Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe kom Jesus aarde toe? As ‘n Regter; Openbaring is duidelik hieroor. Met sy eerste koms het Jesus as ‘n nederige dienskneg gekom. Met sy tweede kom Hy as Regter en dit gaan vreeslik wees: “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het....” (Openb.20:11).
FINALE KONTRAK
KOM DEEL IN DIE NUWE VERBOND
Ds Andrè van den Berg
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ʼn nuwe verbond sal sluit... Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hul hart; en Ek sal vir hulle ʼn God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees” - Jer.31:31,33
In die OT lees ons van talle gelowiges wat wonderlike preke gelewer het, veral die profete wat deur God gebruik is om hul volk op dreigende gevaar te wys of om hulle onder moeilike omstandighede te bemoedig. Jeremia was een van die uitstaande predikers van die OT, ʼn man wat 650 jaar voor die geboorte van Christus alreeds die koms van die Christendom voorspel het.
Wanneer Jeremia God se belofte in die woorde van ons teksverse uiter, klink hy eintlik modern want hy praat hier soos ʼn Christen. Petrus, Jakobus of Paulus kon dit net sowel gesê het. Daarom is Jer.31 soos ʼn stukkie NT in die hart van die OT as God vir Jeremia iets wonderliks vooruit laat sien.
In Luk.22:20 sê Jesus: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed wat vir julle vergiet word”. En dis presies wat Jeremia voorspel het; ʼn nuwe verbond wat almal sou raak en ʼn ongekende omwenteling in die eertydse kerkgeledere sou bring.
Wanneer Jeremia hierdie belofte van God uiter, is Juda in ballingskap in Babel. Jerusalem is deur die Babiloniërs beleer, verower en Juda in drie sarsies na Babel in krygsgevangenskap weggevoer. Juda kon nie glo dat God Jerusalem prysgegee het nie. Dit was dan sy stad! Die rede hiervoor was dat Juda van God afvallig geword het en t.s.v. talle oproepe van God deur die profete om hul te bekeer, nie gehoor gegee nie. En as jy nie wil hoor nie, moet jy maar voel!
Jeremia was ook onder dié wat krygsgevange geneem is. Juda het hul vryheid verloor en nie geweet wat die toekoms vir hulle sou oplewer of vir hoe lank hulle in Babel sou wees nie. Hulle verre voorgeslag was vir 400 jaar in Egipte. Hoeveel jaar sou dié wegvoering duur? Juda se toekoms was donker; hulle was sonder land, sonder God en sonder hoop vir die toekoms.
Na ʼn paar jaar in Babel het God by geleentheid met Jeremia gepraat en hom daarna kragtig gebruik. Juda het op God se bevel op die walle van die Kebarivier byeen gekom omdat God ʼn boodskap vir hulle gehad het. Juda was aanvanklik nie baie opgewonde oor hierdie byeenkoms nie. Wat wou God vir hulle sê? Kom daar nog oordeel en nog straf? In ons geestesoog sien ons Juda traag nader kom en mismoedig gaan sit; nie baie lus om te luister nie. En dan die verrassing; God se boodskap gaan nie oordeel of straf nie, maar oor vrymaking en genade. Daar is lig in die donker tonnel van wanhoop!
Maar dan moes Juda iets baie belangrik doen – hulle moes hul bekeer en in berou na God terugkeer Wie se verbond hulle vertrap het. Want dit was die groot saak – verbondsverbreking/kontrakbreuk. Hulle het immers saam met Israel die Verbondsvolk van God gevorm.
Hierdie verbond was ʼn hemelse kontrak wat God eeue tevore deur Abraham met hulle gesluit het. God het belowe om hul God te wees en hul as volk bo al die ander volke te verhoog. Dit was sy kant van die kontrak. Op hulle beurt moes Israel beloof om aan God getrou te bly en in die aangesig van al die afgodery wat hulle omring het, God alleen te dien. Daarom word van Israel en Juda as die Bondsvolk gepraat – volk van die Verbond.
Die Bondsvolk het ongelukkig hierdie kontrak as ʼn stel uitmergelende reëls van moets en moenies beskou en dit telkens verbreek. En kontrakbreuk vereis straf! In Jer.31 vra God vir Juda wat bitter swaar in Babel gekry het om die kontrak te herstel sodat Hy hulle in vryheid kon herstel. “Herstel die kontrak en Ek herstel jul vryheid”. Dis ʼn wenresep vir elke volk wat swaarkry: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader ...” (Jak.4:8). “Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid” (Ps.145:18).
Dit was nooit God se bedoeling om met hierdie verbond ʼn pretbederwer te wees en die Bondsvolk aan bande te lê nie. God wou juis deur hul gehoorsaamheid hul vryheid waarborg. Die Bondsvolk moes die verbond met God as die beste ding sien wat met hulle kon gebeur het, want dit was!
Daar op die walle van die Kebarivier het Jeremia ʼn nuwe boodskap van hoop afgelewer: Uit die as van die ou verbond sal daar ʼn nuwe en beter een opstaan. Hierdie boodskap het selfs die droefgeestige profeet opgewonde gemaak. God was goed en groot in sy lewe. Hy het Jeremia uit die as van ontmoediging opgetel en ʼn vuur van opgewondenheid in hom aangesteek!
Hoe aangenaam moes dit nie vir Jeremia gewees het om vir sy volk te gaan sê dat Juda nie in sak en as moet sit nie, maar dat daar hoop vir die toekoms is. Die vyand gaan nie vir altyd oor Juda heers en die heidene se onreg nie meer vir baie lank hul lewens versuur nie. God gaan ʼn einde daaraan maak.
God laat Jeremia iets wonderliks in aantog sien – die totstandkoming van die nuwe verbond wat nie net Juda sou raak nie, maar soos ʼn genesende golf oor die hele aarde sou spoel. Dit was die vervulling van ʼn belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag soos die sand aan die see sou wees.
Die geskiedenis van die Bondsvolk kan ook die geskiedenis van verbonde genoem word. Die geskiedenis van die verbreking van verbonde sou selfs meer gepas wees! Eers sluit God ʼn verbond met Noag, daarna met Abraham, toe met Moses; verbonde wat, omdat dit ʼn saak van erns vir God is, keer op keer herbevestig is. Dan leer die geskiedenis dat die Bondsvolk hierdie verbonde verbreek het en swaar gestraf is soos wat met Juda gebeur het. Die oorwinning van Nebukadneser oor Juda was nie aan militêre vernuf te danke nie, maar God se straf wat hierdie heidenkoning as ʼn tugroede in sy hand gebruik het.
Toe die Bondsvolk reken dat dit klaar met kees was, het God alreeds ʼn nuwe begin met hulle in oog gehad, soos wat ek glo ook hier aan die suidpunt van Afrika besig is om te gebeur. God laat vaar nie die werke van sy hande nie!
Nadat God Israel en Juda op sy eie tyd vrygemaak en hulle na hul land laat terugkeer het, klim Hy in Jesus Christus met die trappe van die hemel af om vir 33 jaar op die aarde te kom woon. En by Hom het Hy ʼn nuwe kontrak met nuwe bewoording. Die oue lui: “Jy mag nie.....”. Die nuwe een sê: “Ek sal...”
Hierdie nuwe kontrak wat Jesus uit die hemel met Hom saamgebring het, het drie eienskappe – dis geestelik, dis universeel en dis finaal.
(i) Geestelik: Die nuwe kontrak is geestelik. Die oue was formeel/gedwonge - jy moet dit, jy moet dat ens. Waarom? Omdat God met die volk en nie met enkelinge as sulks gepraat het nie. Die nuwe verbond laat die klem op die enkeling val. Dis nie meer ʼn las nie maar ʼn lus; nie meer ʼn verpligting nie maar ʼn versugting! Nie meer op kliptafels nie maar op die vleestafels van die hart. ʼn Omwenteling!
(ii) Universeel: Die nuwe verbond was ook universeel. Dit het nie net vir die Bondsvolk gegeld nie, maar ook vir alle ander volke waar mense tot bekering gekom het. Israel was godsdienstig uiters eksklusief en het geglo dat die hemel slegs vir Jode bestem was. Daarom was Jona erg ontsteld toe God hom na Ninevè toe stuur om die Assiriërs tot bekering aan te praat. Dis dan nie Jode nie! En hoe skaam was Jona nie toe hierdie heidene tot inkeer kom nie!
Die Nuwe Verbond het die deure na alle nie-Jode wyd oopgemaak. Die nuwe Israel het ʼn gedaanteverwisseling ondergaan: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29). In God se oë sou Israel geografies verdwyn om as ʼn geestelike entiteit te verskyn. Van grondgebied na hartsgebied.
Paulus skryf in Rom.9:4: “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort...” Wie Jesus as Verlosser aanneem, is deel van die nuwe Israel en staan onder die verpligting van die nuwe verbond om dit as lewenskode in ʼn verworde wêreld uit te leef.
Laat niemand jou derhalwe met die dwaalleer van die sg. verlore tien stamme van Israel mislei nie. Dis ʼn hipotese – onbewese stelling. Hierdie dwaalgeeste se aansprake op vleeslike afkoms skreeu teen die nuwe verbond wat Christus as ʼn teenvoeter vir fisiese roem en geestelike snobisme gevestig het.
(iii) Finaal: Die laaste kenmerk van die Nuwe Verbond is dat dit finaal is. Daar sou niks daarna volg nie. God het sy hand vir die laaste keer na die mens uitgesteek met ʼn uitnodiging: “Mens, wil jy nie in die nuwe verbond kom deel wat met die bloed van my eie Seun beseël is nie? !"
Ná Jesus se sterwe en opstanding uit die dood is die mensdom in twee verdeel. Daar is diegene wat deel aan die nuwe verbond het (ware Israel) en die wat geen deel daaraan het nie (verlorenes). Waar staan jy vandag? In hierdie tyd rondom Kersfees dink ons daaraan hoedat God in Jesus Christus met hierdie nuwe kontrak as’t ware die trappe van die hemel na ons afgeklim het. Kom ons teken dit opnuut en leef soos wat Hy vra.
Amen!