Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy nie iets kan sê wat tot die eer van die HERE bydra nie, bly liewer stil. Mense het al dikwels spyt gekry oor hulle woorde maar nie oor hulle stilswye nie.
DIE SIN VAN DIE LEWE (3
Dr Cas Vos
Lees reeks by DIE SIN VAN DIE LEWE
In 'n lewe sonder uitsig
Johannes die Doper sit getralie en getronk. Hy ontbeer sy vryheid en lewensruimte. Normale menslike verhoudinge met sy lag en sy traan, met sy vrolikheidjie en sy erns is hom nie meer beskore nie. Hy sit vasgevang in homself. Die man in die tronk koester gedagtes van verlatenheid en sinloosheid. Sy seldeur is gesluit en die vensters van sy eie lewe is dig toe. Hy is ’n gebroke mens: sy drome lê aan skerwe.
Johannes het ’n droom gehad. Sy droom het om ’n Persoon gegaan: Jesus. Die Jesus oor Wie hy so gloeiend gepreek het. Die Man met die skop in sy hand — die Jesus wat die dorsvloer deeglik sal skoonmaak. Die Messias wat die koring skuurtoe sal bring, maar die kaf met onblusbare vuur sal verbrand (Matt. 3:12). Jesus sal die oordeel laat woed en Hy sal deur die oordeel heen sy nuwe ryk kom bou. So het Johannes gepreek en gedroom.
Maar nou het die droom in ’n nagmerrie verander, want Jesus is nie die Regter wat die oordeel voltrek nie, maar die seënende Weldoender. Hy deel vergifnis uit, maar Hy giet geen vuurgloed op die boosdoeners nie. Daarom oefen die verdrukkers hulle amp in vrede uit! Waar is die gedroomde rewolusie? Waar is die bevryding? Waar is die Koning?
Die verwagte katastrofe daag nie op nie. Die wêreld waggel nog soos ’n dronk man op pad. Bome bloei en mense bloei hulle dood. Kinders speel nog vrolik op straat... Die voeltjies tjirp hulle psalms ...
Dat dit so is, verbaas en ontstel Johannes. Hy voel dat hy misluk het: al sy ywer en offers was tevergeefs. Hy is ook daarvan bewus dat sy lewe in die weegskaal is. Herodus Antipas is ’n wrede en ongenaakbare vors. Oor een saak bestaan daar geen twyfel nie: Johannes is bereid om die hoogste offer vir Jesus te bring — het hy dan nie self gesê nie: “Hy moet meer word en ek minder” (Joh. 3:30)7
As Jesus tog net die troon wil bestyg. As Hy maar net sy heerskappy wil begin uitoefen. As daar tog net ’n sigbare magsoorname kom. Maar dit gebeur juis nie. En dit is die oorsaak van Johannes se wanhoop en gevoel van mislukking.
Ons kan ons goed in Johannes se posisie indink. Want ons omstandighede laat ons ook soms wanhopig voel. Dit voei of ons wêreld kantel, want: oral op hierdie veelsinnige aarde flikker die handskrifte van geweld: die weerlig se gesplete boom, lawavloed wat uit ’n krater syg, die brute neerstort van mense en vliegtuie, buitebande wat om ’n nek bly smeul, in ’n krotstraat ’n huilende kind. (Ernst van Heerden)
Waarom duld God die handskrifte van geweld? Waarom maak Hy nie ’n einde aan al die sinlose geweld nie? Daar is soveel hebsug, afguns, haat en klowe tussen ons dat ’n mens wonder: wanneer gaan God die boosheid stuit? Die verdriet, kommer en kwellings in ons persoonlike lewens laat ons na die sin van sulke ervarings vra. Waarom weer God nie al die jammer en ellende uit ons bestaan nie? In oomblikke van vertwyfeling oorweeg ons selfs die vraag of God nie tog maar afwesig is nie, ernstig. Kan Hy, wil Hy, teenwoordig wees in ’n wêreld waar daar soveel gely, gestry en gesondig word? Maar waarom gryp God dan nie tog maar in nie?
Die verrassende is dat Johannes nie van Jesus afstand doen nie, al voel dit vir hom asof daar ’n oneindige afstand tussen hom en Jesus is. Wat doen Johannes? Hy stuur sy leerlinge met sy kwelvrae na Jesus (Matt. 11:2). As daar een ding is wat ons onder geen omstandighede mag doen nie, dan is dit om van God afskeid te neem. Ons moet ons besorgdheid, ons onrus, na Hom toe bring.
Johannes se vraag is vlymskerp: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Matt. 11:3). Die merkwaardige is dat Jesus die twyfelvraag verdra. In sy antwoord wys Hy op wat Hy doen en sê: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig” (Matt. 11:4-5). Jesus se reaksie is, om die minste te sê, vreemd. Want wat Jesus sê, is aan Johannes goed bekend, en dit is juis wat Johannes laat twyfel het. Wat beoog Jesus met die vreemde antwoord? In die tekening van sy werk maak Jesus gebruik van die Jesaja-profesieê, ’n voorskou van die bevryding wat God sal bewerk: “Daardie dag sal die dowes kan hoor. . . en sal die blindes weer kan sien .. .” (29:18); “Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing ..(35:5-6); “Hy sal blindes laat sien,. .(42:7); “... die Here het my gesalf om 'n blye boodskap te bring aan die mense in nood...” (61:1).
Johannes is vertroud met die profesieë. Hy sou die laaste wees om te ontken dat die werke en woorde van Jesus geen waarde het nie. Is dit nie juis Johannes se woorde en werke wat baie mense se lewens radikaal verander het nie? Aan die ander kant was die samelewing egter steeds op sy ou weê. Die heersende politieke en godsdienstige maghebbers sit nog stewig in die saal, en Johannes sit in die tronk! Johannes het in hierdie situasie ander woorde en dade van die Messias verwag. Hy het, om die minste te sê, ’n Bevryder uit die mag van die onderdrukkers verwag. Daarom was sy hart en gees met beelde van vuur en oordeel gevul, het sy oë op die einde gebrand en het die skynbaar onopvallende en magtelose woorde en dade van Jesus geen indruk op hom gemaak nie. Onder hierdie omstandighede was Jesus se antwoord aan Johannes vir hom ’n pynlike teleurstelling.
Ons kan Johannes kwalik verwyt dat hy so blind was, want ons reken ook soms dat ons ’n Bevryder nodig het om die politieke en sosiale strukture te verander, om onreg te stuit, om geregtigheid te vestig en om God se heerskappy sigbaar te laat aanbreek.
Wat beteken Jesus se antwoord aan Johannes? Die antwoord het vele fasette. Johannes moet besef dat God sy woord gestand doen. Dit wat Jesaja van iemand in die toekoms verwag het, het nou rondom Jesus in vervulling gegaan. Hy is die Messias. Hy is egter nie, soos Johannes verwag het, die Messias wat alles onder die hamer laat kom nie. Hy is ’n Priester, en daarom laat Hy blindes se oë soos nuwe lampe skyn, laat Hy lammes van pure plesier huppel, gee Hy aan melaatses die vreugde van gesondheid, laat Hy dowes hulle ore spits om elke woordjie fyn op te vang, en gee Hy aan dooies weer die geskenk van die lewe. Hierdie tekens van die Messias se heerskappy is nie slegs ’n tydelike persoonlike hulpverleningsaksie nie, maar heenwysers na God se komende ryk waar daar geen siekte en dood meer sal wees nie. Johannes moet die Priester nie verkwalik dat Hy nie op pad tempel toe nie, maar op pad kruis toe is. Juis omdat Hy ’n Priester met ’n kruis is, is Hy ook 'n Profeet. Omdat Hy mense van hulle skuld kom bevry, kan Hy ook aan die armes, wat self niks het nie en vir hulle behoud op God aangewys is, die goeie nuus van God se vergifnis kom meedeel. Johannes moet tog nie aan die Priester en Profeet aanstoot neem nie, maar moet met sy hele hart in Hom glo. En wie in die Messias glo, is gelukkig, al sit hy in die tronk.
Terwyl Johannes in die tronk sit, is die Messias nog op pad na sy kruis en opstanding. Daarom is dit vir ons in ’n sin makliker om in die gekruisigde en opgestane Here te glo. Daar is soveel getuies wat gereed staan om ons te oorreed: Matteus, Johannes, Paulus — en tog neem ons net so maklik aanstoot aan die woorde en dade van die Messias. Ons wil nou ’n Bevryder hê! Daarom moet ons met oop ore na die antwoord van Jesus aan Johannes luister, want die antwoord is nou vir ons bedoel.
Die voltooiing van die Messias se heerskappy geskied nie langs ’n kortpad nie, maar langs die ompad van ’n kruisweg. God se heerskappy loop oor Golgota. Daarom moes die Messias ’n Priester en ’n Profeet word — 'n Priester wat Homself vir die skuld van mense offer. Juis op grond van die offer verkondig en bewerk sy profetiese woord vergifnis vir armes: sondaars en bedelaars soos ons. Natuurlik versadig die vergifnis nie net ons “siele” nie, maar dit deurweek ons hele lewe. Wanneer dit gebeur, het die bevryding ook ’n invloed op ons sosiale en politieke lewe.
Ons mag nie aanstoot neem aan die weg van die Messias as Priester en Profeet nie. Om nie aan Hom aanstoot te neem nie, beteken dat ons in ons siekte, pyn, kommer en angs op Jesus se priesterlike bewoëndheid en bystand wag, al word ons nie altyd van al ons kwale en kwellinge bevry nie. Dit is juis Jesus se priesterlike sorg wat by ons ’n verlange wek na die dag waarop sy heerskappy finaal sal triomfeer. Want op die dag sal die Priester en die Profeet ook as Koning kom om al die trane van sy onderdane af te droog en om die dood te vernietig. Die dag wanneer dit gebeur sal ons by die Koning op die nuwe aarde tuis en gelukkig wees. Daarom kan ons intussen totdat die Messias as Koning kom, aan die hand van die Priester vashou en uit die Woord van die Profeet leef.
Vervolg...