versterking van die oorlogstemming in Brittanje en ’n belemmering in die weg van vreedsame onderhandeling.
Daarom het Kruger hom des te meer beywer om ’n kompromisvrede te bewerkstellig voordat dit te laat was. Hy moes sorgdra dat die Britse nasionale trots nie gekrenk word nie, en die indruk skep dat die Boere as die swakkere party en ter wille van die vrede tot groot offers bereid is. Van die staanspoor af het hy met die Britse owerheid in verbinding probeer bly en steeds ’n versoenende houding ingeneem. In daardie verband het president Brand ’n belangrike, bemiddelende rol gespeel. ’n Kenmerk van Kruger se diplomasie was die beklemtoning van sy oortuiging dat bedoelings van die Britse koningin en die owerheid in Londen ten opsigte van die Boere opreg was, maar dat Londen nie voldoende op die hoogte was met die knoeiwerk van die plaaslike amptenare in Suid-Afrika nie. Op hierdie aambeeld, vleiend teenoor die owerheid oorsee en striemend teenoor sy verteenwoordigers ter plaatse, het hy bly voorthamer.
Uiteindelik is die onafhanklikheid van die Transvaal herwin, nie deur die geknetter van wapens nie, want so iets sou die Britse volk eerder tot volharding aanspoor, maar deur die stem van die rede waarvoor invloedryke Britse kringe wel vatbaar was. Dit was Paul Kruger se grootste verdienste. Hierdie Vryheidsoorlog het behalwe sy onmiddellike sukses ook groot indirekte positiewe gevolge vir die Afrikanerdom gehad. Dit het gelei tot die ontwaking van die Afrikaanse nasionale bewussyn wat bewus deur Kruger gekweek en versterk is.
Vanuit sy tydelike hoofstad te Heidelberg het Kruger te midde van die stryd die gewone landsadministrasie behartig en die Republiek se gesag in alle dorpe herstel, behalwe die wat deur die Britte beset is. Landdroste is benoem, die markte heropen en orals het die Britse administrasie in duie gestort. As vise-president het Kruger, hoewel bygestaan deur Jorissen en Bok, die swaar verantwoordelikheid van die politieke leiding van sy volk gedra. Terselfdertyd moes hy ook sorg dra dat die swart bevolking kalm en rustig bly. So het hy met lewensgevaar persoonlik na die opperhoof Mogato gegaan en hom oorreed om afsydig te bly. Inmiddels het die simpatie vir die Boeresaak weerklank gevind in die Kaapkolonie en die Vrystaat, selfs in Engelssprekende Natal en in Europa. Veral die houding wat die Vrystaters ingeneem het, was van groot betekenis en hulle het gedreig om die Transvalers gewapend te hulp te snel. President Brand kon hulle slegs met moeite terughou. Ten einde te verhinder dat die stryd verder uitbrei en die land moontlik in ’n bloedbad dompel, het Brand hom derhalwe van die begin af beywer om as bemiddelaar in die stryd op te tree. Hy het ’n groot bydrae tot die vredeskikking gelewer.
Albei kante het hom vertrou en Paul Kruger het ten volle van sy dienste gebruik gemaak. Langs hierdie weg is die deur vir die onderhandelings tussen Kruger en die Britse Regering oopgehou. Terselfdertyd het Kruger die Transvaalse vryheidsaak soveel moontlik na buite bekend gemaak en veral ’n beroep op die Afrikanervolksgevoel in die Vrystaat gemaak. So onderteken hy op 7 Februarie 1881 ’n brief aan die Vrystaatse Volksraad. Hierdie brief is deur Jorissen opgestel en dit eindig met die woorde: "Met vertroue lê ons ons saak oop vir die hele wêreld. Hetsy ons oorwin, hetsy ons sterf: die vryheid sal in Afrika verrys soos die son uit die môrewolke, soos die vryheid verrys het in die Verenigde State van Noord-Amerika. Dan sal dit wees van Zambesi tot ons Simonsbaai: Afrika vir die Afrikaners.” Hierdie goed gemotiveerde brief was een van die gevoelvolste uitings van die gees van nasionalisme wat Paul Kruger in Suid-Afrika help ontketen het.
Intussen het president Brand voortdurende pogings in die werk gestel om die strydende partye in verbinding met mekaar te stel en ’n kompromisvrede te probeer verkry. Op sy versoek het lord Kimberley, die Britse minister van kolonies, op 28 Januarie aan die nuwe Britse Hoë-kommissaris en goewerneur aan die Kaap, sir Hercules Robinson, laat weet dat as die Transvalers hulle gewapende verset sou staak, die Britse Regering ’n skema sou opstel wat hulle bevredig.
Reeds voor die tyd, op 29 Januarie het Paul Kruger aan genl. Colley wat die Britse strydmag in Natal aangevoer het, geskryf en hom uitgespreek ten gunste van Transvaal se toetrede tot ’n federasie; selfs ’n formele Britse protektoraat sou aanvaar kon word, op voorwaarde egter, dat die anneksasie eers ongedaan gemaak moet word. Kort daama het hy na die Natalse grens vertrek, en op I2 Februarie het hy daarvandaan weer aan Colley geskryf en verklaar dat hy geen stryd teen die ryksregering wil aanknoop nie en dat hy glo dat die Engelse volk, as hulle eenmaal die waarheid weet, hulle aan die kant van die Boere sou skaar. Hy het hom bereid verklaar om die geskil aan die ondersoek van ’n koninklike kommissie te onderwerp. Die brief aan Colley wat inderdaad die grondslag bevat het waarop later ’n wapenstilstand gesluit is, getuig van groot diplomatieke vernuf. Van besondere belang is ook dat hierdie brief sonder die medewerking van Jorissen opgestel is. Die stuk het toe dit deur Colley na Londen oorgesein is, ’n goeie ontvangs geniet.
Die Britse regering het Kruger se aanbod aanvaar, maar Colley het die antwoord aan die voorwaarde verbind dat Kruger binne 48 uur daarop moet reageer. Dit was onmoontlik want op daardie oomblik was die Transvaalse leër nie meer in die omgewing nie, maar op ’n sending baie kilometer daarvandaan, in Rustenburg.
Terwyl die Britse aanvoerder tevergeefs op ’n antwoord gewag het, het hy gemeen om sy vorige neerlae te wreek deur die Boere van Laingsnek te verdryf. Dit sou geskied deur die oorheersende Majubakop te beset. Die onderneming het geëindig met ’n Britse neerlaag by Majuba en die dood van Colley self. Vir die Britse wapens was dit ’n groot terugslag en dit het Colley se opvolger, sir Evelyn Wood, aangemoedig om met die stryd te volhard en die Boere ’n les te leer. Slegs die grootheid van Kruger wat sorgvuldig vermy het om die oorwinning uit te buit, asook die Britse eerste minister, mnr. Gladstone, wat geen wraakgedagtes gekoester het nie, het verhinder dat die oorlog voortduur.
Deur die bemiddeling van Brand het Wood en Piet Joubert mekaar ontmoet en ’n wapenstilstand gesluit. Kruger het hom na die toneel gehaas, bitter ontevrede omdat Joubert nie as duidelike voorwaarde tot ’n skietstaking die versekering gekry het dat die onafhanklikheid van Transvaal erken sou word nie. Hy was vasberade om toe te sien dat dit in die loop van die verdere samespreking tussen die twee partye wel sou geskied.
Toe Kruger in Natal aankom, was die toestand nog gespanne en delikaat. Die enigste grondslag vir verdere onderhandelinge was die vae belofte van lord Kimberley van sy voorneme om rekening te hou met die Boere-aspirasies en sy aanvaarding van Kruger se voorstel dat ’n kommissie van ondersoek benoem word. ’n Suksesvolle skikking was afhanklik van die goeie gesindheid van die Britse Regering en Kruger se taktiese vernuf om so gou moontlik ’n erkenning van die herstel van die vryheid te verkry. Hy het dit steeds besef dat die Britse Regering nie sou toestem tot ’n volkome herstel van die onafhandlikheid op die basis van die Sandrivier-Konvensie nie. Die vraag was slegs om die mate van Britse seggenskap in Transvaalse sake so veel moontlik te beperk.
Op 12 Maart 1881 het lord Kimberley die basis van die verhouding van Engeland tot in Transvaal omskryf as ’n algehele selfregering vir die Transvaal onder Britse soewereiniteit met ’n Britse president in Pretoria. Dit het beteken dat die Transvaal volkome selfregering sou hê wat sy binnelandse sake betref, maar dat hy nie vry was om sonder Britse toestemming met of teen ander moondhede op te tree nie. Die Boereleiers en ook Kruger het dit so aanvaar en die Britse owerheid was tevrede omdat soewereiniteit "vertolk is as ’n soort Britse oppergesag”. In sy wese was dit dus ’n kompromis waardeur albei partye met eer uit die stryd kon tree, hoewel nie alle Boere tevrede was nie. Paul Kruger het gemeen dat ’n halwe eier beter is as ’n leë dop.
Teen daardie agtergrond is die onderhandelings voortgesit en op 23 Maart is ’n formele wapenstilstand gesluit. Van Britse kant is die Boere-Driemanskap erken as die wettige verteenwoordigers van die Transvaalse volk. Van hulle kant het hulle die Britse soewereiniteit aanvaar terwyl ’n koninklike kommissie die besonderhede van die oordrag van die Regering aan die Boere binne ses maande sou uitwerk. Intussen sou die Transvaalse krygsmag ontbind word.
Gedurende die onderhandelinge wat deur pres. Brand bygewoon is, het sir Evelyn Wood, die hoof-Britse onderhandelaar, alles in sy vermoë gedoen om te verhinder dat die voorwaardes op skrif vasgelê word. Paul Kruger was daarteenoor vasberade om nie die sleutelstellings op Laingsnek te ontruim voor en aleer die Britse beloftes van ’n teruggawe van die land op skrif vasgelê is nie. Sy ervarings met Shepstone en Frere het hom’n les geleer wat hy nooit weer sou vergeet nie. Hy het eindelik sy sin gekry toe die dokument onderteken en deur die Britse regering bekragtig is. Die kommando’s is ontbind en binne enkele ure was die toneel van soveel dramatiese gebeurtenisse eensaam en verlate, soos voorheen. Die Vryheidsoorlog was iets van die verlede, maar Paul Kruger se naam het dwarsdeur Suid-Afrika en Europa weerklink soos geen Afrikaner voor hom nie. Ook in Brittanje is hy erken as die leier van die Transvalers, terwyl Afrikaners deur die hele land hom as hulle voorvegter beskou het. Deur sy leierskap gedurende die worstelstryd van 1877 tot 1881 het hy ongekende talente geopenbaar, en ’n nasionale figuur geword.