Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos wat geneesmiddels nie op almal dieselfde uitwerking het nie, het swaarkry ook nie. Sommige se gestel word daardeur versterk. Ander s’n word geknak.
EENS- GESINDHEID IN ONS GEMEENSKAP
Ds Andrè van den Berg
“En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal” - Hand.4:33
Mense se ware kleure kom altyd onder druk na vore. Dis altyd maklik om oor die geloof te praat as die son in jou lewe skyn, maar wanneer onweerswolke saampak, is dit nie altyd so maklik nie, vra maar vir Job!
Die wonder van die Christendom is dat dit in sulke situasies opbloei. Waar het jy sterker gelowiges gekry as agter die eertydse ystergordyn? Aangrypende verhale van gelowiges wat ter wille van hul geloof gely en selfs gesterf het, is vertel en opgeteken. En in hierdie krisissituasies het baie van die vervolgde Christene vir Westerse gelowiges gebid!
Omdat Satan vir God haat, sal die kerk van Christus altyd teenstand van die wêreld ervaar. Satan gebruik mense, organisasies en selfs regerings om die kerk te probeer dooddruk.
Handelinge spreek boekdele hiervan! Handelinge is die verhaal van die vervolging en uitbreiding van die Christelike kerk.Soos wat ʼn mens nie kan leef sonder om asem te haal nie, kan ʼn kerk nie opbloei sonder om teenstand te ervaar nie. Let op die eerste Christengemeente waarvan Lukas melding maak. Die gemeente het pas tot stand gekom (Hand.2) of die leiers (apostels) beland in die tronk (Hand.4) omdat hulle die Evangelie van redding in Christus verkondig het. Dit moes uiters ontmoedigend gewees het! Wat het hulle in hul uur van nood aan die gang gehou? Die gemeente se onderlinge liefde en gebede vir mekaar. Wat het hulle staande gehou? Die liefde vir die waarheid en ʼn besondere eenheidsgevoel wat hulle saamgesnoer het. Ja, die waarheid snoer mense saam; die leuen laat mense uit mekaar spat.
Die Christelike kerk bely al vir baie eeue hierdie eenheidsgevoel en belewenis. Dit word die gemeenskap van die heiliges genoem – mense wat deur die bekering vir Christus afgesonder en opsy gesit is. En Satan haat dit! Daarom probeer hy op allerlei subtiele maniere om hierdie unieke gemeenskap te vernietig. Kyk wat in Jerusalem gebeur het (Hand.4); die leiers is in die tronk gegooi om hul stem stil te maak!
Toe Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle direk van die tronk af na die gemeenskap van die gelowiges teruggekeer. “En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel....” (:23). Hier word van hul eie mense gepraat; mense met wie hulle geestelike familiebande gehad het. Jesus sê by geleentheid dat sy familie hulle is wat die wil van God doen.
Dis heerlik om mense te hê na wie jy in tye van krisis kan gaan of na ʼn krisis kan terugkeer; vra maar vir enige gevangene! Die gelowiges in Jerusalem het geweet dat hulle by mekaar hoort. Hul geloof in Christus het hul saamgebind. Wat bind ons vandag aan mekaar? Ons konserwatiewe lewenswaardes? Nee. Net die bloed van Jesus Christus (sekerheid van verlossing) durf ons saambind!
Drie elemente staan in die gemeente van Jerusalem uit: Hul toewyding, samewerking en medelye. Toe die twee apostels by hul geloofsgenote aankom, het hulle nie oor hul lot of die behandeling in die tronk gekla nie, maar saam lofliedere tot God se eer gesing. “En hulle het hulle geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie” (:18). En wat doen hulle? Gehoorsaam hulle die bevel? Nee, hul gehoorsaam God: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek” (:29).
Die apostels het onverskrokke voortgegaan om mense tot bekering in Christus op te roep. Wat doen ons persoonlik wat geen bedreiging beleef nie? Praat ons met mense oor hul siele of is ons bang ons aansien ly skade? “Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Mark.8:38).
Nádie loslating van die apostels was daar in die heilige familiekring ʼn groot behoefte om te bid. En terwyl hulle gebid het, is die plek geskud soos deur ʼn aardbewing - God was teenwoordig. Ja, Satan vrees niks soos wanneer gelowiges saam bid nie! Al is jy liggaamlik hoe swak, is jy op jou knieë te sterk vir Satan! Die gemeente in Jerusalem se toewyding het in die opsoek van geesgenote, lofprysing en gebedsgemeenskap bestaan. Hoe lyk jou toewyding vandag ?
Die tweede element wat die Jerusalemgemeente gekenmerk het, was hul samewerking. Van hierdie gemeente word die wonderlikste woord gesê wat van enige gemeente gesê kan word: “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel...” (:32). Almal was opreg met God en met mekaar. Daar was nie tweespalt of verskuilde agendas nie. Met sulke gemeentelede kan ʼn leraar berge versit. En dis net moontlik indien almal dieselfde geestelike behoefte het. Stoflike dinge maak mense selfsugtig en laat ʼn gemeente uit mekaar spat.
Die derde eienskap wat hierdie gemeente in Jerusalem laat uitstaan, is hul medelye met mekaar. Medelye is ʼn bereidheid om saam te ly. Daar was destyds groot armoede in die gemeente. Daarom het hulle alles wat hulle gehad het, verkoop en vir mekaar gesorg. Ons moenie ʼn goue reël hieruit probeer formuleer asof dit vir alle tye geld nie. God verwag van ons om in tye van nood nie toehand te wees nie. Die gemeente in Jerusalem se onderlinge liefde was so groot dat hulle hul stoflike opgeoffer het. Wat is jy bereid om op te offer?
Die eerste Christelike gemeente is vir gelowiges deur die eeue ʼn wonderlike voorbeeld van die gemeenskap van die gelowiges wat in elke gemeente behoort te heers. Hand.4 behoort soos ʼn spieël voor ons te wees.
Wat bind ons saam? Ons liefde vir Jesus Christus, ons soeke na die waarheid en liefde vir ons volk. Toe dinge op kerklike gebied donker om ons geword het, was God ons genadig en het vir ons lig in ons duisternis gegee en oral gemeentes wat Jesus liefhet, die waarheid koester en vir hul volk omgee, laat ontstaan. Ja, onse Here Jesus sit nie verniet aan die regterhand van God vanwaar Hy sy kerk regeer en bewaar nie!
Verlustig ons onsself nog in die gemeenskap van die gelowiges of is ons soos die gemeente in Efese wat haar eerste liefde verlaat het? Ons moet daarop bedag wees dat Satan hierdie eenheid wil breek. Ons het al ʼn paar van sy aanslae ervaar! Kom ons plaas onsself onder die vergrootglas van God en vra: Wat doen ek om die geestelike heil en die gemeenskap van die gelowiges in my omgewing te bevorder? Kan dit in my kerkbesoek gesien word? In my betrokkenheid, dankoffer, gebede vir my geestelike familie? Wat doen ek?
ʼn Gemeente straal een van twee beelde na buite – of ʼn kragsentrale of ʼn hospitaal. In ʼn kragsentrale word krag opgewek sodat dit lig in donkerte gee. In ʼn hospitaal word geen krag as sulks opgewek nie, maar word siek mense verpleeg. ʼn Gemeente wat waaragtig die gemeenskap van die gelowiges beleef, stuur God se reddingskrag na mense in sonde-duister uit. ʼn Gemeente waar lede gedurig met mekaar vasval, bly net wonde verpleeg.
Ons staan op die drumpel van die wederkoms van Christus. Vervolging gaan weer aan die orde van die dag kom. Ons moet soos ʼn kragsentrale funksioneer. Laat ons vandag nog elkeen die besluit neem om mee te doen aan stryd om die eenheid wat Satan wil afbreek, met alle mag teen te staan.
Amen!