Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
By geleentheid het ’n predikant met ’n myner oor verlossing in Jesus gepraat. Die man kon nie glo dat ’n sondaar hom net tot Jesus kan draai en sy sondes is vergewe nie. “Dis te goedkoop!” het hy teengestribbel. Daarop het die dominee hom gevra hoe hy elke dag uit die myn kom? “Met die hysbak” het hy geantwoord. “Hoeveel betaal jy om daarmee na bo te kom?” vra die dominee. “Niks nie” antwoord die myner. “Is jy nie bang om met die hysbak op te kom aangesien dit te goedkoop is nie? “ het die dominee gevra. “Nee,” antwoord die man, “dit was goedkoop vir my, maar nie vir die maatskappy wat miljoene betaal het om daardie skag te sink nie!”
DE WET (5)
Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier
Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET
Die Republiek van die Oranje-Vrystaat stoot sowat 20 000 burgers in die veld. Hulle word in agtien kommando’s verdeel. Van hierdie aantal ruk nagenoeg 6 000 man op na die Natalse grens om die verskillende passe in die Drakensberge te beset. Daar sluit hulle aan by die Transvaalse magte wat uit Johannesburg, Pretoria; en Oos-Transvaal aankom.
Die res van die Vrystaatse magte moet die westelike grens van die Republiek verdedig, ander moet die Kaapkolonie oor Norvals-pont binneval en die laaste groep moet die grens van Basoetoland bewaak. Die totale aantal Transvaalse burgers wat onder wapen gebring word, is omtrent 30 000. Hulle is hoofsaaklik in drie strydmagte ingedeel. Die een groep moet die noordelike en noordwestelike grense bewaak, ’n tweede mag, onder genl. P. A. Cronje, moet langs die westelike grens af oor Kimberley slag lewer en die derde strydmag, onder genl. Piet Joubert, moet Natal binneval. Joubert word opperbevelhebber oor al die krygsmagte aan hierdie front.
Sy plan is om met een groot, gesamentlike aanval van al sy magte die hele Noord-Natal te verower. Die Vrystaatse kommando’s moet die regterflank van hierdie beweging vorm, wat sal beteken dat die Transvalers oos en regoor Ladysmith sal moet veg en die Vrystaters meer aan die westelike en suidelike kante van hierdie dorp.
By Dundee en op Ladysmith is bykans 16 000 Britse troepe onder bevel van sir George White gereed.
Om vyfuur namiddag van 11 Oktober 1899 verstryk die ultimatum. Om sesuur dieselfde middag ontvang genl. Joubert ’n telegram van sy regering om aan te val. Hy sein terug: "Wij zullen met de hulp des Heeren doen wat onze hand vindt om te doen. De wil des Heeren zal geschieden . . . Hy zal beslissen over ons lot.”
Etlike veldslae sou plaasvind voordat Christiaan de Wet aan die gevegte sou kon deelneem, maar ondertussen gebeur daar tog belangrike dinge met hom.
Eendag terwyl hy met ’n groepie burgers saam op patrollie uit is, word hy in sy afwesigheid tot veldkomet gekies. ’n Paar dae later toe kmdt. Steenkamp van die Heilbronse kommando siek word, word Christiaan de Wet as waarnemende kommandant gekies. Hy staan dus aan die hoof van hierdie kommando van 500 man en lei hulle Natal binne.
Hul eerste doelwit is om die 4 000 troepe wat van Dundee af op Ladysmith terugval, te probeer afsny van hul hoofmag. Onder\veggeneraal C. J. de Villiers trek sowat 2 000 Vrystaters op tot op die rante van die plaas Rietfontein.
Genl. White, wat die bedreiging uit die weg wil ruim, val op 24 Oktober aan met 5 300 manskappe en agtien kanonne.
Die geveg begin vroeg die oggend en terwyl die agtien kanonne die Boere se stellings met salvo op salvo bestook, kruip sy voetsoldate langs spruite en spoelslote al hoe nader. White probeer ook om ’n groot aantal ruiters om die Boere se flank te stuur ten einde hulle van agter af aan te val.
Die Boere se enigste kanon is van min nut, want sodra hy skiet, konsentreer die Engelse hul kanonvuur op hom sodat hy die wyk moet neem.
Na 'n tyd is die soldate egter naby genoeg sodat die Boere hulle met hulle mausers kan bestook. Kartetse en masjiengeweerkoeëls reën op die Boerestellings.
Selfs die bosse en lang gras word naderhand deur die vyand se bomme aan die brand geskiet, maar die Vrystaters klou vas aan hulle stellings en die vyand loop hom letterlik in ’n muur van lood vas. Hulle aanval kom tot ’n stilstand. Ook die lansiers wat die Boere van agter wou bykom, moet dit swaar ontgeld. ’n Bom uit die Vrystaters se kanon val tussen hulle en skep verwarring, daama dryf die mauserkoeëls hulle terug. Om twee-uur sien genl. White dat hy niks kan uitrig nie en gee sy troepe bevel om terug te val.
Toe die vyand die geveg afbreek, spring Christiaan De Wet se manskappe juigend uit hulle skuilings op.
"Kom ons jaag hulle . . . kom ons agtervolg hulle tot in Ladysmith!” Spytig skud De Wet sy kop. "Ons kan nie, ons is nie sterk genoeg nie.” Daar is te veel vyandelike kanonne en hul kanonniers sorg vir ’n spervuur waaragter die vyand veilig kan retireer.
Wat Christiaan de Wet egter nog meer kwel, is die feit dat hulle nou te laat is om die terugtog van die vyand uit Dundee af te sny. Dit maak hom meer vasbeslote as ooit om, wanneer die geleentheid kom, net so hard te slaan as wat hy maar denkbaar kan.
Vyf dae later kom hierdie geleentheid. Die Boeremagte lê nou soos ’n groot perdeskoen om Ladysmith en die Engelse is feitlik omsingel. Genl. White besef dat hy hierdie vyandelike ring om hom moet breek.
Hy stuur patrollies uit om die Boerestellings te verken en om hulle planne te probeer agterkom. Self maak hy ook gebruik van 'n splinternuwe manier van verkenning. Die leer is toegerus met ’n ballon wat aan ’n kabel vas is. ’n Verkenner kan dus in die klein kajuit onder aan die ballon klim, die ballon styg dan op en die man daarbo beskou die wereld deur sy verkyker. Daar van bo af kan hy seine na onder stuur en ander inligting saambring wanneer die ballon teruggebring word grond toe. Genl. White styg self in die ballon op en bestudeer die Boerestellings deur sy teleskoop.
Die burgers sien dit, maar kan daar niks aan doen nie, want die ballon is buite die bereik van hulle mauserkoeëls en die kanonne kan nie so hoog in die lug skiet nie.
Een van die sleutelposisies in die hele linie is Swartbooiskop wat effens suid van Nicholsonsnek lê. Die Vrystaters verdedig hierdie deel van die linie en hul besef die belangrikheid van hierdie berg. Elke nag moet daar gereeld wag gehou word. Genl. White se aanvalsplan sluit die verowering van hierdie kop en ander hoogtepunte in en daarvoor sonder hy kol. Carleton met 1140 manskappe en ses bergkanonne af.
Met sy ses kanonne en baie ander voorrade op 250 pakdiere gelaai, vertrek kol. Carleton in die donker. ’n Uur of twee na middernag bereik hulle reeds die helling van die kop. Daar is egter baie klippe en van die klippe word deur die soldate losgetrap en rol die helling af. Die geraas van die klippe laat die muile skrik en waarsku terselfdertyd ’n groepie Boere wat daar naby brandwag staan. Hulle los ’n paar skote op die naderende soldate en gee dan pad.
Dit is ’n stikdonker nag en niemand kan sien wat om hom aangaan nie. Dit vererger die verskriklike konsternasie. Voor die troepe kan keer, slaan ’n aantal van die muile verskrik op vlug die helling af. Al ses kol. Carleton se kanonne verdwyn in die donker!
Ten spyte van die ongeluk, besluit die kolonel om deur te druk en sy opdrag uit te voer. Hulle bereik die plat kruin van die kop en begin onmiddellik om vlak loopgrawe te graaf en om van los klippe skanse te bou.
Toe die dag breek, gewaar Christiaan de Wet en sy burgers die vyand op die kop. Die brandwag wat daar stelling gedurende die nag moes inneem, het nie sy plig gedoen nie! Daar is egter nou nie oor te redeneer nie, die vyand moet daar afgehaal word!
Gou bespreek hy die saak met kmdt. Steenkamp. Met 300 man sal hulle die oormag van vier teen een gaan aandurf. Sonder versuim vertrek die kommando, laat hulle perde op ’n veilige plek aan die voet van die kop en begin dit uitklouter.
Die kant waarvandaan hulle die kop bestyg, is goed gekies, want dit is juis die kant waarvandaan Carleton nie ’n aanval verwag nie en wat dus die swakste deur hom verdedig word.
Toe De Wet met sy manskappe bo-op die kruin uitkom, word hulle ingewag deur 400 soldate wat posisie ingeneem het op ’n effense hoogtetjie ’n ent voor hulle hoofstellings. Onmiddellik volg daar ’n hewige skietery. Die Boere kruip van klip tot klip nader.
Soms moet hulle egter oor redelik groot stukke oop terrein aanstorm en etlike burgers vind dat skuiling skaars is.
Agter ’n rotsblok het ’n Boer ’n lekker skuiling gevind. ’n Jood wat maar swaar leef onder die vyand se koeëls kruip versigtig nader.
"Verkoop my jou klip vir ’n halfkroon!” soebat hy.
"Loop!” roep die Boer. "Ek lê self hier!”
"Ek sal jou vyftien sjielings gee,” dring die Jood aan; maar (so vertel Christiaan de Wet later) ofskoon die Boer seker nooit iets besit het wat so vinnig in waarde gestyg het soos daardie klip nie, slaan hy die aanbod finaal af.
Tree vir tree kruip die Boere nader en die posisie van hierdie klompie soldate word al hagliker. Opeens maak sowat veertig ZARPS (Zuid-Afrikaansche Republiek Politie) onder leiding van hul onverskrokke aanvoerder kmdt. Van Dam hul verskyning op die Boere se linkerflank. Nou is die aanval een te veel vir die soldate. Hulle vlug na die hoofstellings, maar moet oor ’n oop stuk gelykte hardloop en die mauserkoeëls maai hulle in groot getalle af.
Tevergeefs probeer Carleton die vasberade Boere stuit. Die kring om hulle word al nouer getrek en die soldate is nou so dig opmekaar gedruk, dat hulle nie meer behoorlik kan lê en skiet nie. Hy stuur boodskap op boodskap om hulp maar al wat aan hom teruggesein word, is: "Val terug na Ladysmith soos die geleentheid hom voordoen!”
Die moorddadige vuur, die groot aantal gesneuwelde en gewonde troepe, die verskriklike dors en die feit dat daar geen hoop op versterking is nie, laat Carleton geen keuse nie. Toe Christiaan de Wet sy burgers reeds tot sowat vyftig meter van die vyand se hoofskanse gelei het, laat kol. Carleton ’n wit sakdoek aan ’n geweerloop vasbind en hys dit as ’n teken van oorgawe. ’n Oomblik later blaas die beuel en al die soldate staak hulle vuur. Die slag van Nicholsonsnek is verby. Dit sou spoedig die naam kry van "Klein Majuba”!
Die slagting wat hulle onder die vyand aangerig het, laat die Boere sidder: 69 dood en 249 gewond. Sonder versuim laat De Wet sy burgers water aandra, die gewondes in skaduweeplekke neerlê en help net waar hulle kan. Hy besef dit nog nie, maar hierdie slag sou sy naam oor die Westerse wêreld bekend maak, want die 817 krygsgevangenes wat hy neem, is die grootste aantal wat die Britse leer in enige veldslag in byna honderd jaar verloor het; dit is ook die grootste aantal wat tydens enige geveg van hierdie oorlog deur die Boere gevange geneem sou word.
Ondertussen dreun en donder dit nog na die oostekant toe waargenl. White met 10 000 man en meer as vyftig kanonne ’n aanval op die Transvalers geloods het. Christiaan de Wet stap na die rand van die kruin toe om te sien hoe die geveg vorder. Daar staan ook ’n paar van die gevange soldate en afkyk op die toneel.
Met sy gesig wit van skrik en sy oë wild van verbystering draai een hom tot sy kamerade.
"They are retreating, our whole army is in flight!”
Onder is die vlakte geel van die kakiegeklede soldate wat terugval na Ladysmith.
De Wet se blik bly vasgenael op die duisende van die vyand wat vlug. Asof hy met die opperbevelhebber praat, mompel hy:
"Los jou ruiters, Ios jou ruiters!”
Inderdaad! As genl. Joubert sy ruiters op die vyand gelos het, sou die geveg van Modderspruit-Nicholsonsnek seker gelei het tot een van die grootste nederlae van die Britse leer tot op daardie tyd.
Maar genl. Joubert het nie wraak gesoek nie, hy het net geveg vir sy land se vryheid, daarom het hy later verklaar waarom hy nie die vlugtende vyand wou agtervolg en uitwis nie:
"As God jou die pinkie gee, moet jy nie sy hele hand probeer gryp nie.”
Afgesien van die groot aantal krygsgevangenes, het De Wet ook ’n groot aantal gewere en heelwat ammunisie asook ander voorrade buitgemaak. Onder hierdie voorrade is daar ’n hele voorraad aartappels. Waar hy voorheen, as hy 'n aartappel sien, onwillekeurig moes dink aan sy rampspoedige spekulasie wat hom byna verarm het, kon ’n aartappel hom, van nou af, aan een van sy grootste oorwinnings laat dink!
Die Vrystaters in Natal het nou binne ’n enkele week twee skitterende oorwinnings op hulle kerfstok geplaas. Op die westelike front, waar lord Methuen opgeruk het van die Oranjerivier om Kimberley te gaan ontset, is dit egter ’n heeltemal ander prentjie.
’n Baie groot aantal van die Vrystaters het hier halfhartig, selfs onwillig geveg. By Tweerivier moes regter Hertzog nog voor die aanvang van die geveg ’n aantal burgers met sy pistool dreig en terugjaag na hulle stellings.
Dit was egter nie alleen die burgers by wie die fout gelê het nie, ook hul aanvoerders het min bekwaamheid aan die dag gelS. Pres. Steyn is dus vasbeslote om ’n plan te maak. Op 9 Desember 1899 ontvang Christiaan de Wet ’n telegram van sy President waarin hy
die pos van veggeneraal aangebied word.
"Ek soek nie na eer nie,” is Christiaan de Wet se eerste reaksie.
"Ek verkies om as gewone burger die oorlog mee te maak.” Op dieselfde dag kom ook ’n telegram van Abraham Fischer, een van die Republiek se vernaamste staatsmanne, waarin De Wet versoek word om die aanbod te aanvaar.
Haastig wil hy egter nie besluit nie en telegrafeer terug dat hy graag die aanbod wil oordink. So word dit dan by hierdie nederige groot Afrikaner ’n saak van gebed.
Met vier of vyf vriende begeef hy hom na ’n rantjie buite die laer. Hy verduidelik die omstandighede aan hulle en daarop bid hulle saam om leiding. Uiteindelik neem Johannes Cilliers, ’n seun van die onvergeetlike Sarel Cilliers, die woord en spreek in naam van almal daar op die rantjie: "Jy moet gaan!”
Dieselfde aand, vergesel van sy seuns en enkele troue volgelinge, haal hy op Elandslaagte die trein na Viljoensdrif. Tot sy ergernis word hy hier ses uur lank opgehou, maar bereik Bloemfontein tog die volgende dag.
Van daar af dra Fleur sy baas na die westelike grens. De Wet kom op 16 Desember op Magersfontein aan en meld hom aan by die opperbevelvoerder, genl. Piet Cronje.
Vervolg...