Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Miskien het jy vir my gebid; miskien het jy net stil gesit. Miskien het jy terwyl jy werk gehoop ek word weer sterk. Maar altyd is jy iewers daar waar jy vir my 'n tydjie spaar. Met groot verstaan en woorde min bly jy maar my GOUDVRIENDIN.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (60)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
JOAHAS EN JOAS KONINGS VAN JUDA
LES 9
II KON 13-14:16
1. ʼn Goddelose lewenshouding
Terwyl Joas koning van Juda was, het Joahas sy vader Jehu as koning van Israel opgevolg. Hy was goddeloos en ʼn aanhanger van die kalwerdiens, die sonde van Jerobeam, Israel se eerste koning ná die skeuring van die ryk. Dit het tot sinkretisme gelei; die vermenging van meer as een godsdiens.
Dan was daar ook die heilige boomstamme, ʼn ander vorm van Baäldiens wat net so ʼn gruwel in die oë van God was. Desondanks al die gruwels het Joahas, toe God hom straf, om genade gesmeek en genade ontvang. Hy is die enigste koning van die tienstammeryk wat verhoring op sy gebede verkry het.
2. Die vernedering van Israel
Joahas het egter in sy sonde volhard waarna God hom gestraf het deur Israel aan die Arameërs te onderwerp. Hasael en sy seun Benhadad het hulle so verswak, dat daar net 50 perderuiters en 10 strydwaens in Israel oorgebly het. Vergelyk dit met die groot leër wat Agab in die veld ontplooi het! Hasael was ʼn tugroede in God se hand waarmee hy Israel gestraf het. God het Hasael eers die Oos-Jordaanland laat afneem en daarna die Wes Jordaanstreek laat lamlê. Desondanks sou Hasael self nie die toorn van God ontglip nie (Amos 1:3,4).
In sake Joahas se gebedsverhoring lees ons dat God aan Israel ʼn verlosser gegee het (2 Kon.13:5,6). Sy naam word egter nie genoem nie. Ons weet dat ʼn Assiriese koning, Adad-Nirari III, destyds etlike veldtogte geloods het. Hy het Damaskus aangeval en die Arameërs swaar verliese laat ly. Dit het vir Israel verligting gebring. God bewerk selfs deur die vyand verlossing!
Israel se ongehoorsaamheid het hulle egter baie duur te staan gekom. Die Assiriërs het baie skatte van hulle weggeneem. Daarna het die Assiriërs ʼn tyd lank weggetrek sodat Joahas weer van sy verlore gebied kon herwin. Israel het haar egter nie bekeer nie, maar in haar sonde volhard.
3. Joahas word opgevolg
Joahas het net 17 jaar regeer waarna hy deur sy seun Joas opgevolg is. Op daardie stadium was daar ook ʼn Joas op die troon van Juda, die seun wat deur sy tante weggesteek is en op sewe jarige ouderdom koning van Juda geword het. Toe Joas (Israel) koning geword het, was die regeertyd van die Joas in Juda feitlik om. Hy is deur sy seun Amasia opgevolg wat 29 jaar in Jerusalem regeer het. Die twee Joase was dus vir 15 jaar tydgenote. Hulle het egter nie met mekaar oor die weg gekom nie en was later selfs in ʼn oorlog gewikkel.
4. Joas by die sterfbed van Elisa
Joas het volhard in die sonde van sy voorgangers - ʼn droewige refrein. Die enigste ligpunt was sy gehegtheid aan Elisa. Op daardie stadium was die profeet al baie oud. Hy het in die dae van Agab op die toneel verskyn en in tye van oorlog as raadgewer van God opgetree. Nadat Joas koning geword en van Elisa se siekte verneem het, het hy hom gaan besoek.
Elisa het op sinnebeeldige wyse voorspel dat God Israel uit die hand van die Arameërs sou verlos. ʼn Venster is oopgemaak waarna Joas ʼn pyl na die Ooste, in die rigting van Aram, moes skiet terwyl Elisa se hande op syne was. Daarmee het die ou profeet te kenne gegee dat God deur die hande van Joas ʼn oorwinning sou gee.
Joas het die opdrag gekry om die vyand in Afek geheel en al uit te wis. Om hom te toets, het Elisa hom beveel om met die pylkoker op die grond te slaan. Toe Joas na drie keer ophou, het Elisa kwaad geword. Dit was te gou. Joas moes vyf of ses maal daarmee op die grond geslaan het! Kort hierna is Elisa oorlede.
5. Die gebeente van Elisa
Net hierna is daar weer ʼn begrafnis naby Elisa se graf gehou. Die begrafnisgangers het egter laat spaander toe ʼn Moabitiese strooptogbende op hulle afgekom het. Hulle het die liggaam van die oorledene in die naaste graf gegooi. Dit was dié van Elisa. Toe hierdie liggaam met dié van Elisa in aanraking gekom het, het die oorledene lewendig geword en uit die graf gegaan! Die dood heers nie onbeperk nie (2 Tim.1:10; Openb.20:12-14). Die graf van Elisa wys heen op ʼn ander graf wat baie eeue later ook nie die dood kon hou nie!
6. Joas verslaan Benhadad drie maal
Hasael, die koning van Aram, was Israel se grootste vyand. God het Hasael egter gebruik om Joahas mee te straf. God het ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob Israel egter nie verwerp nie. Daarom het Hy haar in genade aangesien en Joas drie oorwinnings oor Benhadad laat behaal. Benhadad het sy vader Hasael na sy dood opgevolg.
7. Joas word deur Amasia uitgedaag
Op daardie tydstip was Joas van Israel en Amasia van Juda al vir etlike jare konings van hul onderskeie lande. Beide het roemryke oorwinnings oor hul vyande behaal. Daarna het hulle mekaar vir geen rede nie tot oorlog uitgedaag. Amasia het die eerste skuif gemaak waarna Joas hom ʼn verwaande distel genoem het (Rigt.9:8-15). Hy het nie geluister nie en die geveg begin.
Hulle het mekaar 25 km wes van Jerusalem by Bet-Semes (grondgebied van Juda) ontmoet. Juda is verslaan en sy koning gevange geneem; die eerste keer dat so iets met ʼn koning uit die huis van Dawid gebeur het! Om hom verder te verneder, het Joas hom na Jerusalem laat bring, die stad beroof en ʼn deel van die westelike muur laat afbreek sodat dit na Israel se kant toe oopgelê het. Dit was ʼn skandteken vir Juda!
Joas het al die silwer en die goud in die tempel en die paleis geneem. Daarna het hy met ʼn klomp krygsgevangenes na Samaria teruggekeer. Hulle moes as waarborg dien dat Amasia die verpligtinge wat hom opgelê is, nakom. Hyself was heelwaarskynlik losgelaat. Kort hierna is Joas oorlede en het sy seun, Jerobeam II, koning geword.
Vervolg...