Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy maak 'n aktiewe keuse wanneer jy besluit wat jy gaan doen, hoe jy dit gaan doen en wanneer jy dit gaan doen. Wanneer jy 'n besluit in die lug laat hang, maak jy egter ook 'n besliste keuse. Jy doen dit egter net passief. As jy nie 'n keuse maak vir positiewe optrede nie, kies jy in werklikheid die neutrale of die negatiewe. Jy bedrieg jouself deur te dink dat jy nie 'n keuse wil of kan maak nie.
DIE ANTICHRIS EN DIE SKRIF (1)
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by Die antichris en die Skrif
WIE IS DIE ANTICHRIS?
Christene veral bespiegel dikwels oor die koms van die antichris waarvan die Bybel melding maak. Wie sal die antichris wees? Wat kom maak hy op aarde? Hoe sal die wêreld daar uitsien? Sal Christene dit kan oorleef en steeds aan God getrou bly?
Ons weet uit die Woord dat dit 'n persoon sal wees met groot mag, wat selfs die Christene sal verlei en dwing om hom te aanbid. Hierdie fanatiese 'leier' met sy tien-nasie-koalisie is bespreek deur die apostel Johannes. Hyself het die woord 'antichris' geskep. In die sendbriewe van Johannes dui dit dat die samevoeging van die twee woorde 'anti' en 'Christus' kan beteken: iemand wat voorgee dat hy Christus is of iemand wat Christus teenstaan.
Daar is ook deur eeue heen gewonder of die antichris net 'n ingesteldheid in verskeie persone ('n gees) sou wees, juis na aanleiding van wat Johannes gesê het: "...daar is nou reeds baie antichriste".
Daar was wel baie persone in die tyd van die vroeë apostoliese kerk se bestaan wat toe reeds ontken het dat Christus die Seun van God is, maar daar is meer rede om te glo dat die antichris 'n spesifieke persoon sal wees wat deur die hele mensdom gesien sal word. Hierdie prins van die duisternis en seun van die verderf soos hy ook genoem word, wie sal ontken dat Christus die Seun van God is, sal as dié antichris bekend staan.Ook Johannes het in sy geskrifte onderskei tussen die antichris as gees en die antichris as mens. In die Greek Interlinear-vertaling van die Nuwe Testament lui 1 Johannes 2:22 : "Wie is die leuenaar as dit nie die een is wat ontken dat Jesus Christus is nie? Dit is die anthichris." Die Griekse frase vir 'die antichris' is ho antichristos en 'ho' (hy, die) verwys na 'n spesifieke mens.
Om oor hierdie saak nog meer duidelikheid te verkry is dit nodig om die twee Bybelboeke Daniël en Openbaring deeglik te bestudeer. Johannes en Daniël het beide 'n man die wêreld sien regeer, nie 'n soort gees nie. Dit is opvallend hoe die boek Daniël die boek Openbaring aanvul. Openbaring is eintlik 'n voortsetting van Daniël. Die apostel Johannes het omtrent ses honderd jaar ná die profeet Daniël geleef maar hulle visioene stem verstommend ooreen:
Johannes sowel as Daniël indentifiseer die antichris as 'n dier. Daniël het die antichris gesien as die vierde dier wat sal verrys, terwyl Johannes die antichris gesien het as die dier wat uit die see kom.
Beide het ook die tien konings in die eindtyd sien opstaan. Daniël noem die tien horings die tien konings en Johannes sien tien horings met tien krone ook as tien konings.
Beide verwys ook na 'n tydperk van groot verdrukking en swaarkry. Daniël beskryf dit as 'n tyd soos nog nooit tevore nie, en Johannes noem dit 'n tyd van woede en groot ellende.
Albei sien ook die aartsengel Migael, hoe hy in die swaarkrytyd op die toneel verskyn, en hoe hy in die hemel teen Satan oorlog voer.
Daar is ook heelwat ander ooreenkomste.
Hoe lyk en wat doen die antichris?
Die bekende skrywer Perry Stone wat al vier en dertig jaar lank hierdie onderwerp bestudeer, glo hy het 'n akkurate beskrywing van die antichris:
- Die antichris sal 'n nie-Jood met Islamitiese agtergrond wees en nie 'n Jood uit Israel nie;
- Die antichris sal nie die Joodse tempel herbou nie – die profeet Elia sal daardie proses iniseer;
- Die antichris sal die olieryke Golfstate en 'n groot deel van Europa beheer;
- Die antichris bring vrede slegs vir sy volgelinge en die dood vir diegene wat hom teëgaan.
Stone verduidelik soos volg in sy boek, Die koms van die dier, waarom hy glo die antichris sal 'n radikale Moslem wees:
Israel was nog altyd 'n doring in Islamitiese leiers se vlees. Hulle wil 'n Islamitiese sekelmaan tot stand bring. Die apokaliptiese oortuigings van die Sjiïete is deur 'n jong Iranse vrou aan Stone verduidelik – die meeste mense in Iran is Sjiïtiese Moslems. Toe hy haar inligting met die Bybel se profesië vergelyk het dit hom oortuig dat die antichris 'n Moslem sal wees wat homself as die langverwagte Islamitiese 'messias' sal verklaar en so aanvaar sal word.
WAT SÊ DIE SKRIF?
Wat ons gewone Christene oor die antichris weet is vier fundamentele feite wat die Skrif oor die koms van die antichris sê:
- Die antichris is 'n man wat aan die einde van die era vir oulaas 'n wêreldryk tot stand sal bring;
- Die antichris sal 'n sewe jaar-lange verdrag met Israel sluit;
- Die antichris sal uiteindelik sy koninkryk in Jerusalem tot stand bring;
- Die antichris sal by die laaste veldslag, Armageddon, betrokke wees.
Volgens Openbaring 13:4 sal hy ook 'n militêre heerser wees wat massavernietingswapens gebruik om hele volke gyselaar te hou. En diegene wat hulle nie aan sy godsdiens onderwerp nie, sal onthoof word en ander sal aan hongersnood onderwerp word – Openbaring 13:17, 20:4.
Die Bybel vertel ons ook die verskeie name waaronder die antichris bekend sal staan:
- Die klein horinkie – Dan 7:8
- Die hardvogtige en slinkse koning – Dan 8:23
- Die vors wat sal kom – Dan 9:26, 1953-vertaling
- Die verwoester – Dan 9:27, 1953-vertaling
- Die koning wat sal maak soos hy wil – Dan 11:36
- Die mens van sonde – 2 Thess 2:3, 1953-vertaling
- Die seun van die verderf – 2 Thess 2:3, 1953-vertaling
- Die wettelose – 2 Thess 2:8
- Die antichris – 1 Joh 2:22
- Die dier – Op 11:7.
Hongersnood
Ons lees in Openbaring 13:16 -18: "En hy maak dat almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat ❶die merk ❷of die naam van die dier ❸of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie verstand het, laat hom die getal van die dier bereken want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig." (1953-vertaling).
Die Bybel vertel ons dus dat die antichris 'n ekonomiese stelsel sal vestig waarin alle aankope en verkope slegs kan geskied deur die gebruik van 'n merk wat die antichris se naam of sy getal uitbeeld en dié getal word aan 'n sekere mens gekoppel.
Johannes skryf dat daar in die eerste helfte van die groot verdrukking twee-en-veertig maande lank geen reën sal val nie. Hierdie droogte knou die voedselvoorsiening verder en veroorsaak 'n groot hongersnood oor een derde van die aarde; 'n waterkrisis volg wat in Openbaring beskryf word as die tyd waarin die hele 2 736 kilometer-lange Eufraat sal opdroog.
Mense doen verskriklike dinge in tye van hongersnood. Die meeste sal gewilliglik enige godsdiens aanhang wat hulle kos sal gee. Dit is dus maklik om jou in te dink hoe mense voor die antichris sal swig.
❶die merk ❷of die naam van die dier ❸of die getal van sy naam - vervolg...