Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In Suid-Afrika steek afvalligheid en sedeloosheid die een grens na die ander oor. ’n Parlementslid het onlangs die spot-opmerking gemaak dat die parlement ’n wet moet maak wat die woord 'nie' uit die Tien Gebooie moet haal en na die geloofsbelydenis verskuif om in pas met die gees van die tyd te kom!
Dit sou op die volgende neerkom:Jy mag vir jou enige gesnede beeld maak…Jy mag steel…Jy mag valse getuienis spreek…” Die 12 Artikels (wat die 'nie' ontvang), sou dan lees:“Ek glo nie in God die Vader….en nie in Christus Jesus….nie in die gemeenskap van die heiliges...” ens. Ja, en dan verwag ons dat dit met ons goed sal gaan in hierdie land!!
DE KLERK, RETIEF, DINGAAN EN RAMAPHOSA...
DIE WARE STORIE AGTER RETIEF SE BESOEK AAN DINGAAN
Daniel Lötter
In 1971 het dr L Oberholzer ‘n klompie historiese gegewens opgeteken oor die moord op Piet Retief en sy manne op 6 Februarie 1838 .
Wat Retief destyds nooit besef het nie, was dat sy lot verseël was nog lank voor sy eerste besoek aan Dingaan. Inderdaad, nog voordat die Trekkers die Drakensberge oorgesteek het, het die tyding van die Slag van Mosega en die nederlaag van Mzilikazi reeds Dingaan se ore bereik. Hy was toe alreeds nie bereid om hierdie magtige “wit towenaars” in sy gebied te laat nesskop nie. Of Retief dus gery het om te onderhandel, of gery het om te gaan oorlog maak – moeilikheid was in die sterre vir hom voorspel.
Retief se eerste besoek aan Dingaan was dus blote protokol. En die ontvangs was nie hartlik nie, want Dingaan het hom daarvan beskuldig dat die Trekkers sy vee gesteel het. Nadat Retief hom oortuig het dat dit Sikonjella was, het die twee ooreen gekom dat Retief die gesteelde vee SAAM met Sikonjella self sou terugbring. Hierna vertrek Piet Retief eers na die Engelse handelspos by Port Natal. Halfpad daarheen staan hulle ‘n nag oor by die sendingstasie van eerwaarde Champion, wat Retief ernstig waarsku teen Dingaan se verraderlike planne. Sy eie bediendes het hom kom waarsku dat die koning ‘n slagting van die wittes beplan.
Hier begaan Retief sy eerste fout – dieselfde fout wat soveel van ons mense vandag nog maak. Hy oorskat homself en onderskat sy opponent as ‘n dom barbaar. Retief verklaar naamlik teenoor die Eerwaarde: “Dit kos ‘n Boer en nie ‘n Engelsman nie, om die swarte te verstaan.” Hierdie woorde sou hom bitter berou. Ons hoor dit gereeld vandag wanneer Ngxitama of Malema of Zuma ‘n haatvervulde uitspraak maak: “Hy is te dom om te weet wat hy doen.” Moenie die opponent ooit onderskat nie – Retief het.
Uit Port Natal begaan Retief ‘n tweede fout. Hy skryf naamlik ‘n redelike kwaai bewoorde brief aan Dingaan waarin hy hom aanspreek oor sy swak verhouding met die omliggende stamme en hom ook meedeel dat hy nie van plan was om Sikonjella te vang en uit te lewer nie. Die beeste sou hy wel terugbring. Ten slotte verwys hy na sy begeerte om Dingaan te bekeer tot die Christelike geloof en hom weg te keer van sy heidense voorvaderaanbidding.
Oor hierdie brief was Dingaan boosaardig kwaad. Eerstens was dit ‘n ongevraagde inmenging in Zoeloe-aangeleenthede om te verwys na sy verhouding met sy bure en tweedens was die verbreking van ‘n ooreenkoms waaroor daar tydens die sluiting daarvan geen woord van beswaar was nie, vir hom ‘n ernstige belediging. Hy sou Retief nooit weer vertrou nie. Wat hom egter die meeste gegrief het en waaroor hy baie kwaad was, was die feit dat Retief sy voorvaders beledig het. En dit was Retief se volgende fout – dieselfde as De Klerk en Helen Zille s’n : om te aanvaar dat die swartman sonder wroeging sal gryp na westerse waardes en sy eie sommer net sal laat vaar. Hierdie brief het die deur tussen Retief en Dingaan finaal laat toeslaan.
Dingaan stuur derhalwe ‘n boodskap aan sy halfbroer, Insigwabana, die opperhoof van die Khangela, om Retief op pad terug van Port Natal voor te lê en te vermoor. Hiervoor sien Insigwabana nie kans nie en slaan op vlug. Dingaan verneem van sy halfbroer se ongehoorsaamheid en stuur sy impi’s agterna. Op die oewers van die Tugela word Insigwabana en ongeveer 600 van sy mense wreedaardig afgemaai.
Dit is met hierdie kennis dat Gert Maritz vir Retief waarsku om nie weer na Dingaan se kraal te gaan nie. Daar is immers nou reeds meer as genoeg bewys daarvan dat Dingaan sy mes in het vir Retief. En andermaal begaan Retief ‘n fout wat sovele van ons mense vandag nog begaan: Hulle staan voor al die bewyse denkbaar, en kry al die vermanings wat kan…en nogtans foeter hulle stiksienig en hardkoppig voort en maak dom foute. Hulle glo nog steeds dat hulle magtig genoeg is om enige situasie in hulle guns te laat swaai. Dit was ‘n ernstige oordeelsfout van Retief – Dingaan het hom nie as ‘n gerekende opponent beskou nie, terwyl Retief geglo het dat Dingaan minderwaardig sou voel.
Op 3 Februarie arriveer Retief derhalwe by Dingaan se kraal met die beeste van Sikonjella. En hy laat hom mislei van Dingaan se valse vriendelikheid. Tesame met Retief is daar ook ‘n Engelsman, Thomas Halstead, en 30 Kleurlingbediendes, waaronder Retief se agterryer, Roman.
Nadat alle onderhandelinge afgehandel is, die traktaat waarin die grond tussen die Umzimvubu en die Tugela afgestaan en gegroet is, saal die manne op om te ry. Dit is laatoggend op 6 Februarie 1838. En toe stuur Dingaan ‘n boodskap – Retief moet terugkom vir ‘n laaste afskeidsdrankie. Dit is die punt waarop vier jong seuns (Pieter Retief jnr (12), Danie Liebenberg, Kosie Oosthuizen (13) en Kootjie Opperman (15)) vir Retief waarsku om nie terug te gaan nie. En Retief begaan weereens ‘n fout. Hy vertrou die valsheid van ‘n swart leier wat homself alreeds die vyand van die Trekker verklaar het. Hy gaan weereens terug. Net soos wat soveel van ons mense vandag oor en oor terug kruip na partye waarvan die swart leiers openlik anti-blank is.
By die hek van die kraal draai hy om. Dit is die punt waarop Piet Retief gekonfronteer word met sy finale besluit. En ons weet vandag dat sy instink hom gewaarsku het, want hy haal sy bont nekdoek af en gee dit vir Roman, sy agterryer, met die opdrag: “As ek te lank wegbly of hulle vang my, ry so vinnig as jy kan na die laers en gee hierdie vir die Ounooi.”
Soos in die onlangse verlede is Retief ook ‘n politieke leier wat moet besluit of hy by die tafel van die swart leier met verraad in sy hart gaan aansit. Soos in die onlangse verlede is daar dié wat hom aanhits en dié wat hom waarsku. En soos vir De Klerk is daar ‘n keuse – en die keuse is uiteindelik syne alleen. En beide Retief en De Klerk kies dieselfde - hulle stap by die kraal in…
Roman het tot in 1911 nog geleef en gewerk op ‘n plaas in die distrik Weenen by ‘n boer genaamd Buijs. Hy was die enigste oorlewende, want toe die kreet: “Bulalani Abathakati!!!” opklink het hy die nekdoek vasgeklem en te voet met die heining van Umgundgundlovu langs gevlug oor klipperige plekke sodat sy spoor nie gevolg kon word nie. Van ‘n afstand het hy gesien hoedat die ander 29 Bruin bediendes na die Moordkoppie gesleep en doodgeslaan is. Daarna is Retief aan sy arms vasgehou terwyl hy moes toekyk hoedat 66 man, ook sy eie kind en die Engelsman Halstead, doodgesteek word. Roman vertel hoedat Retief heel laaste vermoor is deur ‘n assegaai wat net onder sy ken in sy keel ingesteek is.
Tien maande later, op 21 Desember, is die oorskot van die vermoordes (dit wat die aasvoëls gelaat het) gevind en begrawe. En die traktaat is daarmee saam gevind in die bladsak wat nog om Retief se geraamte gehang het.
Piet Retief was nie ‘n wyse leier nie. Hy het die liefde en respek van sy mense gewen – wat opsigself goeie leierseienskappe is. Maar strategies het hy dom foute gemaak.
Die tragedie is dat ons vandag nog hierdie foute herhaal deur ons verknogtheid aan ‘n Dingaan-Suid-Afrika wat met ons almal, (Afrikaner soos Retief, Engelsman soos Halstead, jongmens soos Kootjie, Danie, Kosie en Pieter of Bruinmens soos Roman) op pad is na die plek van die aasvoëls toe.