Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here Jesus, u graf en kruis was nie die laaste woord oor U nie. Dankie dat die donkerte van ons ellende ook nooit die laaste woord oor ons is nie omdat U uit liefde vir ons gesterf en opgestaan het. U weet dat die lewe 'n manier het om ons te breek sodat ons nooit weer dieselfde kan wees nie Maar dankie, Here Jesus, dat U in staat is om ons situasie en onsself so te verander dat ons bokant die donker kan uitkom.
CHRISTELIKE EENHEID...
...en die Belhar-belydenis
Ds Andrè van den Berg
"Geen mens hoef sy eenselwigheid of staatkundige vryheid op die vreemde altaar van ʼn reënboognasie te offer om ʼn gelowige te wees nie. Jy hoef nie op te hou om ʼn Blanke, Kleurling, Indiër of Swarte te wees om ʼn gelowige te wees nie. Ja, jy hoef nie die heining af te breek ten einde vir jou bure lief te wees nie."
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” - Gal.3:28
Omdat talle kerke van Gereformeerde belydenis nie aan die suigkrag van vrysinnigheid kon ontsnap nie, verskil hulle vandag van die AP Kerk wat die oorspronklike Gereformeerde leer verkondig. Een van hierdie verskille is die leer oor die Christelike eenheid. Die Bybel leer ʼn Christelike eenheid sowel as ʼn Christelike verskeidenheid. Die een is nie belangriker as die ander nie.
Vrysinnige Gereformeerde teoloë verskil hiervan. Hulle beskou die Christelike eenheid belangriker en streef daarna om dit sigbaar te maak. Almal moet onder een dak ingebondel word; presies wat die Belhar-belydenis eis: strukturele kerkeenheid. Gal.3:28 is vir die vrysinnige teoloë ʼn gunstelingteks ter stawing van so ʼn eis, maar omdat dit uit verband gelees word, ʼn lelike misverstand!
Een van die redes waarom u hierdie artikel lees, is dalk omdat u nie met die vrysinnige siening van kerkeenheid saamstem nie. Nie omdat dit u politieke sienswyse nie pas nie, maar omdat die Woord van God anders praat. God eis nie van ons om ons volksliefde te laat vaar ten einde Hom te behaag nie. Wie dit uit Gal.3:28 aflei, laat God se Woord nie spreek nie, maar eerder buikspreek!
As hierdie vers binne sy verband gelees word, sê dit iets heel anders. Galasië was ʼn landstreek vol heidene met talle lelike gebruike soos tempelprostitusie. Met hulle bekering het hulle in Christus nuut geword, die booshede afgelê en so ʼn getuienis gelewer dat gelowiges veranderde mense was. “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal.2:20).
Bekeerde Jode het nie meer verkeerde dinge gedoen omdat tradisie dit toegelaat het nie. So ook nie bekeerde Grieke, mans of vrouens nie. Hulle was nuwe mense in Christus en die ou dinge iets van die verlede. Hierdie nuutword het mense geestelik met mekaar verbind, sonder dat hulle hul nasionaliteit of status moes prysgee. Hulle het nog steeds Jode, Grieke en slawe gebly, maar met ʼn verskil – daar was nou ʼn onderlinge geestelike band wat hulle onsigbaar met mekaar verbind het: “.... want julle is almal een in Christus Jesus”
Die Christelike eenheid is nie ʼn sigbare en waarneembare eenheid nie maar ʼn onsigbare geestelike eenheid; ʼn verskeidenheid van mense onder een Here Jesus verenig. Wie stel hierdie Skrifwaarheid beter as Jesus self? “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde een herder” (Joh.10:16). Die Christelike eenheid bestaan uit verskillende stalle onder een Herder verenig. Dit kan dus nooit sigbaar en struktureel wees soos vrysinnige kerke eis nie!
Let op die belangrike klemverskuiwing in Jesus se woorde as ʼn mens dit so kan noem – kerkeenheid gaan nie om die saamwees in een kraal nie, maar om die saamwees onder een Herder. Hierdie eenheid is nie mensgerig nie maar Jesusgerig! En dit sien die Belhar-belydenis glad nie in nie omdat dit neo-Marxisties van oorsprong is en Marxisme God openlik minag en die mens verheerlik. Wie die Belhar-belydenis aandagtig lees, sal opmerk dat die Marxistiese onderrok ver onder hierdie vrome kerkjas uitsteek!
Gal.3:28 kan buite sy verband nogal ʼn treffende slagspreuk van die Unisex beweging gewees het:” ... daar is nie meer man en vrou nie... Dit kan egter nooit letterlik verstaan word nie want daar sal altyd mans en vrouens op aarde wees. Gevolglik sê Gal.3:28 dat geen mens kultureel anders hoef te wees om ʼn kind van God te wees nie, solank as wat sy kulturele optrede nie strydig met God se Woord is nie.
Geen mens hoef sy eenselwigheid of staatkundige vryheid op die vreemde altaar van ʼn reënboognasie te offer om ʼn gelowige te wees nie. Jy hoef nie op te hou om ʼn Blanke, Kleurling, Indiër of Swarte te wees om ʼn gelowige te wees nie. Ja, jy hoef nie die heining af te breek ten einde vir jou bure lief te wees nie.
Gal.3:28 plaas God se seën op nuwe/wedergeborene mense in Christus. Hy het geen behae in ʼn kunsmatige kerkeenheid nie. Dis ʼn set van die Satan wat al vir meer as 30 jaar groot verdeeldheid op die plaaslike kerklike terrein veroorsaak.
Nog ʼn teks wat gruwelik misbruik word om die Christelike eenheid sigbaar te probeer dwing, is Jesus se Hoëpriesterlike bede in Joh.17:21: “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees.” Joh.17:21 bepleit geen strukturele eenheid nie! Onthou dat toe Jesus hierdie woorde gebied het, Hy op die aarde was en nog nie in die hemel nie. Hy kon dus slegs vir ʼn geestelike eenheid gebid het.
Sal die Christelike eenheid ooit op aarde sigbaar word? Net wanneer Jesus weer kom om die skape van die bokke te skei die verlostes na hul hemelwoning vertrek; nie voor die tyd nie! Wie hom vir sigbare kerkeenheid beywer, is allermins met God se saak besig. Niemand sê vir God om opsy te staan sodat hulle die onsigbare eenheid sigbaar kan dwing nie. God straf vermeteles!
Is daar dan geen eenheid tussen my en die Kleurling-gelowige in Eersterus, die Swart-gelowige in Mamelodi of die Indiër-gelowige in Laudium nie? Ja, daar is. Hierdie eenheid word in ons geestelike optrede en werke sigbaar. Dis ʼn geloofseenheid wat geen natuurlike menslike onderskeid ophef nie.
Die kerklike eenheiddrywing gaan binnekort ʼn klimaks bereik wanneer kerke openlik sal moet verklaar of hulle die Belhar-belydenis as vierde belydenisskrif aanvaar of nie. Die verstand van die kerklike publiek is alreeds so deur die gifgasse van teologiese vrysinnigheid bedwelm en getiranniseer dat die meeste kerke dit gaan aanvaar.
Maar wat sit in werklikheid agter hierdie byna koorsagtige eenheidsdrywing? Baie meer as wat mense besef. Dis ʼn voorvereiste vir die heerskappy van die Antichris en kerke is besig om die pad vir sy troonsbestyging te plavei! Hy kan uiteraard nie heers indien mense apart is nie; mense moet eers saamgebondel word soos in Babel gebeur het (Gen.11). God het die mensdom opdrag gegee om te versprei dws om apart te wees. Nimrod bal sy vuis in Babel en sê: “Ons sal nie, ons wil saam wees!”
Nimrod was ʼn voorafskaduwing van die Antichris wat aan die einde van die tyd polities sowel as godsdienstig oor ʼn saamgebondelde mensdom gaan heers: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4).
Geen gelowige durf oor enige eenheiddrywing geesdriftig raak nie, hetsy kerklik of staatkundig. Ons moet die hand van Satan, die groot misleier, hierin raaksien. Al skep dit by baie mense die indruk van geestelike vernuwing is dit in werklikheid ʼn sielsontwrigting. Kyk wat gebeur nie vandag alles op die plaaslike kerklike gebied nie - dwaalleer, gruwels, twis, dwaasheid, onenigheid, ongebondenheid ens. Een ding moet ons weet - uit die vrot hout van vrysinnigheid kan niks moois gekerf word nie.
Strukturele kerkeenheid is nie God se wil nie Indien dit so was, sou Hy al die kerke wat hulle daarvoor beywer geseën en nie soos vandag gestraf het nie. Petrus skryf in sy eerste Sendbrief: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God”(4:17). Ons het ʼn sterk getuienistaak om soos ʼn Johannes die Doper ons volksgenote aan te spoor om die krom kerklike paaie reguit te maak!