Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vertel jou vreugdes aan die wêreld, maar bly stil oor jou beproewinge. Moenie by jóu pyn en jóu lyding bly vashaak nie. Fokus liewer op God se plan. Dis hoe Jesus die pyn van die kruis verduur het.
AS DIE WAARHEID VERTRAP WORD (4)
Ds AE vd Berg
Lees reeks by As die waarheid vertrap word
Deel 4
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
1. Wêreldlikheid
Wêreldlikheid is een van die grootste vyande van die kerk van Christus. Dis vir elke kerk baie belangrik om te weet wat wêreldlikheid is omdat baie van hulle skynbaar nie duidelikheid hieroor het nie. Die Bybel sê:
“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh.2:15-17).
Twee kernwoorde is hier ter sprake – liefde en wêreld. Hier gaan liefhê nie oor dinge waarvan mense hou of nie hou nie, maar oor ʼn wilsbesluit en opoffering vir die waarheid. Wêreld is hier ʼn geordende wêreld-sisteem met Satan aan die voortou van mense wat God en die waarheid teenstaan (Ps.2:2,3).
2. Besoedeling
Wêreldlikheid en dwaalleer is twee kouse wat van dieselfde materiaal gemaak is en besoedel alles wat heilig is.
“As julle My liefhet, bewaar my gebooie... die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie ... Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet...en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar” (Joh.14:15,17,21).
Dwaalleer is soos radio-aktiewe bestraling. Wie daaraan blootgestel word, voel nie noodwendig die onmiddellike uitwerking daarvan nie. Hulle ontkom egter nie aan die uiteindelike gevolge daarvan nie. Dwaalleer maak kerke gemaklik met sonde:
“ ...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).
Dwaalleer maak mense doof vir God se Woord en blind vir die waarheid.
“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie” (Luk.6:46).
“Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk” (Tit.1:16).
“...woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word” (Judas :13).
Paulus se waarskuwing aan die Korintiërs geld vir alle gelowiges:
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Kor.6:14-18).
Wêreldlikheid veroorsaak telkens geloofwaardigheidskrisisse in kerke. Lidmate wat van die kerk verwag om anders as die godvyandige wêreld op te tree, raak teleurgestel in die kerk. Dit het ʼn kring van spotters geword – mense wat met die waarheid spot. Gelowiges voel nie tuis in so ʼn kring nie en verlang na die ware gemeenskap van die heiliges wat hulle vir soveel jare geken het. Die winde van verandering het hul kerktorings figuurlik gesproke omgewaai en hul kerke hul agtergelaat.
3. Onheiligheid
Christus se heerskappy as Hoof van die kerk is vir ontspoorde kerke ʼn groot probleem omdat hulle, soos die Satan, hierdie heerskappy vir hulself wil hê. Hulle flankeerdery met die wêreld is daarop gemik om Christus te onttroon. Daarom word eredienste met allerlei drama, musiek, komedie en wêreldse dinge vervlak om die heiligheid daarvan te af te breek.
Prediking draai om temas soos menseverhoudings, sukses, selfbeeld en nog vele meer. Dit hou baie mense in die vlak water van kerklike vermaak vas en is onskriftuurlik:
“En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te wees nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde ... en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van Gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God” (1 Kor.2:1-5).
Oppervlakkige vermaak laat ʼn kerk spoedig so kaal, dat sy later niks het om haar skaamte mee te bedek nie. Dis alles ongebreidelde onsinnigheid in die naam van byderwetsheid en vernuwing. Kerke wat hul prediking in die diep water van die waarheid anker, raak nooit oppervlakkig nie.
4. Binnegevegte
Die NG Kerk se bollemakiesie-agteroorslanery oor eeu oue Skrifwaarhede het ʼn paleisrewolusie in die kerk ontketen met talle binnegevegte. Aan die een kant van die spektrum is daar gelowiges wat elke woord in die Bybel glo en deur kritici fundamentaliste genoem word. Aan die ander kant is daar diegene wat die Bybel se waarhede telkens betwyfel en hulself as nugter denkend beskou.
Die groeiende ongemak met die hantering van Skrifuitleg en Skrifgesag het talle lidmate die pad laat vat. Die skaamtelose ontsondiging van homoseksualisme het baie daartoe bygedra. So ook die onafgeskilde turksvy wat die Belhar-belydenis in die vrugteslaai laat.
Om gruwels die etiket van menswaardigheid om te hang, skreeu ten hemel. Vreemd genoeg wil mense mekaar nie aanstoot gee nie, maar skroom nie om God aanstoot te gee nie. Hulle geniet selfs die versuikerde gruwels wat op die kerk se tafel beland.
Homoseksualisme spot openlik met God se huweliksverordening van een man en een vrou. En om te bely dat die Heilige Gees kerklui tydens ʼn Sinodesitting oortuig het dat homoseksualiteit nie ʼn gruwel vir God is nie, getuig van mistasting in hoofletters!
Wie teen homoseksualisme praat, word van ʼn Middeleeuse siening van seksuele oriëntasie beskuldig. Kerke het homoseksuele lidmate selfs openlik om verskoning gevra vir die jare lange skending van hul sg. menswaardigheid; alles te midde van die kerk se seisoen van menswaardigheid.
Dit gaan per slot van sake alles oor gunssoekery. Gunssoekers kan nooit diensknegte van God wees nie:
“Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ’n dienskneg van Christus wees nie” (Gal.1:10).
5. Doodloopstrate
Wie die evangelie van Christus in ʼn wêreldse idioom verkondig, verkondig spoedig ʼn wêreldse evangelie in ʼn Christelike idioom. Kerke kom nie tot stilstand en besin oor hoe hulle hierdie bedenklike situasies beland het of waarheen hulle daarmee op pad is nie. Hulle spoed in doodloopstrate voort.
Die kerk skuil agter kosmetiese hervormings wat geloofwaardigheid nie versterk nie, maar eerder in die teken van opstand teen die waarheid staan. Dit gaan nie oor die waarheid nie, maar wat in die praktyk kan werk; metodologie in plaas van teologie. En as iets nie werk nie, word die doelpale verskuif en die spelpatroon verander.
Wie in pas met die wêreld wil wees, kan nooit die stem van God laat hoor nie. Kerke se patologiese toewyding aan kunsmatigheid laat mense wel kerk toe kom, maar nie hemel toe gaan nie. Baie mense wat nog Sondae kerk toe kom, kom bloot omdat dit tradisie is. Sommige van hulle se godsdiensbelewenis eindig ook net daar. Hulle is gestryk en gepoleer maar nooit in die bloed van Christus gewas is nie. Dit maak die kerk baie kleiner as wat dit lyk.
“Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand” (1 Kor.14:20).
“...sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (Efes.4:14).
“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim4:3,4).
“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ’n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ’n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebr.5:12-14).
6. Polities korrek
Ontspoorde kerke is tuis in vandag se polities korrek vertrapte wêreld. Hierdie gewaande korrektheid is nog ʼn oorlogsverklaring teen die waarheid. Mense verloor hul stem in ʼn gedwonge eendersheid en neem ʼn Hansie-my-kneg houding teenoor ʼn godvyandige staatkundige bestel in. Hulle word skoothonde in plaas van waghonde.
Politieke korrektheid is teen talle Bybelse onderskeidings gekant. Die Bybelse verbod op vroue in die kerkamp eis een daarvan.
“Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou” (1 Tim.2:12).
Die toelating van vroue in die kerkamp eis dwaalkerke se regstellende aksie op feministe se aanklag dat die Christendom te man-georiënteerd is en die vrou haar regmatige plek in die samelewing ontsê. Die Bybel praat baie anders hieroor. Paulus verbind Christus se hoofskap oor die kerk baie duidelik met dié van die man oor die vrou.
Die Kerkampte is ‘n regeer-amp en Bybels gesproke slegs vir mans beskore. Om te sê dat hierdie voorskrifte slegs vir Paulus se tyd gegeld het, nie meer op vandag van toepassing is nie, is ʼn leuen. Dit maak die Skrif kultuur- en tydgebonde en bring die onfeilbaarheid daarvan onmiddellik in gedrang. Alhoewel die Skrif in die tyd gegee is, is dit nie tydgebonde nie en geld vir ewig. Ook wat die kerkamp behels.