Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is besorg oor die dinge in jou hart want ʼn beter wêreld, land, gemeenskap en gesin begin op geen ander plek as in jou hart nie. As ons met rein harte begin bid, sal ons verbaas staan oor wat God met Suid-Afrika gaan doen.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (SLOT)
Toe die oorlogsjare in 1945 verby is, is dit kompleet of die skemering duidelik oor Totius begin daal. Die laaste bundel gedigte heet dan ook Skemering. Die afloop na die lewenseinde word ’n werklike belewing en soms word dit seifs ’n intense verlange en heimwee na "die blyer dag”:
Sal die dag dan nimmer daag nie
dat geen wurm in my sal knaag nie?
Maar my leeftyd gaan al om,
en die dag het nie gekom.
Daarom maak ek my gediggies
somaar onder kruis en kwelling ...
’n Bitter swaar "kruis en kwelling” het in hierdie tyd op die kerklike terrein en in die boesem van die Teologiese Skool op Potchefstroom ontwikkel. Dit was oor die beweerde dwalings van prof. dr. C. J. H. de Wet wat uitgeloop het op ’n spesiale sinode op 6 Februarie 1946. Alhoewel dr. Du Toit self nie in die brandpunt van hierdie saak gestaan het nie, het dit hom ’n groot knak gegee. In hoeverre dit ook kort na die sinode ’n gevaarlike hartaandoening verhaas het, is moeilik om te sê. Weke lank moes hy in hulle huis in Tomstraat pal in die bed bly onder die troue versorging van sy medikusseun dr. Japie du Toit. Op 5 April 1946 skryf hy egter al weer ’n "Dankbetuiging” in Die Kerkblad. Hy spreek die hoop uit dat "die goeie wense, soms baie intieme woorde, in vervulling sal gaan en dat die Here, ons Heelmeester, wat dit met ons so goed gemaak het, die volle genesing sal skenk.”
Kerk en volk was weer innig dankbaar: Totius se lewe is gespaar. Maar almal het ook besef dat die vlammetjie nou flouer brand, want ook die 70-jarige baken is al in sig - en dit vir iemand wat sy hele lewe lank nooit ’n sterk gestel gehad het nie. Openbare optredes het nou drasties verminder. Ook die mense op Potchefstroom sien hom nie meer so baie nie en gou is die Du Toit-gesin maar weer terug op Krugerskraal. Meer as ooit tevore wil hy maar net alleen wees - alleen met die hersiening van die Afrikaanse Bybelvertaling en die stilte van die doringveld:
Net soos ’n skaap wat siek is, dwaal en uit die kudde,
stil aan’t wei, verlate alleen wil agterbly –
so dwaal ek weg en wil my gees
in eensaamheid gekoester wees.
Die klasse aan die Teologiese Skool (hoewel nou minder) en die gereelde persartikels gaan egter rustig voort.
Op 21 Febmarie 1947 is daar weer ’n grootse volkshuldiging— hierdie keer is dit vir Totius ’n verrassing op Krugerskraal. Reeds vroeg die more het mense van heinde en verre opgedaag: sy studente, sy kollegas, familie en vriende en dan ook nog baie verteenwoordigers van ’n groot aantal kerklike en kulturele organisasies asook van die Teologiese Skool en die Potchefstroomse Universiteitskollege. Dit was ’n uitsonderlike atmosfeer en stemming waar die menigte onder die rustige doringbome en by die eenvoudige huis van Krugerskraal hulle hulde kom betoon. Professor C. M. van den Heever vertel later hoe ’n groot indruk dit op hom gemaak het: "Klein en beskeie, met ’n minsame glimlag op sy gesig, het hy die hand geskud van elke afgevaardigde wat die hulde en eerbewys van sy kerk of vereniging oorgebring het. Vir die toeskouer was dit ’n opmerklike gesig, want dit gebeur maar selde dat ’n digter op sy oudag soveel opregte verering ontvang van die volk as geheel.”
Ook die pers en tydskrifte bly nie agterweë om buitengewone eer- bewyse te bring nie. Verskeie blaaie soos o.a. Die Huisgenoot en Die Kerkblad laat op 21 Februarie gedenkuitgawes oor Totius verskyn. In hulle huldeblyk verklaar die redaksie van Die Huisgenoot : "Totius is meermale nates, genoem - ons glo die eerste keer deur wyle prof. Kamp. Met hierdie woorde het die ou Romeine ’n profeet, siener of digter aangedui. En die benaming votes met sy drie verskillende betekenisse lyk vir ons vandag nog die geskikste woord om Totius te tipeer, veral met die oog op die hoe roeping wat hy en sy werk in ons nasionale lewe vervul."
Met die aandskemering wat reeds oor sy lewe toegesak het, het sy laaste digbundel, Skemering, teen die einde van 1947 voltooiing genader. Maar intussen het Totius ook in daardie selfde jaar in Duits begin praat, deur die vertaling van ’n aantal van sy gedigte deur dr. Helmut Erbe. "Ek kon my oë amper nie glo nie,” skryf hy in ’n brief van 23 November 1947 aan dr. Raum. "Dit is dan ook die eerste Duitse vertaling van my verse. Ek het dit nie kon dink dat Totius sulke Duits kon praat nie. Dat nie alleen die sin nie, maar ook die atmosfeer van die gedigte so gevoelvol en met teerheid weergegee is, stem my tot dankbaarheid jeens Dr. Erbe.” Met die oorpeinsing van die naderende dood en die besef dat die wêreld nie ons woning is nie, het ’n ou gedig in die nuwe Duitse weergawe besondere betekenis gekry:
Die Welt ist unsre Heimat nicht:
Das zeigt der Sonne Abschieds-Schein.
Ich merk es an dem Reiher,
der Im Binsen-VIei, auf einem Bein
Missmutig nach der Sonne blinzt.
Und sind die letzten Strahlen fort,
Steigt eine Kalte aus dem Ried;
Ein kalter Schauder mich durchzieht.
Ich seh es dann an jedem Ding,
Das mich umgibt im Dammer-Ring:
Die Welt ist unsre Heimat nicht!
’n Jaar ná die huldiging, met Totius se 70ste verjaardag op Krugerskraal, sou die Afrikaners van die Witwatersrand nog ’n keer in 'n massa saamkom om horn te vereer. Dit was op 13 Februarie in die stadsaal van Johannesburg toe die Reddingsdaadbond ’n "Totius- aand” gehou het. Iets van die ou dinamiese krag het weer uitgestraal toe hy in ’n lang besielende toespraak die groot skare se aandag geboei het en onder andere gesê het: "Die goud van die liefde wil blink in die sonskyn van die daad. Nie meer praat nie, alleen die daad; die warme sielvolle en besielende daad kan ons help! ”
Ná hierdie laaste groot openbare volksbyeenkoms (toe was hy 71 jaar), het Totius se aktiwiteite nog verder verminder. Februarie 1949 neem hy vir die laaste keer afskeid van die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en aan die einde van daardie jaar tree hy af as professor van die Teologiese Skool en die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys. In 1949 gaan hy egter nog voort om op een dag van die week enkele klasse te gee, maar dan stap hy ook op ’n sekere dag vir die laaste keer uit die klaskamer. Interessant genoeg: Totius se laaste lesing het gehandel oor die Heidelbergse Kategismus.
Die skryfwerk in tydskrifte gaan egter nog voort, maar die grootste taak bly steeds die hersiening van die Afrikaanse Bybel - sy eintlike lewenstaak!
Teen die begin van 1951 het Totius met sy gesin vir die laaste keer verhuis - en dit na die Vrystaat! Maar dit was nie ver van Potchefstroom af nie. Op die plaas Elandslaagte het hulle in ’n aparte huis op die wal van die Vaalrivier by hulle seun Dirk du Toit en sy gesin gaan woon. Dirk du Toit skryf: "Hy het sy wandelinge langs die Vaal geweldig geniet en steeds weer mooi plekkies ontdek aan die ± 2 myllange rivierfort. Eienaardig genoeg was die belangstelling vir die hengelsport nie meer aanwesig nie. Hier het hy aan die hersiene vertaling gewerk maar, alhoewel hy na die eerste hartaanval weer liggaamlik baie fiks was, het hy tog baie gekla oor dofheid van sy brein.”
En tog, die enkele kere wat Totius nog weer op ’n preekstoel of by ’n openbare geleentheid ’n toespraak moes hou, was dit met oortuiging en geesdrif.
Vanaf 14 tot 17 Maart 1951 vind die fees van die selfstandigwording van die Potchefstroomse Universiteit plaas. Dr. J. D. du Toit word die eerste kanselier van hierdie Universiteit en die studente versoek hom om spesiaal ’n lied te dig vir die geleentheid. Dit is die "In u lig”-lied wat deur prof. M. C. Roode getoonset is.
Op 30 Januarie 1952 hou hy sy laaste groot toespraak in die stadsaal van Potchefstroom tydens die Van Riebeeckfees oor die onderwerp "Transformasie soos deur vuur”, ’n rede waarin die geestelike skat wat met ons volksplanting gekom het, uiteengesit word. Saam met die Gereformeerde Belydenisskrifte, juig Totius veral oor die Psalms as kerkliedere – en wie het die Psalms beter geken as juis hy wat hulle woord vir woord berym het?
"Hier is die verlossing uit ons spanning: Wie Psalmsing gryp na die hoogste, want God is sy sangersdoel. Psalmsing is die hemelvaart van die siel, dit is die hand wat uitgesteek word na die verborge skat van God's kinders, dit is godsdiens, lewe in hoogste spanning, dit is die brug van die oneindigheid, dit is die durfdaad van die geloof, die arm wat uitgestrek bly bo die stormwaters van die lewe. Maar hierin kulmineer alles: Psalmsing is die aansteek van die wierook waarin ons teegeur die lieflike reuk van die more van die ewigheid.”
Op 2 Februarie 1952 onthul Totius die gedenksteen van die nuwe Teologiese Skoolgebou op Potchefstroom. Die woorde uit Jes. 40:8 het hy self gekies: "Die Woord van ons God hou stand tot in ewigheid”.
Op Saterdag, 16 Augustus 1952, hou hy waarskynlik sy laaste preek. Die teks is Eseg. 48: 35 : "En die naam van die stad sal wees van vandag af: Die Here is daar.” Die geleentheid was die ingebruikneming van die nuwe kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Noord. Vir die honderde studente is dit een van die wonderlikste belewenisse om te hoor hoe Totius self Psalm 42 in die kerk voorlees!
Op Saterdag, 25 Augustus 1952, is die groot Yssel-familiefees op die plaas Elandskuil, naby Ventersdorp. Wat ’n wonderlike beskikking dat Totius die rede by die onthulling van ’n monument moet hou - op die plek waar hy 53 jaar tevore as ’n gehawende, moedelose Boerekryger aangekom het en die Yssels horn toe soos ’n kind in hulle huise ingeneem het!
1953 is Totius se sterfjaar. Sy eie mense sou egter nog ’n laaste hulde aan hom bewys: die eerste eredoktersgraad deur die Potchefstroomse Universiteit, doktor in die teologie, Honoris Causa, op Saterdag 21 Maart 1953.
Binne enkele maande sou die einde kom. Die laaste werkstuk vir C. M. van den Heever se boek My jeugland is Aprilmaand voltooi. Die finale hersiening van die Afrikaanse Bybelvertaling is middel Juniemaand afgehandel. En toe het hy haastig geword om dit by ds. H. P. M. Steyn van die Bybelgenootskap in die middestad van Johannesburg te gaan aflewer. Sy kleinseun het hom daarheen gebring. Die gewoel van die stad en die gejaagdheid om op tyd by ds. Steyn te kon wees, was vir sy hoe ouderdom ’n groot spanning. En daar, saam met ds. Steyn, het Die Vaderland die laaste foto van Totius geneem - met die Afrikaanse Bybel in sy hand! En toe kom dit : die tweede hartaanval. Inderhaas het hulle hom na die Lady Dudley-verpleeginrigting gebring en na ’n paar dae het sy seun, dr. Japie du Toit, hom na sy huis in Pretoria gebring waar hy persoonlik met nougesette sorg oor sy vader toesig kon hou.
Die weke in Pretoria was tog wonderlike weke en dae. Die naaste familie kon toe nog so baie aan hom hê, en soos altyd was sy dierbare vrou voortdurend die een wat hom versorg.
Belangstelling, selfs in wêreldsake, het steeds toegeneem. Veral oor Rhodesië en oor die ontwikkeling van state in Afrika kon hy rustig vertel van sy vader, ds. S. J. du Toit, se siening. Maar ook die digtersiel het weer ontwaak. Aan Dirk gee hy ’n opdrag om sekere gedigte wat nog in sy lessenaar is aan professor Wikus du Plessis te oorhandig. (Prof. L. J. du Plessis was vir Totius sy lewe lank ’n vertroue raadgewer oor sy gedigte.) Op 29 Junie 1953 skryf hy sy laaste gedig waarin sy lewensleed en persoonlike lyding nou by die naderende dood in herinnering geroep word:
Lei my nie ...
Lei my nie langs stille waters
waar die Vaalrivier in strome
saggies vloei in skemerstond,
waar deur digte en donker borne
nog verlaas hul skynsel blink.
Lei my nie langs daardie walle,
dat ’k nie aan my leed weer dink.
Lei my langs die stille waters
van die ondergrondse Lethe,*
dat ek diep daaruit kan drink,
en my denke en my wete
yd’le poging tot deurgronding
nou die diepe sielsverwonding
in die diepte kan versink.
Maar daar is geen stille waters
van ’n Lethe waar ’k my wete
en my denke kan verdrink.
Dis ’n skone fantasie.
Kwelgedagtes, die kom sluimer
of in stilte en slaap versink,
maar vergeet, dit kan ek nie.
* Die Lethe” waarna Totius hier verwys, is in die Griekse mitologie die benaming vir die stroom van die vergetelheid.
Die volgende dag, 30 Junie, neem hy ’n kort potloodjie en skryf met ’n bewende hand agter in sy Psalmboek: "Daar sal geen doodsvrees wees nie. My Verlosser sal my tegemoetkom en lei na die heerlike geweste van die Drie-enige God, van sy engele en gesaligdes. Laat my dierbares deur God's genade tog die pelgrimspore volg. Ja, ook alle gelowiges. Genade alles genade! ”
Woensdagaand, 1 Julie 1953, het Totius se sandglas leeggeloop. Saterdagmiddag is die begrafnis op Potchefstroom gehou en die diens is gelei deur ds. A. S. E. Yssel, een van die eerste vier predikante wat hulle studies onder Totius voltooi het.
Sober, rustig, eenvoudig . . . So is hy na die graf gedra. Totius se stem is stil. Sy werk is afgehandel. S. J. Pretorius die jonger digter raak die volgende dag daaroor ontroerd:
Aan Totius
Laat nou die oue hande rus
Die nag is daar . . . die lig
’n sluier oor sy aangesig –
gedaan, gedaan hul plig.
Laat nou die oue hande rus
Hul was alreeds te moeg
in Gods- en Skoonheidsdiens geswoeg
oplaas is dit genoeg.
Laat nou die oue hande rus
Soveel het hul geseën —
soveel hul liefdeshulp verleen
nou is hul werktyd heen.
Laat nou die oue hande rus
wat spyts gebrek en pyn
die brood kon breek, die beker wyn,
kon skink vir hul wat kwyn.
Laat nou die oue hande rus
hoe swak was hul gewees —
en tog hog sterk en sonder vrees
as God hul pyn genees.
Laat nou die oue hande rus
hoe ryk, hoe eindeloos hul vreug-
in-smart gelaat as troos vir ons:
sy volk; sy kroos.
EINDE