Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is meestal so bang dat ons lewens sal eindig, maar ons behoort baie meer bang te wees oor die feit dat ons dalk nog nie eers begin leef het nie!
WARE EN VALSE WOORD- BEDIENING
Die seuns van Eli en die seuns van Sadok – ʼn OT perspektief
Ds Andrè van den Berg
1 Sam.2:12-36;3:1-21 en 4:10-22
Die OT onderskei tussen ware en valse Woordbediening. Dit blyk in die tyd van Samuel baie duidelik uit twee bedieningspatrone; dié van die seuns van Eli en dié van die seuns van Sadok. Beide groepe was Woordbedienaars maar met die verskil dat die seuns van Sadok se bediening tot eer van God gestrek het en Eli s’n nie.
Eli se seuns se Woordbediening was nie eerbiedwaardig nie en ʼn gruwel in God se oë. Hul optrede het later so ten hemel geskreeu, dat God ʼn einde aan die huis van Eli gemaak en Hofni en Pinehas saam met hul vader op dieselfde dag laat sterf het. Toe Pinehas se seun net daarna gebore is, het sy weduweemoeder hom Ikabod genoem. Dit beteken: die heerlikheid het verdwyn. Dit was so sprekend van Israel se godsdienspeil weens die verfoeilike Woordbediening.
Die seuns van Eli verteenwoordig deur die eeue ʼn vleeslike godsdiens wat in vandag se lewe oorhand toeneem terwyl die bediening van die seuns van Sadok net die teenoorgestelde is - diep geestelike godsdiens wat op ʼn persoonlike verhouding met God en ʼn liefde vir die waarheid geskoei is.
Eli se seuns het harte van klip gehad. Hulle was ongevoelig en het lidmate sienderoë beroof deur meer te vat as wat priesters geoorloof was om vir hulself te neem. Hierdie grypsug was die simptoom van ʼn verkeerde kinderopvoeding. Die Bybel sê dat Eli sy seuns nie getug het nie. Dis ʼn feit dat onreg wat in ouerhuise gedy, nie daarbuite reggestel word nie. Gevolglik is die grootste diens wat ʼn mens aan sy gemeenskap kan lewer, om sy kinders reg op te voed. Wie die bron vergiftig moenie verwag dat die stroompies vars sal wees nie Modderige bronne het altyd vuil stroompies.
Eli se versuim het sy amptelike bediening geskaad - mense het gepraat. Ja, Opvoeding sonder deeglike geestelike lewenswaardes maak van kinders slim duiwels. En ʼn kind wat oneerbiedig teenoor ouers optree, eerbiedig niemand anders nie. Wie die water besoedel moenie verwag dat ander dit sal geniet nie!
Eli se seuns het as pastoriekinders in gunstige godsdienstige omstandighede groot geword. Hulle het gesien hoe hulle vader met erns in die wingerd van God gewerk het. Desondanks het hulle nooit die God van hul vader as hulle hemelse Vader leer ken nie. Hulle siele was verlore.
Kyk ʼn mens na Eli se seuns en daarna na Samuel, is dit duidelik waarom God sy heilsplan eerder deur Samuel gewerk het. Kinders wat verkeerd loop, word nie so gebore nie maar so grootgemaak. Samuel daarenteen se moeder het God as hemelse Vader geken en haar seun van Hom afgebid. Sy het Samuel van jongs af geleer om God te eerbiedig en God se aangesig te soek. Hoe gelukkig is ʼn kind wie se moeder haar so in die gelooflewe ingrawe!
Die gelese gedeeltes vertel die verhaal van hoe anders Samuel as Eli se twee seuns opgetree het. Samuel was vertroud met die ou Woordbedieningspatroon waarin die goeie weg van God gevind is. Daarom het God hom met soveel geestelike gesag geseën, dat hy selfs later vir Dawid as koning kon salf. Dawid was dan ook die teenpool van Saul se vleeslike koningskap en het hy met God se genade die heerlikheid van God na Israel teruggebring. Luister maar net na die Psalms wat hy geskryf het.
In die gelese gedeeltes vind ons twee duidelik onderskeie bedieningslyne nl. dié van Samuel, die seun van Elkana en dié van Hofni en Pinehas die seuns van Eli: “Daarna het Elkana na Rama teruggegaan, terwyl die seun by die priester Eli die HERE bly dien het. Maar die seuns van Eli was deugniete; hulle het die Here nie erken nie” (1 Sam.2:11,12). Hierdie uiteenlopende bedieningsrigtings is vandag nog te sien – die een geestelik en diep; die ander een vleeslik en vlak.
Daar word van Eli se seuns gesê: “... hulle het die Here nie erken nie”. Met die woord erken, bedoel die skrywer dat hulle niks van die verantwoordelikheid van Woordbediening geweet het nie. Die jong Samuel het wel. Die seuns van Eli was wettige priesters omdat hulle die seuns van die hoëpriester was; ʼn amp wat waarskynlik oorgeêrf is. Daarom was dit vir Samuel swaar om die boodskap van God aan Eli oor te dra. Die Here sê: “Dis nou genoeg; nie verder nie!”
God lewer nie altyd boodskappe van liefde en redding af nie, maar ook van straf en oordeel. Daarom was Samuel baie ongemaklik om die boodskap af te lewer. Maar dit moes gedoen word omdat dit ʼn woord van die Here was en in daardie dae baie skaars: “En die seun Samuel het die Here gedien voor Eli, en die woord van die Here was skaars in die dae; gesigte was daar nie baie nie” (1 Sam.3:1).
Die boodskap van oordeel is tevore ook deur ʼn onbekende boodskapper van God aan Eli oorgedra; ʼn man wat dadelik vertrek het. Die boodskap was in die vorm van ʼn waarskuwing, iets wat Eli na reg op sy knieë moes dwing en sy eie hart laat ondersoek het. Maar so anders as koning Hiskia, eeue later, het Eli niks aan die saak gedoen en aangegaan asof niks gebeur het nie.
Eli het egter onder die swaard geleef en geweet dat die tyd binnekort verstreke sou wees dat die oordeel voltrek moes word. Hy het egter maar aangegaan, Sabbat vir Sabbat en die een boodskap na die ander in die tabernakel gelewer. En mense het kom luister, mense wat vas geglo het dat God verplig was om tydens Woordverkondiging sy opwagting in die tabernakel te maak, so asof Hy elke Sabbat die hoofdis op die geestelike spyskaart was!
ʼn Bedienaar van die Woord het ʼn baie groter verantwoordelikhede as iemand op ʼn ander lewensterrein. Hulle is anderssoortige mense. Die Leviete het bv.so anders as die res van die seuns van Jakob geen grondgebied in die beloofde land ontvang nie. Hulle diens het van die dankoffers van mense gekom. Mense het van oudsher af vrywillig vir die instandhouding van die erediens bygedra.
Die gelese Skrifgedeelte vertel die droewige verhaal van ʼn korrupte erediens weens korrupte geestelike leiers. Eli se seuns het priesterlike klere gedra maar het meer as wat hulle as priesters teëgekom het geëis en selfs van die lidmate met liggaamlike leed gedreig. Bedieningskorrupsie is ʼn lelike ding en iets wat vandag nog telkens in die media oopgevlek word - leraars wat meer vat as wat hul toekom, veral in charismatiese kerke met hulle groot kollektes en 10de maandbydraes wat van lidmate afgepers word.
In Hand.2 lees ons van ʼn leraar wat sonder trompetgeskal, spesiale musiek, massa-opsweping, groot kollektes of mediadekking in een dag 3,000 siele tot die koninkryk van God toegevoeg het. Petrus was slegs met die Gees vervul.
Eli se seuns was volwassenes; groot, gretig en gierig. Mense het by Eli oor die twee priesters kom kla, ook oor hul onsedelikheid. Dit was alles die gevolg van ʼn kinderopvoeding sonder die nodige tug. Ouers wat bang is om hul voet neer te sit, het gewoonlik kinders wat op hul tone trap. Het Eli dan absoluut niks van hulle gruwels geweet nie? Ouers het soms brille nodig om te sien wat onder hul neuse aangaan!
Toe Eli met hulle daaroor praat, het hulle hul nie aan hom gesteur nie en in hul sondes volhard: “.... Maar hulle het nie na hulle vader geluister nie, want die Here wou hulle ombring” (1 Sam.2:25). Daarna het Eli maar ʼn dowe oor na verdere klagtes gedraai.
Toe het God een nag met Samuel gepraat: “Kyk, Ek gaan ʼn ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit. Dié dag sal Ek aan Eli vervul alles wat Ek oor sy huis gespreek het, van die begin tot end” (1 Sam.3:11,12). Samuel was hartseer om die boodskap aan Eli oor te dra en tot die volgende oggend gewag. Eli was immers sy mentor en toe Samuel met hom praat, het die boodskap van die onbekende boodskapper in die ouman se ore gelui - die oordeel van God begin by die huis van God! (1 Pet.4:17).
Waar het die dinge in Hofni en Pinehas se lewe verkeerd geloop? Heel eerste in hul ouerhuis – die gebrek aan tug. Ja, die bos wat jy geplant het se dorings steek die seerste! Tweedens het hulle ʼn verkeerde siening van God gehad. Wie God se weë, heiligheid en liefde nie ken nie, maak sy lewe vir allerlei misgissings, fabels, verdigsels en afvalligheid oop. Hofni en Pinehas het, soos ʼn Judas eeue later, net soos die ware Jakob gelyk. Hulle het in al die seëninge wat God vir die priesteramp bestem het, ryklik gedeel. Judas het dieselfde dinge in die dissipelkring geniet en, interessant genoeg, ook as jongman gesterf.
God oordeel valse leraars: “Nie elkeen wat vir My sê: Here Here, sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil van my Vader doen wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwel uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:21-23)
God het die huis van Eli swaar geoordeel wat kerkgangers met die uitgebrande as van ontnugtering agter gelaat het. Alles het vir Israel pikdonker geword. In hierdie tyd kom God met die belofte van geestelike lig vir die volk: “En Ek sal vir My ʼn getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en siel is, en Ek sal vir hom ʼn bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel” (1 Sam.2:35). Die seuns van Sadok sou die ware godsdiens met groot seën voortsit.
God het die krag van die priesterskap van die huis van Eli onttrek. Ja, God gee nie net lig nie, maar onttrek dit ook. Luister wat sê Christus vir Efese: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openb.2:5).
Die einde van die huis van Eli was tragies. Nie net sterf hy en sy twee seuns nie, maar word die ark van die verbond deur die Filistyne in ʼn oorlog geroof. Nou was die ark, die sigbare teken van God in Israel se midde, in onheilige hande. Dit wat eeu lank in die allerheiligste deel van die tabernakel gestaan het, was nie meer daar nie, maar iewers tussen die heidene.
Hofni en Pinehas het saam met 34,000 van hul volksgenote gesneuwel. Dit was ook die beeld van ʼn gevalle priesterskap en die einde van ʼn vleeslike godsdiens. Toe Eli hierdie berig ontvang, het hy agteroor geval, sy nek gebreek en gesterf. Sy dood was die slothoofstuk van ʼn tragiese verhaal van 40 jaar se diens wat op ʼn lae noot tot ʼn einde gekom het. Hy sou sy kleinseun nooit sien nie, die een wat deur sy weduwee-moeder Ikabod genoem is – ja, waarlik, die heerlikheid het verdwyn!
Pasop, die seuns van Eli is vandag nog bedrywig op kerklike gebied! Ja, Hofni en Pinehas se moderne eweknieë. Hulle oorheers om die waarheid te sê die kerklike gebied en is baie meer as die seuns van Sadok. Hulle dwaal, roof en is onheilig en ongehoorsaam aan God.
Die selfde ding het in die tyd van Christus voorgekom. Hy sê by geleentheid reguit vir hulle dat hulle dwaal omdat hulle die Skrif nie ken nie. Ja, Jesus het die Fariseërs en ander Skrifgeleerdes hard aangespreek en sonder ʼn omhaal van woorde veroordeel. Desondanks die verval op kerklike gebied het Jesus die deur van genade wyd oopgemaak sodat selfs die slegste mense daarby kon ingaan; straatvroue, tollenaars en besetenes.
Johannes die Doper roep die mense op om die weë van die Here reguit te maak. Dis wat ons ook op kerklike vlak moet doen want daar is te veel krom en skewe paaie. Niemand gee reguit tree op sulke krom paaie nie! Suid-Afrika het dringend geestelike herstel nodig; ʼn herlewing. Laat dit by onsself begin en bid vir die kinders van Sadok wat vasstaan en die waarheid verkondig. Bid en moenie veroordeel nie!