Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Met watter rede kan ons aanspraak maak dat God hierdie afgedwaalde Afrikanervolk hoegenaamd sal spaar en nie heeltemal sal uitwis deur die hand van ons huidige verknegters nie? Ons kan iets leer hieroor in 1 Konings 10:18: "Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nié voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nié gesoen het nie". Ons het steeds dieselfde God vandag, die God van Israel, Wie altyd dieselfde bly...
AS DIE WAARHEID VERTRAP WORD (SLOT)
Ds AE vd Berg
Lees reeks by As die waarheid vertrap word
Deel 6
“Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.....” (Hebr.12:1,2).
1. Wantroue
Kerke gaan tans so vinnig agteruit, dat dit of na ʼn na-institusionele vorm van kerk-wees op pad is of selfs heeltemal roemloos in die niet kan verdwyn. Dis die droewige gevolg van hul bedenklike hantering van die Bybel. As hierdie lewenskompas opsy geskuif word, verloor ʼn kerk Christus, die Ware Noord, uit die oog. Hulle behou hoogstens die skulp, maar verloor die pêrel.
Die gevolg is dat onverskilligheid vandag die grootste afmeting sedert die Protestantse Hervorming in evangeliese kerke aanneem. Kerke wat die gevegsleiding teen dwaalleer moet neem, word dan self die gevegsterrein en gooi selfs nuwe knuppels in die hoenderhok!
Oral is die vaandeldraers van georganiseerde godsdiens op die afdraande pad. Kerke is soos Roomse katedrale – mooi van buite maar vrot van binne. Hulle oorleef slegs op die suurstof van hul bankbalans en oumense se bydrae. Baie van hulle is in so in ʼn geldelike oorlewingstryd gewikkel, dat daar by hulle nie tyd vir nadenke is nie.
Desondanks beskou hulle Bybelse leerstellings en vertolkings waarmee lidmate jare lank vertroud was, as uitgedien. Lidmate word wys gemaak dat die kerk as struktuur vir ʼn tyd ontwerp was wat vandag nie meer bestaan nie. Kerke bemoei hul met nuwe strukture wat met wetenskaplike insigte, waardes en waarnemings ooreenstem en mense in eietydse taal oor God kan laat praat.
Die kerk se twyfel oor die gesag van die Bybel en die hervertolking van Skrifwaarhede plaas lidmate op ʼn geestelik honger-dieet wat aan die nodige kilojoules ontbreek en sy tol eis. Die NG Kerk het bv. sedert 1985 meer as 500,000 lidmate verloor. Almal is nie na charismatiese kerke toe nie. Die meeste het kerkloos geword. Daarvan getuig die voetverkeer Sondae by inkopiesentrums, teaters en ontspanningsoorde baie duidelik!
2. Goeie raad
“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie....” (1 Kor.10:12,13).
In oorleg met Paulus se waarskuwing gee Judas raad hoe om nie in die slagyster van afvalligheid te beland nie. Gelowiges moenie vergeet wat die Skrif oor die optrede van dwaalleraars leer nie en weet dat Christus nooit beheer oor sy kerk verloor nie, maar dit bewaar. Die vroeë wolwe in skaapklere het ook die kerk geskaad maar dit nooit vernietig nie.
Judas noem vier stappe om staande te bly:
(i)“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof” (:20).
Gelowiges moet mekaar met die Woord van God versterk. Daarvoor is doelgerigte Bybelstudie onontbeerlik.
(ii) “ ... en in die Heilige Gees bid” (:20).
Deur God vir beskerming, genade en insigte bid, sal gelowiges geestelik standvastig bly.
(iii) “en julleself in die liefde van God bewaar” (:21).
Gelowiges moet hul lewens in die liefde van God en die waarheid anker.
Johannes skryf in dieselfde trant:
“Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. (Joh.14:21; 15:9,10).
(iv) “...terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (:22).
Gelowiges moet altyd ʼn spoedige wederkoms van Jesus verwag.
3. Sonsondergang
Niks klink so sleg soos die flou stem van ʼn siek Christendom en geen begrafnis is so hartseer soos dié van ʼn volk met die kerk as begrafnis-ondernemer nie. Die verval van groot evangeliese kerke is die kernhoofstuk van die tragiese verhaal van ʼn volk wat vrywillig ten gronde gegaan het.
Kerke sal ernstig moet besin oor sake soos homoseksualisme, saamwonery, die huwelik en verderflike Roomse invloede soos die kindernagmaal en ʼn omstrede Bybelvertaling. Die kerk gaan nie in sy huidige gedaante oorleef nie. Dit moet soos ʼn Israel van ouds, na die paaie van weleer terugkeer:
“So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel...” (Jer.6:16).
Die meeste lidmate weet nie wat op kerklike terrein aangaan nie. Hulle word nie oor die uitverkoop van beproefde kerkwaardes ingelig nie. Dwaalleer word as vernuwing aangebied en gekoop. Vernuwing wat mense nie tot ’n nuwe liefde vir die waarheid lei nie,word wrede waarskuwings!
Kerke wat met verkeerde dinge saamloop, leef nooit reg nie. Lidmate van dwaalkerke het ʼn keuse om of na die lig van God se Woord terug te keer of soos’n grotdiertjie aan die donkerte van dwaalleer gewoond te raak. Daar is nie ʼn middelpaadjie of enige neutrale sone vir besluitelose mense nie.
Geen gelowige durf sy lidmaatskap met ʼn kerk voortsit wie se weersin in die waarheid ʼn ope boek is nie. So ʼn lidmaatskap moet sonder gewetenswroeging verbreek en daalleraars se monde gesnoer word:
“ ..hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins... Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees. Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas”(Tit.1:11,13;2:1).
Ten slotte
Suid-Afrika het ʼn nood aan leraars met ʼn opregte liefde vir die waarheid en wat die boodskap van verlossing in Jesus Christus duidelik aan sondaars oordra. God help volke hiermee:
“En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand” (Jer.3:15).
Ontspoorde kerke kan slegs deur ʼn nuwe toewyding aan die Bybelse waarheid uit die as van misleiding opstaan. Die Bybel het die beskawing nog altyd deur die eeue laat gedy. Gevolglik sal niks ʼn volk so heg as die steenwerk van ʼn gesonde godsdiens nie!
Kerke sal tot besinning moet kom en bewustelik teen dwaalleer optree. Jesus het by geleentheid selfs die tempel met ʼn sweep gereinig. In sy getuienis voor die Joodse Raad het Stephanus die aanklaers nie heuning om die mond gesmeer nie, maar reguit gepraat al het dit sy lewe gekos. Daarom moet gelowiges se stryd vir die waarheid altyd die hoogwatermerk van hul liefde vir God aandui en hulle vir die waarheid laat veg totdat die eindfluitjie blaas!