Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wil jy jou take sukses vol uitvoer? Kyk maar na die mense wat hulself heelhartig gee vir hulle belangrike sake en take: hulle toon altyd 'n stygende lyn van sukses.
DE WET (4)
Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier
Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET
Op Nuwejaarsfontein le Christiaan de Wet hom met aansienlike sukses op sy boerdery toe sodat hy spoedig een van die toonaangewende boere in die distrik word.
Hy word egter nie lank toegelaat om sy aandag onverstoord aan sy boerdery te wy nie. Voor hy ’n man van agt-en-twintig jaar oud is, is hy reeds waarnemende kommandant, veldkornet en Transvaalse Volksraadslid. Met sy uitmuntende eienskappe is dit onvermydelik dat hy tot diens van sy nuwe gemeenskap en sy volk geroep sou word.
In 1889 kom die kwessies van ’n tolverbond en die bou van ’n spoorlyn deur die Vrystaat na die Zuid-Afrikaansche Republiek ter sprake. De Wet bestudeer die konsep-ooreenkomste met die regering van die Kaapkolonie oor hierdie sake en saam met ’n groot aantal van sy volksgenote voel hy bitter ongelukkig daaroor.
Soos dit vir hulle voorkom, gee die ooreenkomste vir Groot-Brittanje ’n houvas op die Vrystaatse Republiek. Dit kan daartoe lei dat die Vrystaat "uitverkoop” word.
As krygsman en strateeg vrees hy ook dat die spoorweg gebruik kan word om vyandelike troepe die Republiek binne te bring. Gevoelens oor die saak begin al hoër loop en in 1889, toe die Volksraad ’n geheime sitting hou om die sake te bespreek, vertrek De Wet self met ’n gewapende kommando na Bloemfontein om te beklemtoon hoe sterk die gevoel van die volk oor hierdie saak is.
Hierdie soort optrede het nie beteken dat die protesterendes met geweld hul doel wou bereik nie. Dit was ’n wyse waarop hulle die eras van hul standpunt wou stel. Etlike kere in ons geskiedenis isvvan hierdie metode gebruik gemaak, byvoorbeeld in die Transvaalven vroeër in die Kaapkolonie. As Christiaan de Wet en die ander leiers se gebruikmaking van hierdie metode van "gewapende protes” ’n kwarteeu later reg begryp kon word, kon die tragedie van die Rebellie van 1914 moontlik vermy geword het.
Toe die finale terme van die ooreenkomste egter bekend word, is dit veel gunstiger as wat dit aanvanklik voorgekom het. Christiaan de Wet is een van die eerstes wat dit insien en aanvaar. Die kommando gaan dus huis toe, maar vir Christiaan de Wet is die gevolg van die protes dat hy in dieselfde jaar nog vir die wyk Bo-Modderrivier tot Volksraadslid verkies word.
Oor verskeie sake neem hy in die Volksraad ’n sterk standpunt in. Die belangrikste gaan oor die handhawing van Hollands. Hy is ten gunste daarvan dat die opkomende geslag Engels moet leer, maar Hollands moet oral en in die eerste plek as die landstaal erken word. Veral aan die twee pronkskole van die Vrystaat, Grey-kollege en Eunice, wat leerlinge van selfs buite die grense trek, moet Hollands, as eerste en enigste landstaal sy regmatige plek
inneem.
Hy besef dat as die taal in onbruik raak, die hele Afrikanervolk sal verbrokkel en verval. Hy bewys sy versiendheid deur steun te gee aan die uitbreiding van die Vrystaatse spoorwegnetwerk, die aanlê van besproeiingskemas en hulp aan en opheffing van die armes.
In die Vrystaat verloop ’n aantal vreedsame en voorspoedige jare, maar oorkant die Vaalrivier is groeiende onrus aan die broei.
In 1886 word die Witwatersrandse goud ontdek en uitlanders van oor die hele wêreld, veral uit Groot-Brittanje, stroom die land binne. Teen 1890 woon daar reeds byna 100 000 Uitlanders op die Rand. Hulle eis al hoe meer regte: verteenwoordiging in die Volksraad, die opsegging van staatsmonopolieë soos byvoorbeeld die voorsiening van plofstowwe, en groter seggingskap op allerlei ander gebiede.
Sommige van hulle besware was waarskynlik geregverdig, maar oor die belangrikste saak waarvoor hulle na die Transvaal gekom het, kan hulle nie kla nie: hulle is vry om hulleself na hartelus te verryk. En dit geskied dan ook op ’n skaal wat selfs die buitewêreld
verstom!
Deur middel van hulle koerante en ander geskrifte begin hulle met ’n veldtog teen die Regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hulle verwerf die steun van Cecil Rhodes, eerste minister van die Kaapkolonie, en van die Engelse regering in Londen.
Ondertussen smokkel hulle wapens die land binne en maak hulle gereed vir sn opstand.
In hierdie dae is Cecil Rhodes, baas van die magtige De Beers maatskappy wat miljoene uit Kimberley se diamante bekom, nie ongewild by die Afrikaners nie. Hulle besef egter nie wat alles agter in sy kop aangaan nie. Met sy geld en politieke mag wil hy die hele Suidelike Afrika onder die Britse vlag bring.
Eendag se 'n vriend aan Christiaan de Wet hy glo dat Rhodes dit opreg met die Afrikaner bedoel.
"Ek kan nie glo dat ’n Engelsman ’n Afrikaner so lief kan hê as wat hy voorgee nie!” is die kortaf antwoord.
By ’n ander geleentheid besoek Rhodes Bloemfontein. Vir die eerste keer sien Christiaan de Wet hom nou. Weer moet hy aanhoor hoe Rhodes se bekwaamhede aangeprys word.
"Hy het ’n wonderlike kop, dit kan niemand bestry nie, maar hy sal vir ons kwaad aandoen!” antwoord hy weer. En hy het gelyk, want deur Rhodes se toedoen en sy verkryging van Charters van die Britse Regering word die Zuid-Afrikaansche Republiek aan die noordekant deur Rhodesië en aan die westekant deur Betsjoeanaland ingesluit.
Rhodes, die sekretaris van kolonies, Chamberlain, en Rhodes se vriend, dr. L. S. Jameson, asook andere het gevoel die tyd word ryp om op te tree. ’n Komplot word gesmee. Lionel Phillips, Charles Leonard, Alfred Beit en Percy Fitzpatrick en andere sal sorg vir ’n opstand in Johannesburg wat gelyktydig sal plaasvind met ’n inval deur dr. Jameson.
Sake verloop egter rampspoedig vir Jameson en die groep opstandelinge in Johannesburg. Jameson se troepemag word op Nuwejaarsdag 1896 verslaan en gevange geneem, terwyl die opstand in Johannesburg misluk en al hulle leiers gearresteer word. Toe die berig van die Jameson-inval Bloemfontein bereik, haas Christiaan de Wet hom dadelik na Transvaal om te gaan help veg. Uit alle oorde van die Vrystaat volg vrywilligers hom, maar toe hy Pretoria bereik, is die hele opstand reeds gesmoor. Die inval laat egter die Vrystaters en Transvalers meer as ooit besef dat hulle tot een volk behoort en dat die twee Republieke nie sonder
mekaar kan bestaan nie.
Oor die hele land het die Jameson-inval verreikende gevolge. Rhodes kom tot ’n politieke val; Afrikanergevoel oor die hele land vlam in verontwaardiging op, en selfs in die buiteland ontstaan daar ’n baie simpatieke houding teenoor Transvaal en die Boerevolk. ’n Stap wat die twee republieke nou as noodsaaklik beskou, is om ’n verdrag, die Nouere Verbond, te sluit. In tyd van oorlog sal hulle bymekaar staan. Aan hierdie onderhandelinge neem Christiaan de Wet geesdriftig deel.
In dieselfde jaar moet daar ook ’n nuwe president in die Vrystaat verkies word. Vir De Wet is daar net een man wat in hierdie krisisjare aan die stuur van sake kan staan en hy is regter Marthinus Theunis Steyn. Hulle ken mekaar reeds en is, man teenoor man, elk wedersyds van die ander se uitmuntende vermoëns bewus. Toe regter Steyn in die Volksraad as kandidaat vir die presidentskap voorgestel word, word die voorstel deur Christiaan de Wet gesekondeer. Tot De Wet se vreugde word Steyn met ’n oorweldigende meerderheid tot president verkies.
Kort hierna skei die twee manne se weë egter. Christiaan de Wet waag dit om op die aartappelmark te spekuleer. Hy koop op groot skaal teen hoë pryse in, want aartappels is skaars. Toe hy egter sy aartappels op die mark plaas, is die nuwe oeste net gereed. Die pryse val en hy verloor byna al sy geld. Dit is een van die redes waarom hy Nuwejaarsfontein verkoop en in 1896 na die plaas Rooipoort in die distrik Heilbron verhuis. Spoedig daarna loop sy termyn as Volksraadslid ten einde.
Terwyl hy weer besig is om sy nuwe plaas en sy boerdery op te bou, weet Christiaan de Wet dat die oorlog met Engeland net ’n kwessie van tyd is.
Die eise wat die Britse regering by monde van sir Alfred Milner, goewerneur van die Kaapkolonie en Hoë Kommissaris, aan die Zuid-Afrikaansche Republiek stel, word al hoe groter.
Tot trane bewoë roep pres. Kruger ná die mislukking van die konferensie in Bloemfontein uit: "Dit is nie die stemreg nie, maar my land wat julle wil hê!”
Dit is duidelik dat, kom wat wil, Chamberlain en Milner die Transvaal met sy rykdomme vir die Britse Ryk in besit wil neem. Teen die middel van 1899 is daar reeds meer as 10 000 Britse troepe met vier-en-twintig veldkanonne in Suid-Afrika. Binne omtrent twee maande word die aantal troepe meer as verdubbel en die aantal kanonne feitlik verdriedubbel. Elkeen kan dit sien:
Chamberlain en Milner se voorneme is om mag te gebruik om hul wil deur te voer.
Die vyand sou nooit die mate van mobiliteit bereik nie.
Tot op die laaste probeer ’n hele aantal persone hard om ’n oorlog te verhoed. Sir William Butler, waamemende Hoë Kommissaris, laat aan die regering in Engeland weet dat die klagtes van die Uitlanders oordrewe is en maan teen die stuur van meer troepe na Suid-Afrika. Pres. Steyn vra die V.S.A. om as bemiddelaar op te tree en in Engeland self pleit Campbell-Bannerman vir ’n meer gematigde houding. Dit val alles op dowe ore. Troepeskepe van oor die hele Britse Ryk, belaai met soldate en krygstuig, is reeds op pad na Suid-Afrika. Die ultimatum wat aan die Zuid-Afrikaansche Republiek gestel sal word, is gereed. Chamberlain en Milner wil net wag tot daar genoeg troepe in Suid-Afrika is voordat hulle dit aan die Transvaalse regering oorhandig. Na hulle mening sal die Transvaal, in die gesig van ’n oormag, geen ander keuse hê as om toe te gee aan die eise nie.
Die ultimatum kom daarop neer dat die Transvaal soveel regte moet prysgee, dat hy niks anders sal word as ’n protektoraat van Groot-Brittanje nie!
Die twee republieke durf nie wag totdat sake tot op hierdie punt ontwikkel nie. Vroeg in Oktober roep die veldkomette met kommandeerbriewe alle burgers tussen sestien en sestig jaar oud vir krygsdiens op. Elke burger moet sy eie ryperd, geweer, dertig patrone en voedsel vir sewe dae voorsien.
Onder die Vrystaters wat opgeroep word, is ook Christiaan de Wet en sy drie oudste seuns, Kotie, Izak en Christiaan. Hulle sluit as gewone burgers aan by die Heilbronse kommando wat na Natal moes opruk.
Aan sy seun, Kotie, het De Wet die opdrag gegee om vir hom ’n perd te koop. Kotie slaag dan ook daarin om vir sy vader ’n voortreflike perd, ’n pragtige wit Arabiër, te bekom.
"Hoe lyk dit of jy wil erwe, Kotie?” maak De Wet ’n grap toe hy die wit perd sien wat van ver af vir die vyand sigbaar sal wees. Voor baie maande verstryk het, sou Fleur egter saam met sy baas wêreldberoemdheid verwerf.
Dit is nou feitlik oorlog. Op 9 Oktober 1899 oorhandig die staatsekretaris van Transvaal, F. W. Reitz, sy regering se ultimatum aan Conyngham Greene, die Britse agent in Pretoria. Hierin word geëis dat alle geskille deur arbitrasie opgelos moet word en dat Groot-Brittanje haar magte so spoedig doenlik uit Suid-Afrika moet onttrek en geen verdere troepe moet land nie. ’n Bevredigende antwoord op die eise word gevra voor 11 Oktober om 5 namiddag. Die berig word deurgestuur na Londen en Greene kry van daar opdrag om die Transvaal onmiddellik te verlaat.
Chamberlain en Milner verheug hulle oor die oorlog. Volgens hulle deskundiges se berekeninge sal daar binne ’m paar maande met hoogstens 70 000 troepe en teen ’n koste van R40 000 met die twee Republieke klaargespeel kan word.
Die geskiedenis van die volgende twee-en-’n-half jaar sou bewys hoe ontsettand hulle hul misreken het.
As die mens veg om behoud van sy heiligste geestesbesit, kan die koste van so ’n stryd nie vooraf bereken word in terme van getalle of wapens of geld nie. Om dié rede druk pres. Steyn hom soos volg uit in sy besielende manif es aan die volk van sy land:
"Burgers van den Oranje-Vrijstaat, staat op als een man tegen de verdrukker en de schender des rechts.
„In het voeren van den strijd, waartoe wij tans gedwongen worden, Iaat geen enkele uwer daden anders dan zodanig zijn als ’n Christen en burger van den Oranje-Vrijstaat betaamt. Laat ons met vertrouwen vooruitzien op ’n voorspoedig einde van de strijd, vertrouwende op die Hoger Kracht, zonder Wiens bijstand mense-wapens niets vermogen.
"Aan de God onzer Vaderen dragen wij ootmoedig de rechtvaardigheid onzer zaak op. Hy bescherme het recht; Hy zegene onze wapenen ;
"'Onder Zijne banier trekken wij ten strijde voor vrijheid en voor vaderland!”