Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die leuen sit by mense in die bloed, van die grootste meneer tot die kleinste kind wat met 'n leuentjie tuiskom. Dit het blykbaar burgerreg verkry. Maar soos Langenhoven gewaarsku het: 'n man wat sy toevlug tot 'n leuen neem, vind dikwels uit dat hy in 'n huis gaan skuil wat nie 'n agterdeur het nie...
MET RYPERD EN MAUSER (20)
Dr JP Botha
DEUR DIE BLOKHUISLINIE
Hier by die soutpan het ons ‘n paar dae stil gelê om ons perde ‘n bietjie te laat rus en om ons verstrooide burgers weer bymekaar te kry. Die blokhuislinie tussen Lichtenburg en Mafeking lê nog voor, want ons Rustenburgers moes nou weer vir die duur van die winter na ons wyk teruggaan.
Ons het op elkeen van die muilkarre ‘n gewonde burger gelaai want ons ambulans was maar klein. Ek is toegelaat om in die ambulans te ry omdat my perd te kreupel was om my gewig te dra en aan die hand gehou moes word.
Toe ons van die soutpan af vertrek, waarvandaan ons ook ‘n paar vragte sout saamgeneem het, wou Lewies Taljaard, wat ‘n rukkie vantevore ons kar by Brakspruit in die steek gelaat het, nie die gewonde Jan Opperman oplaai nie. Hy laat hom toe onder ‘n boom lê en ry voort. Ons was al ‘n hele entjie weg toe kommandant Van Tonder dit te hore kom. Hy draai toe om en steek Taljaard onder die sambok en jaag hom terug tot by Jan.
So is Jan darem nie aan sy lot oorgelaat nie. Ons wou later by Jan weet wat hy gedink het toe ons almal voortry en hom daar laat agterbly. Hy sê toe dat hy oor niks anders gedink het nie as om sy baadjie uit te trek en onder sy kop as kussing te plaas, terwyl hy hom klaargemaak het om al die verlore slaap van die afgelope paar dae in te haal!
Ons het verkenners uitgestuur om te probeer vasstel waar die geskikste deurbreekkans deur die blokhuislinie sou wees. Uiteindelik nader ons die spul die aand so behoedsaam as ons kan. Ons mik na ‘n laagte waar twee blokhuise taamlik ver van mekaar af staan, met die plan om tussen hulle deur te gaan.
Abie Genade, Hennie Klopper, dokter Van der Merwe en ek is by die ambulans. Ek wou toe nie meer in die ambulans ry nie want ek was bang een of meer van die muile kon raak geskiet word en dan sou ek gewis in die hande van die Engelse val. Ek kry toe ‘n handperd om op te ry. Dokter Van der Merwe ry langs my op sy geel perd aan die kant van die ambulans. Toe ons die blokhuise nader, sug hy swaar en sê: “Hansie, jy weet ‘n mens se lewe hang aan ‘n draad wat net geknip moet word.”
“Ja dokter,”sê ek, “dit is nodig om altyd gereed te wees daarvoor.”
Na ‘n rukkie begin hy weer: “Hansie, as die Engelse my dalk vannag skiet, moet julle my tog nie laat lê nie, hoor?”
“Nee Dokter, ons sal jou oplaai.”
“Dankie Hansie, en as hulle jou skiet, sal ons jou ook nie laat lê nie.”
Hennie ry te perd langs die muile met ‘n horssweep in die hand om te dryf, terwyl Abie die leisels het. Dr Van der Merwe en ek ry aan die ander kant. Dit gaan maar moeilik deur die veld, want die grond is los en die diere trek swaar aan die gelaaide waens en karre. Die perderuiters trek in twee groepe weerskante van ons, met generaal Kemp en sy personeel heel voor.
Die bevel was om te storm sodra die eerste skote val. Die maan is lig en ons gaan stil voort. Omstreeks tienuur begin die stormloop. Nou doen elke man sy bes om nie straks agter te bly nie. Die dokter herhaal aanhoudend: “Jaag Abie, slaan Hennie, kom Hansie! Jaag Abie, slaan Hennie, kom Hansie!”
Die burgers vuur so hewig op die twee forte dat die Kakies dit op daardie oomblik nie kon waag om die kop voor ‘n skietgat te vertoon nie. Die waens en karre vorder maar stadig, dog die kommando bly op sy pos en bestook die vyand nog lank nadat die drade geknip is en almal al veilig oor is.
Dokter Van der Merwe se onrus en spanning was toe gebreek. Hy voel toe so verlig dat hy vir ‘n man wat wou voortry toe hy oor is, sê: “Gee hier jou geweer, jou meid!” en aan ‘n ander een wat ‘n wond aan sy nek kom wys: “Ag, dis sommer ‘n skrapie, loop skiet die Kakies jou papbroek!”
Ons trek toe voort en kom eers die volgende môre by Elandsputte aan. Daarvandaan vertrek ons weer na Wonderfontein., waar ons die Sondag oorstaan.
Ons vyftien kêrels was nog steeds as ‘n klein korporaalskappie bymekaar, want met die plaasvervanger van Jan Gansoog wou ons ook niks te doen hê nie - al wat ons uit hom kon kry, was net ‘n paar blaasgeluide deur sy snor, wat beteken het dat ons van hom moes wegbly!
Tuis aangekom het ons gou-gou ons weggesteekte koring in die toegewerkte beesvelle oral in die klowe gaan uithaal, dit gewas en begin om die klippies daarin uit te soek. Die vroue wat daarin geslaag het om die kampe vry te spring, het ons gehelp. Daarna het ons die koring by ‘n meul gemaal, wat gedurende die Oorlog van verskillende stukke wat van ander ou meulens afkomstig was, in een van die klowe saamgestel en opgerig is.
Hierdie vroue was ook bittereinders en het in sommige gevalle nog veel meer smart en lyding verduur as baie van ons vegtende burgers. En van hulle, mev Lenie Venter, wat enige maande na die vredesluiting my skoonmoeder geword het, was eenkeer - soos ook so baie ander kere met ‘n wa en osse met haar gesin aan die vlug. My verloofde, Annie Venter, was ook op die wa. Kort voor sononder haal ‘n aantal Engelse en ‘n klomp swartes hulle in. Omdat dit reeds te laat was om nog dieselfde aand met die huisgesin op die wa weer hulle kamp te bereik, besluit die Kakies om die wa met alles wat daarop is te vernietig en steek dit toe aan die brand. Die moeder gryp ‘n kombers uit die brandende massa, maar hulle ruk dit uit haar hand. Sy smeek om ‘n paar komberse vir haar kinders vir die koue nag wat voorlê, maar haar wanhopige gejammer val op dowe ore. Sonder enige voedsel of bedekking word hulle daar in die veld aan hulle lot oorgelaat onderwyl die donker vinnig toesak en Kakie met sy trawante onbesorgd verder ry.
Later moes sy met ‘n kaalwa sonder tent of seil klaarkom totdat dit vrede was.