Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die BYBEL: lees soos dit geskrywe staan; glo soos dit geskrywe staan; doen soos dit geskrywe staan – dan sal jy ontvang soos dit geskrywe staan.
SATANISME – 'N REALITEIT (7)
Kobus Jonker
Lees reeks by Satanisme
Satanisme word kortliks in die HAT verklarende woordeboek omskryf as "Aanbidding van Satan" – wat volgens my siening nie voldoende is nie. Daar kan ook nie in my navorsing 'n voldoende omskrywing vir satanisme gevind word nie. Selfs regslui is verdeeld met hulle siening oor hoe die aspek omskryf moet word. Ek sal satanisme omskryf as 'n 'n Georganiseerde teen-Bybelse, anti-Christelike kultus wat doelbewus gerig is op die persoon en wese van Satan en waaronder alle lede Satan aanbid en dien.
Satanisme het ook 'n bepaalde verband met die Christelike geloof en die Bybel. Satanisme is besonder goed as 'n kultus georganiseerd. Meestal is dit ook in 'n wolk van geheimhouding omsluit. Vir 'n buitestaander is dit byna 'n onmoontlikheid om by die 'selle' (covens) toegang te verkry. Om toeskouers by die feeste of vergaderings te wees kan slegs geskied op uitnodiging van 'n lid waar die sel van voorneme is om die toeskouer op 'n latere stadium in te lyf. Die selle se besluite oor wanneer, watter stadium en in hoe 'n mate 'n persoon se betrokkenheid moet geld, verskil dikwels.
Elke sel is goed georganiseerd met priesters wie gewoonlik in beheer is van die kultiese handelinge soos inisiasie (anti-doop), die swart mis (anti-nagmaal), aanroeping (anti-gebed), gebruik van bloed tydens offers (parodie van die bloed van Christus), nagtelike byeenkomste (anti-lig), en naakte byeenkomste wat gepaard gaan met rituele seksuele losbandigheid. Talle skrywers noem deelname aan bogenoemde handelinge 'Rituele magie". Anton Lavey, skrywer van Die Sataniese Bybel, omskryf satanisme as "a religion of the flesh, the mundane, the carnal all of which are ruled by Satan, the personification of the left Hand path".
Om die hele konsep van satanisme te verstaan moet mens eers 'n duidleike agtergrond kry van die verskeidenheid okkulte wat nou met satanisme saamsmelt – heksery, demone en Satan self. Met laasgenoemde begin ek eerste. As kind het ons almal 'n sekere voorstelling van die duiwel gehad. Ek het die duiwel voorgestel as 'n kort, rooierige mannetjie met twee skerp horinkies op sy kop. Sy stert was gepunt en hy het 'n drietand vurk in sy regterhand gehou. Hy was ook verantwoordelik vir alle verkeerde of stoute dinge wat gedoen is. Hy was die persoon wie op die linkerskouer stelling ingeneem het om in die oor alle verkeerde dinge met 'n glimlag oor te dra. As hierdie wese word Satan onskuldig as 'n kwajongetjie voorgestel wat 'n verkeerde voorstelling by ons laat posvat. Ons word mettertyd so gewoond aan Satan en dra dit ook so aan ons kinders oor. Die dreigende gevaar ontstaan dus nou dat ons nie meer vir Satan as die verwoester en anti-goddelike karakter raaksien nie. Satan is 'n kenner van die gees, hart en reaksie van mense en daarom is hy so 'n uitgeslape bedrieër en verleier. Die meeste van die tyd uitoorlê hy ons met professionele voetwerk – hy beweeg soos 'n onskuldige, onherkenbare psigopaat, sonder enige gevoel hoegenaamd - 'n Wolf in skaapklere, soos 'n engel van die Lig. Dit is die rede waarom dit so moeilik is om hom as Satan uit te ken. Hy vermom hom deskundig. Sy aanvalstrategie wissel gedurig. Hy soek sy eie triomf, my en jou neerlaag en skande, en God se neerlaag en skande. In die helder lig van God se onfeilbare Woord word hy ontbloot as die "valse engel van die lig". In 1 Petrus 5:8 sien ons hom nou as die "brullende leeu" wat soek wie hy kan verslind.
Satan is die god van hierdie wêreld. Satan word beskou as die outeur van alle ellende, hartseer, kwale, pyne en die dood. Hy is ook die koning en heerser van alle demoniese geeste. Alle duistere magte van die hel ressorteer onder sy vlerke.
Satan besef sy tyd word min en gebruik tans alle magte en middele tot sy beskikking om die volmaakte skepping van God naamlik die mens, te vernietig. Deur dit te doen sal hy God hartseer besorg omrede die geredde mens bestem is om eendag in die hemel te woon. Die volgende name in die Bybel word aan Satan gegee. (Satan is sy naam soos Lucifer ook sy naam is, en word daarom met 'n hoofletter gespel – maar die duiwel word ook die satan genoem, waar dit na sy persoon en nie na sy naam verwys nie en daarom met 'n kleinletter):
Mattheus 13:19,38 die Bose
Mattheus 13:39 die vyand en ook die duiwel (duiwel beteken 'aanklaer' en 'lasteraar')
Openbaring 12:10 die aanklaer van die broers
1 Petrus 5:8 die teenstander
Openbaring 20:2 die draak, die ou slang, wat die duiwel en die satan is
Johannes 8:44 Jesus noem hom 'n moordenaar, 'n leuenaar en vader van alle leuens
Mattheus 4:3 'n versoeker
Mattheus 12:24 owerste van die duiwels
Efesiërs 2:2 die vors van die onsigbare bose magte
Johannes 14:30 die owerste van die wêreld
2 Korinthiërs 11:3 verleier van gedagtes
DIE BOSE:
Satan bedryf boosheid in die ergste vorm. Bose dade en gesindhede is sy spesialiteit.
BEËLSEBUB:
'n Filistynse afgod (2 Kon 1:2). In die Nuwe Testament beteken dit die owerste van die duiwels naamlik Satan self.
ABÁDDAN:
Dit is Hebreeus – en Apollion is Grieks – hier word Satan geskets as die verderwer. Hy word ook as die engel van die afgrond getipeer (Open 9:11).
BÉLIAL:
Teenstander van Christus. Satan is dus hier die seun van die verderf. in 2 Kor 6:15 word die naam teenoor dié van Christus gebruik. Nicky Cruz skryf in sy boek Satan on the loose, dat Satan presies weet hoe om te fassineer, aan te trek en te besit.
Saamgevat, was Satan 'n engel wie hoër as sy Skepper (God) wou wees. God het hom saam met 'n groot mag engele wie hom gevolg het uit die hemel gewerp. Op aarde het hy onmiddellik met sy aanval op medeskepsels begin. Satan is magtig – maar God is almagtig.
Ons sien daarna uit wanneer sy mag binnekort finaal verbreek sal word.
Vervolg...