Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is vreemd dat mense lank wil leef, maar niemand wil oud word nie.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (17)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Bybellande en Europa
Meimaand 1937. Dit is presies 37 jaar na die vorige keer dat Totius weer op ’n Duitse boot noordwaarts langs die ooskus van Afrika vaar. Toe - Meimaand 1900 - was hy die eensame, vlugtende Kaapse rebel, ’n slagoffer van die bloedige stryd van die Boere- republieke teen Groot Brittanje.
En nou laat die gedagte van die Boer se roeping in Afrika hom steeds nie los nie. In die leeskamer van die Adolph Woermann tuur hy oor die onbekende kus van die donker kontinent.
Hy draai weer om en kyk na die groot muurkaart van Afrika. Totius se profetiese digtersiel ontwaak:Oop lê voor my die kaart van Afrika.
Ek sien daarop die lyne en figure,
voorstellingsbeeld van nie-bestaande mure,
waar elke land sy eie kleurmerk dra.
Die kaart lyk soos ’n bonte mosa'iek,
en rondom kartels waar die seenat kabbel...
So het die nasies hier gegryp, gegrabbel,
die land gelaat en kommerkwale siek!
Hul gryp die skat (dit lê mos onbewaak!) van Afrika,
nou ’n groot ruïnetempel. . .
Alleen die Boer, met eie styl en stempel,
het hier gewrog ... maar hy is doodgemaak.
’n Aantal gedigte wys die roete van Totius en sy twee metgeselle - mev. Du Toit en die niggie Rikie Postma: "Vertrek van Lourenco Marques”, "Langs die kus”, "Dar es Salaam”, "Die kaai van Mombassa”, "Aden”, "In die Rooi See”.
Na ’n kort besoek aan Egipte en sy argeologiese skatte (ook hier vertel die gedigte die roete), is die koers na Jerusalem - die vervulling van ’n groot ideaal.
Dit word so ’n intense belewing dat Totius ’n boek daaroor skryf: Bybelland deurreis. Hy publiseer dit saam met die reisbeskrywing van sy vader die vorige eeu. Aangrypend is die gewaarwordinge - so tipies Totius - as hy Jerusalem die eerste keer sien: "Stadig en met kronkelinge klim die trein Judea se bergland uit, totdat stuk-stuk in gesig kom die stad van alle stede . . . Jerusalem. Dit was toe ongeveer 9-uur in die more. Vanweë die worsteling van die voorafgaande nag moes ek my reisgenote uit ’n vakerige toestand wakker roep. Dadelik sê een van hulle: Hoe skuldig voel ek: noudat die lank gekoesterde begeerte van my hart in vervulling gaan, was my ooglede so beswaard dat ek die oomblik nie wakende kon inwag nie! Die gewaarwordinge ... Hieroor kan ’n mens net stamel met woorde so kort en onsamehangend soos die van ’n pas gespeende kind, ’n Onbekende stad, nog nooit gesien nie, net die verlange in die hart... of dit ooit sal gebeur! En daar is dit nou. Die berge dra nog die boodskap, en die dale sê: Hier was dit. Hier het die heilige hemelse vuur gebrand en het God direk deur sy wonders gespreek, wonders van verlossing wat in Christus hulle hoogte en seël bereik het. Van hier het die stem van behoudenis in die hele wêreld uitgegaan. En nou sien ek die piek! ’n Onbekende stad en tog ’n ou bekende... Die ou letters herleef met ’n nuwe tintespel in my gemoed. ’n Ou bekende .. . en die gevoel van ’n verlore seun wat teruggekeer het. Daar is die vaderhuis en die moederstad ...”
Op 19 Junie 1937 skryf Totius vanuit Jerusalem ’n brief aan sy moeder in die Boshofdistrik: "Ek dink so baie aan Pa se beskrywings en praat dikwels daarvan noudat ons dieselfde plekke besoek.” En dan vertel hy van die reis na Samaria, Galilea, Damaskus, Baalbek, Beiroet, Sidon, Tims, Haifa en Nasaret. Ook Bethlehem en die Dooie See. In sy Bybellande deurreis kan ons vandag sy voetspore volg.
Totius gebruik presies ’n maand om Egipte en Palestina te besoek, "...want die Duitse bote loop elke maand langs die ooskus van Afrika, daarom moet ons ’n volle maand vertoef om die volgende boot te haal. Finansieël kom dit dan verbasend goedkoper uit om na Duitsland deur te reis ...” En so vaar hulle vroeg in Julie op die Ubena van Port Said na Algiers. Hier langs die Noordkus van Afrika neem Totius se gedagtes weer groot vlugte tot ver terug in die kerkgeskiedenis, en hy peins veral oor Augustinus, daardie uitstaande kerkvader wat juis vanuit Noord-Afrika so baie vir die voortgang van die Evangelie beteken het.
By die hawestad Genua verlaat mej. Postma die geselskap om verder interessante plekke in Italië, Switserland en Oostenryk te besoek. Dan volg Marseilles, Lissabon, Southampton en Rotterdam op die roete.
In Rotterdam word twee dae vertoef en daar wag ’n groot verrassing. ’n Oudstudent van Totius, naamlik Danie van der Merwe (later prof. D. C. S. van der Merwe van Potchefstroom) wat in Amsterdam verder studeer, bring ’n besoek saam met ’n sekere mnr. De Vries, voorsitter van die Gereformeerde Studentekonferensie wat daardie jaar in Lunteren vergader. "Met student Van der Merwe, wat nou in die filosofie studeer aan die Vrye Universiteit, kon ons toe allerhande sake bespreek.” ’n Hele dag is Totius saam met hierdie twee studente. Totius ontspan so heerlik dat hy selfs sy vrou ’n poets bak. Wetende dat sy baie maklik seesiek word, maak hy haar wys dat die skip alreeds besig is om te vaar. Terwyl die Ubena nog doodstil vasgemeer is, voel mev. Du Toit dan baie gou nie meer "lekker” nie.
Die 30ste Julie kom hulle in Hamburg aan. Rikie Postma is weer in die geselskap. Die Duitsland van 1937 met die Hitler-bewind op ’n hoogtepunt is natuurlik ’n interessante belewing. In Berlyn word hulle besonder gasvry onthaal deur dr. en mev. Herman Stoker van die Suid-Afrikaanse ambassade.
En dan Wittenberg - die plek van die groot Kerkhervormer Maarten Luther. Van alle plekke in Duitsland is dit die een plek wat Totius gelok het. Daar gaan hy ’n hele Sondag lees aan die oorkondes wat op Luther se Bybelvertaling betrekking het. "Daar, in die merkwaardige omgewing, kon ek dit des te beter aanvoel hoe Luther saam met sy medegeleerdes geswoeg het,” skryf hy.
In De Standaard van 4 September 1937, word met groot opskrifte die volgende aangekondig:
DE THEOLOOG-DICHTER DU TOIT IN ONS LAND TOTIUS' LEVENSWERK
ZlJN AANDEEL AAN DE Z. AFRIK. BlJBELVERTALING EN PSALMBERIJMENG EEN KROON OP EEN DER BELANGRIJKSTE PERIODES VAN DEN ONTWIKKELINGS GANG VAN HET AFRIKAANSCHE VOLK.
Vier en dertig jaar tevore het die profetiese woord van ds. J. C. Sikkel in die Nederlandse pers verskyn. Dit was op 9 Mei 1903 nadat die jong doktor Du Toit pas gepromoveer het: "Indien wij voor de krachtige ontwikkeling van het waarachtige beginsel nog een toekomst zullen hebben in Kerk en Wetenschap, in Staatkunde en volksleven, ten spijt van alles wat aandringt op verkoopen aan onverstand, eigenwilligheid, practisch belang en ongeloof — en indien die ontwikkeling ook het deel zal zijn van de Hollandsche nationaliteit in Zuid-Afrika, - dan zal naar onze verwachting Dr. Du Toit een der mannen zijn in en door wien de banden der gemeenschap werken.”
Die man wat in Julie 1900 as ’n vlugtelingballing in Nederland aangekom het, kom nou in 1937 met ’n oorwinningstriomf. Die eensame werk langs die Mooirivier en tussen die soetdorings van Krugerskraal word nou deur ’n juigende kerkvolk in Nederland uitgestal.
Op 9 September kom De Standaard weer eens met ’n groot opskrif: PROF. DR. J. D. DU TOIT GEHULDIG. Dit het op die vorige aand (Woensdag) gebeur.
Wat ’n oorweldigende fees. Die saal van die Amstelhotel in Amsterdam beleef een van sy luisterrykste gebeurtenisse in die geskiedenis. Hoogwaardigheidsbekleërs, hoogleraars en verteenwoordigers van baie prominente Nederlandse instansies bring hulde. Die rektor van die Vrye Universiteit, prof. J. Waterink open die verrigtinge deur te sê: "’t Is niet mijn taak te schetsen welke beteekenis Totius voor zijn Volk, voor den Nederlandsche stam gehad heeft, maar dit staat wel vast, dat in zijn seven dichtbundels de ziel van Zuid-Afrika spreekt, de bewogenheid en soms de hartstocht, die ook ons bewegen: we zien in u den man van de wetenschap, den man van eruditie, den dichter bij de gratie Gods, den theoloog niet minder.”
Die volgende dag is Totius tussen die studente in Lunteren. Dit is ’n uittog uit die stede en dorpe om daar tussen die dennebome in die vrye natuur hulle "Calvinistiesch Studentencongres” te hou. Hulle het Totius spesiaal gaan haal en hy spreek hulle twee volle ure lank toe oor "Die Afrikaanse Psalmberyming". Toe vraetyd kom, was daar net een vraag: om asseblief "door te gaan” en nog te spreek. En toe praat Totius nog ’n uur. Die applous is dawerend en hy stap na die harmonium en speel ’n melodie van een van die Psalms, en die entoesiasme word onkeerbaar en die vergadering begin spontaan saam te sing, al was dit ’n "lied sonder woorde”.
In Amsterdam was die Du Toits vanselfsprekend tuis by hulle ou vriend, prof. Van Gelderen. Vir hierdie geleentheid het die Van Gelderens selfs ’n nuwe mat vir die trap bestel, vertel een van die dogters later. Elke dag, as daar maar ’n kansie is, neem Totius alleen sy koers na die plekke van sy studentelewe aan die begin van die eeu: Helmerstraat, die Leidse plein, Keizersgracht en dan natuurlik "’t Afrikaansch tehuis” in Nieuwe Heerengracht 143 - daardie toevlugsoord in die Tweede Vryheidsoorlog waar hy en Ferdinand Postma saam studeer het. Selfs in die aande verkies hy om alleen langs die ou gragte onder die dowwe lampligte te stap. "Meestal was die herinneringe van droefgeestige aard, want hulle het gewortel in die jare toe Transvaal en Vrystaat hulle ongelyke worsteling met Groot Brittanje aangebind het, en in die tyd toe alles in die verwoeste vaderland om herstel geroep het. Daar is gestudeer, maar die studie moes dikwels dien as ’n verdoofmiddel om die pyne te lenig van 'n kranke gemoed. Van agter gesien, het die Here ons hoop, wat nooit uitgeblus is nie, in geen opsig beskaam gemaak nie,” skryf hy later.
Herinneringe aan ou studentevriende wat nie meer daar is nie, is ook somber, bv Totius se onvergeetlike studievriend, wyle dr. J. C. Rullman. Totius skryf: "Gedurende my driejarige verblyf in Amsterdam het dr. Rullmann en ek amper elke dag, die vakansies uitgesonderd, deur die strate van die stad gewandel, terwyl ons druk besig was om oor allerlei onderwerpe te spreek en ook te debateer.” En dan dink hy ook terug aan die ander studentevriend, dr. B. J. Esser - die man wat die naam "Totius” aan hom gegee het!
OP 1 Oktober 1937 vaar die du Tois êrens op die Atlantiese oseaan in die Windhuk terug na Suid-Afrika. Net pas terug in Potchefstroom, ontvang Totius ’n merkwaardige brief: die Universiteit van Amsterdam (nie die Vrye nie, maar die Gemeentelike) stel hom op 25 Oktober in kennis dat op 15 November daar ’n eredoktorsgraad in die Lettere aan hom toegeken gaan word as deel van die Vondelherdenking! Wat ’n wonderlike toegif vanuit Nederland. En dat dit juis kom van die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam, dui op ’n buitengewone erkentlikheid en belangstelling vir Suid-Afrika en die Afrikaanse taal. Maar Totius se verleentheid is tog baie groot: dit kom op 'n tydstip wat dit vir hom onmoontlik maak om die eretoekenning persoonlik te ontvang.
Op die middag van Maandag 15 November 1937 wandel ’n eensame Totius langs Tomstraat in die rigting van Potchefstroom se dam. Niemand, selfs nie eens sy kollegas nie, behalwe sy seun Fanus, besef dat daar op dieselfde oomblik ’n uiters belangrike vergadering in die aula van die Universiteit van Amsterdam plaasvind. In die aandkoerant van Amsterdam verskyn die volgende berig: "Vanmiddag om vier uur hebben de promoties in een buitengewone openbare sitting van den senaat in de aula der Universiteit plaats gehad. Alle promovendi waren aanwezig, behalwe Prof. Dr. J. D. du Toit...”
Die geleentheid was die viering van die 350e herdenking van die geboortedag van Jost van den Vondel waartydens die Amsterdamse Universiteit sewe eredoktorsgrade in die lettere en wysbegeerte toegeken het. Naas Totius was die ander ses: Georges Duhamel van Frankryk, prof. Th. Frings van Duitsland, Sir Herbert Grierson van Skotland, C. R. de Klerk van Amsterdam, prof. B. H. Molkenboer van Nijmegen en prof. dr. August Vermeylen van België.
Aangrypend is die rede wat prof. dr. N. A. Donkersloot onder doodse stilte aan Totius in sy afwesigheid rig. Onder andere hoor ons later die volgende: "De ontzaglijke taak der Afrikaansche Bijbelvertaling is voor een groot deel ook door uw stuwkracht en mede-arbeid en -studie in 1933 gereedgekomen. De kroon op dat werk is thans uw Psalmberijming. Uw gedichten hebben in de langen tijd bedreigde taal van uwe volk de diepste tradities van dat volk bevestigd en bevorderd: zijn geloof, zijn vrijheidzin, zijn groote vriendschap met de natuur. Uw dichterschap is nationaal in den innerlijksten zin van het woord. Nationaal ook waar de diepste wortel ervan het geloof is ..."
In ’n gespanne, plegtige oomblik word die graad van doktor in die Lettere en Wysbegeerte aan Jakob Daniel du Toit in sy afwesigheid toegeken en sy eksellensie dr. H. D. van Broekhuizen, Suid- Afrika se gesant, word na vore geroep om die dokument namens Totius te ontvang.
Die laat somerson brand nog skerp teen die hoëveldse wolke in die ooste. Mooirivier se stroom kronkel rustig om die wilgerboomstamme . . . en Totius draai om huiswaarts. "Dit is seker nou verby,” sê hy sag vir homself. "Tog jammer dat ek nie daar kon gewees het nie.” Hy dink weer aan die sprokie dat wanneer die druiwetros elke jaar begin swel, dan roer die wyn in die vat in die kelder ook... so is dit met Nederland en die Af rikaanse volk:
Hoe vêr die gole ons al omspoel
die diepe hart sal altyd voel
ons is verborgen-een...
Skemering: vervolg...