Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer jy iemand kan vergewe vir iets wat hy teen jou verkeerd gedoen het, is dit 'n bewys van oorwinning – die oorwinning van die Gees oor die vlees, en suiwer genade. As jy nie kan vergewe nie sal die skerp klip van wrok en haat in jou hart, jou mettertyd verteer.
GOD SAL OP SY TYD MET SATAN AFREKEN
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
" Die boodskap van Kersfees gaan nie oor die kind in die krip, die herders op die ope velde of wat ook al nie, maar oor die kop van die slang wat vermorsel word, Satan se houvas wat met die koms van Christus gebreek is... Satan is die teenpool van God. Toe ons ’n Christelike grondwet gehad het, was daar wet en orde. Toe dit geskrap is, wetteloosheid en misdaad."
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal Hom in die hakskeen byt”.
Die Bybel is vol verhale. Baie daarvan is tragies soos Rigt.16 wat van die vroeë dood van Simson vertel. In 1 Sam.31 lees ons van die selfmoord van Israel se eerste koning, Saul en in Klaagliedere 1 van die verwoesting van Jerusalem. In Mt .27 lees ons van die kruisiging van ons Here Jesus Christus.
Die grootste tragedie is in Gen.3 opgeteken - die verhaal van hoe sonde in die wêreld gekom het. Al die nare dinge wat ons ervaar, is die gevolg van Gen.3! Dit vertel die verhaal van die eerste mense wat oortree en in sonde verval en daarna vir God probeer wegkruip het. God het hulle egter tot verantwoording geroep en ’n vertroostende belofte gegee:
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal Hom in die hakskeen byt”.
God sou Iemand stuur wat die Satan se mag oor die mens sou verbreek. Dit was Jesus Christus wat 4000 jaar later met ’n doel gekom het. ”Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10).
Adam en Eva het nie werklik verstaan wat God hulle beloof het nie. Hulle het slegs kennis geneem van ’n Redder wat sou kom om die Satan se houvas op die mens tot niet te maak. Vandag, 6000 jaar later, verstaan ons Gen.3:15 baie goed. Jesus het gekom om gevangenes van die Satan te bevry en kinders van God te maak. “….Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis…. “ (Jes.61:1).
Nie net die eerste boek van die Bybel, maar ook die laaste boek noem Satan ’n slang: “En Hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank” (Openb.20:2). Hy word ’n slang genoem omdat dit die vorm is wat hy in die tuin van Eden aangeneem het. Die uitwerking van sy byt, is dodelik soos slangbyt. Miljoene mense het sedertdien in hul sonde gesterf. Dink maar net aan die sondvloed!
In hierdie belofte van Gen.3:15 sien ons ook God se ontferming oor Adam en Eva (die mens). God maak ’n onderskeid tussen haar saad en dié van Satan. Uit haar nageslag sou Christus gebore word. Wat word met die saad van Satan bedoel? Almal wat die aanbod om redding van die hand wys en Satan as vader verkies – alle onbekeerde sondaars. Daarom is daar in elke land, volk en kerk twee groepe mense - saad van die vrou en saad van Satan.
Jesus val die kerklui van sy tyd aan: “Julle het die duiwel as vader en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Joh.8:44). Ja, die kinders van die duiwel doen verkeerde dinge – aartjie na hul vaartjie! “omdat wat die vlees bedink vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom.8:7). Die kinders van God (saad van die vrou) doen goeie dinge.
Ons sou God nie kon verkwalik indien Hy ná die sondeval Hom aan die mens onttrek het nie. Hulle kon immers kies om na die gebod van God insake die verbode vrug te luister of nie en verkeerd gekies. Juis in die feit dat Hy dit nie gedoen het nie, maar Hom oor die mens ontferm het, sien ons die liefde van God – onverklaarbaar dog wonderlik! God maak ’n reddende belofte: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal Hom in die hakskeen byt”
Jesus sou op God se bepaalde tyd na die aarde kom. “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet” (Gal.4:4). Jesaja noem Hom Immanuel (Jes.7:14). Dit beteken God met ons. Waarom is Hy met ons? Om ons in die stryd teen Satan sterk te maak. Die mensdom is van meet af aan in stryd gewikkel – die saad van die vrou (gelowiges) en dié van Satan (ongelowiges), ’n verbete stryd wat tot die wederkoms van Christus sal duur. Dan word Satan heel eerste in die poel van vuur gewerp en daarna almal wat Hom as vader gehad het (Openb.20).
Die saad van die vrou en dié van Satan het niks met mekaar in gemeen nie. “Moenie in dieselfde jul trek saam met die ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Kor.6:14,15). Die skeidslyn moet baie duidelik getrek word. Die saad van die vrou is rein en heilig. Dié van Satan is besoedel en onheilig.
Die teksvers meld dat die kop van die slang vermorsel sal word. As ’n mens ’n slang doodmaak, mik jy vir die kop omdat die gif in die kopgedeelte is. As ’n slang se kop vermorsel is, is dit nie gevaarlik nie – dis kragteloos, dood. So het Christus op Satan se kop getrap en hom ’n ewige dood tegemoet laat stap.
Die boodskap van Kersfees gaan nie oor die kind in die krip, die herders op die ope velde of wat ook al nie, maar oor die kop van die slang wat vermorsel word, Satan se houvas wat met die koms van Christus gebreek is. Dis soos iemand wat vas was en toe losgemaak is.
Tydens Jesus se aardse optrede het Hy gereeld teen Satan gestamp. Dink maar aan die versoeking, daarna die aanvalle deur die kerklui. Luister wat noem Jesus hulle – addergeslag (saad van die slang)!
Satan weet dat sy tyd min is en dat daar ’n einde aan sy algehele houvas op die mensdom kom. Hy weet dat Jesus sterker is. Luister hoe praat sy engele in vrees:”Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U gekom om ons voor die tyd te pynig? (Mt.8:29). Let op: voor die tyd. Satan weet dat die dag van afrekening, die vermorseling van sy kop, kom!
Jesus het Hom menigmaal teen Satan gestamp:
- In die tuin van Getsémane stamp Hy hom aan Satan toe Judas Hom verraai.
- In die fort Antonia stamp Hy hom aan Satan toe die soldate Hom gesel.
- Op Golgotha stamp Jesus hom aan Satan toe Hy aan die kruis vasgespyker word en onbeskryflike smarte beleef.
Maar toe Jesus uit die dode opstaan, triomfeer Hy oor Satan. Satan kon Hom hoogstens seermaak, maar nie vernietig nie. Die Kind in die krip het ’n Oorwinnaar geword!
In die Ou Nabye-Ooste is ’n koning wat sy vyand oorwin het, dikwels deur kunstenaars as iemand met sy voet op die verslane teenstander uitgebeeld. Paulus gebruik hierdie beeld as hy aan die Korintiërs skryf: “Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het” (1:15:25). Hoe pas dit nie by die beeld van Gen.3:15 aan nie - Satan met ’n vermorselde kop onder die voete van Jesus! Toe Jesus uit die dood opstaan, het Satan besef dat hy ’n verslane vyand is. Hy het heimlik gehoop dat dit nie sou plaasvind nie, maar dat die dood Jesus sou vashou.
Die invloed van Satan se saadlyn kan nie met woorde beskryf word nie. Dis iets verskrikliks! Kyk maar wat in ons land gebeur - die regering van die bose saadlyn van Satan! Satan is die teenpool van God. Toe ons ’n Christelike grondwet gehad het, was daar wet en orde. Toe dit geskrap is, wetteloosheid en misdaad. Meer as 40 nuwe soorte misdade is sedert 1994 in ons land aangeteken! Ons kan ons maklik oor al die lelike dinge verknies, maar ons gaan nie. Ek bid net dat volksgenote en kerke wat aan die daarstelling van hierdie Satan-bedeling aandadig is, na God en hul volk sal terugkeer.
Ja, ons gaan positief wees. Dis immers Kerstyd, ’n tyd van vreugde waarin ons wil juig oor ons Redder wat gekom het. Hy sal op sy tyd finaal met die Satan afreken. Al gaan ons as volk tans deur ’n dal van doodskaduwee, ons sal geen onheil vrees nie, want Jesus is met ons. “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding” (Mt.28:20).
Amen!