Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel maak dikwels melding van kwaadsprekery onder mekaar wat soveel broederlike twis en onmin veroorsaak. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings, gebore uit kwaadwilligheid, en die lus om mekaar se goeie bedoelings te ondermyn. Ons moet daarteen waak om die goeie wat God in iemand gewerk het met woorde te verdraai.
DIE BELEG VAN MAFEKING (3)
Dr JP Botha
Lees reeks by Die Beleg van Mafeking
Die interessante storie van LADY SARAH WILSON
Baden-Powell het gereeld van die Barolongs van by Mafeking gebruik gemaak om boodskappe na geheime agente buite Mafeking te stuur, wat dan weer onderneem het om dit aan die militêre owerheid te besorg. Een van hierdie agente, ‘n sekere mevrou Abrams wat te Taungs gewoon het, het daarin geslaag om boodskappe van Baden-Powell, wat sy deur middel van swart rapportryers bekom het, verder suidwaarts te stuur, ten spyte van die feit dat Taungs deur die Boere beset was. Hierin is sy bygestaan deur kaptein Molala, wat die boodskappers van ryperde voorsien het.
Vanaf die begin van Desember 1899 het die Boerewagte kort-kort een of meer van hierdie swart spioene gevang en van die Engelse rapporte wat hulle by hulle gehad het, onderskep. Dit het die Boere op hul hoede gestel.
Afgesien van mevrou Abrams te Taungs het Baden-Powell ook van die diens van ‘n ander vrou gebruik gemaak, naamlik lady Sarah Wilson, wat haar op die vooraand van die Oorlog te Mafeking bevind het.
Sy en haar man, kaptein Gordon Wilson, wat een van Baden-Powell se stafoffisiere was, het in 1899 na Suid-Afrika gekom en na Mafeking gegaan, dog in opvolging van raad van Baden-Powell het sy Mafeking op 11 Oktober verlaat en haar afwisselend te Setlagoli, Mosita en Vryburg gevestig.Hier het sy soveel inligting moontlik aangaande Britse troepeversterkings en bewegings van Boerekommando’s ingewin en dié dan deur bemiddeling van swart spioene na Mafeking probeer deursmokkel. Aangesien sy genoeg geld gehad het om vir die waagstukke van haar boodskappers te betaal, was haar pogings aanvanklik baie geslaag, sodat Baden-Powell en sy troepe gedurende Oktober en November deur haar toedoen volkome op die hoogte gehou is van wat elders gebeur het en kontak met die Kaapse regering kon behou.
Nadat die Boere se waaksaamheid verskerp het, het sy egter meer en meer mislukkings ingeoes en moes ander planne bedink word om haar inligting aan Baden-Powell oor te dra.
‘n Plan wat deur haar opgevat is om posduiwe, wat sy van ‘n rapportganger uit Mafeking gekry het, daarvoor in te span, het misluk en slegs ten gevolge gehad dat die Boere se aandag op haar gevestig is. Die eerste duif wat deur haar gelos is, het naamlik met die boodskap wat sy aan Baden-Powell gestuur het nog aan sy poot, in die Boerelaer gaan neerstryk en die burgers op hul hoede gestel. ‘n Paar van hulle het toe na Setlagoli gery en haar daar ontdek.
Aangesien sy besef het dat haar bewegings voortaan streng dopgehou sou word en omdat kos te Setlagoli begin skaars word het, het sy toe besluit om te probeer om Mafeking weer binne te gaan met die hoop dat die Boere haar sou toelaat om dit ongehinderd te doen. Op Saterdag, 2 Desember, het sy in haar kapkar, van twee swartes vergesel, aan die suidoostekant van Mafeking opgedaag en haar in ‘n Boerevoorpos, wat onder die stukkende muur van ‘n geboutjie ingegrawe was, vasgery, wat haar daar tot sononder aangehou en daarna na generaal Snyman gebring het.
Sy het Snyman versoek om toegelaat te word om haar in Mafeking te gaan vestig, in ruil vir ‘n sekere mevrou Delport wat in die vrouelaer in Mafeking was en glo graag wou uitkom, dog generaal Snyman wou hiermee nie akkoord gaan nie, aangesien Baden-Powell sy vorige versoeke om mevrou Delport vry te laat om na haar mense toe uit te kom, van die hand gewys het. Hy was egter bereid om onder dié omstandighede lady Wilson uit te ruil vir ‘n sekere Petrus Viljoen, kleinseun van wyle kommandant Viljoen van Marico, wat hom as gevangene in Mafeking bevind het – glo omdat hy perde gesteel het – en het ook so aan die Engelse Bevelvoerder laat weet. Laasgenoemde het aanvanklik geweier om dit te doen en het generaal Snyman se reg betwis om die Engelse dame in die Boerelaer aan te hou. Hy en kaptein Wilson het voorgegee dat hulle nie kon insien watter nut haar gevangehouding in die Boerelaer vir die Boere kon hê nie en het aan lady Wilson laat weet: “Luckily for them, it is not the custom of the English to make prisoners of war of women.”
(Toe die Engelse twee jaar later meer as 26 000 vroue en kinders gevang en vermoor het, wat sou hy toe gesê het???)
Intussen is lady Sarah Wilson in die hospitaalgeboutjie in die Boerelaer gehuisves tot 7 Desember 1899, toe Baden-Powell uiteindelik toegestem het dat sy vir Petrus Viljoen uitgeruil kon word, ‘n transaksie wat dieselfde oggend afgehandel is. Haar spioenasiebedrywighede het hiermee ten einde geloop en gedurende die verdere beleg van die dorp het sy haar aandag aan die verpleging van die siekes en gewondes gewy, waarvan die getalle steeds toegeneem het ten gevolge van die voortdurende bombardering van die dorp.
Lady Wilson was vir die verdere duur van die beleg heel gerieflik in ‘n bomskuiling ingerig. Sy het ‘n ondergrondse vertrek van 6 by 5 meter tot haar beskikking gehad, 3 meter diep, en waarvan die dak versterk was met twee lae spoorstawe wat nog bo-op met drie meter grond bedek was. Die ingang was met ‘n sterk deur afgesluit en is deur rye sandsakke beskerm. Hiervandaan is met ‘n aantal trappies na die binneruimte afgedaal, wat goed geventileer was deur middel van drie horisontale openings wat sywaarts na buite gelei het. Die binnemure was wit geverf en die hele skuilkelder so gerieflik moontlik as woonvertrek ingerig. Sy het selfs ‘n telefoon tot haar beskikking gehad en het die plek beskryf as die koelste in die dorp.