Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons Afrikanervolk kan nie vandag roem op 'n geskiedenis van verstandigheid en harte wat aan die geloof van reg en verkeerd vasgehou het nie. As ons het, sou ons nie vandag in ons eie land verkneg gewees het onder 'n ateïstiese swart owerheid nie.
Die twee Emmaüsgangers was so teleurgesteld dat Jesus dood is omdat hulle gedink het Hy sal die Een wees wat die volk Israel gaan red, en hulle het nie besef Hy het opgestaan en praat nou self met hulle nie want hulle het nie aan die beloftes van sy opstanding vasgehou nie. Daarop het Jesus aan hulle gesê het "o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!" Bid dat God ook óns volksondes vergewe en ons laat bly leef!
HOU VAS... TOT EK KOM
1 Januarie 2014
Ds AE van den Berg
“Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”- Openb.2:25
"Die resep was duidelik: Beheer die politiek met godsdiens ...die kerk het nie die wêreld geheilig nie; die wêreld het die kerk besoedel... Sommige mense weet baie goed wat die waarheid is, maar is nie lief daarvoor nie; die leuen is baie aanlokliker! Sulke mense het God nie werklik lief nie, want om vir God lief te wees, moet jy die waarheid liefhê. ...In tye van misleiding is die verkondiging van die waarheid ‘n rewolusionêre daad!"
Vyf eeue voor die geboorte van Christus het die Perse die Babiloniërs verslaan en die nuwe wêreldheersers geword. Die Babiloniese priesters het na Pèrgamus gevlug en hul afgodery daar voortgesit. Soos wat Jerusalem God se setel op die aarde was, het Pergamus Satan s’n geword namate die priesters ongekende mag oor hul mense verkry het.
“Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie; selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon” (Openb.2:13).
Toe die Romeinse ryk begin kwyn en burgers onregeerbaar begin word het, het die keiser Pergamus (’n provinsie van Rome) besoek om by die priesters te leer hoe om mense te beheer. Dit wat in godsdiens werk, moes ook in die politiek werk! Die resep was duidelik: Beheer die politiek met godsdiens.
Dis hoe die Roomse Kerk ontstaan het, ’n bose organisasie wat vir meer as 1,200 jaar ongeëwenaarde mag oor die mensdom gehad en miljoene mense vermoor het; ’n duif met roofvoël-instinkte! Jesus sê nie verniet dat Satan ’n mensemoordenaar van die begin af is nie (Joh.8:44).Thiatire was naby Pèrgamus en het ook in die spervuur van Satan beland. Alhoewel dit ’n sterk Christelike gemeente gehad het, was dit meer op getalle as op gehalte ingestel. Desondanks begin God met ’n aanprysing: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof….” (:19). Hy het egter ook ’n klag teen hulle gehad – hulle het nie oor die prediking gewaak en dwaalleer beveg nie. “Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei…” (:20).
Hierdie Isebel was nie ’n werklike vrou nie, maar simbool van die bose invloed wat dwaalleer op die gemeente gehad het. Dit herinner aan die bose Isebel wat haar man, Agab, die Baal-godsdiens in Israel laat wettig het, ’n tempel vir Baal in Jerusalem opgerig en die priesters uit die staatskas besoldig het. Oral waar die tempel van die Here verrys, rig Satan sy kapel van misleiding op!
Agab se huwelik met ’n heiden-vrou was fataal vir Israel. Die Hollanders sê: “Twee geloven op een kussing, daar slaap de duiwel tussen!” En was Satan nie tuis op die koning se bed nie! Baie Israeliete was gegrief maar was te bang om te praat uit vrees vir vervolging.
Isebel het geweet dat Israel se godsdiens vas gestaan en nie sonder meer met afgode bestorm kon word nie. Sy moes ’n ander taktiek gebruik; Israel se geesteswaardes moes afgebreek word. Dis vandag nog ’n wenner – besoedel die kerk met dinge van die wêreld! Dit wat in Israel gebeur het, het later ook in Thiatire gebeur – die kerk is bewustelik besoedel wat dwaalleer laat ontstaan het. Mense het met die “dieptes van die Satan” (:24) in aanraking gekom. Dwaalleer kom van Satan en hy spot met God en die waarheid. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie…” (Gal.6:7).
Hoe het dwaalleer ’n Thiatire beland? Die kerkleiers wou die Christelike kerk vir heidene meer aanvaarbaar maak. En daarvoor moes die mure wat die kerk van die wêreld geskei het, afgebreek word. Die kerk moes die wêreld op sy eie terrein ontmoet ten einde mekaar te verstaan. Die gevolg was dat die gemeente uit haar nate gebars het - die kerk het modern geword.
Die keersy van hierdie blink muntstuk was egter dof. Toe die heining opgelig is, het klein jakkalse die wingerd verniel en is God se heilige akker onteer. Thiatire was baie anders as haar beginselvaste buurgemeente Smirna wat nie van haar beproefde geestelike waardes afgewyk het nie.
Wie het die grootste invloed op Thiatire gehad – die kerk op die wêreld of die wêreld op die kerk? Ongelukkig die wêreld op die kerk! Christus veroordeel sulke gemeenskap tussen kerk en wêreld as hoerery: “En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer en sy het haar nie bekeer nie” (:21). Die kerk is die bruid van Christus en moet haar van onheilige gemeenskap onthou!
Thiatire was ’n fatale proefneming – die kerk het nie die wêreld geheilig nie; die wêreld het die kerk besoedel. Die kerk is geroep om heilig (afgesonder) vir Christus te wees. Sodra sy haar beginsels t.w.v. verdraagsaamheid en ’n samewerking met die wêreld laat vaar, beland sy in die spoelsloot van die lewe. Dan voer die godvyandige wêreld haar net waarheen dit wil. Dit wat in Thiatire gebeur het, het ook aan die suidpunt van Afrika gebeur!
Christus laat vaar nie die werk van sy hande nie en sorg vir sy kerk. As dit lyk asof dié gaan sterf, voorsien Hy gelowiges wat sy Woord liefhet om vas te staan: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”. Waaraan moes hulle vashou? Aan die waarheid want dis waarom dit per slot van rekening gaan. Gelowiges is in ’n stryd met die leuen gewikkel. Sommige mense weet baie goed wat die waarheid is, maar is nie lief daarvoor nie; die leuen is baie aanlokliker! Sulke mense het God nie werklik lief nie, want om vir God lief te wees, moet jy die waarheid liefhê. Daarom is die kerk van Christus oral waar die Woord van God suiwer verkondig word.
Wie die waarheid praat is nooit gewild nie en ervaar dikwels kwaai teenstand. In tye van misleiding is die verkondiging van die waarheid ‘n rewolusionêre daad: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes.6:10-13).
Om die waarheid te praat, kan lewensgevaarlik wees, maar nooit nagelaat word nie. Vir gelowiges durf die stryd om die waarheid nooit te veel word nie. Niks onderskei gelowiges soos ’n liefde vir die waarheid nie. Daarom is u lidmate van die AP Kerk; u is lief vir God en lief vir die waarheid!
Gelowiges het die opdrag om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Geen kerk mag haar in ’n tipe van kloosterlewe van die wêreld onttrek nie. Sy moet egter voortdurend waak dat sy nie in die wêreld verdwyn nie! Die kerk van Christus beteken die meeste vir die wêreld as dit die minste daarna lyk. Ongelukkig het kerke die wêreld omhels i.p.v. die dwaasheid daarvan aan die lig te bring. Daarom woed afvalligheid orkaansterkte in baie kerke.
Dis hartseer om te sien hoe oppervlakkig die kerklike lewe geword het. Ja, die kerklike wêreld het hol geword van al die oppervlakkige vermaak. Kerke wat ʼn denkwyse in pas met die wêreldmening huldig, bars vandag uit hul nate. En dit gaan alles oor leuens wat verkondig en geglo word!
Die AP Kerk sal hierdie jaar vir die waarheid moet stry soos nog nooit te vore nie. As sy die waarheid nie gaan verdedig nie, het sy geen bestaansreg nie. Ons het in 2014 geen groter verantwoordelikheid teenoor God as om die waarheid oor die leuen te laat seëvier nie. Dis die edelste ding om te doen!
Gelukkig is ons nie alleen in die stryd nie. God stry saam met diegene wat ter wille van die waarheid ly. Laat ons eerder in die stryd vir die waarheid sterf as om te swyg as leuens verkondig word. Laat ons liefde vir die waarheid van God se beeld in ons getuig. Jesus se raad aan Thiatire is ook die raad aan Moot-Sentraal op die vooraand van ’n nuwe jaar: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”.