Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jou geluk moet nooit van ‘n ander se optrede afhanklik wees nie. Soms moet ‘n mens jou trots maar sluk en jouself die vraag afvra: Wat is die belangrikste; om reg te wees of om gelukkig te wees?
DIE ANTICHRIS EN DIE SKRIF (2)
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by Die antichris en die Skrif
MODERNE TEGNOLOGIE
Met al die moderne tegnologie vandag in terme van rekenaars, aftasters, mikroskyfies ens, kan niemand regtig meer wegkruip nie behalwe as hy onregmatig doodverklaar is en daarmee weggekom het. Vir eeue lank is talle geleerdes dronkgeslaan oor hoe elke mens 'n merk op die hand of voorkop kan kry maar die uitvinding van 'n tipe mikroskyfie wat kleiner as 'n ryskorrel is met alle nodig inligting daarop vervat, en vlak onder die vel ingeplant kan word, het sake verander. Hierdie skyfies is lank reeds op troeteldiere getoets en daar is verfynde modelle wat 'n identiteitskaart vervang en 'n spesiale battery het wat gedurig deur 'n mens se liggaamshitte gelaai word.
'N MERK, 'N SYFER, 'N NAAM
As ons weer na Openbaring kyk sien ons daar is drie maniere waarop mense tydens die regering van die antichris sal kan handeldryf:
"❶die merk ❷of die naam van die dier ❸of die getal van sy naam" – Openbaring 13.
Die rede vir hierdie verskillende 'opsies' word effens duideliker as mens besef dat in van die oudste manuskripte van die nuwe Testament daar syfers is wat deur Griekse letters verteenwoordig word.
In 'n ou Griekse manuskrip word die merk van die dier deur drie Griekse letters aangedui naamlik chi, xi, en stigma. Hierdie letters word ook in moderne Grieks uitgespel in woorde. Die rede vir die getal 600, 60, en 6 (666) is die gemetrie van die drie Griekse letters. Die letter chi se Griekse getalwaarde is 600. Die letter xi se waarde is 60, en die letter stigma is 6. Dus is die totale numeriese waarde van die drie Griekse letters wat in ou manuskripte van Openbaring 13 voorkom die getal 666. Aan die einde van die negentiende eeu is die numeriese waarde van die letters bymekaargetel in plaas daarvan om die Griekse letters te gebruik waartydens die getal 666 gekry is. Dit wil voorkom of die getal 666 wel die korrekte lesing is hoewel dit soms in letters uitgedruk is en soms voluit geskryf is. Dit is moontlik dat Johannes beide hierdie metodes gebruik het. Maar niemand was nog in staat om 'n gegronde verklaring te gee van hoe hierdie drie Griekse letters by die naam, getal of merk van die dier inskakel nie. Sommige skrywers soos Stone beweer wel dat daar 'n taamlik bisarre skakel bestaan tussen die vorm van hierdie drie letters en simbole wat met die Islam verband hou.Die getal ses
Dwarsdeur die Bybel het getalle simboliese betekenisse. Dit staan duidelik wat die getal drie verteenwoordig wanneer dit telkens in die konteks van eenheid in die Woord gelees word bv Geloof, hoop en liefde; of, Liggaam, siel en gees; of, die Voorhof, binnehof en Allerheiligste van die tempel...
Die getal sewe verwys na volheid en volledigheid, ook volmaaktheid, en word God se perfekte getal genoem – dit kom ongeveer vierhonderd keer in die Bybel voor.
Twaalf verwys na Goddelike orde en goeie regering – twaalf stamme van Israel, twaalf dissipels ens.
Dit is bekend dat die mens se getal ses is. Die Here het die mens op die sesde skeppingsdag gemaak; die mens moes ses dae werk en op die sewende dag (God se dag) rus.
Die getal ses is op unieke wyse aan die Islamitiese geloof gekoppel:
Moslems aanbid op die sesde dag van die week terwyl die Joodse volk op die sewende dag aanbid het, al om die sewe jaar 'n versoeningsfees gehou het en ook opdrag gegee is om telkens ná sewe maal sewe jaar 'n nasionale versoeningsfees te hou – Lev 25.
Dit is ook moontlik dat die numeriese waarde van Mohammed se naam 666 kan wees alhoewel daar geen bewys is nie. Maar as ons kyk na die verwagtings wat Moslems wêreldwyd koester naamlik die herskepping van 'n Islamitiese ryk en die koms van Mahdi, kan daar geen twyfel wees oor die rol wat 'n toekomstige Islamitiese diktator kan speel nie.
Wie of wat is Mahdi?
Die Moslems koester 'n tradisie oor waar die toekomstige Islamitiese redder hom skuilhou tot die dag aanbreek dat hy in die ope sal kom. 'n Turkse sjeik beskryf die voorspel en intreding so:
Die Groot Oorlog sal tussen die Ooste en Weste uitbreek. Baie swaar dae lê vir die mensdom voor. Daar sal baie hewige gevegte wees. Geweldig baie mense sal sterf. En dan sal die 'Almagtige' vir die al-Mahdi Alaihi as-Salam gebied om te verskyn. Tans bevind hy hom in 'n grot, in 'n groot, diep grot. Niemand kan daar naby kom nie. Djins beskerm en bewaak hom daar.
Ons onthou hoe Osama ook verhef is tot 'n grotinwoner maar wat nie alombekend is nie is dat hy min in grotte en langer in 'n groot ommuurde woonkompleks in Pakistan geskuil het waar hy uiteindelik doodgeskiet is. Osama bin Laden is wêreldwyd as djihadleier erken en, hoewel hy 'n terroris was, het die meeste Moslems hom bewonder en respekteer. Nie eers vir die aangebode vyf-en-twintig miljoen dollar van die VSA sou hulle hom verklap nie – of het hulle...
Onder diegene wat die koms van die Islam se Mahdi afwag is daar mense wat die aandag vestig op verskeie voorspellings oor tekens wat tydens die laaste dae in die hemelruim sal verskyn. Volgens 'n seker hadit sal die maan twee keer verduister tydens Ramadaan, die heilige Islamitiese maand waarin Mohammed volgens Moslemgeloof die openbarings ontvang het wat in die Koran geboekstaaf is.
Nog 'n kosmiese teken wat volgens oorlewering die aanbreek van die laaste dae glo sal aandui, is 'n ster met 'n blink stert wat kort voor die Mahdi se koms uit die ooste sal verskyn. Die Hale-Bopp-komeet in 1993 het nogal groot opwinding onder die Moslems in die Midde-Ooste veroorsaak want dit was baie helderder as Halley se komeet, met die oog sigbaar en is as 'n teken beskou.
Indien 'n Islamitiese bewind ingestel word?
Wat sou gebeur indien 'n Islamitiese leier die Moslemwêreld verenig en die omliggende "heidense nasies" verower? Natuurlik sal die heel eerste veranderings wees wysigings aan die wette oor geloofsoortuiging en aanbidding. Daar word in Daniël 7:25 (1953-vertaling) hierna verwys:
"En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd."
Vervolg...