Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ontvang 'n mens die ewige lewe? Hoe gebeur dit dat 'n mens daaraan deel kry? Die ewige lewe dui nie slegs ons voortbestaan ná die opstanding aan nie maar dui ook op die huidige terwyl ons nog op aarde is. In Johannes 5 verduidelik Jesus self dat ons nou al vrygespreek is en nie die oordeel ingaan soos diegene wat nie gered is nie en wie by die oordeelsdag veroordeel sal word. Selfs afgestorwenes sal dan uit hulle grafte opstaan en dié wat gered was sal reguit die ewige lewe ingaan maar die ongereddes sal dan voor God ter veroordeling staan.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (7)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Via Pretoria deur Mosambiek na Amsterdam
Op 4 Februarie 1900 het Japie du Toit weer heeltemal van sy siekte herstel en maak hy planne om by die vegtende Boeremagte uit te kom. Met sy wit perd kies hy toe koers ooswaarts na Colesberg wat reeds in Desember deur die Vrystaters beset is.
Maar dit is juis in Februarie wat die oorlog in die Kaapkolonie vir die kommando’s ’n rampspoedige keerpunt gekry het, veral nadat genl. Cronje op 27 Februarie 1900 by Paardeberg met meer as 3 000 man oorgegee het. Die Vrystaters begin uit Kaapland terugval om hulie hoofstad te beskerm. Op 5 Maart trek die manne uit Colesberg, met Japie saam met hulle, oor die Oranjerivier, en daarna blaas hulle die brug op. Dieselfde dag word Stormberg ingeneem en ’n Britse opmars beweeg in die rigting van Burgersdorp. Op daardie tydstip weet Japie dit nie eens dat sy verloofde Marie Postma en haar siek moeder met die laaste trein na die noorde Burgersdorp verlaat nie . . . om nooit weer terug te keer nie.
In Bloemfontein is Japie reguit na "Oom Lokomotief”, ds. S. J. du Toit se broer. Daar was ’n paar dae van verkwikkende rus. Maar dit bring ook skielik onrus: toe die Britse magte die Boere weer uit die Kaapkolonie verdryf het, volg daar onmiddellik ’n verbete jag op Kaapse rebelie. Ons Land, die koerant, plaas in daardie tyd ’n angsaanjaende berig onder die opskrif "Krijgswet - Schrikbewind”, en vertel hoe Kapenaars wat die Boere goedgesind was, by die honderde in tronke gestop word sonder verhoor en sonder reg op verdediging! En toe lord Roberts na Bloemfontein opruk, het baie van hierdie Kaapse rebelle geen keuse gehad nie as om noordwaarts uit te wyk na die volgende hoofstad, Pretoria. Japie du Toit kry dit reg om ook nog sy perd op die trein te kry. Hy is net betyds om Roberts, wat op 13 Maart Bloemfontein ongehinderd binnetrek, te ontwyk.
In Pretoria kry ’n heie klomp van die Kaapse rebelle egter ’n veilige wegkruipplek - altans vir ’n paar maande. En wat ’n verrassing: die dogter van president Kruger, mev. F. C. Eloff, stel ’n huis aan Marie en haar moeder beskikbaar. Hier vind daardie manne wie se posisie baie benard geword het, ’n voorlopige tuiste. Ook ds. Petrus Postma,die president se predikant, is uiters behulpsaam. Die weduwee Postma is ook sy stiefmoeder en Marie ’n halwesuster.
Hier oorreed ds. Postma vir Japie om hom te help met die kerkwerk in Pretoria. Postma was die enigste predikant van die Gereformeerde Kerk in die hoofstad en met die oorlogstoestand wat toe ontwikkel het, is die laste van die predikant haas ondraaglik. Juis in hierdie tyd moes ds. Petrus Postma die hoogbejaarde president feitlik nag en dag bystaan. Ds. Postma skryf self hieroor: "In die nag, en so ook nag-na-nag, het die president maar weinig rus geniet. Elke oomblik het die telegramme gekom en steeds gee hy na ernstige oorweging die vereiste bevele . . . Baie kere was ek midde in die nag by hom, soos byvoorbeeld tydens die slag van Spioenkop. Nooit het ek Sy-hoog-edele so aangedaan, so dankbaar verruk gesien dat hy geen woord kon vind om God te loof vir die oorwinning op Spioenkop nie. Laat die vorige nag het ek hom agtergelaat waar hy nog op sy wagpos was: toe was alles nog donker volgens die berigte. Maar toe ek vroeg die volgende more weer kom, was sy eerste woorde: 'Die Here het vir ons gestry . . .' O! dit was oomblikke wat altyd my hele lewe lank sal onthou word.”
Gedurende Maart, April en Mei 1900, toe die druk op die president steeds swaarder geword het, wou hy sy predikant voortdurend by hom hê.
Vir ds. Petrus Postma en die Gereformeerde gemeente was Japie du Toit se koms in Pretoria op daardie tydstip waarlik ’n uitkoms. Die jong proponent kon dienste van onskatbare waarde doen. In hierdie tyd moes hy ook ’n paar keer preek met die president onder sy gehoor. Ook Marie Postma met haar moeder het ’n paar keer besoek afgelê by sy ampswoning in Kerkstraat.
In die begin van Mei 1900 kom daar skielik ’n nuwe wending in Japie du Toit se lewe. Dit is ’n groot groep manne in die gemeente wat die inisiatief neem. Sy posisie as Kaapse rebel word baie belangrik weens die Engelse se aantog na Pretoria. Veral ouderling K. van Rijse voel sterk oor die saak en dring in die konsistorie, na die diens, daarop aan dat daar net een uitweg vir proponent Du Toit is: hy moet saam met die ander Kaapse rebelIe na Nederland! Daar moet hy onder die beroemde Dr. Abraham Kuyper verder gaan studeer! Dit het geen sin dat hierdie begaafde jong man eenvoudig aan die Engelse uitgelewer en seifs miskien tereggestel word nie! Ook die manne Bergmans, dosent aan die Staatsgimnasium, en O. Boersma, wat later ’n predikant in Nederland sou word, begin planne uitwerk om die jong Du Toit vir Suid-Afrika te probeer behou. Totius sê later dat hulle "by my aangedring het om na Nederland via Delagoabaai te gaan ten einde aan die Vrye Universiteit van Amsterdam te studeer.”
En as Japie nog weifel, dan word die volgende stap, waarin die Turkstra-familie ook ’n groot aandeel het, ’n onafwendbare aanwysing van die rigting waarin hy moet gaan. Op ’n sekere aand druk hierdie paar manne eenvoudig ’n som geld plus ’n eersteklas- reiskaart op die Duitse skip Bundesrath in sy hand en verplig hom as’t ware om voor 18 Mei in Delagoabaai te wees!
Weer eens staan Japie du Toit voor ’n beslissende keuse - die soveelste keer in sy lewe. Later skryf hy self hieroor: "Dit was eintlik nie met my wil nie. Hier het ek ervaar wat ’n tweestryd in die binneste is. Ek het nie gewil nie, en tog het ek gewil! Uit eie vrye wil sou dit nie gebeur het nie. Maar ’n aantal vriende, veral Hollandse vriende, het by my aangedring om te gaan. Hulle het my die reisgeld ter hand gestel, en sou sorg dat ek met fondse in Nederland gehelp word.”
Vir Marie Postma is dit ook ’n hartseer saak. En daar aan die onderpunt van Skinnerstraat onder die bome val daar ’n hele paar trane van hierdie mooi meisie. Die mense weet dit nie, maar die paartjie wat na die aandete so heen en weer stap, is in hulle sagte gesprek vasgevang oor die noodsaak van die regte beslissing. Hy is maar drie en twintig jaar oud en sy agtien. Maar selfs onder die betraande oë kom daar ’n vriendelike glimlag:
"Jongie,” dit was haar lieflingsnaam vir hom, "jy moet gaan! Ek ken jou en ek weet dat jy selfs bereid is om te sterf vir die Boeresaak . . . Hoeveel dae en selfs nagte het ek nie omgedink oor jou op die oorlogsvelde van Natal en waar jy ook al in doodsgevaar geswerf het nie ... As ’n koeël jou getref het. . . o, dan sou ek ook moes sê dit is reg. Nee, gaan tog asseblief! Jy weet wat het Piet Steenkamp nou die dag gesê: "Die Engelse sal nie rus voordat hulle elke rebel uitgeruik het nie, en op die end sal hulle ons soos honde in die straat doodskiet. . .! ’ ”
"My liewe Marie . . . wag tog, dit is nie nodig nie. As ek moet gaan, moet dit nooit wees omdat ek bang is ek word geskiet nie. Dit bly natuurlik deurgaans ook ’n oorweging. Ek moet dit erken. Maar dit moet altyd ten eerste ’n duidelike saak vir my gewete wees dat God dit so wil hê.”
As God dit so wil hê . . . Lank staan Japie voor die wastafel in die klein stoepkamertjie. As God dit so wil hê . . . En hy staan met ’n dik koevert in sy hand. Dit is swaar van tien goue Krugerponde. Vir daardie tyd tog ’n goeie bedrag. En dan hierdie blou koevert met die eersteklaskaartjie vir die reis op die Duitse skip Bundesrath! Is dit die aanwysing van God se wil?
Die afskeid is hartverskeurend. Maar die Postmas en die Du Toit’s is nie mense wat hulle gevoel na buite onbeheers wys nie. Hoe wonderlik dat Petrus Postma, die ouboet, saam met Marie stasie toe gaan. Hy sal verder sorg. I-Iy voel ook dat dit die allerbeste is dat Japie moet gaan. Hy moet hom ook nie bekommer oor Marie se ma wat siek is nie.
Dis of die trein net nie kan wegkom nie. En dit voed die twyfel. Maar uiteindelik laat die N.Z.A.S.M.-lokomotief (die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappy) sy fluit met ’n bravade weergalm al is hy reeds anderhalfuur laat. Dit breek die spanning, en met die stadige beweging raak Japie vir oulaas aan Marie se hand. Lank word daar gewuif totdat hulle vir mekaar net stippeltjies word en die draai na die onderpunt van die Fonteine dit onmoontlik maak om nog iets te sien.
Heel eienaardig, maar aan die oostekant van Pretoria, op die hoogte van Rissikstasie, gaan die trein ’n lang ruk stilhou. Later vertei Totius self sy gewaarwording:
"Toe lê Pretoria weer oop voor my oë. Dat ek toe nie met my handsakkie (veel goedjies het ek nie gehad nie) uitgespring het nie, dat ek my toe nog kon keer, is vir my ’n misterie in my lewe waar ’n mens geen verduideliking van kan gee nie, maar, ondervindelik baie keer deur medeworstelaars ervaar word.
Daardie nag was nie lekker nie. Die oorlog maak dit ’n nagmerrierit. En eers toe hy die volgende dag veilig in Delagoabaai op Portugese grond staan, voel Japie meer gerus. Gelukkig is daar ’n heie paar bekendes saam met hom, almal Kaapse rebelle na wie gesoek word omdat hulle manne van aansien was, o.a. Lukas Steenkamp van Venterstad wat "kommandant van ons mense in die Kaap was” en Piet Steenkamp, "kommandant van Burgersdorp”. Dan was daar jou werklikwaar ook nog twee bekende parlementslede van die Kaap, naamlik Ignatius van der Walt van Colesberg en J. Joubert van Albert (Burgersdorp). Dit is van hierdie lg. Van der Walt wat die mense gesê het "Rhodes kan hom nie koop nie”. Dit was nadat hy ’n stywe tjek van Cecil Rhodes as ’n "geskenk” geweier het kort na die Jameson-inval.
Die Bundesrath was ’n betreklik klein stoomboot, slegs 2 000 ton. Die ervaring van ’n seereis is egter nie vir Japie nuut nie, want elf jaar tevore het hy sy vader met die gesin na Europa vergesel. Maar toe was hy nog ’n twaalfjarige seun, en hierdie keer gaan dit langs die ooskus van Afrika.
Net voordat hulle aan boord gaan, doen Japie ’n vindingryke ding wat sy kontantgeld met R20 vermeerder: hy ruil sy eerste-klaskaartjie om vir ’n tweedeklas!
Teen die aand van 18 Mei 1900 verlaat die Bundesrath die hawe van Delagoabaai. Daardie nag en die volgende dag op die oop see is dit nogal stormagtig. Veral die ouer manne uit die Karoo kry swaar. Dit word ’n baie lang seereis, want by feitlik al die hawens van Oos-Afrika word daar lank vertoef — soms dae lank op een plek. Einde Mei is die skip by die eiland Zanzibar. Dan 4 Junie in Mombassa. Japie het baie tyd om iets van die gees van hierdie ontsaglike kontinent waar te neem. In hulle massas krioel dit, sonder om eens te weet dat in die suide van hierdie selfde Afrika ’n bitter stryd deur die Boer tot die dood toe gevoer word. lets word in Japie du Toit wakker wat hom nooit weer sou loslaat nie. Daar om skryf hy later:
Land waar in skaarse ongewoonheid nog Edens bloei in eew’ge skoonheid, die boom nog groei in wonderblad, en wonderwater rust’loos spat.
Land waar Sahara’s golf oneindig, die karavaan, van dors ellendig, sirokko’s hoor wat stoot by stoot verskriklik brul van doem en dood.
Land waar die steppe in tril-verwatmin die wêreld gryp in wye omarming; die oog, sy vaste ruspunt kwyt, wegwiegel in oneindigheid.
Land waar die vriendelik-gesinde en swaargelaaide oostewinde met moeite teen die hange uitdra die reen van halwe Afrika.
Land waar die uitgedorde Weste ontvang die armelike reste: die Oosland word ’n wilde t
in, die Wesland dorheid en . . . ’n duin.
Land waar die son skroei in sy klaarte, die spooksel rondwaar van die maerte, waar hoop die hart nie meer kan beur, en wanhoop die verwagting skeur.
Land waar ek hoor gegons van vlerke by kleingediert se onheilswerke: sprinkaan-, insekte- en vlieëmag, die leërs van die kieme-nag.
Land . . . kusrotse is die strenge wagte waaragter woel die onheilsmagte.
Die maar meld uit jou ou-ou tyd net skrik en onherbergsaamheid.
Op 1o Junie is die Bundesrath in Aden : "Hier sien ek nou 'n stukkie wêrreldweë . . . dis Aden, dis die droefverlate plek.”
En dan 17 Junie Suez, 26 Junie Marseilles, 1 Julie Lissabon.
Baie vroeg die oggend van 6 Julie stoom die Bundesrath die hawe van Vlissingen, Nederland, binne. Japie du Toit is in Europa.
Hy haal die eerste trein na Amsterdam, ’n heerlike somersdag. Pragtig lê die Hollandse velde en boerderye asof dit soos borduurwerk uitgesprei is oor ’n tafel. Die jong man uit Afrika voel gespanne en tog wonderlik tevrede. Hy blaai deur sy adresboekie: "J. A. Wormser, Boekhandelaar, De Spinozastraat, Amsterdam”. Dit is die eerste plek waar hy gaan aanklop. Op die kaart van Boersma het hy reeds lankal die plek aangedui. En hy weet presies hoe hy van die "Centraalstation” af moet stap.
Amsterdam. In hierdie "werkswinkel” van God gaan J. D. du Toit drie jaar lank buitengewoon gevorm word vir sy taak in Suid- Afrika.
Vervolg...