Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Ou Testament leer ons dat God reguit houe met krom stokke slaan. Die Nuwe Testament leer ons dat God gelowiges help om reguit tree op krom paaie te gee. Sodra ’n mens tot bekering kom, wil jy geestelik groei, die Bybel leer ken en diensbaar in God se koninkryk wees – en daarvoor moet jou geestelike vuur hoog brand.
WORD GROOT IN GOD SE OË
Ds Andrè van den Berg
“...en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap - oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe” - Fil.1:4,5
Paulus was nie net ʼn wonderlike prediker nie, maar ook ʼn begeesterde skrywer. Baie van sy briewe is dan ook in die Bybel opgeneem omdat dit duidelik deur die Heilige Gees geïnspireer was. Gelowiges het nooit getwyfel dat dit briewe van God aan die mensdom is nie; ook vir my en vir jou.
Die meeste van Paulus se briewe is aan spesifieke gemeentes gerig met die doel om aandag aan die verkeerde dinge wat daarin voorgekom het te gee sodat die gemeente tot eer en verheerliking van God kon leef. Die gemeente in Filippi was egter die enigste uitsondering op hierdie reël want nêrens in Paulus se brief aan hulle is daar enige vermaning, kritiek of teregwysing soos by al die ander gemeentes nie. Vir Filippi het Paulus slegs woorde van waardering gehad.
Filippi was ʼn klein gemeente maar ʼn geestelike reus. Wat was hulle wenresep? Hulle uitsonderlike belewenis van die gemeenskap van die gelowiges; ʼn belewenis wat uit twee elemente bestaan het - ʼn opregte liefde vir Christus en ʼn opregte verbondenheid aan mekaar. Die gemeente in Filippi het aan Christus se opdrag gehoor gegee: “ ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê... Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh.13:34,35). Hulle liefdesgemeenskap het almal opgeval.
In Fil.1:6 verheug Paulus hom oor hierdie opvallende gemeenskap. Die Griekse woord vir hierdie gemeenskap is koinonia en beteken om iets kosbaars met mekaar te deel. Die teendeel van koinonia is verdeeldheid, iets waaroor Paulus ernstig met die Korintiërs oor praat; ʼn groot gemeente met ernstige verdeeldheid: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis” (2 Kor.6:14).
ʼn Gemeente ervaar alleenlik koinonia as lidmate gemeenskaplike geestelike dinge geniet en koester. Alhoewel gemeentelede uit verskillende agtergronde kom, is daar genoegsame geestelike skatte waarin hulle kan deel. Daar is sekere basiese waarhede wat, as ons daaraan vashou, ook van elke gemeente ʼn grootse gemeente soos Filippi kan maak. Wat bind ons as gemeente aan mekaar? Die selfde dinge wat Filippi aan mekaar gebind het. Ons kyk biddend daarna.
Die gelowiges in Filippi was in die eerste plek deur ʼn gemeenskaplike geboorte aan mekaar verbind - die wedergeboorte. “... as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3). Waar dit ontbreek, bestaan geen geestesgemeenskap nie omdat daar geen plaasvervanger vir die wedergeboorte is nie.
Let op aan wie Paulus sy brief aan die Filippense spesifiek rig - “... aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is...” (Fil.1:1). Aan die heiliges. In die Roomse Kerk is heiliges almal dooie mense wat lank na hul sterwe vereer word. Dis totaal onbybels! Nee, heiliges is lewende mense wat die wedergeboorte gesmaak en vir Christus en sy saak opsy gesit is.
Maar om ʼn heilige te wees moet jy in Jesus wees: “... aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is...” Nie almal in die gemeente van Filippi was in Jesus nie. Daar was ook ongelowiges wat hul as gelowiges voorgedoen het; mense met die skyn van godsaligheid, maar sonder die krag van die Heilige Gees. Hulle was dood vir Christus: “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh.5:12). Jesus werk slegs met lewende lidmate wat deur die wedergeboorte nuut geword en deur die Heilige Gees tot ʼn hegte eenheid saamgebind is.
Gelowiges deel nie net in ʼn gemeenskaplike geboorte nie, maar dra ook ʼn gemeenskaplike las. “... omdat ek julle in my hart dra...” (:7). Paulus verkeer in Rome in die tronk en i.p.v. sy eie lot te bekla, dink hy aan die gelowiges in Filippi. Hier is ʼn baie groot waarheid ter sprake - die plek wat medegelowiges in jou lewe inneem, bepaal waar jy met Christus in jou lewe staan. “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van God” (Gal.6:2).
Wat eis die Wet van God van gelowiges benewens ʼn liefde vir God? ʼn Liefde vir die naaste. En dit word in ʼn geestelike gemeenskapslewe sigbaar wanneer ons o.a. ook mekaar se laste dra. Ten opsigte van die gelowiges in Filippi het Paulus ʼn viervoudige las gedra waaraan ons vanoggend aandag gaan gee sodat Jesus ons kan leer hoe om as wedergeborenes teenoor medegelowiges op te tree.
Om ʼn las te dra is nie noodwendig ʼn negatiewe ervaring nie, veral nie as hierdie las geestelik van aard is nie. Dan dra ons dit met vreugde en dankbaarheid. Die eerste las is juis dankbaarheid: “Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink” (:3). Dink ons genoegsaam aan medegelowiges of is ons te besig met ons eie dinge? Mag God ʼn swaar las op elkeen van ons lê om hierdie jaar baie meer aan mekaar en minder aan onsself te dink!
Die tweede las is gebed: “...en ek bid altyd in al my gebede vir julle...” (:4). Paulus dink nie net aan sy medegelowiges in Filippi nie, maar dra hulle by die naam aan God op. Net iemand wat genoeg vir ʼn ander omgee bid opreg vir hom/haar.
Die derde las is geestelike vennootskap. “...oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe”(:5). Paulus juig oor sy vennote in Filippi wat hom help om die Evangelie uit te dra. Hierdie mense het in tye van nood baie sterk by Paulus gestaan.
Die vierde las is samesyn. “Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang...” (:8). Paulus verlang om by hulle te wees. Die gelowiges in Filippi is sy geestelike familie. En waar ontmoet hy hulle? By die kerk. Wat sê Paulus vir hulle in vers 8? “Ek wens ek kon saam met julle in die kerk wees!”
As iemand sê dat sy siel gered is maar hy het geen behoefte aan kerkgang nie, is daar ʼn bitter groot skroef in sy siel los! Die Bybel beveel gelowiges om gereeld saam te kom: “...en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie...” (Heb.10:25). Die mens wat sê dat hy nie die kerk nodig het om in die hemel te kom nie, se siel is waarskynlik nie gered nie!
Ons het gesien hoe ons gemeenskaplike geboorte ook ʼn gemeenskaplike las in die hand werk. Dit bring ons by ʼn derde ding wat gelowiges met mekaar deel; ʼn gemeenskaplike seën: “...omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ʼn goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (:6).
Paulus stel sy lesers gerus dat God die werk wat Hy deur hulle begin het, nie sal laat vaar nie maar sal volbring totdat Jesus weer kom. Hy begin nie ʼn ding en los dit later nie. Dit wat in hierdie gemeente in die Naam van Jesus Christus begin is, sal tot en met die wederkoms van Christus bestaan. Dis deel van ons gemeenskaplike hoop en vertroosting.
Kom ons geniet dit om baie meer saam te verkeer want as wedergebore kinders van God gaan ons vir ewig saam met mekaar in die hemel wees. Ons kan nou al ʼn voorsmakie daarvan geniet want dis ʼn gemeenskaplike seën.
Ons het gesien dat ʼn gemeenskaplike geboorte, ʼn gemeenskaplike las en ʼn gemeenskaplike seën ons deel is. Laastens deel ons ook in ʼn gemeenskaplike diens. Ons is as wedergebore kinders van God werkers in God se wingerd. Ons liefde vir die werk en vir mekaar behoort ons saam te bind. Ons het ʼn baie duidelike opdrag in hierdie verband: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies...” (Mt.28:19).
Hierdie wingerd-opdrag het egter ʼn baie belangrike voorwaarde – sulke werk vir Christus moet in die teken van die waarheid staan: “...om die dinge waarop dit aankom te onderskei” (:10). Die gemeente van Filippi moes mense liefhê, maar die waarheid meer as mense. Daar was erge dwaling in die vroeë kerk, veral in gemeentes naby Filippi!
Baie kerke maak hul deure te wyd oop vir alles en almal om in te kom. En dis ʼn fatale fout. Die kerk is nie ʼn humanitêre klub vir sosiale samesyn nie, maar die vergadering van heiliges met ʼn gemeenskaplike roeping en taak. ʼn Kerk wat nie selektief met lidmaatskap te werk gaan nie, gaan kort voor lank ten gronde!
Daar is maar net een manier van kerkwees – die ou manier: “So spreek die Here: Staan op die weë en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin. En julle sal rus vind vir julle siel...” (Jer.6:16).
Paulus se gebed vir die gelowiges in Filippi is om baie vrugbaar in God se wingerd te wees: “...vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus...” (:11). In Joh.15 eis Jesus van ons om vrug te dra. Daarvoor moet ons in die wynstok ingeplant wees. Ons sal nooit sukkel om vrug te dra nie. Dit sal vanself kom.
Soos wat ons vrug dra, moet ons vir een ding baie versigtig wees – om nooit die aandag op onsself vestig nie. ʼn Vrugteboomtak maak mos nie geraas as dit vrugte dra nie. “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:16).
Die gemeente in Filippi was geseënd omdat hulle in vier dinge gedeel het – die wedergeboorte, geestelike laste, God se seën en ywer vir die saak van Christus. Dis die grondslag van die geestelike gemeenskap van enige gemeente. As een van hierdie vier elemente ontbreek, kom die gemeenskap van die gelowiges op losse skroewe te staan. Kom ons beoefen vanjaar hierdie vier basiese dinge dat ons in God se oë groot kan wees.
Amen.