Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ten spyte daarvan dat sonde ’n verbreking van die liefdesverhouding met God is, sien ons in Gen.3 iets van God se onvoorwaardelike liefde vir die mens raak: “En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle het dit aangetrek. Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken…” (Gen.3:21,22).
MET RYPERD EN MAUSER (2)
(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)
DERDEPOORT
Om die kwesbaarheid van die Republiek se wesgrens by Derdepoort aan die Maricorivier te verminder, is ‘n afdeling van die Rustenburgse kommando daarheen gestuur onder bevel van ons ou raadslid, Casper du Plessis. Te Derdepoort en daarvandaan laer af langs die rivier was daar al ‘n aantal jare lank ‘n paar polisiekampe gevestig, waarvan Derdepoort die hoofkamp was. Johannes Riekert was die polisiekommandant aldaar.
Vlak aan die oorkant van die rivier het Sikwanie, en daarvandaan verderaf ander groot swart statte van die Bagatlastam gelê, wat aan die kaptein Linchwe behoort het. Hy het aan die Boere gesê dat hy ons vriend was.
Die laer het naby die rivier gestaan. Elke dag was daar van die statte se inwoners in die laer om werkies vir die burgers te doen. Daar is ook patrollies na Mochudi, die hoofstat van Linchwe, uitgestuur. Mochudi is sewe uur te perd vanaf die rivier geleë. Die burgers het dus elkers by Mochudi aangedoen waar hulle dan nuus in verband met die Engelse troepebewegings ontvang het en wat dan ‘n bewys was dat Linchwe nog by die Boere gestaan het.
Die Engelse het agtergekom dat die Bagatlas nog ons vriende was en het planne beraam om hierdie vriendskap te vertroebel.
Die laer te Derdepoort was nie hiervan bewus nie. Dit was blykbaar vir die vyand nie baie moeilik om hierdie swartes na hulle kant oor te haal nie.
Die burgers was houtgerus en het maar net ‘n paar wagte om die laer geplaas. Omstreeks middernag begin ‘n stuk of twee handmeksims skielik op die laer te skiet. Tegelykertyd loop die swartes storm en skree dat die aarde dreun. Die meeste burgers het gedink, toe hulle deur die vreeslike rumoer uit hul slaap gewek word, dat die vyand alreeds in die laer was. ‘n Aantal van hulle neem toe die loop die veld in, terwyl die res die laer verdedig. Van die ongelukkige persone wat uitgevlug het, het daar nie een ontkom nie. In die nabyheid van die laer, langs die rivier, het ‘n paar van die polisiemanne in hul huise geslaap. Hulle is ook almal díe nag bloedig vermoor. Van hulle onthou ek nog ‘n sekere Potgieter en ‘n Pretorius.
‘n Aantal vroue en kinders wat in die huise was, is gevange geneem en na Mochudi, meer as 60 kilometer ver, te voet aangejaag. Iemand wat die Bosveld ken en weet hoe warm die son daar kan brand, sal beter as iemand anders kan begryp welke mishandeling die arme moeders en kinders deur daardie woestynstreek moes verduur. Langs daardie hele afstand was geen druppel water te kry nie. Hoe hulle ook al die swartes vir ‘n bietjie lafenis gesmeek het, het hul jammerkrete op dowe ore geval en geen genade of enige jammerhartigheid is aan hulle betoon nie. Hulle het ‘n kaalwa en osse saamgeneem waarop hulle dié vroue en kinders wat nie meer verder kon nie, naderhand opgelaai het.
Hennie Riekert, een van die polisie, was die selfde dag waarop die laer by Derdepoort aangeval is weer by die hoofstat, Mochudi. Hy is toe ook deur die Bagatlas gevang en aan die Engelse oorgelewer.
* * * *
Aan die begin van Desember vra ons offisiere vrywilligers om die Bagatlas van Sekwanie op hulle plek te gaan sit. Ek was een van die burgers wat my dienste aangebied het. Ons getal het uit ongeveer ‘n honderd perderuiters bestaan, met ‘n paar waens daarby. Ek moes toe weer met vier van die vrywilligers maats maak: Oom Matthys Mostert en oom Flip Mostert en twee jong mans, Anthonie Mostert en Jan Heystek. Laasgenoemde het later onderwyser geword. In die nabyheid van Krokodilpoel kom ons toe by kmdt. Pieter Daniël Swart se laer. Dawid Louw van Buurmansdrif is toe vir ons klompie as kommandant aangestel en oom Flippie van Vuuren as veldkornet. Ons moes toe eers die perde ‘n paar dae laat rus.
Pieter Daniël, soos hy maar altyd genoem is, kon ook nie sy laer verswak deur te veel burgers daaruit vir die aanval op die Bagatlas te neem nie, maar hy het darem kans gesien om ‘n honderd man af te staan. Die twee kommandante is toe vroeg die môre na Derdepoort. So teen sononder dieselfde dag vertrek ons met driehonderd man, want intussen het oom Kassie (Casper du Plessis), die ou raadslid, ook met honderd man by ons aangesluit.
Ons trek toe in ‘n noord-westelike rigting na ‘n streep rantjies wat van Sekwanie af ongeveer vyf kilometer ver in Betsjoeanaland inloop. Vir verdedigingsdoeleindes het die swartes al op die rantjies langs ‘n reeks verskansings opgerig. Dié sou eers deur ons ingeneem moes word voordat ons hulle stat sou kon bykom.
Omdat ek my in die vreemde kommando waar ek my toe bevind het, maar taamlik ontuis gevoel het, kry ek toestemmng by my Kommandant om saam met kmdt. Du Plessis se manne te veg. Hier het ek ‘n paar van my neefs raakgeloop.
Ons moes die aand maar ‘n taamlike omweg trek om te verhoed dat die swartes ons gewaar. Ons het ook twee bommeksims saamgeneem.
Teen dagbreek die volgende môre hou ons regoor die verste punt van die rantjies stil, ongeveer ‘n duisend tree van die skanse op die koppies af. Voor ons voete het kaal, afgeoeste landerye van die swartes tot amper teen die koppies uitgestrek gelê.
Die kommandante moes elkeen met hul mense die koppies van verskillende kante bestorm. Ou Kassie, die ou raadslid by wie ek toe was, moes reg op die naaste koppie afstorm. Die bommeksims met die ammunisuiewa was na genoeg en kon oor ons koppe heen die skanse takel.
Toe dit so lig was dat ons goed kon sien, het die vyand ons alreeds gewaar want onmiddellik nadat ons begin storm, spat die koeëls tussen ons. Ons jaag tot vas teen die koppie aan, waarop ons afspring en op die skanse begin vuur. Die bommeksims doen ook van onderaf hul bes en laat kort-kort stofdampe op die vyandelike vestings uitslaan, maar die stoflaag het nog nie behoorlik weggetrek nie of jy sien weer die blou kruitrokies oor die klipmuur opwalm, want die meeste van hul gewere het uit martini-henry’s bestaan.
Aan ons regterkant was die bosse so ruig dat die swartes daarin geslaag het om ongesiens ons half te omsingel. Hulle was hier vlak voor in die ruigte so naby dat ons alles kon hoor wat hulle praat. Hulle het gou vasgestel dat oom Kassie ons aanvoerder was. Ons leiers was daardie tyd welbekend onder die swartes, wat vir elkeen ‘n bynaam gehad het. Hulle het hom Kassie “Ranjoba” genoem. So tussen die skietery deur hoor ons hoe Sigale, Linchwe se veggeneraal skree: “Skiet dood vir Ranjoba! Skiet dood vir Ranjoba!” Oom Kassie skree toe dadelik terug: “Skiet dood vir Sigale! Skiet dood vir Sigale!”
Deur die onverwagte omsingeling word dinge vir ons klompie daar toe so warm dat ons onmiddellik die forte sou moes storm of anders sou moes retireer. Ons patrone begin opraak en ‘n paar van ons jaag haastig terug na die ammunisiewa om nuwe voorrade te gaan haal. Toe ons daar aankom, het ‘n klompie swartes pas daar opgedaag met die plan om die wa te buit. Met die hulp van komdte. Swart en Louw se mense het ons hulle gou-gou teruggedryf en die wa na veiligheid gebring.
Pieter Daniël Swart en Dawid Louw staan toe nog met al hul manne by die sloot waarvandaan ons die koppie stormgejaag het! Die afspraak was tog dat hulle die forte tegelykertyd vanuit twee ander rigtings sou aanval. Op ‘n vraag van my waarom hulle ons dan nie kom help nie, moes ek verneem: “Ons kan nie die ammunisiewa hier alleen laat nie.” Hulle het verder nog veel te sê gehad oor die “groot gevaar” wat die wa dan sou bedreig het. Ons het maar met ‘n vergewensgesinde glimlag toegegee dat dit ‘n dapper daad was vir tweehonderd man om ons skietgoed so getrou teen die bedreiging van ‘n handjievol bitterbekke te beskerm, terwyl die ander honderd man die spit in die aanval op die vyandelike skanse moes afbyt.
Weer by die vegterrein aangekom, gee oom Kassie bevel om die forte te bestorm. Die mense van Swart en Louw het darem nou op ons hakke gevolg.
Die domastrantheid van ons vyand het hulle dikwels gevaarlike teenstanders gemaak, want hy verlaat nie sommer sy skuilplek nie, maar hou aan met skiet totdat die Boere vlak voor die skans feitlik op hom is sodat hy nie meer sy kop bokant die muur kan uitsteek nie, want gelukkig het die vestings geen skietgate gehad nie Dan wip hy met ‘n ligte sprong oor die muur en verdwyn onmiddellik in die ruie bosgasie agter die skanse aan die anderkant van die kop. Hy wis goed dat daar in die onmiddellike nabyheid veilige skuilplek was, ‘n feit wat natuurlik tot sy astrantheid bygedra het. Dit was baie gevaarlik om hom in die ruie bosse agterna te sit want hy lê jou tot op ‘n paar tree en inwag om jou dan vanaf sy skuilplek ‘n gemaklike doodskoot toe te dien voordat jy hom nog kon gewaar. Hulle het gewoonlik taamlik goed geskiet.
Die beskermende hand van die Here het ons daardie dag teen baie ongevalle bewaar Ons kon ook uitroep: “Die Here is my skild; ek sal nie vrees nie.” Slegs een van ons manne, Pretorius, die adjudant van Pieter Daniël, is in sy been gewond.
‘n Deel van die vyand het van die rant af die vlaktes soos sprinkane ingevlug en gou-gou in die hoë gras, wat daar manshoogte gestaan het, verdwyn. 'n Klompie van ons burgers was nog gladnie tevrede nie en wou hulle agternasit, maar die offisiere wou dit nie toelaat nie omdat hulle geweet het hoe maklik dit vir die vyand sou wees om vanuit die hoë gras ons manne raak te skiet.
Daar het ek die eerste maal kennis gemaak met die onlesbare dors wat ‘n mens gewoonlik gedurende of na ‘n geveg beetpak. Gelukkig kom daar toe darem ‘n paar waterkarre aan. Die bevel was dat elke man net een bekervol kon kry. Baie van die kêrels het nie bekers by hulle gehad nie en moes dan by ‘n maat geholpe raak. Alhoewel ek nooit daarvan gehou het om ‘n leuen te vertel nie, het die verskriklike dors my die dag daartoe gedryf. “Hier is myne!” sê ek terwyl ek my beker by die ander hou om volgegooi te word. Ek sluk hom leeg en hou hom weer ‘n slag. “Gooi ‘n bietjie in vir Jan!” Maar Jan s’n verdwyn ook deur my dorstige keel en ook nog Piet s’n! Toe het ek egter genoeg en oorhandig die beker aan die ander dorstiges.
Vandaar is ons toe al langs die streep rante verder om die swart stat van die anderkant af aan te val. Daar sou dieselfde môre nog twee kommando’tjies van die laer se kant af ‘n aanval op die stat maak. Die een klompie burgers sou by die drif wat na die stat lei, deur die rivier trek. Die ander sou oor ‘n damwal wat oom Hansie Riekert deur ‘n seekoeigat in die rivier met klippe gebou het, gaan.
Toe die swartes ons agter hulle gewaar, verlaat hulle haastiglik die stat en vlug die ruie bosse binne. ‘n Mens kon duidelik bespeur dat hulle paniekbevange was, veral toe die vlamme en rookwolke van die eerste hutte se strooidakke die lug begin instyg. Die hele stat was binne ‘n ommesientjie een groot rookwolk. Elke burger doen sy bes om die brand vinnig te laat versprei, terwyl hy met ‘n brandende bossie gras van die een hut na die ander ry.
By die drif waar die een klompie burgers die rivier moes oorsteek, het die vyand hulle goed verskans. Telkens wanneer die manne dit waag om deur die opening te kom, haal die vyand een van hulle neer. So het daardie dag ‘n stuk of vyf burgers geval. Hulle kon nie daarin slaag om die rivier oor te steek nie.
Nadat ons die stat klaar verwoes het, het ons by die drif deurgetrek terug laer toe. Daar by die skanse het ‘n paar van die boosdoeners bly lê, maar ons was geensins tevrede nie want die bloed van ons vermoorde burgers was nog lank nie gewreek nie. Alhoewel die Bagatlas almal na hul hoofstat weggevlug het, kon hulle daarvandaan nog steeds strooptogte op tou sit.
Vanaf Derdepoort na Pilansberg het die Bosveld in daardie dae oor ‘n afstand van meer as honderd kilometer woes en leeg gelê, sonder ‘n blanke inwoner. So het dit gebeur dat op ‘n sekere dag die swartes ‘n paar ossewaens wat met voedsel belaai op pad na die Derdepoortlaer was, in die nabyheid van Kaja-se-put aangeval het. Hulle het die waens geplunder en die paar blankes – onder andere Marthinus Ras, Willem Els en Jan Els – op ‘n gruwelike wyse vermoor. 'n Paar persone het vrygekom. Een hiervan was Willem Gous, ‘n dapper man en goeie hardloper. Aan die begin van sy vlug het die swartes nog op hom probeer skiet, maar hy het ongedeerd daarvan afgekom. Hulle het probeer om hom lewendig te vang. Hulle wou sy hart uitslag onderwyl hy nog leef, sodat elkeen ‘n stukkie daarvan rou kon eet om sodoende, volgens hulle primitiewe bygeloof, iets van die onverskrokkenheid van hierdie witman te verwerf.
Dis jammer dat die Boere gewoonlik so goedvertrouend en so min bedag was op gevaar. By daardie waens moes minstens vyftig of meer gewapende perderuiters gewees het. Dan sou die booswigte dit nie gewaag het om hul verraderlike aanval op die paar waens te loods nie.