Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense verskil van mekaar en die Here loop met elkeen 'n unieke pad; ons moet dit leer verstaan en ophou om bemoeisiek te wees. Petrus het hom bemoei met wat Jesus se plan vir Johannes is, maar Jesus het Petrus geantwoord dat dit niks met hom te doen het nie, dat Petrus vir sy eie lewe moet sorg en Hom moet volg. Ons oordeel mekaar so vinnig – klim uit hierdie strik uit en sorg dat jou eie lewe met God daarin in orde is.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (8)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Student in ballingskap
Op die kop twaalfuur, wanneer die son darem die verste hoeke van die gragte bereik, op 6 Julie 1900, staan J. D. du Toit met sy klein handkoffer voor die woing van J A Wormser in Spinozastraat. Mev. Wormser nooi hom vriendelik in asof sy hom op daardie oomblik verwag het. Die ontvangs was allerhartlik en "mijnheer Du Toit" moet sekerlik die middagmaal saam met haar en haar man geniet.
Wormser, wat van daardie dag af ’n lewenslange vriend van Totius sou bly, bring hom die middag na ds. W. H. Gispen, die bekende man van die kerkvereniging in 1892, toe die kerke van die Doleansie onder leiding van A. Kuyper en die kerke van die Afskeiding in 1834, sou saamsmelt. Gispen was ’n man so na die hart van Japie du Toit, en hy het hom baie aan prof. Cachet laat dink.
Die ontmoeting met ds. Gispen is ’n uitstekende voorbereiding om Du Toit se idealisme oor studie aan die Vrije Universiteit te temper. Hier aan "de Vrije” heers so ’n geweldige streng houding oor die vereistes van toelating dat dit menige (selfs geniale) student tot totale moedeloosheid dryf. Dit is dan ook vir Japie reeds op daardie eerste middag in Amsterdam ’n groot terugslag om agter te kom dat hy "strict genomen”, voordat hy verder in die Teologie kan studeer, eers die "propaedeuse”-eksamen van die V.U. (Vrije Universiteit) sal moet aflê, d.w.s. die eksamen wat hy alreeds in 1896 in Burgersdorp voltooi het. Hierdie onrealistiese benadering is dan ook die rede waarom teologiese studente van Kampen (die ander inrigting wat predikante vir die Gereformeerde Kerke oplei) verkies om vir hulle doktorale studies na Duitse en ’n Franse Universiteite te gaan, volgens Gispen.
In dieselfde uitgawe van De Standaard waarin Japie die skokkende berig oor oorlogstoestande in Suid-Afrika lees, lees hy ook met teleurstelling dat dr. A. Kuyper met vakansie vertrek het na die buiteland en dat daar vir ’n geruime tyd geen kontak met hom gemaak kan word nie. Ook die ander professore van die V.U. is nie beskikbaar nie. Ds. Gispen vertel met humor dat die enigste teologiese professore wat tuis sal wees, die van Kampen sal wees, want hulle het te min geld om vakansie in die buiteland te hou!
Maar eers moet Japie ’n losiesplek kry, naby die V.U. en so goedkoop moontlik. Intussen moet hy op die goeie geloof leef dat die N.Z.A.V. ("Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging”) spoedig aan hom ’n beurs vir studie sal toeken. Die manne in Pretoria het van hulle kant reeds beloof om ’n sterk aanbeveling te doen. En so betrek hy voorlopig ’n kamer in ’n losieshuis in De Clerqstraat.
Intussen is hy vir die res van Juliemaand nie ledig nie. Hy oriënteer en verdiep hom vir die ideaal om aan die Vrije Universiteit vir ’n doktorsgraad in die Teologie te studeer. Waarom dan juis aan hierdie Universiteit? Dit is deur sy verbondenheid aan die Teologiese Skool van Burgersdorp en die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, omdat beide inrigtings enig in hulle soort in Nederland en Suid-Afrika aan die begin van die 20Ste eeu is, naamlik dat hulle met die Bybel as grondslag die wetenskap beoefen.
Die oprigters van die Teologiese Skool van Burgersdorp (met sy literariese departement) verklaar reeds in 1869: "Wij begonnen en groeven het fondament in het hoop, dat eenmaal op dat fondament een tempel der wetenschap verrijzen zou, waarvan de hoeksteen zou sijn: Gods heilig Woord.”
By die oprigting van die V.U. in 1880 vind ons dieselfde grondslag, al is dit in ander woorde, volgens artikel 2 van sy statute.
Japie du Toit was reeds in sy jeug besiel met die gedagte van die Christelike onderwys en die Christeiike wetenskap. Al was dit in die oog van ander universiteite in Nederland en Suid-Afrika die grootste dwaasheid, sou Du Toit by die handhawing van die Christelike onderwys staan of val. Dit is ’n liefde wat in sy siel vlam, sê ’n sekere dominee wat hom goed geken het. En hierdie vlam sou hom in die drie jaar aan die V.U. byna verteer.
Na die somervakansie in Julie 1900 kom die professore van die V.U. "langsaam” terug. Ook die studente daag op. Die plek begin lewe, en Japie begin al hoe meer tuis voel, alhoewel hy bekommerd is oor die beurs en oor sy toelating vir die doktorstudie.
En toe kom sy ontmoeting met die beroemde dr. Abraham Kuyper. Dat Kuyper, die "geweldige”, hom na sy huis in die Prins Hendrikkade nooi vir ete, is vir hom iets groots, maar ook spanningvol. Een van die Kuyper-dogters nooi hom vriendelik binne en maak verskoning dat die huis ietwat deurmekaar is, aangesien hulle op die punt staan om te trek na ’n huis in die Keizersgracht. So sit Japie du Toit nou werklikwaar in die huis van daardie dinamiese kerkleier en politikus wat reeds wêreldbekendheid verwerf het. Veral in Suid-Afrika, en met name, in die Gereformeerde Kerk, is daar die grootste bewondering vir hom. Die spanning bereik ’n hoogtepunt toe Kuyper instap en in een asem ’n salvo van vrae op die jong man uit Afrika afstuur —
"0, is dit nou meneer Du Toit? Is dit so dat jy in botsing gekom het met jou vader? Hoe kan jou vader tog so ’n eienaardige politieke standpunt he? "
Japie staan in verdwasing. Maar hy is tog nie oorbluf nie. Kalm en ferm antwoord hy die groot man van Nederland:
"Ja, maar as u my verduideliking hoor, sal u sien dat dit nie heeltemal korrek is om dit so te stel nie."
En toe besef Kuyper dat daar meer in hierdie jong man steek as wat hy vermoed het. Hy hou dadelik van hom. In ’n ontspanne geselskap waarin ernstig oor die stryd van die Boererepublieke en die toestand van die kerk gepraat is, het Japie toe naderhand selfs "een zigaartje” saam met die groot Kuyper gerook!
So word Amsterdam vir Japie du Toit ’n plek van besondere ontmoetings. Uitnodigings van die knapste geleerdes, veral in die teoiogie, volg: uiters waardevolle gesprekke word gevoer. Hy word geslyp en gevorm deur manne wat op die voorpunt van die kerklike lewe in Nederland staan: Hoedemaker, die uiters bekwame teoloog van die Hervormde Kerk, eers Kuyper se kollega maar later sy teenstander, Rutgers, die groot kerkregtelike en een van die grootste Calvynkenners, Fabius, die koersvaste leier, Woltjer, die idassikus van faam, en later ook nog die uiters bekwame dogmatikus, Herman Bavinck; ook Kuyper se seun H. H. Kuyper en die professore Geesink en Biesterveld. En dan ook nog die Roomse teoloog J. V. de Groot van die Gemeente-Universiteit van Amsterdam wat die grootste kenner van Thomas se Wysbegeerte is.
So word die akademiese lewe in Amsterdam vir Japie du Toit ’n fees. Onberekenbaar groot is die betekenis van hierdie vorming.
Maar die pad is glad nie maklik nie. Prof. Woltjer, die rektor, dring onverbiddelik daarop aan dat J. D. du Toit eers ’n "soort van propaedeuse”, ’n voorbereidende eksamen, moet aflê alvorens hy toegelaat kan word om verder teologie te studeer. Dit het Japie summier geweier! "Ek het reeds my teologiese studies vir predikant op Burgersdorp voltooi en daarna was ek nege maande lank slagoffer van ’n wrede oorlog . Wil u werklik dan niks van my studies erken nie?”
Gelukkig is die senaat van die Universiteit meer toegeeflik. A. Kuyper pleit ook vir hom, en op grond van sy eksamens in Burgersdorp "wordt besloten hem op grond van dit stuk (d.w.s. sy diploma van Burgersdorp) vrijstelling van admissie - en propaedeutisch examen te verleenen.” Hieroor is Woltjer nukkerig maar nou is die pad vir Japie du Toit oop.
Nogtans is die vereistes byna bomenslik. Hy moet weer eens die hele Kandidaatseksamen in teologie doen! Vir die tweede keer dus die volle teologiese opleiding wat vir ’n predikant in die Gereformeerde Kerke nodig is, en hier in Amsterdam is dit aan die "Vrije” geen grap nie.
Intussen neem Japie se losies- en geldprobleme ’n baie goeie wending. Die versorging van honderde vlugtelinge vanuit Suid-Afrika, veral Kaapse rebelle, word ter hand geneem deur die onvergeetlike, altyd ywerige "Christelijk Nationaal Boered Comite”. Die sakeman W. Hovy met sy gloeiende ywer vir die Christelike Onderwys en kerk, stel ’n groot vierverdiepinghuis in Nieuwe Heerengracht 143 beskikbaar, en daar vind Japie die wonderlikste versorging.
Tot sy vreugde kom ook twee ou Burgersdorpse studentemaats, Koos Pretorius en Ferrie Postma, in Amsterdam tereg. Vir Ferrie het Japie nog laas in 1899 aan die Natalse front gesien. Hier in die vreemde word nie alleen ’n halwe eeu van vriendskap nie, maar ook iets van ’n "soldate-kameraadskap” in die stryd vir die Christelike onderwys in Suid-Afrika gesmee. Met toereikende beurse van die N.Z.A.V. is daar geen geldelike kwelling nie.
Die studie vir die Kandidaatseksamen in teologie hou Japie byna ’n jaar lank besig. Die omvang is eenvoudig verstommend! Onder andere werk hy ’n "stapel” diktate van prof. G. H. J. W. J. Geesink oor Etiek deur. Ook al Kuyper se Dogmatiekdiktate - boek na boek. Kuyper se hele Encyclopedic (drie dele) word ook opgesom! Honderde Hebreeuse en Griekse tekste word uit die hoof geleer! Die hele Nuwe Testament word vers vir vers bestudeer!
En toe meld student Du Toit hom by Kuyper aan. Dit was pas voordat hierdie groot geleerde eerste minister van Nederland sou word. Die tentament (voorlopige ondersoek of vooreksamen) word agter in die tuin afgeneem. Teks na teks uit die Bybel word gekontroleer en geen bewysgrond word ontsien nie. Skugter vra Japie of dit darem nie te veel gevra is om al die Bybeltekste in die oorspronklike tale te siteer nie?
"Natuurlik is dit nodig! Ek moes dit ook in my dae doen. My leermeester Scholten het elke Hebreeuse teks en elke Griekse teks wat nodig was vereis. En dan moet jy dit paraat ken! ”
Daama volg die eksamen in Kuyper se buitengewoon groot studeerkamer. Du Toit sit aan die anderkant van die ontsaglike groot studeertafel en ’n kwartier lank word hy ondervra oor die "wese van ’n engel”. Dit was die laaste Dogmatiekeksamen wat Kuyper ooit van ’n student afgeneem het, want baie gou daarna het hy eerste minister van Nederland geword. Dit was Kuyper, die "geweldige”, self een van die grootste studente onder die grotes, wat in die voorbeeld van harde werk haas onoortrefbaar was.
En die uitslag van Japie se Kandidaatseksamen op 21 Junie 1901 ? Met lof! Die eerste Afrikaanse student wat dit aan die U.V. bereik het!
Vervolg...