Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons land het baie donker geword. Daar is bykans geen terrein wat nie aangetas is nie. Die kerklike terrein is die hartseerste! Dis asof die hel se magte oor ons eens sonnige land ontketen is. Wat ’n behoefte het ons volk nie aan die lig van Jesus as die blink Môrester nie!
DIE BELEG VAN MAFEKING (2)
Dr JP Botha
Lees reeks by Die Beleg van Mafeking
Ons het in die eerste artikel nagegaan waarom die Boere vanaf 15 Oktober 1899 Mafeking gaan beleer het, tot groot vreugde van die Engelse, en wil nou ‘n bietjie kyk wat Baden-Powell alles in die dorp en omgewing aangevang het om die Boere van sy lyf af te hou. Vooraf gesê, hy het daarin uitmuntend geslaag om twee redes: Die Boere het geglo dat Mafeking oninneembaar sterk teen ‘n aanval verskans was, en dat die Britse Bevelhebber oor ‘n ontsaglike groot besettingsmag beskik het. Hulle het gemeen dat die dorp alleen teen ‘n geweldige lewensverlies aangeval en ingeneem kon word, en daarteen het generaal Piet Cronjé opgesien.
Intussen het kolonel RSS Baden-Powell, deur die Britse owerheid daartoe gelas, twee regimente op die been gebring, die Protectorate Regiment met ongeveer 770 troepe vir Mafeking en die Rhodesian Regiment wat hy noordwaarts gestuur het.
Hy het ‘n sestigtal forte, grondskanse en loopgrawe op kort afstande van mekaar af met swart hulp laat grawe en ‘n paar vestings wat buite die dorp geleë was, weer laat opknap. Hulle het almal name gekry, soos Ellis’Corner, Dall se fort, Dixon’s Redan en Early se fort.
Loopgrawe en slote is orals langs die strate gegrawe, sandsak-barrikades is opgewerp en ondergrondse skuilings is vir nie-vegtendes gebou. Die forte is met ‘n uitgebreide telefoonstelsel met Baden-Powell se hoofkwartier te Dizon’s Hotel verbind en ‘n stelsel van alarms is aangelê.
Hy het 188 vroue en 315 kinders uit die dorp oorgeplaas na ‘n kamp op die plaas van mnr Rowland, twee kilometer uit die dorp en langs die Molopo ‘n groot bomskuiling van 150 meter lank laat grawe. Hy het langs die noordelike grens van die dorp ‘n digte doringtakheining laat slaan en leë waens is oor al die paaie getrek wat uit die dorp lei.
Van die inwoners van die Barolongstat aan die kant van die dorp het hy 300 bewapen met ou Snider- en Olifantgewere. Sy eie verdedigingsmag was ‘n bonte versameling van ongeveer 1600 manskappe. Net 576 was toegerus met slotgewere; die res het martini-henry’s gehad. Daar was ook 4 seweponder veldkanonne en ‘n paar handmaxims. Hy het drie spoortrokke laat bepantser en hulle met die nodige toerusting soos alarms, medisynekassies, ens voorsien.
By die vernaamste forte is daar ook uitkyktorings opgerig. Uit die ruim voorraad dinamiet wat by die stasie geberg is, het hy met vleis- en melkblikkies dinamietbommetjies vervaardig.
Hy het ook van die dinamiet ‘n klompie landmyne vervaardig en op verskillende plekke rondom die dorp geplaas. Geeneen van hierdie kissies dinamiet was werklik gevaarlik nie, maar dit was deel van sy pogings om die vyand wys te maak dat die dorpie baie sterker verdedig is as wat werklik die geval was.
Toe die vyandelikhede begin het Baden-Powell honderde kassies sand vanaf ‘n huis in Mafeking met die grootste sorg deur die swartes na verskillende punte rondom die dorp laat aandra. Aan hulle is vertel dat die kassies hoogs ontplofbare stof bevat en as een van hulle per ongeluk so’n kassie laat val, dit onmiddellik sou ontplof en hom die lug inblaas!
Hierdie kassies is toe sorgvuldig op verskillende plekke rondom die dorp begrawe en drade is aangelê wat hulle dan met die sentrale opservasiepos sou verbind. Kennisgewings is in Engels en Hollands onder die inwoners versprei dat hulle nie hul beeste in die “gevaarlike” mynvelde moet laat loop of toelaat dat kinders in die omgewing speel nie.
Om die saak eg te laat lyk, het hy op ‘n dag kennis gegee dat ‘n proefneming met een van die “myne” uitgevoer sou word om vas te stel of alles in goeie werkende toestand verkeer en dat niemand naby die oostelike sektor tussen 12 en 2 namiddag moes kom nie. Op die gestelde tyd, toe almal binnenshuis was, het Baden-Powell en majoor Panzera na die oostelike sektor gegaan en ‘n lading dinamiet in ‘n erdvarkgat geplant. Nadat hulle die lont aangesteek het, het hulle ‘n entjie daarvandaan gaan skuiling neem. Toe die “myn” ‘n rukkie later met oorverdowende lawaai en met ‘n geweldige stofwolk ontplof, kom daar toevallig net iemand op ‘n fiets verby, onderweg na die Boerekamp. Lamgeskrik vir die skielike ontploffing het hy na generaal Cronjé se laer gejaag vir al wat hy werd was, moontlik om te gaan vertel dat hy self, deur net daarlangs te ry, een van die myne laat ontplof het!
Om te voorkom dat nagtelike aanvalle deur die Boere teen Mafeking onderneem word en om die indruk te skep dat hy ook oor sterk soekligte beskik het om die wêreld snags tydens ‘n nagaanval te verlig, het hy ‘n blink koekblik aan die punt van ‘n paal vasgespyker en ‘n gaslamp daarin geplaas. Snags is die lamp by een van die forte aangesteek, ‘n paar flitse daarmee gemaak en dan na ‘n ander fort geneem waar die proses herhaal is.
Ook het hy die Boere onder die indruk probeer bring dat hy in Mafeking oor ‘n groot aantal troepe beskik het. Nie alleen is verskeie groot poppe gemaak en by die forte opgestel om die aandag van die Boereskerpskutters af te trek nie, maar hy het ook ‘n aantal grondverskansings laat oprig, wat nie bedoel was om deur die troepe self gebruik te word nie, maar wat, met wapperende vlae versier, moes dien om die Boere onder ‘n wanindruk te bring aangaande die werklike sterkte van sy garnisoen. Verder het hy briewe opgestel waarin gewag gemaak word van troepe-afdelings wat nie bestaan het nie en gesorg dat dit in die hande van die Boere val. Die Boere is daardeur werklik om die bos gelei. Hulle het tot aan die einde van die beleg geglo dat Mafeking sterker beset en verskans was as wat inderdaad die geval was.
Met al hierdie manewales het Baden-Powell gehoop om die groot aantal Boere wat volgens sy verwagting sou opdaag om die dorp te verower, om die tuin te probeer lei en by Mafeking aan die gang te hou totdat die sterk Britse troepemag wat die Republieke vanuit die suide moes verower, gereed sou wees om hule opmars te begin.
Hierin het hy uitmuntend geslaag. Die Boere het hulle deur die troepemag laat verskalk en in plaas van slegs ‘n klein burgermag op die grens te plaas om hul bewegings te kontroleer, het hulle die oorrompeling van die Britse garnisoen wat in Mafeking saamgetrek was, een van hul hoofoogmerke gemaak.