Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wonder dikwels waarom sommige mense situasies met soveel wysheid en insig benader terwyl ander weer dwarsweg in moeilike omstandighede handel en onnadenkend groot skade veroorsaak. Die Psalmdigter gee die antwoord hiervoor wanneer hy sê dat God se Woord as lig die eenvoudiges verstandig maak. Ons hoef dus nie eers baie slim te wees om verstandig te wees nie, die Here se woorde leer ons wysheid wanneer ons bereid is om daarmee opgevoed te word. En diegene wat weier om God's Woord met oop gemoed te bestudeer sal dwars en onwys bly.
ENGEL VAN DIE LIG
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
"Hierdie volk nader My met hulle mond en eer my met hulle lippe, maar hulle hart is vêr van My af” (Mt.15:7,8)."
“Want sulke mens is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie, maar hulle einde sal wees volgens hulle werke”- 2 Kor.11:13 -15
Tweedrag is ’n skadelike element in enige gemeente en het al talle gemeentes laat ontbind. Tweedrag is so oud soos die Christelike kerk self en ’n kragtige wapen waarmee Satan die kerk seermaak. Toe Paulus die tweede brief aan die Korintiërs geskryf het, was daar twee botsende geeste in hierdie gemeente werksaam.
Baie van die kerklui was vol van hulself en het met hulle misleidende vertoon gekyk hoeveel geld hulle uit die gemeente kon kry. Hulle het die gemeente vir eie gewin gemanipuleer. Paulus was die teenoorgestelde en geensins deur geld aangevuur nie. Al wat hom aangevuur het, was die liefde van Christus en ’n opregte besorgdheid oor verlore siele.
Die tweedrag in die gemeente in Korinte het ’n gees van wedywering geskep wat foutvindery, kleinlikheid en gespanne verhoudings veroorsaak het. Dit het die gemeente lamgelê.
Desondanks het elkeen gedink dat hy God guns bewys.Toe die beeldhouer Michaelangelo en skilder Raphael besig was om die Vatikaan met hul kunswerke te verfraai, het ’n bitter gees van wedywering tussen hulle geheers sodat hulle nie eens met mekaar gepraat het nie. Elkeen van hulle het gedink dat sy kunswerk God meer sou behaag as die ander een s’n. Dis presies wat in Korinte gebeur het. Satan skep selfs deur valse toewyding verwarring en verwydering in ’n gemeente!
Dit gaan vir hom om die leuen in die kerk/gemeente gevestig te kry. Hy doen dit deur God se Woord bevraagteken te kry en daarna die leuen as oplossing aan te bied. In Gen.3:3- 4 sê hy vir Eva: “….Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie daarvan eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie”. Satan lei ons, soos vir Eva, weg van die waarheid en laat ons voel dat ons op meer as dit wat God ons gee, geregtig is. En sodra jy aan God se sorg begin twyfel, trap jy in die strik van Satan en word jy sy slaaf: “Want julle verdra graag die dwase….Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak…” (2 Kor.11:19,20).
Satan werk al eeue lank in kerklike geledere en spoor kerklui aan om leerstellings en tradisies te ontwerp wat mense van denkwyse laat verander en die Bybel verdraai. Dis hoe kultusse ontstaan het. Die Fariseërs was ’n goeie voorbeeld hiervan met hul hordes van tradisies wat mense slaafs moes volg om in tel te wees. Oortredings is as oortredings van God se Woord beskou: “Toe kom daar skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem na Jesus en sê: Waarom oortree u dissipels die oorleweringe van die oumense? ….” (Mt.15:1-2) .
Die Fariseërs se tradisies was, net soos die geval later in Korinte, die produk van selfsug. Satan het in hulle gewerk om mense van die Woord van God los te maak. Dit het hulle blind gemaak vir die waarheid en uit pas met God laat raak; vol godsdiens, maar leeg van godsvrug. “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer my met hulle lippe, maar hulle hart is vêr van My af” (Mt.15:7,8).
Valse leraars het met hulle oorweldigende charisma die gemeente mislei. Hulle aanbieding was oortuigend en hulle boodskappe in die pragtigste godsdienstige papier denkbaar toegedraai. Soos die kinders van Hamelin die rotvanger se fluitspel slaafs gevolg het, het die mense van Korinte agter hul aangeloop.
Paulus was ontsteld hieroor en die gemeente opgeroep om die inhoud van hul prediking te ondersoek. Hy het geweier om in argumente met hulle betrokke te raak omdat dit hom na hulle vlak sou laat daal. Dit wat hulle gepreek het, was geensins Skrifgetrou nie, maar hul eie weergawe van die Christendom. Ongelukkig het baie van die gemeentelede geglo dat hulle boodskap Paulus s’n uitstof en verdeeldheid veroorsaak.
Wat het hulle so laat dink? In die oud Griekse wêreld was leermeesters veronderstel om geld vir onderrig te verdien. As mense na so ’n leermeester geluister en met hom beïndruk was, is daar van hulle verwag om ’n geldelike bydrae vir sy lewensonderhoud te maak. Wie nie goed kon onderrig, het geen betaling ontvang nie. Toe Paulus weier om geld vir sy optrede in die gemeente te ontvang, het die mense geglo dat sy onderrig niks werd nie. Die rede waarom hy geen geld wou vat, was om mense te oortuig dat hy nie daarop uit was om geld te maak soos die dwaalleraars nie.
Laasgenoemdes het Bybelse woorde en begrippe gebruik om die gemeente se belangstelling te prikkel en daarna hul eie evangelie verkondig. Dit het Paulus hewig ontstel omdat hy die kerk as die bruid van God gesien het wat jaloers bewaak moes word. Paulus het hom soos die oppasser van ’n maagd beskou wat haar aan Christus as ’n rein maagd moes oorhandig. Dwaalleer is ’n verkragting van die waarheid.
In die kerk gaan dit op stuk van sake oor die verkondiging van die waarheid soos in die Woord van God gevind word. Dis die primêre taak van die kerk. Wie dit nie doen nie, is besig met die dinge van Satan. En daar is baie van hulle in die wêreld! Dwaalleraars is al van die ontstaan van die kerk besig om die waarheid neer te haal en die leuen op te hemel. Die Bybel waarsku dat hierdie verfoeilike optredes voor die wederkoms skerp gaan toeneem soos ons dit onlangs tot ons skok weer ervaar het.
Het u gelees wat emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, gewese hoof van die Anglikaanse kerk en eertydse Nobelpryswenner vir vrede kwyt geraak het? “Net omdat iets in die Bybel staan, is dit nie noodwendig waar nie”. Tutu verwys spesifiek na Paulus se uitsprake oor homoseksualiteit, ’n gruwel wat toenemend die groen lig in kerke kry.
Tutu wat in 1980 openlik die maagdelike geboorte van Jesus ontken het tydens die bekendstelling van die Verenigde Nasies se veldtog vir gelyke regte vir homoseksuele mense, het ’n beroep op kerkleiers gedoen om hierdie veldtog te steun. Hy het by hierdie geleentheid Paulus se uitsprake oor hierdie gruwel as “’n groot bron van foltering vir baie mense” veroordeel. Tutu het geëis dat homoseksuele mense se regte eerbiedig word en dat mense anders na God se Woord moet kyk. Wat hy eintlik sê , is dat God se Woord buite rekening gelaat moet word en die mense se bose wil moet geskied; nie God s’n nie, maar die mens s’n.
Kerke wat die mens se wil bo God s’n stel, luister na Satan en herhaal Eden: “….Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie daarvan eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie” (:3,4). Luister hoe praat Satan vandag: “Is dit so dat God gesê het dat geen sodomiet of dwaalleraar in die hemel sal kom nie? Ek sê vir julle: Dis nie waar nie!”
Tutu het twee maal gesê: “Ek kan nie ’n homofobiese God aanbid nie en ek weier om na ’n homofobiese hemel te gaan – dan gaan ek eerder na die ander plek”. Hy sê hiermee dat hy nie ’n God kan aanbid wat homoseksualisme veroordeel nie. Die Bybel sê dat God by geleentheid so kwaad geword het vir homoseksualisme dat Hy twee stede met vuur en swael verbrand het. Hoe durf ’n gelowige ’n goeie woord vir hierdie gruwel hê?
Om homoseksualisme as ʼn mens se fundamentele reg te beskou, skaad eeue se sedeleer. Desondanks word dit deur dienaars van Satan as ’n herstel van menseregte opgehemel. “Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie….”
Die ontsondiging van homoseksualisme skep verdeeldheid in talle kerke. Dit het selfs ’n identiteitskrisis in die NG Kerk veroorsaak. Tot vandag toe weet mense nie of die NG Kerk vir of teen homoseksualisme is nie!
Jesus se wederkoms is baie naby en Satan se stryd gaan al hewiger word. Ervaar u dit? Booswigte los die dinge van God net nie uit nie en val die Bybel toenemend aan. Die Bybel is hul fokuspunt – die kenbron van die waarheid. Satan, die vader van die leuen, haat dit. Daarom verander hy hom soos ’n engel van die lig ten einde sy leuens te versprei om soos in Korinte verwarring in kerke te skep.
In plaas daarvan dat kerke sondaars help om hul gruwels stop te sit, eis talle kerke en internasionale poppespelkarakters in kerklike gewade dat mense hul Bybelse siening tersyde stel en hierdie gruwel in God se oog in liefde aanvaar. Paulus sê mos in 1 Kor.13 dat die liefde alles bedek, sommer gruwels ook!
Die Bybel sê God straf nie net individue wat hulle aan homoseksualisme skuldig maak nie, maar ook gemeenskappe wat hul sienderoë laat begaan. Luister wat skryf Paulus oor kerke wat homoseksualisme ontsondig: “...mense wat – al ken hulle die verordeninge van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien, - dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hul goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).
Die stryd om homoseksualisme as ’n alternatiewe liefdeslewe aanvaar en gevestig te kry, woed in baie kerke. In sommige lande word diegene wat hul daarteen uitspreek, strafregtelik vervolg. Mag God ons genadig wees om hierdie gruwel nooit te aanvaar of selfs verdraagsaamheid daarvoor te bepleit nie!