Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Aanvaar dat jy oud word. Moenie jou teen die vooruitsig van die dood verset nie. Bly so lank as moontlik aktief. Onthou: Die liggaam pas hom by die gees aan.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (15)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
EXODUS
LES 1
SLAWERNY
Ex 1-2
1. Wantroue en verdrukking
Jakob se nageslag het in Egipte aansienlik vermeerder. Dit was ʼn vervulling van God se belofte aan Abraham (Gen.12:1; 15:5). Die Hiksostyd van volksvreemde dog vriendelike faraos was verby. Die nuwe Egiptiese vorstehuis het die Israeliete nie vertrou het nie. Hulle het geglo dat die Israeliete die vyand in ʼn oorlogstyd sou steun. Daarom is daar slawe van hulle gemaak.
Die Farao het gewetenlose opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel en die Israeliete reuse voorraadskure by Pitom en Raămses laat bou. Hy wou hulle so uitput, dat hul bevolkingsaanwas sou afneem. Alle groot bouprojekte is deur mensehande verrig en baie het in die proses omgekom.
Die Farao se plan het nie geslaag nie en die buitengewone aanwas het voortgeduur. Daarna het die Farao tot moord oorgegaan! Hebreeuse vroedvroue is aangesê om die seuntjies wat gebore word, dadelik dood te maak; iets wat hulle uit vrees vir God nie gedoen nie. Daarna het die Farao sy soldate opdrag gegee om alle Hebreeuse seuntjies in die Nyl te gooi.
2. Moses word gebore
In hierdie tyd is Moses gebore. Hy was ʼn baie besondere en begenadigde man wat Israel uit Egipte sou lei. Uit 1 Kon.6:1 kan die datum van hierdie uittog met redelike sekerheid vasgestel word. Dit was ongeveer 1440 n.C. Moses is in 1560 v.C. gebore.
Omdat God deur Abraham al die geslagte van die aarde wou seën, het sy Heilsplan deur die saad van Abraham tot by Christus geloop. Satan het dit voortdurend probeer verhoed en talle aanvalle geloods om God se plan te probeer verongeluk. Die kindermoord was een daarvan. God het egter altyd uitkoms gebring en Moses gebruik om die Israeliete deur die woestyn te lei om in ʼn baie besondere verbondsverhouding met Hom te leef.
Moses is midde-in hierdie ellende in ʼn slawehuis gebore. Beide sy ouers het uit Levi gestam. Sy moeder, Jogabed, was eintlik ʼn tante van sy vader, Amram; ʼn verbintenis wat deur latere wetsbepalings verbied sou word. Moses was die jongste van drie kinders. Aäron, sy broer, was drie jaar ouer as Moses. Miriam was die oudste.
Toe Moses gebore is, was die kindermoord in volle swang. Jogabed kon hom nie in die Nyl gooi nie en het hom weggesteek. Dit as sulks was alreeds ʼn geloofsdaad (Hebr.11:23). Toe hy te groot was, het sy hom in ʼn mandjie in die Nyl gesit, magteloos om hom langer teen die Farao se woede te beskerm. God moes hom verder beskerm. Miriam het die mandjie stroom-af gevolg.
3. God bewaar Moses
God het Moses egter bewaar. Toe Farao se dogter die mandjie sien en laat haal, het sy besef dat dit ʼn verbode kind was, maar hom innig jammer gekry, waarna Miriam te voorskyn gekom het. Sy het toevallig van ʼn pleegmoeder geweet. God het voorsien dat Moses in opdrag van die dogter van Farao deur sy eie moeder versorg is totdat hy gespeen is. Daarna het Jogabed haar seuntjie afgestaan. Sy was dankbaar dat hy die kinderslagting oorleef het!
Daarna het Moses die amptelike seun van Farao se dogter geword. So het die toekomstige volksleier van Israel soos ʼn Josef van ouds in die Egiptiese koninklike hof beland. God sou hom kragtig gebruik om Israel uit slawerny te verlos.
Toe hy 40 jaar oud was, was hy by geleentheid hewig ontsteld oor sy mense se slawerny. Moses was deeglik bewus van sy herkoms. Die eenheidband het nie verdwyn nie (Hebr.11:24-26). Kort hierna het hy ʼn Egiptenaar wat ʼn Israeliet aangerand het, doodgeslaan en in sy gees met Egipte gebreek. Hy het geen berou daaroor gehad nie. Toe Farao daarvan te hore kom, moes Moses vir sy lewe vlug. Daarmee het hy hom duidelik aan die kant van sy volksgenote gestel (Hebr.11:27).
4. Moses vlug na Midean
Moses het na Midian, suid van Kanaän, in die noordwestelike deel van die Sinai-skiereiland gevlug en in die omgewing van die Sinai gebergte aangekom. Dit was die woongebied van die Keturene en ver langs familie van hom (Gen.25:2). Alhoewel hulle hom vriendelik ontvang het, was hy nog steeds binne die magsfeer van Egipte. Die mense het presies geweet wie hy was. Daarom het hy nie lank by hulle vertoef nie en na Midean vertrek.
Hy het by ʼn put gaan sit toe sewe herderinne die kleinvee van hul vader water laat drink het. Toe ander veewagters daar opdaag en die meisies verjaag, het Moses met mag en onder hulle ingeklim en hulle goed op hulle baadjie gegee. Moses was weereens die moedige helper van verdruktes.
Die meisies het hul vader, Jetro, van die Egiptiese man vertel wat hulle gehelp het. Moses se voorkoms en tongval was eg Egipties. Daarna het Jetro hom vir ete laat haal. Jetro was ʼn priester wat ook Rehuel genoem is. Dit beteken vriend van God. Moses het in ʼn godvresende huis tuisgekom en op uitnodiging verder daar gebly. Hy is later met Sippora, een van Jetro se dogters, getroud. Hulle eerste seun is Gersom genoem.
Toe die Farao later oorlede is, het die verdrukking van die Israeliete voortgeduur. God het hulle geween en gesug oor hulle slawerny op sy bestemde tyd aangehoor en kragtens sy verbond met Abraham uitkoms gebring. Die volkskastyders van sy tyd was verstreke. Hulle sou geen enkele treë gee oor die streep wat God vir hulle getrek het nie!
Vervolg...