Gedagtes vir elke dag
Almal ervaar soms teleurstelling. Dit het egter op sigself geen negatiewe uitwerking nie, dis ons reaksie op teleurstelling wat daaraan negatiewe krag gee. Twee verskillende mense kan dieselfde teleurstelling met 'n totaal verskillende uitkoms ervaar. Gebruik teleurstelling as 'n geleentheid om jou planne te wysig met 'n vars nuwe idee, vriend of dag.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (6)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Oorlog
Die oorlogstrein stoom propvol Boeresoldate die stasie op Heidelberg met dagbreek binne. Dis 12 Oktober 1899. In Johannesburg was die trein om middernag reeds vol. Met al die gewere en komberse en sakke vol benodigdhede, is seifs die gangetjies versper. Daar is seifs ’n paar saals en tooms. Waar die klompie Heidelbergburgers nog ’n plek gaan kry, weet niemand nie. Die manne wat reeds te perd na Volksrust vertrek het, is miskien beter daaraan toe.
Maar dis oorlog. So het die mense Heidelberg se stasie nog nooit gesien nie. ALmal is opgewonde, maar sommige wys dit net meer. Ook spanning en - al word dit weggesteek - angs. Vaders en seuns moet gaan veg. Die vroue voel verlate en bekommerd.
Nie ver van die lokomotief af nie sukkel drie manne om ’n sitplek oop te beur. Die oudste, met die pragtige fier, regop houding is ds. Flip Snyman van die Gereformeerde Kerk op Heidelberg. By hom is die twee jong manne, Gert Kruger en Japie du Toit, wat in Juniemaand hulle predikantstudies op Burgersdorp voltooi het en in die Heidelberggemeente kom help het met die kerkwerk. Maar nou het die oorlog gekom, en vir hierdie drie manne was daar nie ’n keuse nie. Nou is dit reguit Volksrust toe. Na die Natalse front. Japie het seifs ’n Mauser met 200 patrone bekom. ’n Perd sal hy wel later kry.
En tog? Diep in Japie se gemoed is daar ’n pynlike kwelling. Hierdie trein is vol Transvalers en hy is ’n seun van die Paarl. Hulle is almal burgers van die Boererepubliek, en hy? - ’n Kapenaar onder Britse bewind. Maar dan is hy mos eintlik ’n rebel! Ja, en wat gaan sy pa sê? Maar nou is daar geen keer meer nie. Selfs die doelgerigtheid waarmee die stoomtrein teen die helder oggendson instoom, vertel dit: "Ons gaan sak-en-pak Natal toe . . . ons gaan sak-en-pak Natal toe...”
Gert stap ’n bietjie met die gangetjie af. Dadelik kom hy opgewonde terug. Watter verrassing! Saam met hom is werklikwaar twee van sy studentemaats op Burgersdorp, die twee broers Dirk en Ferrie Postma. Hulle twee was by hulle ouerhuis in Fordsburg (Johannesburg) toe die oorlog uitgebreek het. Ds. Marthinus Postma, hulle vader, sou later na die front vertrek.
Japie voel meteens sommer baie beter. Dirk en Ferrie is Japie se verloofde, Marie, se twee neefs. Nou voel hy tuis. Hier is meer van sy mense.
Maar op Volksrust wag daar ’n groot skok. Ds. Snyman het dit vir Japie gegee: telegram uit die Paarl! "Verlaat onmiddellik die oorlogstoneel. Kom dadelik huis toe. Groete. Jou vader, S. J. du Toit.”
Die tente was skaars opgeslaan, toe pak die weer saam. Met die gietende reën lê Japie maar op sy komberse, Sy posisie is ontsettend moeilik. Boonop het hy ook nog ’n verskriklike tandpyn. Ds. Snyman gee raad. Ook Ferrie kom by. Die slotsom: Japie du Toit gaan, hoe pynlik dit ook al is, saam met die burgers voort na die front! Die moeilike keuse tussen die saak van sy gewete en die persoon van sy vader is gedoen.
Daardie nag slaap Japie weer nie lekker nie. Dit lyk asof al sy ideale ingetuimel het. Hy dink terug aan daardie nag in die Paarl toe hy besluit het om nie meer myningenieur te word nie, maar predikant. En dit is die predikantsideaal wat hom hier aan die oorlogsfront laat beland het. Wat gaan nog gebeur?
Vroeg die volgende oggend begin die kommando’s in die rigting van Laingsnek beweeg. Japie het egter nog nie ’n perd nie en hy moet maar in die laer wag. En dan skryf hy twee netjiese poskaarte - een aan Marie en een aan sy vader. Die laaste is die swaarste. Sal sy vader ooit verstaan?
Daardie dag in die laer kry Japie ’n nuwe gedagte wat hom sommer moed gee. So is hy; gee hom ’n taak of ’n plan en dan gebeur daar iets. Sy fyn waamemingsoog laat hom dadelik ontdek dat daar geen voldoende eerstehulp en ambulansvoorsiening vir gewondes bestaan nie. In plaas daarvan om passief in die tent te sit, begin hy planne maak, en daardie aand is hy en Gert vol geesdrif om hierdie belangrike taak te onderneem. Sou die versorging van lyke en gewondes op die slagveld dalk vir ds. S. J. du Toit meer aanneemlik wees? Maar eers sal hulle moet wag vir die ambulanswa van Heidelberg af. Daardie aand hou hy ’n preek in die Middelburglaer oor Markus 6:31 – "Rust een weinig.” Sy eerste preek as veldprediker!
En toe kom Sondagoggend, 15 Oktober. Japie kan dit nie meer uithou by die tente op Volksrust nie. Gelukkig leen ’n sekere mnr. Schuurman hom sy perd, en nou voel hy werklik deel van die kommando. Na ’n uur kom hulle op ’n pragtige plek teen Laingsnek. Tussen groot bome staan daar ’n sierlike huis - ’n pastorie wat deur ’n Engelssprekende predikant verlaat is. Daar, van die hoë veranda af, gaan Gert en Japie twee dienste vir die burgers hou. So rustig is die Sondag op daardie plek dat hulle eintlik vergeet dat daar oorlog is. Hulle geniet selfs ’n middagslapie onder die borne. En saam lees die twee studentemaats die boek Jakobus.
Steeds gaan die dae rustig verby. Dit word selfs vervelig. Maar toe die eerste berigte van botsing met die Engelse in Natal inkom, laai die spanning weer op. Vir Japie word dit ’n oomblik van opwinding toe die eerste ambulanswa met die span muile van Heidelberg af sy verskyning maak. Hy gaan dadelik saam, dieper Natal in, tot by Ingogo. Weer is dit vir Japie ’n aanpassing. Jare lank sou hy Gert nie weer sien nie, en twee Duitse immigranteseuns, Donges en Heese, word nou sy makkers.
Intussen pyn Japie se tand steeds. Eers by Newcastle kom daar uitkoms. Maar nie sonder ’n duur prys nie, want die tandarts, ene dr. Ormand, trek eers per abuis ’n verkeerde tand! En boonop begin hy daardie nag alreeds die bitter oorlogsellende ervaar: deur modder en water in gietende reën na die slagveld van Elandslaagte.
Toe hulle daar aankom, was alles egter verby. Maar so ’n verlate slagveld lyk verskriklik! Japie word in sy gemoed aangegryp.
Sy oë sal egter nog erger dinge sien. En sy hande sal nog sterwendes se lewens probeer red, ook soldate van die vyand. Ook sal die jong veldprediker nog lyke moet dra.
Onbeskryflik word sy ervarings in die veld van Natal: soms dag en nag voorttrek met die ambulanse, dikwels deurweek van reeën en vreeslik honger. Hy verduur eensaamheid en spanning en ’n brandende verlange na sy mense. Van Marie kry hy darem nou en dan ’n brief, maar skokkend is dit as hy agterkom dat een van die burgers ’n brief van haar in fyn stukkies opgeskeur en in die vuur probeer verbrand het.
Daar kom egter ook dae van rus. Dan verdiep hy hom in die klompie boeke wat hy oral saam met hom karwei. Behalwe ’n paar teologiese werke van Van Oosterzee, lees hy ook gedigte van De Genestet, Shakespeare, Bacon en Byron. Dinsdag 31 Oktober is ’n heerlike dag van gedigte lees! Dit is ook die dag waarop hy "Marie”-koekies geëet het - eers sorgvuldig die randjie en daarna die gedeelte met die naam 'Marie”; maar niemand anders het ooit geweet van die stil verlange na Marie Postma in Burgersdorp nie!
Op 7 November ontvang Japie du Toit naby Ladysmith ’n teleurstellende berig: al sy besittings met al sy uitgeskrewe preke het in ’n tent by Laingsnek uitgebrand! Ook al Marie se briewe van die vorige maand.
Maar op dieselfde dag kom daar 'n nuwe wending in sy lewe. In sy dagboek vertel hy dat dit ’n begeerte van sy hart was wat vervul is: hy word na die weste, na die Potchefstroomlaer in Wes-Transvaal oorgeplaas en hy moet so spoedig moontlik vertrek. Daardie aand skryf hy: "Daar is weer doel in my lewe! ”
Waarom is hierdie wending in Japie se lewe so belangrik en waarom is hy so bly daaroor? En dat hy nou alreeds so ’n begeerte het om onder die Potchefstroomse mense te wees? Is dit miskien iets van die profeet in hom?
Op 13 November 1899 neem Japie du Toit afskeid van die slagvelde van Natal. Maar die dag verloop nie voorspoedig nie. Reeds voor dagbreek moet hy die weggeloopte muile in die veld soek. Dan gaan hy met ’n donkiekarretjie deur gietende reën na Elandslaagte-stasie. Op Newcastle soek hy vergeefs na sy bril wat die dag by die tandarts weggeraak het. Die ergste is nog dat hy en ds. Snyman daardie nag per trein in ’n oop beestrok na Volksrust moet reis, in bitter koue reënweer van sewe-uur tot twaalfuur die nag. Troosteloos, onherbergsaam, hard. In so ’n wêreld voel die jong Japie du Toit hom teen die einde van die 19de eeu nie meer tuis nie. Later sou hy dit nog meer besef totdat sy digtersiel dit uitroep:
... Ek voel dit dan aan alle dinge wat in die nagstond my omring, die wêreld is nie ons woning nie.
Terwyl die nagtrein weswaarts van Volksrust af oor die Hoëveld voortstoom, tuur sy oë die donker velde in om hier en daar die silhoeëtte van eensame plaaswonings raak te sien. Die volgende dag is hy in Pretoria. Ds. Petrus Postma help hom om ’n perd te kry. Dan vertrek hy weer per trein na Potchefstroom. En as hy ook sy perd veilig by hom het, gaan hy reguit na sy oom, ds. Charl du Toit in Potgieterstraat. Hier word Japie besonder gasvry ontvang, en na twee nagte vertrek hy op Saterdag 18 November te perd na Ventersdorp, dieper die Wes-Transvaal in op soek na aansluiting by die Potchefstroomse burgers.
Daardie Saterdag is dit ontsettend warm. Reeds teen agtuur steek die son. Japie is om sesuur alreeds van die pastorie af weg. En hier is hy nou weer alleen in die oop veld tussen Potchefstroom en Ventersdorp. Onder ’n eensame doringboom Ieun hy lusteloos teen die saal. Die perd staan met toom in die bek eenkant. Vandag gaan dit vreeslik warm wees. Een van daardie Wes-Transvaalse dae waarop die somerhitte vroeg-vroeg die gesigseinders laat bewe. Alles is genoeg om die man sinies te maak: die oorlog, die eensaamheid, die moegheid, die verlange na sy mense . . . Skryf dan maar ’n paar sinnetjies in sy dagboekie. Dit help nie om niks te doen nie. Die koers is na Ventersdorp om êrens die Potchefstroom-kommando te vind.
Maar Japie se perd is nie baie mak nie. Wat ’n moeite om hom te vang! Drie ure lank is dit byna ’n eindelose gesukkel agter die dier aan oor die heininglose veld. "Eindelik kom daar ’n swart man en kry ek hom in die hande,” skryf Japie in sy dagboekie. Dan weer verder weswaarts. Dit is ontsettend warm en stowwerig. Hy voel vuil en sweterig. ’n Troostelose eensaamheid pak hom beet en in sy gemoed groei die groot heimwee na ’n beter wêreld.
By die lap doringbome op die bult wat ’n mens reeds van ver af sien, kom daar egter ’n opflikkering. Daar voor hom lê die pragtige Skoonspruit, of liewer, "Schoonspruit” volgens die oorspronklike Nederlands, dus die moot spruit. Hierdie helder stroom water laat ’n mens dan ook dadelik dink aan die Mooirivier van Potchefstroom wat ook op dieselfde wonderlike manier sommer uit die aardkors van Wes-Transvaal breek en suidwaarts die Vaalrivier opsoek. En daar lê die plek Ventersdorp nou voor Japie se oë aan die westelike oewer van die groen vleie van die Skoonspruit.
Dit was omtrent vieruur in die middag en die belangrikste van alles was dat die perd eers ’n gerf voer moes kry. Daarvan wil ’n bejaarde omie sommer meer as genoeg gee. As hy dan self nie meer kan veg nie, moet hierdie "ou seun” goed gehelp word.
Saterdagmiddag is ’n plek soos Ventersdorp in 1899 nog op sy bedrywigste, Veral die Jood se winkel floreer. Maar in die lug hang tog iets van ’n onrus. Dis oorlog. Ook Japie weet nie mooi waarheen nie. Doelloos stap hy maar sommer deur die winkel. Maar wag, kyk net wie staan daar op die stoep baie druk in gesprek? Dis mos volksraadslid Schutte van Potchefstroom. Paul Schutte van die plaas Buffeldoorns, daardie gesiene ouderling en kerkman. Skugter staan Japie nader en kry dit reg om met Schutte te praat.
"My wêreld, u is nou daardie student Du Toit van Burgersdorp. U is mos al klaar ’n predikant, maar u wag nog op ’n beroep. O, ja, proponent Du Toit. Ds. Martiens Postma het my nog laas van u vertel.”
En toe volg daar ’n kort maar belangrike gesprek op die winkel se stoep. Japie kry dadelik advies waar hy vir Gerf Yssel kan kry sodat hy saam met daardie manne by die Potchefstroomse kommando kan uitkom. Raadslid Schutte is egter haastig en dringend op pad na Potchefstroom nadat hy so pas van Mafeking gekom het. Dinge begin nou baie moeilik word en volgens berigte kom die Engelse met geweldige groot magte uit die Kaapkolonie in die rigting van Kimberley aan. Of die Potchefstroom-kommando na Kaapland sal vertrek? Ja, sekerlik, maar beslis nie voor Maandag nie.
Bloedrooi gaan die son oor Wes-Transvaal onder. Steeds moet Japie verder weswaarts. Êrens moet hy Gert Yssel en die ander manne op die pad van Mafeking af raakloop. Dan maar aanhou al is sy lyf so seer dat hy nie meer kan uithou nie. Halfagt is dit so donker dat hy amper nie meer sy hand voor horn kan sien nie, en ongemaklik moet hy die gerf voer ook nog vashou. ’n Groot doringboom soos ’n swart kol teen die lug digby die pad laat hom besef dat hy net hier die perd moet vasmaak en dan slaap. Maar die perd ruk die toom stukkend en draf weg in die donker. ’n Ent daarvandaan sien Japie darem ’n vuurtjie. Dis ’n Bantoehut. Weer is dit ure se gesukkel, maar met die hulp van die "swartvolk” kry hy eindelik teen middernag die perd in ’n klipkraal. Hy maak ’n vuurtjie in die kraal en toe drink hy swart koffie en eet die laaste stukkie droë brood. Op kraalmis soos poeier, maak hy sy bed maar dit is sagter as die harde klipperige grond, en toe slaap hy! Die blink sterre sien hoe moeg hy is.
Sondagmore, 19 November met dagbreek. Perdepote op die harde gruis van die pad maak Japie skielik wakker. Dis manne van die Potchefstroom-kommando, en hulle voel ietwat verbaas oor hierdie vreemde jong man wat sommer hier van die klipkraal af hulle aandag probeer trek. Nee, dit help nie om nog tyd te mors nie en Japie hardloop terug om ook sy perd te gryp. Maar juis op daardie oomblik sien hy vir Gert Yssel op ’n perdekar. En met die opgewonde vriendelikheid van Gert wat hom onmiddellik herken en van daardie oomblik af as’t ware die proponent onder sy persoonlike sorg neem, is daar sommer weer doel en koers in Japie se lewe!
Daardie selfde oggend nog is Japie du Toit saam met Gert Yssel na Elandskuil langs die Skoonspruit ten suide van Ventersdorp. Dit was die begin van ’n lewenslange verbintenis met die Yssel-familie, ’n patriargale geslag waarvan die eerste Transvaalse Yssel-stamvader hom reeds in Augustus 1851 vanuit Kaapland langs die Skoonspruit gevestig het. Hy was Sarel Gerhardus Yssel. Later, na die oorlog, sou Japie jare lank hierdie mense se predikant wees.
Hier langs die Skoonspruit volg dan ’n paar wonderlike dae van verkwikkende rus. Die Yssels versorg die latere "Totius” soos hulle eie kind. En dan kom die voorbereiding vir die vertrek na die Boerefront ten suide van Kimberley. Japie kry ook sy trommel beskuit en alles wat nodig is.
Dit is egter ’n heel uitsonderlike reis. Eers na Frederikstad, en dan noordwaarts met die trein na Johannesburg en dan deur die Vrystaat oor Bloemfontein tot by die dorp Edenburg. Frederikstad is ’n stasie so ongeveer twintig kilometer ten noorde van Potchefstroom.
Voor die vertrek van die burgers is daar op die oggend van 22 November (dit was Woensdag) roerende tonele op die plaas Elandskuil. Al die vrouens en kinders neem afskeid van hulle mans, ’n Plegtige godsdiensoefening word gehou en die jong proponent J. D. du Toit neem die leiding. Aangrypend is die psalm wat opstyg in die buitelug: "’k Zal eeuwig zingen van Gods goedertierenheid ...”
Om twaalfuur die middag kom die burgers van Elandskuil by Fredrikstad aan. Daar is alreeds ’n menigte manne van heinde en verre. Voorrade word gelaai. Dis warm en daar is maar enkele bome. Ook slegs ’n enkele klein stasiegebou. Eintlik ’n onherbergsame plek. Steeds kom daar groepe Boere aan, ook waens met tente en voorrade. Ook die Yssels het ’n wa saamgebring wat op een van die treintrokke gelaai word.
Daardie aand word proponent Du Toit weer vir die huisgodsdiens nader geroep. Hy gaan ’n preek lewer oor Psalm 80:20: "0 Here, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word! ” Sy stem is nie sterk nie, veral in die buitelug. Maar die menigte sit aandagtig en luister.
Die volgende dag word nog voorrade gelaai deur burgers wat steeds by Frederikstad opdaag. Japie kry geleentheid om in die wa-tent bo-op die trein uit te rus en hy lees 'n teologiese geskrif. Ook skryf hy ’n brief aan sy verloofde, Marie Postma.
En toe breek Vrydag, 24 November aan. Om elfuur die oggend vertrek die swaargelaaide oorlogstrein van Frederikstadstasie af na Johannesburg (Braamfontein). Daar heers ’n uitbundige gees van optimisme en vreugde. En algaande groei daar selfs ’n jolyt onder die jong manne. Op Krugersdorp begroet groot groepe meisies die burgers met blomme en heerlike lekkemye. Dit gebeur ook op die stasies van Maraisburg en Langlaagte, en teen die tyd dat die trein by Braamfontein instoom, heers daar feitlik ’n karnavalgees. Japie du Toit vertel in sy dagboek dat hulle vol blydskap was, sommige selfs vrolik; maar, so sê hy van homself, "ek was treurig, my hart was vermurwe”. Wat sou tog die gedagtes van hierdie diepsinnige gemoed by die belewing van dit alles wees? Is dit iets van die profeet in hom wat hom reeds deur die masker van vroeë feesvreugde die donker nag van onheile van hierdie oorlog laat raaksien? Of is dit sy eerlike insig in sake, sy nugtere besef dat elke myl verder afstuur op ’n rampspoedige doel, ’n finale eindstasie sonder terugkeer?
Juis die meeste van die manne wat op Braamfontein so uitgelate is, sal na die rainp van Paardeberg met genl. Cronje se oorgawe die bittere ballingskap van St. Helana moet verduur om jare daarna terug te keer na die puinhope van ’n afgebrande Wes-Transvaal. En die vrou en die kind! Toe Totius later kon terugkyk, het hy dit weer vir ons vertel, die smart van hierdie manne:
”My erfgrond,” sug hy, "is daar nog, en ek het weer teruggekeer: maar net my vrou en kind bly weg, en hulle kom nie weer.”
Toe hulle Saterdagmore wakker word, stoom die trein reeds deur die Noord-Vrystaat in Koppies se wêreld. Op Kroonstad kry die Wes-Transvaalse burgers weer eens ’n groot ovasie. Dis of die Vrystaters nie genoeg kan doen om hulle broers uit die noorde tuis te laat voel nie. Ook op Brandfort is die entoesiasme onkeerbaar. En toe die aand op Bloemfontein! Tot twaalfuur die nag is die hoofstad se dames daar om die burgers uit Transvaal toe te juig.
Die "vreugdetrein” kom om vyfuur Sondagmore op Edenburg tot stilstand. En nou volg daar ’n harde dag. ’n Bitter swaar dag. Japie kry egter kans om haastig ’n brief aan De Volkstem te skryf om die Vrystaatse dames vir al hulle vriendelikheid en kosware te bedank.
En dan is elkeen in die saal en op pad na Jagersfontein. Op Maandag, 27 November 1899, skryf hy in sy dagboek: "Onder vreeslike stof ry ons twee-twee die dorp Jagersfontein om twaalfuur binne.” Daardie middag bereik hulle ook Fauresmith, maar die arme Japie kon met sy tingerige gestel die ontbering feitlik nie meer uithou nie. Gelukkig gaan hulle by ’n spruit op pad na Koffiefontein oornag en hy hou vir die burgers godsdiens met ’n rede oor Gen. 9:13: "My boog gee Ek in die wolke; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.”
Die volgende dag by Koffiefontein, steeds ”vreeslik stof”. ’n Telegram beveel die burgers om so vinnig as moontlik op te ruk in die rigting van Kimberley. Dit word ’n woeste tog. "Oor klippe en stof soos wat ek nog nooit gesien het nie. Ons het byna verstik,” skryf Japie.
Afgemat en verskriklik honger bereik die kommando’s Jacobsdal op die Woensdag. Geen voer of weiding vir die perde nie en alleen gemufte suur brood vir die burgers. Maar die tog moet verder. Hulle is deur die Modderrivier, en daardie nag voel dit asof die Engelse soekligte uit Kimberley hier vlak voor hulle skyn.
Eindelik kom die kommando in die omgewing van Magersfontein ten suide van Kimberley aan. Die geweldige groot Boerelaer wat alreeds daar saamgetrek het, beïndruk Japie.
Daar is egter ’n saak wat hom voortdurend hinder: hy is ’n Kapenaar en nie ’n Transvaler nie. Sy eie wettige owerheid is die Kaap-se regering wat eintlik die Britse bewind is, en hier is hy nou ’n soldaat van Transvaal. Natuurlik is hy met hart en siel een met die Boere en hulle saak, maar dit kan tog nie sommer so onoffisieel gaan nie.
En met hierdie probleem durf Japie du Toit dit aan om Vrydagmiddag, 1 Desember die bevelvoerder van die Boeremagte, naamlik genl. Piet Cronje, op te soek. Dit word toe so gereel dat hy voor genl. Cronje die eed van burgerskap aan die Transvaalse Republiek kon aflê. Of dit hom eventueel by die Britse owerheid sou vrywaar teen ’n klag dat hy ’n Kaapse rebel was, kan nie met sekerheid gesê word nie. Wat sou sy vader, ds. S. J. du Toit, hiervan dink? Nietemin, daar is nou meer rus in Japie se gemoed.
Hierdie eerste dae van die laaste maand van die 19de eeu gaan langsaam verby, maar algaande laai die spanning op. Geweldige groot Britse magte begin ontplooi en dit is duidelik dat hulle aanslag uiteindelik gemik is teen die Magersfontein-rante waar die Boere verskans is. En elke dag preek die jong proponent Du Toit in verskillende laers. In die nag gaan hulle weer af na die voet van die rante om ’n loopgraaf te grawe, en dit is van die mees unieke krygsplanne waaraan Japie eerstehands deel het. Hy kry selfs geleentheid om hierdie plan en idee met genl. De la Rey te bespreek.
Op Saterdag, 9 Desember, het die Britse grofgeskut eenvoudig die hele dag meëdoenloos op die Magersfontein-rante geskiet. Hulle het reeds met dagbreek begin. Proponent Du Toit was nog besig met die oggendgodsdiens en die burgers het langs die lang loopgraaf Psalm 84:6 gesing:
Want God, de Heer, zoo goed, zoo mild, Is ’t alleen tijd, een zon en schild ...
So erg was die bomme-reën dat iemand gesê het dit is die grootste tonnemaat wat nog ooit in die krygsgeskiedenis afgeskiet is!
En toe kom daardie verskriklike slag van Magersfontein wat op Maandag, 11 Desember begin het. En wat 'n oorwinning vir die Boere! In sy dagboek vertel Japie dat die geweervuur om halfvier begin het. Toe is die keur van die Skotse soldate, die ”Black Watch” wat koelbloedig op die Boere se loopgraaf afgestap het, letterlik afgemaai. Van die Boere se geweervuur sê ’n Engelse joernalis-ooggetutie: "It was a perfect sheet of fire.” En reg voor hulle sneuwel die Skotse genl. Wauchope met sy laaste luide uitroep: "Highlanders, don’t blame me!”
Interessant is die kort aantekeninge wat Totius die volgende dag van die slagveld van Magersfontein gemaak het: "Die Engelse soekligte sein in die nag aan Rhodes dat die gesneuweldes alleen 1500 is ... By die lyk van ’n Britse soldaat word ’n brief gevind wat die sterwende aan sy ouers in Engeland geskryf het. Hy versoek die persoon wat dit sal vind om dit tog aan te stuur . . . Op een hoop lê daar 250 helms van tommies . . . Die hope lyke is reeds swart, opgeswel, en die klere bars oop ... By ’n graf van 25 soldate word ’n aangrypende lykrede gehou: ’n gebed dat die vrede tog soos ’n "donderslag moet kom . . .”
En toe word Japie du Toit siek aan ’n ernstige maagaandoening, waarskynlik voedselvergiftiging. So erg word dit dat die veldkornet hom gelas om so spoedig moontlik die slagveld te verlaat.
Maar waarheen? Sy naaste mense is op Burgersdorp - Marie Postma, sy verloofde, en haar weduwee-moeder. Daar kom hy gehawend op ’n dag voor Nuwejaar 1900 aan. Dit was ’n beskikking wat hom, menslik gesproke, van die Britse owerheid gered het, of verhoed het dat hy as balling in St. Helena beland.
Via Pretoria deur Mosambiek na Amsterdam - vervolg...