Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om getrou jou daaglikse werk te doen en verantwoordelikhede na te kom bring gemoedsrus en vrede. Die nalaat van doelgerigte arbeid beroof 'n mens van sy vrede wat van hom 'n beskaafde mens maak.
DE WET (1)
Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier
Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET
Klein Christiaan de Wet se blou oë skitter van opgewondenheid. Hy kyk na oom Hendrik Fouchè wat met die yslike ou voorlaaier in sy hande voor hom staan.
"Gaan Oom my regtig vandag leer skiet?”
”Ja, Krisjan, sodat jy ’n blesbok behoorlik kan doodskiet. Jy hoef hom dan nie eers deur die honde te laat plattrek en daarna te probeer om sy keel af te sny nie!”
Christiaan kyk af grond toe. Hy weet die oom terg hom oor sy avontuurtjie ’n jaar of wat vantevore toe hy ’n bok so laat plattrek het. Dit was nogal op ’n Sondagoggend! Hy het die dier met sy kruisbande vasgebind en huistoe genael om ’n mes in die hande te kry. Die einde van die saak was dat hy ’n yslike skrobbering van sy vader, oom Jacobus de Wet, op die Iyf geloop het.
Oom Hendrik sien die knaap se verleentheid.
"Toe maar, jy’t gewys jy’t murg in jou pype.” Hy stap so ’n entjie van die plaaswerf af weg totdat hy ’n gelyktetjie kry, dan stuur hy Christiaan om ’n bottel op ’n miershoop neer te sit.
’n Paar oomblikke later is Christiaan terug. Die groot ou voorlaaier word versigtig in sy hande gegee.
"Gaan lê nou reg dan wys ek jou,” sê oom Hendrik.
Christiaan gooi sy strooihoed eenkant neer en strek hom uit op sy maag. Hy vroetel sy voete met die velskoene aan teen twee graspolle vas, sodat hy lekker stewig lê en druk die kolf teen sy skouer. Met elrnboë op die grond gestut, probeer hy die geweer vashou, maar dit is te swaar vir selfs sy fris armpies. Die loop swaai en kantel op en af, heen en weer.
"Wag ...” Oom Hendrik gaan dwars voor klein Christiaan op die kweekgras lê. "Laat nou die geweer se loop oor my rug rus, dan vat jy korrel !”
Nou gaan dit beter. Die geweerloop is doodstil oor oom Hendrik se rug, Christiaan hou sy asem op en trek die sneller. Met ’n donderende gebrul gaan die ousanna af en ’n swart rookwolk slaan voor sy gesig op. Die ou roer skop hom dat dit voel of iemand hom met ’n voorhamer teen sy skouer slaan. Oom Hendrik rig hom op. "Dit was amper! Jy’t ’n gat in die miershoop geskiet. Het hy jou hard geskop?”
Christiaan vee oor sy oë, maar hy glimlag. "Dis maar die kruitrook wat so brand, oom Hendrik. Kan ek weer probeer?”
"Natuurlik,” sê hy en dink: dit was ’n harde skop daardie. Die mannetjie is werklik taai, ingee sal hy nie. "Kom, laat ek nou sien of jy self ook kan laai.”
Met die volgende probeerslae gaan dit beter en uiteindelik vlieg die bottel aan skerwe.
"Dis nou beter!” sê oom Hendrik. "Ons beleef vreeslike tye en ’n man van elf jaar oud, soos jy, moet met ’n geweer kan werk. Vandag kan ek met ’n meer geruste gemoed jou moeder en die ander kinders hier agterlaat.”
So ontvang Christiaan Rudolph de Wet, wat later ons land se bekendste krygsman sou word, sy eerste les in die skietkuns. En nou dat hy leer om te skiet, weet hy, is hy ook nie meer ’n kind nie.
Sy blik dwaal na die suidoostelike horison, soek of daar nie rook op die gesigseinder is nie. Net enkele weke gelede het die Basoeto’s nog ’n inval in die Vrystaat gemaak. Hulle voorste miters het tot minder as vyftig kilometer van die plaas hier naby Bloemfontein gekom. Vyftien Blankes is deur hulle gedood en duisende der duisende skape, beeste en perde is deur hulle weggevoer.
Hy wens hy kon saam met sy pa en sy ouboet, Jan, daar op die grens van die jong Republiek van die Oranje-Vrystaat wees waar hulle teen die invallers veg. Toe sy vader, oom Jacobus de Wet wat as veldkornet die burgers van die wyk Bo-Modderrivier moes bymekaarmaak om te gaan veg, weg is, wou hy saam. Omdat hy nog te jonk is en nie kon skiet nie, moes hy egter tuisbly.
As die oorlog langer aanhou, dan sal hy saamgaan wanneer sy vader weer met ’n paar dae verlof huis toe kom. Sy moeder en die ander kinders is veilig hier op Perdekraal vlak by Bloemfontein.
Hulle het dan juis hierheen getrek van Nuwejaarsfontein af, sodat hulle uit die gevaar kan wees. Nuwejaarsfontein lê maar ’n uur of twee te perd van die grens af en op hulle ratse ponies kan die Basoeto’s dit baie onverwags uit hulle vesting op Thaba Bosigo en hulle skuilplekke in die klowe en berge van Basoetoland bereik.
Vandag het oom Hendrik egter bemoedigende nuus gebring. Kmdt.-genl. Fick, saam met 'n kommando Transvalers onder kmdt.-genl. Paul Kruger, het ’n paar goeie oorwinnings behaal en die vyand uit die noordoostelike dele van die Vrystaat teruggedryf die berge in. In die oostelike en suidelike dele van die Vrystaat veeg kmdt. Louw Wepener en sy kommando die wêreld skoon so ver as wat hulle opruk. Die kmdt. Wepener moet darem vir jou ’n man duisend wees. Aan die voorpunt van sy burgers het hy Matasieng, die stat van een van Mosjesj se seuns, bestorm en totaal ingeneem. Hy wens hy kan vir kmdt. Wepener sien en dalk nog met hom praat!
Nou gebeur daar egter iets waarmee Christiaan nie rekening gehou het nie. Mev. Aletta de Wet het ander planne met hierdie seun van haar. Toe Christiaan vir hom kom kry, moet hy skool toe, en as sy fiere, strenge moeder sê ’n ding moet, dan moet dit! Teenspraak, dit weet hy al, sal nie help nie, maar dit gaan soms moeilik om ’n grootmens te verstaan. Sy moeder het hom dan self leer lees en skryf, waarom moet hy nou nog boonop skool toe? Toe hy homself egter kom kry, sit hy saam met ’n klompie ander kinders uit die buurt in die skooltjie van mev. Margaretha Nel op Perdekraal.
Die skoolgaan duur egter nie lank nie — net drie maaande. Die lesse bestaan hoofsaaklik uit lees en skryf en hier word dan ook die ferme handskrif van die later wêreldberoemde generaal gevorm.
Eendag gebeur daar iets in hierdie skooltjie wat die karakter- vastheid van die elfjarige klein Christiaan openbaar.
Daardie besondere oggend moet mev. Nel ter wille van ’n ander verpligting die klompie woelwaters aan hulself oorlaat. Christiaan is ongetwyfeld nie die makste lammetjie onder hulle nie, maar hy is wel ’n mannetjie van sy woord. Mev. Nel het die klas versoek om nie te lawaai terwyl sy weg is nie en hulle het haar so belowe.
Aan een lewendige, opgewekte meisietjie van Christiaan se ouderdom is daar egter geen keer nie. Sy maak soveel pret, dat die klompie hulle nie kan bedwing nie. Na sn kort rukkie is die hele klas in wanorde. Toe mev. Nel die klaskamer binnekom, is alles in rep en roer. Klein Christiaan moet die mannetjie wees wat die rumoer veroorsaak het, dink sy, en gryp hom sonder om die saak behoorlik te ondersoek.
Toe Christiaan hom kom kry, klap die kweperlat op hom.
"Dis nie ek nie, Mevrou!” protesteer hy.
Die kweperlat rus ’n oomblik.
"Nou wie is dit dan?” Nog ’n raps of wat om hom aan te moedig om te vertel wat gebeur het.
"Ek sal nie sê nie, maar ek is dit nie!” sê hy en dit is die enigste antwoord wat mev. Nel uit hom kan kry.
Die drie maande aan mev. Nel se skooltjie was feitlik die enigste formele onderwys wat Christiaan sou ontvang. Maar daar was ook rondtrekkende onderwysers wat van plaas tot plaas gegaan het en dan teen vergoeding die boere se kinders onderrig het in lees, skryf en rekene.
Een goeie dag daag daar toe ook een van hierdie onderwysers op die plaas op. Hy is ’n Hollandse Jood, ’n mnr. Bouman. Sowat drie maande lank hou hy vir die De Wet-kinders skool en van hom leer Christiaan ’n liefde vir rekenkunde. Hy oortref al die ander in die vak en hulle staan veral verbaas oor Christiaan se vermoë om lang berekenings uit sy hoof te kan doen. Later jare sou hy, as generaal, ook dikwels sy burgers verbaas met die wyse waarop hy telkens die sterkte van die vyandelike troepemagte kon bereken op grond van die hoeveelheid voorraad wat hulle by hulle het of na aanleiding van die aantal tente in die vyand se kamp.
Aan die begin van 1866 kry Christiaan tog die kans om oorlog toe te gaan. ’n Swaar slag het die Boerekommando’s getref. Gedurende 1865 het hulle die Basoeto’s uit die Vrystaat gedryf en die vyand het byna almal na die vesting van hulle kaptein, Mosjesj, gevlug. Daar is toe besluit om hierdie byna onneembare berg Thaba Bosigo, met sy steil rotswande, te bestorm. Die enigste toegang was ’n smal klofie en langs hierdie paadjie het die dappere kmdt. Louw Wepener sy klomp vrywilligers gelei. Skans na skans is verower, maar uiteindelik, hoog teen die berg, het Louw Wepener gesneuwel. Dit was asof sy dood ’n vlaag van moedeloosheid oor die burgers laat kom het. Baie het die slagveld verlaat en huis toe gegaan. Die wat agtergebly het, was te min om die stryd suksesvol voort te sit.
In hierdie moeilike dae wys die jong president van die Vrystaat, Jan Hendrik Brand, wat daar in hom steek. Hy gaan self na die front en vuur die burgers aan met nuwe moed, besiel hulle met trots vir hulle jong, vrye republiek. Aan Christiaan de Wet is daar nou ook geen keer nie en sy vader laat hom toe om hom na die grens te vergesel. Hy is egter nog nie twaalf jaar oud nie, dus is daar nie sprake van dat hy aan die gevegte sal kan deelneem nie.
Tot sy vreugde word hy egter toegelaat om soms in die plek van burgers wat daarom vra, wag te staan. Sy skerp waarnemingsvermoë en sy wakkerheid maak hom, ten spyte van sy jeug, uitmuntend geskik daarvoor. Sy beloning is meestal ’n paar lekker stukke boerbeskuit, Sy grootste beloning is egter vir hom die gevoel dat hy sy land en sy volk kan dien. Elke aand word daar godsdiens in die kamp gehou en hy besef dat sy volk se vryheid en die bestaan van die republiek ’n gawe is uit die hand van die Heer.
In die nag as hy wag staan, sien hy ver teen die berge die vyand se vure glinster, of hy ruik nog die rook van die graanlande van die Basoeto’s wat deur die kommando’s afgebrand is. Hy weet dan dat die gevaar nog altyd dreig en dat, as die Here sy bewarende hand nie oor hulle hou nie, alle stryd tevergeefs is. Maar dit vul hom ook met verwondering en blydskap om te weet dat hy en die Republiek van die Oranje-Vrystaat ewe oud is. Op 23 Februarie 1854 het hierdie land onafhanklik geword en op 7 Oktober van dieselfde jaar is hy op Leeukop in die distrik Smithfield gebore. Hierdie wete bewaar hy soos ’n kosbare geskenk in sy hart.
Vervolg...