Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die fout wat baie lidmate maak is om nie te besef dat die kerk 'n loopgraaf in die voorste linie is nie – hulle gebruik dit vir 'n slaapsaal en ruskamp.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (3)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
VAN DIE PAARL NA TRANSVAAL EN TERUG (2)
Totius self vertel verder: "Vlak langs my ouma se huis in Daljosafat was die tweeverdiepinggebou van die 'Gedenkschool der Hugenoten’. Dit was ’n merkwaardige skool in die egte gees van die Christelik-nasionale onderwys wat ’n produk was van die Genootskap van Regte Afrikaners, die manne van 'Di Patriot’. Hier was Oom Lokomotief ons leermeester en ek onthou nog die 'Step by Step’ en Juta se 'Hollandsch Leesboekje’. Maar dit was veral die deeglike godsdiensonderrig van hierdie skool wat later ’n groot invloed op my lewensbeskouing sou uitoefen.
"Op 8 Julie 1885 het daar weer ’n ingrypende gebeurtenis in ons Du Toit-gesin plaasgevind: My vader is vir die tweede keer getroud, en wel met die dame wat vir my ’n tweede, liefdevolle moeder sou word — mej. Anna F. Malan, ook afkomstig uit die Paarl.
"En toe is ons kinders weer terug na Pretoria. Mej. Brunner was steeds nog in die huis. Maar nou is die woning op die plaas Rietfontein (later ’n voorstad van Pretoria). Daar het mej. Van Nierop, die latere eggenote van Oom Lokomotief, vir ons onderwys gegee.
"In 1888 het my vader ’n ingrypende besluit oor ons twee seuns se onderwys geneem: ons moes na die Duitse Sendingskool te Morgenzon teen die hange van die Magaliesberge naby Rustenburg. Hier het ek die Duitse taal geleer en kennis gemaak met die Duitse lied, en Luther se Klein Kategismus waaruit ek daar moes leer, is vandag nog in my besit. Na meer as ’n halwe eeu onthou ek nog die gesang:
Aus meinem Herzens Gmnde
Sag ich Dir Lob und Dank.
Pastor Adolf Wickert, die hoof, was ’n uitstekende onderwyser. Daar het ek ook my eerste lesse in Latyn gehad en die Romeinse geskiedenis, veral die heldedade van Hannibal was so boeiend dat ons dit met skemeraande buite op die gras vir mekaar oorvertel het asof dit ons eie geskiedenis was! Boonop het ons nog klavierlesse gehad en self was ek so bevoorreg dat pastor Wickert my vertroulik aangespreek het as 'mein Sohn’. O, en die avontuurlike togte wat ons seuns by tye na die berge gemaak het! Ons het selfs byneste in die kranse uitgehaal.
"Onberekenbaar was die invloed van hierdie tyd op my lewe. Die uitnemende kennis in tale, godsdiens en geskiedenis wat ek daar opgedoen het, was ’n lewenslange bate.
"Maar ook hierdie periode het verbygegaan. Op ’n dag het die veerwaentjie met vier osse skielik opgedaag. Ons moes huistoe kom. My vader was voornemens om weer ’n Europese reis te maak.
"Die pad van die waentjie het oor Rustenburg gegaan. Volgens ou gewoonte het ons op die kerkplein voor die Indiërwinkel uitgespan. Daar is ’n bakkersbroodjie en ’n blik goue stroop gekoop — iets waarna ons uitgesien het. Dit was ’n heerlike maaltyd.
"Heimweë gryp my nog aan as ek dink aan die skemer daar by die Magaliesberge waar die Krokodilrivier deur die poort stroom. En dan flits daar nog ’n voorval op wat die doodsgedagte in my jeugdige gemoed weer wakker geroep het — die doodskiet van ’n mak apie wat ’n meisie gebyt het!
"My vader het vooruitgegaan na Europa. Drie maande later het my moeder gevolg, met my en my broer. Wat ’n vorming vir sulke jong Afrikanerseuns in daardie tyd! My vader het selfs van daar af ’n reeks artikels geskryf oor 'Jong Afrika bij Oud Europa ter School’.
"Terug in Suid-Afrika, is ons weer na die Paarl. My vader het bedank as Superintendent van Onderwys van die Z.A.R. en hy het ontsettende terugslae beleef, ook stoflik. So erg was dit dat ons as gesin, ouers met vyf kinders in een enkele kamer in ’n agterplaas ingetrek het. Maar nie lank daarna nie het ons gaan woon in die linkervleuel van die gebou van die Patriot-drukkery waaraan my vader nou al sy aandag gegee het; ook aan skryfwerk en veral die Bybelvertaling.
"In hierdie tyd het ek so ’n bewondering vir my vader gekry. Blymoedig, na al die teleurstellings, onder die uiters moeilike omstandighede, het hy die Bybelvertaling weer aangepak asof niks gebeur het nie.
"Intussen is ek en my broer weer opnuut na die Hugenote Gedenkskool. Onder andere was die digter A. G. Visser en die skrywer D. F. Malherbe twee van my maats.
Daar het ek toe die elementêre en die Skool-Hoër-eksamens afgelê. Vir die Matrikulasie-eksamen het ek privaat gestudeer en die publieke eksamen, alles in Engels onder die 'University of the Cape of Good Hope’ afgelê in 1895.
"Toe het my lewe op ’n beslissende kruispad gekom. Ek moes ’n keuse doen vir ’n beroep. Sou dit myningenieur wees? Die rigting waarvoor ek werklik aanleg gehad het en alreeds geidealiseer het? Nee ... In ’n donker nag van benoudheid sou die beslissing val. Nee, nie myningenieur nie! ”
Die gryse Totius sit sy pen ’n oomblik neer. Peinsend tuur hy oor die Vaalrivier. Hy weet dit nie, maar oor enkele weke sal sy lewe op aarde verby wees. "Hierdie lang lewe van my. Alreeds 76 jaar. Hoe sal dit tog vir die ander mense lyk? Eenmaal, lank gelede — dit was in 1937 — het ek in Egipte gestaan waar ’n ou antieke tempel opgegrawe is. Toe het ek ook oor my lewe gedink - toe ek sien hoe die ou verborge dinge weer oopgemaak word. En haastig het ek dit in digterstaal neergeskryf:
Hoe sal dit wees wanneer die eeue hul loop vervul het en my lewenswerk gaan oop?
Sal daar gejuig wees en gejubileer?
Of oorgawe aan verwoesting immermeer?"
Burgersdorp toe - vervolg...