Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is teënspoed en smart ’n voorwaarde vir geestelike groei? Moet ’n mens swaarkry om vir God iets te beteken? Nee, dis nie ’n absolute voorwaarde nie. Nogtans praat die Here dikwels duideliker met ’n mens in tye van teënspoed. As dit net goed met jou gaan, kan ’n mens later dink dat jy God nie meer nodig het nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (20)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Juan Mentz sit vir meer as ‘n halfuur en dink. Wanneer hy dit doen, word sy kop seer en hy moet konsentreer om te ontspan, wat ook maak dat hy hoofpyn kry. Hy kyk na die geweer en die pistool, asof die goed vir hom vreemdelinge is. Stadig kyk hy na sy omgewing en probeer dink waar hy is en wat maak hy daar.
As hy aan sy kop vat, is daar ‘n bloederige seerplek. Waar kom dit vandaan? Dis asof iets vaagweg by hom registreer oor mense wat kwaad is, maar hy kan die gedagte nie heeltemal vasvat nie.
‘n Ent van hom af is die uitgebrande wrak van ‘n bakkie. Daar langsaan lê ‘n spieël wat gebreek is, maar steeds ‘n heel genoeg stuk het wat hy kan gebruik om die wond teen sy kop te kan sien.
Wanneer hy die spieëlbeeld van sy eie gesig sien, is dit asof ‘n vreemdeling na hom staar. Nie net is sy gesig vuil en verwaarloos nie, met ongeskeerde baard, donker hare wat lank nie gesny, gewas of gekam is nie, maar die mond, oë en voorkop, wange en neus is nie vir hom bekend nie. Verward kyk hy langs en om hom, om te kan sien wie is die man in die stuk karspieël, want hy ken hom nie. Hy vat aan sy wang, aan sy neus en die man in die spieël doen dieselfde.
“Wie is dit?!” vra hy hardop.
Dis nie iemand wat hy herken nie en hy sal mos sy eie gesig ken, of dan nie? Sowaar as wat hy … is. Wie?
Geskok besef hy hy weet nie wat sy naam is nie, waar hy vandaan kom en wat hy daar maak nie. Miskien is daar iewers iemand wat weet. Hy staan vinnig op, té vinnig vir die kopwond en hy moet op sy knieë neersak om te keer dat die duiseligheid hom nie laat omkantel nie.
“Hallo!” roep hy. “Hallo! Kan iemand my hoor?”
“Wie is ek?” vra hy vir niemand.
Hy dwaal grootpad toe, waar ‘n ou Mitsubishi Pajero langs hom stilhou. Die venster aan die passasierskant gaan af en die twee onsimpatieke lope van ‘n ou dubbelloop haelgeweer verskyn. Agter dit is ‘n vrou, seker in haar middel sewentigs. Sy is netjies, met grimmering en gekrulde pers-grys hare, heeltemal in kontras met die wapen.
“Waarheen is jy oppad, Ouboet?”
“Ek dink soontoe, Tannie,” sê Juan, terwyl hy na die Noorde wys.
“Jy dink?”
“Ja, Tante.”
“Wat se ge-‘Tannie’ en ‘Tante’ is dit met jou? My naam is Bessie, wat is joune.”
“Bessie, ek het geen idee nie. Ek dink ek is raakgeskiet…”
Hy wys na die wond teen sy kop.
“Klim in.” Sy wys na die man langs haar. “Dis Gerrie en ons vat nie twak van kabouters nie, verstaan jy? Maar gee eers daardie twee gewere aan. Het jy nog een iewers weggesteek? Of ‘n mens of so iets?”
Juan het skaars ingeklim en die deur agter hom toegeslaan, of die Pajero se wiele fluit soos Gerrie wegtrek. Na ‘n kwartier vra Gerrie vir Bessie:
“Ouvrou, het jy ook agtergekom die spul mense is nêrens te sien nie?”
*
Bella besef daar is baie meer mense as wat sy onthou. Vreemde gesigte kyk na haar en Jana, sommige vraend, ander uitdrukkingloos, soos mense wat te veel gesien het die afgelope tyd. Sy bring die Chev tot stilstand langs Werner en klim uit.
“Hallo, Werner.”
“Goeiedag Bella. Ons het jou gemis. En wie is saam met jou?”
“Dis Jana… Jana, wat is jou van?” Bella besef dat sy nog nooit gevra het nie.
“Jana Marx. En ek is nie verwant aan Karl of Frans nie.”
“Frans?”
“Frans Marx – die filmster en filmmaker. Toemaar, jy is seker te jonk om van hom te weet.”
“Aangename kennis, Jana, ek is Werner Calitz.”
Hy skud Jana se hand, wat sy skamerig aanbied. Hy besef haar hand is mooi en slank en as hy opkyk in haar groot, groen oë, slaan sy hart ‘n slag oor. Dan draai hy om, deels om te verberg dat die nuwe aankomeling hom so onkant vang.
“Bella, daar is iemand wat nog blyer as ons sal wees om jou te sien.”
Hy wys skuins agter Bella, na waar ‘n bekende gesig, bokant ‘n ewe bekende lyf aangestap kom. Sy kan ook sien dat die Isuzu daar naby geparkeer is.
“Max!”
Sy weerstaan vir ‘n paar sekondes die impuls om na hom toe te hardloop, maar gee uiteindelik daaraan toe. Hy gryp haar as sy naby hom is, hou haar vas en druk haar styf teen sy bors. Dan lig hy haar ken op met sy gekromde wysvinger en soen haar op die mond.
“Ek het gedink jy en Werner…”
“Ja, jy weet wat het dink en dog gedoen. Voor jy nou verder dink, soen my eers weer.”
*
Nicodemus Verwey voel skielik baie moeg. Hy laat sak die verkyker en kyk na die kante toe, waar Tamar de Wet langs hom lê, ‘n ent verder Lara Malherbe, groot Nicolaas, Basjan, Johan Kruger, en al die ander mense wat deur die oorlog saam met hom hulle man gestaan het.
Aan sy ander kant Flip Malan en sy broers en seuns, Naas Prinsloo, Jacobus “Skeermes” Hugo, Arno van Deventer, Ben, René, Demas Barth, wat skielik ontpop het vanaf ‘n verskrikte kantoormuis tot ‘n waaksame bakleier, Len Groenewald met sy ou .458, so gaan die ry aan en aan. Hy wonder of hulle ook moeg is.
Eergister het Leroi sy hommeltuig vir oulaas opgestuur en ‘n draai gemaak oor die velde en huise tot so ver as Bandelierskop. Volgens wat hulle kan agterkom is daar honderde duisende manne en vroue aan die kom. ‘n Groot persentasie van hulle het vuurwapens van die een of ander aard by hulle, vanaf outomatiese en semi-outomatiese gewere, slotaksie gewere, haelgewere, handwapens en natuurlik is daar baie stokke, tuisgemaakte spiese, tuinvurke en grawe, knopkieries, kapmesse – ja; alles wat dood kan maak of vermink.
Nicodemus haal al die magasyne uit sy webbing en sit dit voor hom neer. Daar is ses volles, dus een honderd en twintig rondtes vir die geweer, plus ‘n vol magasyn in sy wapen, en ‘n oopgemaakte, maar nie vol nie, plastieksak met sewe onoopgemaakte pakkies, dit wil sê nog een honderd en veertig rondtes. Vir die .45 Glock het hy seker nog so sestig rondtes en vir die ou .44 Magnum Ruger minder as dertig. En dis al.
Hulle het nie meer ammunisie vir die mortiere of die General Electric Minigun wat agter op die Jeep gemonteer is nie. Hy weet Boetman Joubert en Barend Oberholtzer het nog so ‘n halwe patrolliesak 40 millimeter “snotneuse” oor, maar verder is hulle beperk tot kleingeweervuur.
Iemand kom versigtig nader en hurk langs Nicodemus.
“As ek so vinnig ‘n som maak, Oom, dan het ons minder as sewe duisend rondtes tussen ons almal. Ek is jammer.”
“Dis mos nie jou skuld nie, Manie. Dankie in elk geval. Soos jy terugloop, sê tot vir elkeen dat raakskote nou belangriker is as vuurtempo.”
“Maak so, Oom.”
Hy voel skielik oud. Dis laat in Juliemaand en die bult waarop hulle lê is oop en bloot vir die ongenaakbare koue wat hulle die afgelope tyd ervaar. Hy aanvaar dit het seker weer op die Matroos en Sederberge gesneeu; miskien selfs tot sover as in die Vrystaat. Die ou militêre aapjas is gelukkig nog oral heel en die wollerige binnekant help teen die ergste koue. Almal is nie so gelukkig nie en sommige, veral van die jonger manne, het net ‘n trui of deurleefde baadjie om die koue weg te jaag. Hy trek sy regterhand se handskoen uit en druk sy koue hand onder sy okselholte in om warm te word. Koue hande is glad nie goed vir snellertrek nie.